Vergifnis en versoening: Is daar ʼn ander manier?

(Hierdie artikel is deel 2 van 3. Lees gerus eers deel 1)

Kritici probeer dikwels om die hart van die Christelike geloof naamlik die rasionaal van die Evangelie in twyfel te trek. As die Goeie Nuus bloot uitgedinkte en saamgeflanste nonsens is, dan is dit tog nie ‘goed’ óf ‘nuus’ in die ware sin van die woord nie.

ʼn Voorbeeld van sulke kritiek is in die skrywes van Apostaat, ʼn anonieme blogger wat graag in Afrikaans skryf oor hoe sy gedagteprosesse gelei het dat hy die Christelike geloof uiteindelik versaak het.

So skryf hy in sy artikel, Die enigste redder en verlosser:

“Mense se sonde is ‘n oortreding teenoor [God], so, as hy ons wou vergewe kon hy dit doen sonder om eers ‘n menslike liggaam aan te neem, sonder om gekruisig te word, sonder om uit die dood op te staan.”

Op ʼn ander plek (https://apostaat.wordpress.com/2016/05/08/watter-vers-het-jou-laat-twyfel) vra hy op dieselfde trant:

“Wat is dit omtrent Jesus se lewe, sterwe en opstanding wat maak dat ons die ewige lewe het?  As God dan almagtig is, hoekom kies hy nie ‘n ander manier nie?  Hoekom is die boodskap so onduidelik?”

Apostaat is skynbaar van mening dat Jesus se menswording, kruisiging en opstanding ter wille van ons sonde, ʼn soort arbitrêre reël is wat God gekies het. As God wou, skynbaar omdat Sy almag dit veronderstel, dan kon Hy mos ons sonde vergewe het sonder die noodsaaklikheid van al hierdie dinge.

‘n Ooglopende probleem met hierdie redenasie is dat iemand se besluit om te vergewe nie korreleer met hoe groot daardie persoon se vermoë is om te vergewe nie. As daar ʼn probleem is met hoe God gekies het om te vergewe, dan lê dit daarom beslis nie by Sy almag nie.

Die dieper probleem is egter dat die onderliggende sentiment hier nie erns maak met wat dit beteken om iemand wat jou ʼn onreg aangedoen het, te vergewe nie. Niemand wat besef wat God se vergifnis werklik beteken sal kan sê dat die Nuwe Testament ‘vergifnis’ en ‘vergelding’ met mekaar verwar soos Apostaat in sy artikel die fout maak nie.

Vergifnis, as ʼn bepaalde gesindheid van die persoon wat ‘n onreg gely het teenoor die persoon wat die onreg gepleeg het, impliseer nie dat wanneer daar onreg plaasvind, sulke onreg bloot geïgnoreer of verskoon word asof dit nie gebeur het of die gevolge daarvan nie belangrik is nie. As sulks lewer die besluit om te vergewe nie ʼn oordeel oor onreg nie; dis eenvoudig ‘n besluit om daardie onreg nie teen iemand te hou nie ter wille daarvan om persoonlike versoening moontlik te maak. Maar die onreg opsigself is steeds iets wat hanteer moet word, dit kan nie maar net onder die mat ingevee word nie. Iemand sal dus, ter wille van geregtigheid, steeds die gevolge van hulle dade moet dra, selfs al sou hulle ook deur hulle slagoffers persoonlik vergewe word.

Wanneer God ons dus vergewe, dan beteken dit ook nie dat Hy ons sonde verskoon of ignoreer, asof sonde en die gevolge daarvan nie belangrik is nie. Nee, God se vergifnis beteken dat ons sonde nie meer in die pad staan om in ʼn verhouding met God versoen te word nie. Maar terselfdertyd word ons sonde hanteer volgens die eise van geregtigheid (wat duidelik nie maar net ʼn soort naïewe vergeldingsentiment is nie). Geregtigheid, as ʼn funksie van God se Heiligheid vereis dat onreg gestraf word.

Niemand dink tog dat enige regter, hoe magtig hy ook al is (selfs nie ʼn Almagtige Regter nie), geregtigheid laat geskied deur ʼn moordenaar bloot te verskoon vir sy dade deur daardie dade te ignoreer asof dit nie enige implikasies het nie.

