Vergifnis, versoening én geregtigheid

Vergifnis, versoening, geregtigheid. Kragtige morele begrippe waarmee elke mens die een of ander tyd in hul lewens gekonfronteer word. Maar wat presies is vergifnis? Hoe hou dit verband met versoening? En wat van geregtigheid?

Ons begin by die idee van vergifnis. Sommige mense het ʼn siening van vergifnis wat min of meer op die volgende neerkom:

Vergifnis beteken om die onreg wat jou aangedoen is, oor te sien. Dis om begrip te toon vir die oortreder, want ons is almal mense en alle mense maak soms foute.

Onreg is wat ons doen omdat ons nie van beter weet nie. Ons simpatie kan daarom net soveel lê by die persoon wat die onreg gepleeg het as by die slagoffer daarvan. Dis die persoon wat weens sy omstandighede (meestal sosio-maatskaplike faktore) of sy gebrek aan geleenthede (soos ‘n goeie opvoeding) gekortwiek is, wat skynbaar net soveel ‘n slagoffer is.

Hierdie soort argument is egter onoortuigend. Daarvoor is daar te veel opgevoede barbare in die wêreld. Meer nog: te veel mense wat ten spyte van hul agtergrond of gebrek aan geleenthede, steeds weet wat die verskil is tussen reg en verkeerd, tussen goed en sleg.

Hierdie tipe vergifnis is ten beste ʼn soort stoïese hardgebaktheid, ʼn houding wat sê dat al is die lewe soms moeilik, sal en kan jy alles oorkom. Dit spreek dalk van deursettingsvermoë in die aangesig van teenspoed, maar let op die blinde ongeërgdheid teenoor die onreg. Onreg word hier van ‘n objektiewe morele dimensie gestroop. Om ʼn onreg so te ignoreer, om iemand nie moreel of geregtelik aanspreeklik te hou vir hul dade nie, is om te sê dat die gevolge nie regtig saak maak of belangrik is nie.

Wie wil egter in ʼn samelewing leef waarin niemand vir hul ongeregtige dade verantwoordelik gehou word nie? Dit is omdat die menslike natuur is wat dit is (of jy nou ʼn Christelike mensbeskouing handhaaf of nie) dat alle mense in alle samelewings verantwoordelik gehou word vir hul dade: daar word verwag dat geregtigheid sal geskied indien daar onreg gepleeg word.

In kontras met hierdie gebrekkige siening van vergifnis, beskou die volgende definisie:

Vergifnis is die besluit om die onreg wat jou aangedoen is, nie teen iemand te hou nie ter wille van versoening. Die morele en geregtelike aard van onreg word egter nie oorgesien nie, maar hanteer volgens die eise van geregtigheid.

Om mense geregtelik en moreel verantwoordelik te hou vir hul dade, veronderstel dat dit geregverdig is om mense wat willens en wetens onreg pleeg, op toepaslike maniere te straf. Wie gaan argumenteer dat geregtigheid nagestreef is wanneer mense voor ʼn regbank bloot verskoon word vir hul ongeregtige dade, asof sulke dade bloot amoreel is en daarom geïgnoreer kan word? Die redelike mens verstaan dat geregtigheid vereis dat onreg gestraf sal word en dat sulke straf moreel regverdig is.

Om onreg te straf is egter nie ʼn alternatief tot, of in teenstelling met, persoonlike vergifnis nie, want dit dien twee verskillende doelstellings. Om onreg te straf is ʼn vereiste vir geregtigheid; om ʼn ander te vergewe is ʼn vereiste vir versoening. Die toepassing van die een sluit nie die toepassing van die ander uit nie.

Hierdie verband tussen vergifnis en versoening, en die implikasie van vergifnis vir onreg, kan met die volgende scenario geïllustreer word.

Veronderstel ʼn ma verbied haar agtienjarige seun op ʼn bepaalde dag en vir ʼn bepaalde rede om haar motor te leen vir sy gebruik. Veronderstel dat hierdie seun egter voortgaan om haar motor op daardie dag sonder toestemming te neem en dat hy boonop die motor weens nalatigheid daarna in ʼn ongeluk beskadig.

Dis duidelik dat die verhouding tussen ma en seun in so ʼn scenario sal skade ly deur die onreg van die seun teenoor sy ma. Nie net het die seun sy ma se vertroue geskend nie, maar ook haar eiendom beskadig.

In hierdie scenario sal die verhouding tussen ma en seun slegs herstel indien die ma besluit om haar seun te vergewe. Met ander woorde, indien die herstel van die verhouding vir haar belangrik is, dan sal sy besluit om die onreg nie teen haar seun te hou nie deur hom te vergewe.

Let egter op na wat vergifnis hier beteken en nie beteken nie. Die ma vergewe haar seun, nie omdat daar nie ʼn onreg plaasgevind het nie of omdat die gevolge nie belangrik is nie, maar omdat haar besluit om die onreg nie teen haar seun te hou nie, versoening moontlik maak. (Dis natuurlik nie outomaties ʼn waarborg vir sulke versoening nie; die seun moet daardie vergifnis ook in berou aanvaar indien die verhouding ook vir hom belangrik is.)

