‘Ons leef in die hel’ – ʼn kritiese beskouing

deur Udo Karsten

Wat hier volg is ʼn kritiese beskouing van die sentrale argument van die artikel, “Die hel se leërmagte”: ’n Interpretivistiese perspektief op teodisee en die hel naamlik dat lewe op aarde as die hel beskryf kan word. Die proposisie is dat die mens ‘in ʼn hel op aarde leef’ omdat dit die beste daarvan sin maak, vanuit ʼn subjektiewe geleefde werklikheid, dat God afwesig is op aarde. Siende dat die oorgrote meerderheid van mense wat dink dat ʼn teïstiese God bestaan, nie dink dat God summier afwesig is nie, is dit belangrik om vlugtig by die idee van ʼn teodisee stil te staan.

ʼn Beswaar wat deurgaans gerig word teen die bestaan van God, is dat God se bestaan onmoontlik is gegewe die blote teenwoordigheid van euwel in die wêreld, of dan ten minste onwaarskynlik gegewe die hoeveelheid euwels in die wêreld. ʼn Teodisee is ʼn verweer teen hierdie besware. Dit poog om ʼn verduideliking te gee vir waarom God, gegewe hy bestaan en bepaalde karaktereienskappe het, euwels sou toelaat. Sodoende is dit ʼn poging om die beswaar te ondermyn dat God se bestaan onmoontlik of onwaarskynlik is gegewe die teenwoordigheid van euwel of die hoeveelheid euwels in die wêreld.

Die outeur van hierdie artikel noem dat ʼn teodisee “gedefinieer word as die verdediging van God se goddelike goedheid en geregtigheid ten spyte van die bestaan van euwel”. ‘n Teodisee kom daarop neer dat dit redelik is om te verwag dat ʼn algoeie en alwyse God moreel ʼn geregverdigde rede het vir waarom hy euwels toelaat. Hoewel die vraag dikwels is oor wat die teenwoordigheid van euwel oor die karakter van God sê, is die antwoord, in die vorm van ʼn teodisee, gemoeid met wat die karakter van God oor die teenwoordigheid van euwel sê.

In nog ʼn verduideliking van wat ʼn teodisee is, sê die outeur dat “die teodisee eerder ’n raamwerk [verskaf] wat God se bestaan, alle euwel ten spyt, as waarskynlik uitbeeld” en in sy abstrak dat ʼn “theodicy…argues God’s existence as probable, given all the evil in the world”.

ʼn Teodisee gaan oor die redes wat God het, gegewe sy karakter, dat hy euwel sou toelaat en daarom nie nonchalant afwesig is nie. Met ander woorde, om ʼn verduideliking (rede) te gee vir waarom God euwels toelaat (en dit is Rea en Pojman, na wie die outeur in die bibliografie verwys, se definisie van ʼn teodisee), is ʼn verweer dat God se bestaan nie onwaarskynlik is gegewe euwels nie. Hierdie verduideliking of redes maak nie noodwendig God se bestaan, as sulks, waarskynlik nie, dis net dat die euwels, gegewe God se redes, nie sy bestaan onwaarskynlik maak nie.

Dis soos wanneer Piet vir Jan sê: “Dis onwaarskynlik dat Koos gistermiddag by die huis was, want ek het die voordeur klokkie gelui en hy het nie geantwoord nie.” Jan kan egter antwoord dat Koos musiek deur sy oorfone kon geluister het (want hy weet Koos is lief vir oorfone en musiek), en daarom nie die klokkie mag gehoor het nie. Jan se verduideliking maak dit egter nie waarskynlik dat Koos wél by die huis was nie, dit is bloot ʼn verduideliking vir waarom Koos, indien hy tuis was, nie die klokkie sou hoor nie. Dit is dus ʼn verweer dat dit nié noodwendig onwaarskynlik was dat Koos by die huis sou wees nie.