If [God] were to ignore all sin, it would be as outrageous as if every murderer in the country was let out of jail with their criminal records wiped clean. Justice must be done, and must be seen to be done. If it was possible to ignore sin, don’t you think God would have done so? If there was any other way to forgive sinners while still upholding justice, would he not have taken that option rather than coming in the flesh and suffering the unspeakable agony of dying on the cross? (Looking for God)

Iemand wat dus vra oor waarom Jesus se dood die enigste manier tot God se beskikking is om ons van ons sonde te bevry en ons te vergewe, of waarom hy nie ʼn ander manier gekies het nie, behoort deeglik te besin oor die volgende vrae:

  • Is dit regtig nie nodig om onreg (veral onreg teenoor ʼn heilige God) te straf nie? As dit nie nodig is nie, dan is die kruisiging inderdaad nie nodig gewees nie. Maar waarom dan énige onreg ooit straf? As vergifnis al is wat nodig is, dan kan ons seker maar ons howe toesluit en ons tronke oopsluit?
  • Hoe is dit bloot ‘n arbitrêre reël wanneer God gewillig was (let wel, God se eie keuse; Joh. 10:17-18) om ʼn menslike natuur aan te neem sodat Jesus as ons verteenwoordiger in ons plek ons straf kon dra ter wille van die eise van geregtigheid? Is dit dan nie ʼn intensionele daad van selfopofferende liefde, ʼn voorbeeld van genade (nie heroïsme nie!) nie?
  • Dink iemand regtig dat Jesus se opstanding, gegewe die rasionaal van Sy soendood, nie ʼn baie duidelik boodskap lewer oor hoe geregtigheid nagekom is of oor hoe die gevolge van sonde (die dood as skeiding van God) oorwin is nie? (cf. Heb. 2:14, Rom. 4:25)
  • Spekulasie oor ʼn ander manier om met God versoen te word, moet rekening hou met die feit dat mense die tipe wesens is my vrye wil. As dit die geval is, hoe weet enigiemand, vanuit hul beperkte perspektief, dat ʼn ander manier dieselfde of béter resultate sou lewer in die lewens van dieselfde hoeveelheid of méér mense as die inkarnasie, kruisiging en opstanding van Jesus? Byvoorbeeld:
    • Is daar ʼn ander manier waardeur méér mense béter aangespreek sou word oor die omvang en gevolge van hul sonde as ‘n Romeinse kruisiging – ʼn afskuwelike en “barbaarse metode van teregstelling” soos Apostaat dit op sy Facebook-blad akkuraat opsom?
    • Is daar ʼn ander manier waardeur méér mense béter oortuig sou word van God se deernis met die mens, van sy identifisering met ons pyn en swakheid, as God se menswording? Die Almagtige Skepper van die mens verneder Homself deur sélf ʼn mens te word (Fil. 2:6-8) en om dan aan dieselfde tipe versoekings en beproewings as ons onderworpe te word (Heb. 2:18, 4:15).
    • Is daar ʼn ander manier waardeur méér mense béter oortuig sou word van die omvang van God se liefde as Sy bereidheid en daad van selfopoffering deur in ons plek te sterf aan die hand van sondaars – selfs al het Hyself nooit gesondig nie?
    • Is daar ʼn ander manier waardeur méér mense béter oortuig sou word van die krag waarmee Hy ons kan toerus vir ʼn lewe van oorwinning juis omdat Jesus uit die dood opgestaan het en ons Sy Heilige Gees wil gee?
    • Is daar ʼn ander manier waardeur méér mense béter oortuig sou word van die hoop van ʼn ewige lewe saam met God juis ook omdat Jesus uit die dood opgestaan het? Dis immers uiteindelik waarom God ons in verhouding met Hom wil herstel – sodat ons saam met Hom mag lewe.

Wie is in ʼn beter posisie om laasgenoemde vrae te beantwoord – ons of God? Waarom sal enigiemand dink dat ʼn alwyse en almagtige God nie ʼn ander manier sou kies as dit Sy doel op dieselfde of beter manier kon bereik nie? (cf. Deut. 32:4, Jes. 55:8-9)

God is ook nie onmagtig om alle mense in verhouding met hom te herstel nie, maar nie alle mense met vrye wil, wil in ʼn verhouding met God herstel word nie. Vergifnis is tog nie die tipe ding wat jy op iemand kan afdwing bloot omdat jy groter en sterker is nie. Vergifnis is iets wat jy aanbied met die veronderstelling dat dit aanvaar of verwerp kan word. God is, omdat Hy God is, in die beste posisie om te weet hoe mense met vrye wil onder bepaalde omstandighede gaan reageer of beïnvloed gaan word, en daarom weet Hy tog watter maniere die beste gaan werk om mense met sy vergifnis te bereik.

Die boodskap van God se vergifnis is regtig nie so moeilik om te verstaan nie; dis nie onsamehangend of irrasioneel nie. En tog is niks méér onduidelik as dit wat iemand nie die moeite doen om werklik te verstaan nie.

The cross is not what God inflicts upon Christ in order to forgive. The cross is what God endures in Christ as he forgives. (Brian Zahnd)

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*