Die ma se vergifnis beteken egter nie dat die seun summier weer vertrouenswaardig is of nie aanspreeklik is vir die motor wat beskadig is nie. ʼn Ma wat besorg is oor haar seun se karaktervorming sal nie sy dade bloot ignoreer nie. Sy sal steeds van haar seun verwag om voortaan sekere voorregte te verbeur (straf te dra), selfs al het sy hom vergewe en selfs al weet en aanvaar hy dat hy vergewe is, tot haar vertroue teruggewen is. Sy mag ook verwag dat hy met enige inkomste wat hy mag verdien, vergoed vir die skade aan haar motor (hy het ʼn prys om te betaal vir sy dade). As dit ʼn ernstige motorongeluk met lewensverlies was weens die seun se nalatigheid, dan kan hy selfs strafregtelik vervolg word, iets waaraan die ma of enige ander betrokke persone se persoonlike vergifnis niks gaan verander nie.

Forgiving you for a wrong that was done to me, is not saying that what was done to me wasn’t wrong or that there are no consequences for what you have done to me or that you are not responsible for such consequences. Forgiveness is saying that despite the wrong you have done to me and despite the consequences, I will not hold it against you in how I think about you and act towards you in the future.

So, for example, when you have broken my trust, forgiveness means that I am willing to trust you again, not because you are trustworthy, but because I have forgiven you. Because you are untrustworthy (the consequences of your actions), you will have to earn my trust (take responsibility for your actions) in the relationship we have, even though I have forgiven you. If I have not forgiven you, then I would not be willing to let you earn my trust again and it would probably be because I do not care for the relationship between us.

Hierdie konneksie tussen vergifnis en versoening, dui op die kern van die Christelike boodskap: omdat God ons liefhet en ʼn verhouding met ons wil herstel (versoening), vergewe Hy ons die onreg wat ons Hom aangedoen het deur Hom te minag. Maar ons onreg veronderstel ook ʼn saak van geregtigheid. God se algoeie en heilige karakter is immers die hoogste standaard waarteen alle reg en goed gemeet word. As ons die noodsaaklikheid kan erken om onreg op ʼn samelewingsvlak te straf ter wille van geregtigheid, hoeveel te meer is dit daarom ʼn uitdrukking van geregtigheid dat onreg teenoor Gód gestraf sal word.

God se vergifnis en versoeningsplan kan dus as volg verstaan word. God vergewe ons ons sonde teenoor Hom (Hy hou dit nie teen ons nie ter wille van versoening) en terselfdertyd doen hy wat geregtigheid vereis deur daardie sonde te straf. Dit doen hy egter deur sélf daardie straf te dra deur as menslike verteenwoordiger vir sondige mense in te tree.

Dis waarom die Seun van God dus ʼn menslike natuur aangeneem het. Trouens, dis omdat Jesus beide ʼn Goddelike en menslike natuur gehad het, dat God se versoeningsplan hoegenaamd uitvoerbaar was. Dis slegs as ʼn mens, maar ook ʼn mens wat nie self skuldig is aan sonde nie, dat Jesus in ander mense se plek as wetlike verteenwoordiger kon staan (cf. 2 Kor. 5:21, Heb. 2:14). Dis ook slegs as God dat hy die straf op álle mense se sonde kon dra, omdat alle mense teen Gód gesondig het.

Ons ongeregtigheid word dus in ʼn juridiese hoedanigheid aan Jesus as ons verteenwoordiger toegereken en deur sy dood weens óns sonde, vind geregtigheid plaas (onreg word gestraf). (Vir ʼn gedetailleerde bespreking van hierdie idee, sien dele 18-25 van The Doctrine of Christ)

Sover die rasionaal van die menswording en kruisiging van Jesus in God se versoeningsplan. Maar hoe hou Jesus se opstanding verband met Sy dood? Eerstens is die opwekking van Jesus uit die dood die bewys dat die eise van geregtigheid volkome nagekom is. Dis soos wanneer ‘n oortreder uit die tronk vrygelaat word nadat hy sy vonnis, die eis van geregtigheid, uitgedien het. Net so kon Jesus nie meer deur die dood gevangene gehou word nie, maar is uit die dood opgewek omdat Hy die prys betaal het wat deur geregtigheid vereis was. Die opstanding van Jesus is boonop ʼn konkrete bewys van hoe die gevolge van sonde (die dood as skeiding van God) totaal oorwin is vir diegene wat God se vryspraak en vergifnis aanvaar. So word ons met God versoen, in ʼn verhouding met Hom herstel, en kan ons as nuwe mense deur die Heilige Gees lewe.

God was egter nie verplig om deur Jesus in ons plek te kom staan nie, Jesus se versoeningsdaad is ʼn daad van genade. Met ander woorde, as enige mens die gevolge van hul sonde sou dra (dit is, die dood as skeiding van God), dan is dit omdat geregtigheid bepaal dat hulle dit verdien. Dis egter uit genade en liefde dat God kies, sonder enige morele verpligting, om geregtelik in te staan vir die straf wat óns sonde verdien.

When God punished, he showed his justice by punishing sin, but he showed his love by taking that punishment himself. (Rod Thomas)

(Hierdie artikel is deel 1 van 3)

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*