Wat egter in hierdie analise sal duidelik word is dat iemand nie nodig het om te kan verduidelik wat God se spesifieke redes is (die funksie van ʼn teodisee) vir waarom hy euwel toelaat nie. Miskien is dit selfs verwaand om te dink dat iemand in enige posisie is om God se eer te verdedig (as iets soos God se eer werklik op die spel kán wees). Die onus rus op die persoon wat meen dat God afwesig is, om te verduidelik waarom God, gegewe wie hy is (almagtig, alwys, algoed, alwetend, ens.), nie enige moreel geregverdigde rede kan hê vir waarom hy euwel toelaat nie. Tot en met so ʼn rede voorsien word, is daar nie rede om te dink dat God werklik onverklaarbaar en nonchalant afwesig is nie. McBrayer en Howard-Snyder verduidelik soos volg:

“Many philosophers grant that we cannot explain why a good God would allow our world to be populated with evil, but they also think that the mere fact that we are unable to explain the existence of the evil neither poses a threat to rational theistic belief nor supports atheistic belief. Some of these skeptics endorse a response to arguments of evil called a defense. A defense is like a theodicy in structure, but instead of being offered as an explanation for what is the case, it is offered as what might be the case for all we know. The defender suggests that unless we can rule out other live hypotheses for how the evils in our world might be justified, we should not conclude that they are pointless. Another family of views is called skeptical theism. Skeptical theists are theists who are skeptical of our abilities to determine whether the evils in our world are actually pointless. If they are right, then no one is in a position to determine whether certain arguments from evil are sound.” (In die voorwoord, The Blackwell Companion to the Problem of Evil)

Die fokus verskuif nou na die sentrale argument dat God nie ingryp om die euwels en lyding wat ons hier en nou op aarde ervaar, te verhoed nie, en dat ons daarom geregverdig is om te dink dat God afwesig is en dat ons bestaan op aarde as die hel beskryf kan word.

Die sleutelvrae, soos die outeur dit stel, is die volgende:

  • Is dit regtig “nodig om te aanvaar dat die mens tans in die hel is”?
  • Is dit regtig “die enigste manier waarop ’n mens tans sin kan maak van die euwel in hierdie bestaan terwyl jy aan ’n liefdevolle en goeie God (wil) glo?”

ʼn Formele uiteensetting van die argument is dalk soos volg:

  • P1: As God nie ingryp om euwels en lyding op aarde te verhoed nie, dan is God afwesig.
  • P2: God gryp nie in om euwels en lyding op aarde te verhoed nie.
  • P3: (Dus,) God is afwesig op aarde.
  • P4: Die hel kan beskryf word as ʼn plek waar God afwesig is.
  • C: Dus, ons leef in hel op aarde.

Hierdie stellings dra by tot ʼn geldige argument deurdat die konklusie logies volg uit die stellings. Die vraag is egter of dit ook ʼn grondige argument is (m.a.w. is al die stellings waar?).

P1: As God nie ingryp om euwels en lyding op aarde te verhoed nie, dan is God afwesig.

Is dit redelik om te dink dat P1 waar is? Wel, God kan slegs beskryf word as dat hy werklik afwesig is as daar geen moontlike rede kan wees vir waarom ʼn algoeie en alwyse God nie ingryp om spesifieke euwels en lyding te verhoed nie. Om egter aan te voer dat dit onmoontlik is vir God om moreel geregverdigde redes te hê om enige euwels en lyding toe te laat, is ʼn bewyslas wat niemand nog kon dra nie. Die rede is vanselfsprekend: iemand sal self algoed, alwetend en alwys moet wees om te kan sê dat daar geen sulke redes is nie. Dis egter juis ómdat God algoed, alwetend en alwys is dat ons nie ongeregverdig is om te dink dat daar waarskynlik wel sulke redes sal wees nie. Daar is dus nie goeie rede om te dink dat God maar net onverklaarbaar of nonchalant afwesig is nie.

Beskou byvoorbeeld ook die outeur se gedagte, soos hy dit in sy artikel noem in verwysing na Leibniz, dat ‘hierdie hel’ wat God geskep het dalk die bes moontlike manier mag wees om met God versoen te raak. Let op hoe so ‘n gedagte ʼn rede veronderstel vir waarom God dalk moreel geregverdig sou wees om ʼn wêreld te skep wat, na die outeur se mening, as ʼn ‘hel’ beskryf moet word. Sodoende kwalifiseer dit boonop as ʼn tipe teodisee: God skep ʼn wêreld met presies hierdie hoeveelheid euwels en lyding (en maak dus daarvan ‘n hel volgens die outeur) juis omdat dit die bes moontlike wêreld is waardeur mense vryelik met God versoen sal word (dit alles gegewe die aanname dat tydelike en aardse geluk nie ons hoogste doel is nie, maar om met God versoen te word sodat ons vir altyd saam met hom kan leef).

Gegewe die outeur se eie denkoefening is dit dus inderdaad moontlik dat ʼn algoeie en alwyse God ʼn rede sou kon hê vir waarom hy euwel en lyding toelaat (anders sou so ʼn God, so redeneer Leibniz, glad nie geskep het nie). Maar dan is dit nie waar dat daar nie ’n rede vir hierdie euwel en lyding, hierdie ‘hel’ is nie, en kan die outeur nie sê “dit kan nie verklaar word nie – dit is eenvoudig die hel” nie. Tog sê die outeur ook dat omdat “ons nog in ’n ‘dowwe spieël’ kyk en ’n ‘raaiselagtige beeld’ sien (1 Korintiërs 13:12), is dit onmoontlik om in presiese besonderhede te verduidelik hoe ons in hierdie hel beland het.” Ja, inderdaad, óns kan dalk nie so ʼn tipe verduideliking gee nie, maar ʼn alwetende en alwyse Gód kan omdat hy die volle prentjie het!

Die punt is dat ons kan saamstem dat ons tans in ʼn dowwe spieël kyk, en dat ons waarskynlik glad nie in staat is, behalwe in ʼn baie algemene of retrospektiewe sin (sien Genesis 50:20), om spesifieke gevalle van euwels en lyding met spesifieke redes en uitkomste te verbind nie. Dit sê egter iets oor óns beperkte perspektief of begrip en glad nie iets oor die moreel geregverdigde redes wat Gód sou hê om euwels en lyding toe te laat nie. John Swinton, waarna die outeur ook verwys, verduidelik soos volg:

“I am not suggesting that there is no explanation for the way the world is and why there is so much evil contained within it… Scripture tells us that ultimately we will know and understand. As the apostle Paul puts it in his first letter to the Corinthians: “Now we see but a poor reflection; then we shall see face to face. Now I know in part; then I shall know fully, even as I am fully known.” (I Cor. 13:12) All will be revealed in the fullness of the eschaton. The point of the preceding chapters [chs 1-2] is that, because of the limited nature of our  present understanding and the inevitable boundaries of our intellect when it comes to fathoming the ways of God, we cannot reach a coherent understanding of the reasons for evil and suffering.” (Raging with Compassion: Pastoral Responses to the Problem of Evil.)

Dit is belangrik om te beaam dat die idee dat God die volle prentjie het, bloot omdat hy God is, nie onnadenkend as vertroosting aangebied behoort te word te midde van iemand se lyding of as verduideliking vir iemand se spesifieke lyding nie. Maar dis nietemin ʼn waarheid (soos daar waarskynlik baie waarheid in ʼn verskeidenheid van teodiseë opgesluit lê) wat kan deel uitmaak van die breër raamwerk van, in hierdie geval, iemand se Christelike wêreldbeskouing en geloofsgroei. Dit maak tog ʼn enorme verskil of wat iemand oor God dink ooreenstem met wie God werklik is. Beskou die volgende twee Godsbegrippe:

  • ʼn Algoeie en alwyse God het ʼn goeie rede vir waarom hy bepaalde euwels en lyding in die lewe toelaat al is dit nie binne my of enige ander mens se vermoë om die volle prentjie vir God se redes te begryp nie.
  • ʼn Algoeie en alwyse God is onverklaarbaar afwesig en ek verduur onverklaarbare en sinlose lyding.

Opsie 2 is dalk ‘n “eenvoudige interpretasie,” maar uiters onbevredigend. Ons is van nature wesens wat na betekenis soek en die idee dat lyding wérklik en metafisies sinloos is, het die potensiaal om ons verlam en wanhopig agter te laat. Opsie 2 lyk boonop na iets waar die idee van die bestaan van “ʼn algoeie en alwyse God” ʼn oorbodige hipotese is. En waarom sal ʼn blote smagting na God onder sulke omstandighede van hom ʼn werklikheid maak?

P2: God gryp nie in om euwels en lyding op aarde te verhoed nie.

Rabbi Harold Kushner se beswaar dat dit “onverantwoordelike en onsensitiewe teologie” is om te dink dat God gelowiges se gebede verhoor en hulle van euwel bewaar, is verstommend. ʼn Mens vermoed dat dit nie net sy Godsbeskouing en eie ervaring is nie, maar ook sy Skrifbeskouing wat maak dat wanneer hy die Bybel lees, hy volslae metaforiese betekenis gee aan al die gevalle waar God gereageer het op die gebede van mense om hulle van euwel te bewaar of van lyding te verlos (of na enige verwysing waar God skynbaar bonatuurlik betrokke was by mense).

Maar wat van die getuienis van die Christendom spesifiek, en ander mense in die algemeen, dwarsdeur die eeue tot en met vandag? Moet ons regtig glo dat alle mense wat al ooit getuig het van God se ingryping in antwoord op hul gebede (of hul belewenis van onverwagte wonderwerke), óf gelieg het óf so diep onder misleidende illusies verkeer het dat hulle hul omstandighede en die verband daarmee met hul gebede, eenvoudig verkeerd geïnterpreteer het?

Kushner dink nie net dat God nie op aarde kán ingryp nie, maar dink skynbaar dat God ook nie mág ingryp tensy hy altyd en in alle omstandighede ingryp nie. God is hiervolgens onder verpligting, soos die djin in Aladdin se lamp, om alle mense se gebede te beantwoord soos en wanneer hulle iets vra (daar is ʼn scenario in die fliek, Bruce Almighty, wat ʼn uitstekende uitbeelding maak van die problematiek hier ter sprake). En as hy dit nie doen nie, dan móét die verduideliking skynbaar wees dat sy besluit om nie gebede te verhoor nie, en bepaalde euwels en lyding dus nie verhoed word nie, ʼn onmiskenbare teken is van die straf wat God so graag aan mense uitdeel omdat hulle optrede dit verdien. ʼn Mens kan miskien nog die goeie Rabbi verskoon, maar niemand wat al erns gemaak het met die Christelike Godsbegrip of teologie in die algemeen, kan dink dat Kushner hier besig was met ‘n sinvolle argument of dat dit die enigste opsies verteenwoordig nie.

Gegewe die getuienis van die Bybel self, sowel as die getuienis van baie mense in die algemeen, is daar geen rede om te glo dat God nie wel soms spesifiek ingryp om euwels en lyding te verhoed of te verlig nie.

Miskien is die volgende oorweging ook in orde. Dit help om te besef dat dit slegs is omdat ons met bepaalde euwels gekonfronteer word, dat ons daaraan dink as euwels wat verhoed kon word. Maar wat van die moontlikheid dat daar sommige euwels is wat sou plaasvind as God dit nie verhoed het nie, en waarvan ons nie bewus is nie omdat ʼn alwetende God dit vroegtydig verhoed het. ʼn Alwetende en almagtige God het nie nodig om tot op die laaste nippertjie te wag totdat ʼn bepaalde euwel amper gebeur voordat hy ingryp nie. Nee, hy kan bepaalde faktore vroegtydig en subtiel beïnvloed om te verhoed dat dit aanleiding gee tot omstandighede wat hy weet direk vir sekere euwels verantwoordelik sal wees. As hierdie tipe situasie selfs net ʼn moontlikheid is omdat daar ʼn algoeie, alwyse en alwetende God is wat wél sommige euwels wil en kan verhoed (en redes het om ander nie te verhoed nie), dan is dit nóg ʼn aanduiding dat ons ervaring van die euwels wat nié verhoed word nie, nie ʼn goeie aanduiding is dat God nie énige euwels verhoed nie.

P3: (Dus,) God is afwesig op aarde.

As daar uit ʼn kritiese beskouing nie enige goeie rede is om te dink dat P1 en P2 waar is nie, maar eerder vals gegewe wie God is en wat die realiteit werklik is, dan beteken dit dat daar ook nie goeie rede is om te glo dat P3 waar is nie. Sien ook die opmerkings by C wat by P3 as kritiek sal geld.

P4: Die hel kan beskryf word as ʼn plek waar God afwesig is.

In 2 Tessalonisense 1:9 is daar verwysing na hoe sekere mense “met ewige vernietiging gestraf [sal] word, weg van die Here se teenwoordigheid en sy heerlike mag af”. Dit is dus ʼn geldige afleiding dat die hel iets is wat gebeur of ʼn plek is waar iets gebeur, waar God afwesig is.

Dis egter belangrik om raak te sien dat die plek waar God afwesig is en die tyd wanneer hy daar afwesig gaan wees, nie sommer enige plek en tyd is nie. Die konteks van hierdie gedeelte is dat die kondisies waaronder die hel gebeur, wat ook al die presiese aard daarvan mag wees, baie spesifiek met die hiernamaals verband hou. In hierdie spesifieke gedeelte (veral vers 7) word die hel met die terugkeer van Christus, by die finale oordeel, geassosieer.

Trouens, dit is ʼn onbetwisbare hermeneutiese feit dat elke enkele geval waarin die Griekse woorde ‘gehenna’ of ‘hades’ (vertaal as ‘hel’ of verwysend na iets in verband met die hel) in ʼn bepaalde konteks in die Nuwe Testament voorkom, dit verwys na die aanbreek van die eskaton en nié na gebeure of ʼn plek op aarde waar ons daagliks lewe nie. Die Nuwe Testamentiese idee van die hel, hoe iemand die details daarvan ook al volgens hul spesifieke teologiese tradisie wil definieer, hou dus verband met ʼn toedrag van sake ná die dood of ná die mens se aardse bestaan, en nie vóór die dood of tydens ons aardse bestaan nie.

Om die hel dus bloot te beskryf as ʼn plek waar God afwesig is, versuim belangrike details en kan daarom dubbelsinnig misleidend wees. God se afwesigheid verwys, in die sin waarop al die eskatologiese sowel as metaforiese beelde wat na die hel verwys, duidelik maak, na ʼn tyd of plek na afloop van die mens se aardse bestaan. So selfs al sou dit waar wees om te sê dat God afwesig is op aarde omdat hy nooit en nêrens ingryp nie, is dit steeds foutief, ten minste wat die Nuwe Testamentiese data aanbetref, om te sê dat ‘hel op aarde’ is. Daar is absoluut geen eksegetiese meriete daarin om die hel as ʼn metafoor vir ‘lewe op aarde’ of ‘die lewe voor die dood’ te beskryf nie. Die feit dat die woord ‘hel’ in populêre kultuur of selfs in die akademie anders gebruik word, verander niks aan hierdie feit nie.

Daar moet ook iets genoem word oor verwysing na Genesis 1 en die moontlikheid om ʼn bepaalde interpretasie met die hel in verband te bring. Daar is ook hier geen hermeneutiese of eksegetiese gronde vir die idee of moontlikheid dat omdat God sy skepping “baie goed” verklaar het, dit geïnterpreteer kan word as ʼn metafoor vir hoe goed God dit ag dat die hel waarin ons leef, ons uiteindelik daartoe sal lei om met hom versoen te word nie. Dit is growwe ‘eisegese’, ʼn voorbeeld van hoe ʼn idee so dominant kan wees dat alle omsigtigheid en selfbeheersing in die wind geslaan word wanneer dit kom by die eksegese van ʼn teks. Soos reeds gesuggereer is die idee nie ooglopend onwaarskynlik dat God euwel en lyding juis kan gebruik om mense met hom te versoen nie. Dis net dat Genesis 1, veral in ʼn poging om dit aan die hel te verbind, nie ter ondersteuning daarvan ingespan kan word nie.

C: Dus, ons leef in hel op aarde.

Dit bring ons by gevolgtrekking C en die vraag, is die gevolgtrekking waar? Wel, as ons geen rede het om te glo dat P3 waar is nie, en as P4 ten beste dubbelsinnig gestel is, dan volg dit dat daar ook nie rede is om te glo dat C waar is nie. Boonop is daar oorwegings wat die waarheidsgehalte van C op onafhanklike gronde ondermyn. Beskou die volgende:

Kan die ‘hel’ en die ‘hemel’ gelyktydig op aarde bestaan? Die Nuwe Testament praat baie duidelik oor die heerskappy van God wat nou reeds op aarde aangebreek het (hoewel dit eers tot volvoering sal kom met die aanbreek van die eskaton en dan deur die herskepping sal oorloop na die nuwe hemel en aarde) en verwys daarna met terme soos die ‘Koninkryk van God’ en die ‘Koninkryk van die Hemel’ (sien http://www.biblestudytools.com/dictionary/kingdom-of-god/). Hierdie koningsheerskappy van God hou ook sterk verband met die Heilige Gees se uitstorting, teenwoordigheid en werk in en met mense.

Die vraag is nou: is God aktief betrokke by ons lewens op aarde weens die Koninkryk van God, of is hy totaal afwesig van ons lewens op aarde weens die hel waarin ons leef? Waar het ‘n teologie skeefgetrek as hierdie tipe teenstrydigheid opduik?

Dit is egter ook ons algemene menslike ervaring waarvolgens dit nie sin maak om na ʼn omvattende ‘hel op aarde’ te verwys nie. Die outeur vra vroeg in sy artikel die sleutelvraag: “Is hierdie aardse bestaan van nimmereindigende dood, haat, pyn en lyding éintlik die hel?” Maar dis tog nie die volle prentjie nie! Wat van al die geweldige hoeveelheid morele en natuurlike mooi en goed in hierdie aardse bestaan, van sin en betekenis, van nuwe lewe, oorvloed en voorspoed, van liefde en vreugde, van lewensverrykende geleenthede en aktiwiteite? (En dan hoef ons nie eers die getuienis van mense se ervaring van God se spesifieke seën en beantwoorde gebede te noem nie.) Waarom die eensydige klem, met foto’s en al, selfs al is dit vanuit ʼn subjektiewe geleefde werklikheid?

Die feit is dat daar te midde van die lewe se grootste euwels en aakligste lyding, ʼn onderliggende realiteit is wat opsigself baie goed is. Hierdie realiteit bevat soveel van die goeie en dit hou soveel potensiaal in vir die goeie wat deur die regte gesindheid en perspektief ontsluit kan word, dat dit eenvoudig nie geregverdig is om ons bestaan op aarde as die ‘hel’ te beskryf nie.

Trouens, om voorbeelde van goedheid, skoonheid, en betekenis in die wêreld te herken en dan te besin oor waarom iets as ‘goed’, ‘mooi’ of ‘betekenisvol’ beskryf kan word, is opsigself ʼn aanduiding van God se bestaan en sy betrokkenheid in die wêreld.

Die dood, haat, pyn en lyding in hierdie wêreld sal tot ʼn einde kom. Daar is ʼn belofte vir diegene wat daarmee erns maak, van die tyd wat kom wanneer God self “elke traan van hulle oë afvee en die dood sal glad nie meer bestaan nie” omdat “die ou dinge eenvoudig verbygegaan [het]” (Openb. 21:4). Dan sal diegene wat met Hom versoen wou wees (ja, dit veronderstel ʼn vrye keuse, en is beslis nie ʼn universele noodwendigheid nie) vir altyd in sy nimmereindigende teenwoordigheid wees.

Die gevolgtrekking van hierdie kritiek is dus dat daar geen besondere rede is om positief te antwoord op die sleutelvrae oor of dit regtig “nodig is om te aanvaar dat die mens tans in die hel is” of oor of dit regtig “die enigste manier is waarop ’n mens tans sin kan maak van die euwel in hierdie bestaan terwyl jy aan ’n liefdevolle en goeie God (wil) glo” nie.

In die lig van bogenoemde kritiek is dit miskien belangrik om ʼn paar opmerkings te maak oor die illustrasie in die voetnotas van die outeur se artikel oor hoe pyn en lyding verskillende effekte het op verskillende mense. Die outeur se beswaar is dat, hoewel ʼn mens kan sien hoe lyding positiewe gevolge in iemand soos Jacques se lewe gehad het ná sy dwelm-eksperimentering, dit moeilik is om die positiewe te sien in die pyn en lyding van Henk en Annie, sowel as van hul enigste kind wat weens bloedkanker en na geweldige lyding en pyn op drie-jarige ouderdom oorlede is. Dit maak ook nie sin om te verwys na “ʼn groter prentjie” nie, want dit negeer skynbaar iemand se lyding wanneer hulle nie oor die vermoë beskik om daarvan sin te maak nie.

Wat is ʼn verantwoordelike verstaan van die idee van “ʼn groter prentjie” (voortaan eerder “’n volle prentjie”)? Die volle prentjie is bloot ʼn verwysing na die feit dat God kennis dra, omdat hy God is, van al die faktore wat bydra tot bepaalde omstandighede en dat daar ʼn moreel geregverdigde rede is waarom God toelaat dat daardie spesifieke omstandighede ontvou eerder as ander omstandighede. Die volle prentjie beteken per definisie dat mense nie daartoe toegang het nie; hierdie onvermoë om die volle prentjie te begryp is eenvoudig te wyte aan die feit dat mense beperkte kognitiewe wesens is soos waarna vroeër verwys is.

Verder, om te glo dat daar iets soos ʼn volle prentjie is omdat God is wie hy is, beteken nié dat enige ervaring van lyding as iets inherent positief beskou moet of hoef te word nie. Dit beteken ook nie dat iemand moet dink dat hulle positiewe redes kan of moet probeer ontdek vir waarom hulle lyding ervaar nie. Die belangrikste en mees gepaste reaksie is altyd ʼn vraag na hoe lyding en euwel geëlimineer of verlig kan word, of wat die volgende stappe is, gegewe die plek waar iemand hulself psigies en geestelik bevind, om genesing te kan ervaar. Dit is hierdie tipe direkte pragmatiese reaksie op euwel en lyding, en nie soseer die ontdekking van of worsteling met die vermeende betekenis daaragter nie, wat ʼn mens in staat kan stel om lyding suksesvol te hanteer en te verwerk sonder om te voel dat sulke lyding sinloos óf verskoonbaar is, of dat God onverklaarbaar afwesig is.

Mense se motivering vir die gepaste reaksie op euwel en lyding mag egter radikaal verskil weens uiteenlopende wêreldbeskouings. Dink byvoorbeeld aan iemand met ʼn bepaalde ervaring met God, van sy goedheid en veral sy vertrouenswaardigheid, omdat hulle oor baie jare in ʼn verhouding met hom leef en hom léér vertrou het. So iemand gaan anders op bepaalde euwel en swaarkry reageer as iemand wat nie so ʼn verhouding het of sulke vertroue of ervaring het nie. Trouens, dis juis vanweë die verhouding wat hulle met God het dat hulle toegang tot middele en motivering het om hul lyding sinvol te hanteer (let wel, dit sluit beslis nie intense wroeging en emosie uit soos die geval van Job illustreer nie.)

Dit is dus heeltemal verstaanbaar dat ʼn persoon wat nie vanuit ʼn verhouding met God leef nie en hom nog nooit op ʼn intieme persoonlike vlak leer ken het nie, sal toelaat dat hul ervaring van lyding hul siening van God bepaal, eerder as dat hul siening van God, hul ervaring van lyding bepaal. ʼn Baie interessant toeligting in hierdie verband, nogal as ʼn aanhaling in Kushner se boek oor die probleem van euwel, is die getuienis van ‘n Auschwitz-oorlewende:

“It never occurred to me to question God’s doings or lack while I was an inmate of Auschwitz. . . I was no less or no more religious because of what the Nazis did to us; and I believe my faith in God was not undermined in the least. It never occurred to me to associate the calamity we were experiencing with God, to blame Him, or to believe in Him less or cease believing in Him at all because He didn’t come to our aid. We owe our lives to Him. If someone believes God is responsible for the death of six million because He didn’t somehow do something to save them, he’s got his thinking reversed. We owe God our lives for the few or many years we live, and we have the duty to worship him and do as He commands us. That’s what we’re here on earth for, to be in God’s service, to do God’s bidding.”

Maar is die persoon wat God nie ken nie, dan nie ten minste op die oog af geregverdig om te dink dat God afwesig is gegewe al die euwels en lyding in die wêreld nie, selfs al strook dit nie met wat werklik die geval is nie? Inderdaad, maar natuurlik wil God homself juis ook aan sulke persone bekend maak. Die probleem is net dat, gegewe elke mens se vrye wil en begeertes, daar hier twee tipes mense is. Daar is diegene wat God op ʼn afstand hou, maar weens hul besinning oor, of ervaring van, euwel en lyding in die lewe, met die realiteit van God gekonfronteer word en tot ander insigte kom. En dan is daar diegene wat vanuit hul besinning en ervaring, euwel en lyding as ʼn verskoning gaan gebruik om God voortdurend op ʼn afstand te hou.

In terme van Henk en Annie se situasie hoef niemand te dink hulle weet, of behoort te weet, wat die rede was waarom God toegelaat het dat hul kind bloedkanker ontwikkel het en na drie pynlike jare vir almal betrokke, gesterf het nie. Die vraag is, gegewe die feit dat ʼn lewe op aarde altyd die moontlikheid van iets soos bloedkanker en lyding inhou en die feit dat God algoed, alwetend en alwys is, hoe ʼn ouerpaar daarop behoort te reageer. Nou, hoe enige ouerpaar in werklikheid in so ʼn situasie reageer verdien waarskynlik altyd simpatie. Maar dit kan tog nie wees dat enige reaksie as voorbeeld dien van hoe iemand behóórt te reageer of móés gereageer het nie, veral nie met betrekking tot hoe die wêreld werklik is nie.

Neem die voorbeeld van iemand met ʼn Christelike wêreldbeeld, iemand wat dit as ʼn geleefde en deurleefde werklikheid (en dus nie maar net mooi praatjies maak nie) nastreef en ervaar. Bied so ʼn wêreldbeeld gekoppel aan praktiese ervaring, nie dalk die geestelike en sielkundige middele vir insig en ondersteuning wat juis kan verhoed dat iemand in totale gebrokenheid, nagmerries, skuldgevoelens, onttrekking, egskeiding of die oortuiging dat God straf uitdeel, sal verval nie? Hier word die proses van skok, ontkenning en rou in die aangesig van verlies en lyding nie ontken nie, ook nie die ervaring van die volle spektrum van emosies wat daarmee saamgaan nie. Wat wel veronderstel word is ʼn koherente basis waarop wanhoop, isolasie, wantroue en skuldgevoelens uiteindelik geen legitieme staanplek het nie.

Selfs al het Henk en Annie hulle nie tot die middele vir insig en ondersteuning wat die Christelike wêreldbeeld (en spesifiek ʼn verhouding met God) bied, gewend nie (vir watter redes ook al), is dit sekerlik nooit te laat om die genesing wat daarin skuilhou te ervaar nie. Weereens, die vraag is nie eerstens wat die betekenis is van die lyding wat Henk of Annie moes deurmaak nie, maar altyd oor hoe hulle daarop behóórt te reageer selfs al het hulle nog nie tot op daardie stadium nie.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*