Help, ek is ʼn introvert!

Hallo Udo

Ek is ‘n groot introvert en sukkel baie om met mense te connect. Dis baie keer vir my moeilik om met mense te praat en ‘n ordentlik gesprek te voer – en tien keer erger in ‘n groep waar ek gewoonlik oordonder word. Daar was al baie situasies waar ek my bes probeer om in te pas by die groep, maar ek was steeds nooit gesien of ingesluit nie. En dan omdat ek nooit ingesluit was nie, het ek myself ook baie keer maar eerder uitgesluit deur ‘n goeie boek in my kamer te lees of iets ander op my eie te doen. Dis BAIE minder moeite en die beter opsie aangesien my sosialisering buitendien nie lekker gewerk het nie. Ek dink ek vergelyk myself baie dikwels ook met ander, met negatiewe gevolge. Ek sal byvoorbeeld by ‘n partytjie sien hoe ander mense met selfvertroue sien dans, met mekaar kuier, die middelpunt van aandag is of net lekker kan grappe vertel – en telkens sou ek wens dat ek ook só kon wees. Ek dink ek ooranaliseer dikwels situasies met die gevolg dat ek nie my mond oopmaak nie. Ek dink meer oor wat ek sê en gaan sê en wat die persoon se reaksie is en gaan wees, dat ek eintlik nie praat nie – of voel dat ek nie weet wat om te sê nie selfs al is daar honderd goed in my kop.

Hier is ʼn goeie voorbeeld waarvan ek praat. Daar is ‘n goeie vriendin van my in wie ek baie belangstel. Ek weet nie hoe sy voel nie, maar ek het haar veral die laaste ruk bietjie begin “pursue”. Vrydagaand was ons na ‘n musiek-konsert toe, en die meeste van die tyd het ek haar net probeer lees, probeer dink wanneer dit die regte tyd sou wees om ‘n “move” te maak en wat hierdie “move” sou wees. Oor ons so lank vriende is het ek besluit dit sal dalk beter wees om eerder daaroor te gesels terwyl ek haar gaan aflaai in plaas van om ‘n “move” te maak tydens die konsert. In die rit na haar huis was dit weer dieselfde storie met gedagtes soos: “sy lyk af, so hierdie onderwerp gaan nie goed genoeg kan oorgaan in ‘n liefdesverklaring nie”; en “wat as sy nie dieselfde voel nie”; ens., ens., ens. Nodeloos om te sê het ek weereens niks aan haar verklaar nie. Hierdie is hoe meeste van my vriendskappe en verhoudings gaan: ek ooranaliseer alles en projekteer als na myself toe eerder as om net te engage met die gesprek.

Ek het daarom twee vrae:

  1. Hoe hanteer/verstaan ek my persoonlikheid (volgens die Myers-Briggs toets is ek ‘n sterk introvert). Ek besef introversie is nie ʼn negatiewe ding nie, maar ek voel steeds asof dit iets is wat my terughou. Baie ander introverte is baie meer sosiaal volwasse en aanpasbaar. Hoe kom ek daar?
  2. Tweedens, hoe connect ek as introvert (wat sukkel om met mense te connect) met God? Veral omdat ek ook analities en rasioneel is? Ek dink dis ʼn verhouding wat ek nog altyd verkeerd verstaan het.

 Baie groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek dink ons as introverte moet dikwels beter verstaan wat dit beteken om ʼn introvert te wees en dat ons nie hoef te swig voor die druk en verwagtings van ʼn samelewing wat baie ekstrovert voorkom nie (hoewel, terloops, statisties gesproke die mensdom eintlik eweredig verdeel is tussen introversie en ekstroversie). Ek dink dit het baie te doen met ons vermoë om boundaries te stel, vir onsself en vir ander mense.

My eie ervaring is dat introversie dikwels, maar beslis nie altyd nie, gepaard gaan met lae selfbeeld sowel as sosiale wanaanpassing. Dis omdat die twee goed mekaar nogal voer op ʼn manier wat maklik ʼn bose kringloop kan word. Omdat die introvert per definisie iemand is wat verhoudings met ander mense baie versigtiger benader as ekstroverte, word dit dikwels vertolk as afsydigheid, asof die introvert nie eintlik van ander mense hou nie. Hierdie (valse) persepsie bring dikwels mee dat ekstroverte, en self ander introverte, die introvert maklik as ‘n outsider beleef en hom dikwels subtiel ook so behandel. Die introvert op sy beurt kry sodoende die gevoel dat hy nie lekker inpas nie, eintlik nie vir die ‘groep’ aanvaarbaar is nie, en begin dan dink dat daar iets fout is met hom. En hoe meer die introvert dink daar is iets fout met hom, hoe meer onttrek hy en hoe meer onaantreklik raak hy vir die ‘groep’. En so ervaar die introvert nog minder aanvaarding en hoe slegter voel hy oor homself, en so raak dit ʼn bose kringloop waaruit die introvert skynbaar nie kan ontsnap nie.

Daar is verskeie maniere om hierdie siklus te breek, of as die kwessie van selfbeeld en sosiale interaksie nie besonder problematies is nie, om ten minste die stigma uit te daag rondom introversie en sodoende nie in die minste daardeur teruggehou te word nie.

Eerstens moet jy weet wie jy is as introvert, waar jou sterk punte as introvert lê en waarom jy dus nie op jou tekortkominge in vergelyking met ekstroverte hoef te fokus nie. Een van die mees nuttelose dinge wat jy kán doen is om jou met ekstroverte te vergelyk en te wens jy was meer soos hulle. Natuurlik is dit nie dat ons sommer net jaloers is op ander nie. Dis dat ons dikwels bepaalde goeie eienskappe in ander sien en wens dat ons ook sulke eienskappe gehad het. Maar dis juis hier waar ons onsself dikwels mislei met ʼn verkeerde aanname. Ons HET soortgelyke goeie eienskappe, dis net dat ons dit onder ander omstandighede tot uitdrukking bring. Die probleem is dat ons dink dat ekstroverte se gedrag die standaard is, terwyl dit eintlik maar net één manier is waarop bepaalde gedrag uitdrukking vind. Waarom op so ʼn manier van uitdrukking fokus, as dit slegs een manier is van interaksie tussen mense? Suksesvolle verhoudings met mense is nie ʼn groepaktiwiteit nie, maar ʼn interaksie met ʼn individu. Die sosiale konteks is dalk die plek waar mense mekaar ontmoet en aanvanklik ʼn bietjie leer ken, maar dis nie die plek waar verhoudings groei en verdiep nie. En daar is mos baie ander maniere en plekke om mense te ontmoet.

Die tweede belangrike aspek van introversie is om te verstaan dat jy die potensiaal het om, net soos enige ander persoonlikheidstipe, vir ander mense verskriklik goed te wees. Die persepsie is dikwels dat diegene wat baie maklik met ander mense (soos ekstroverte) oor die weg kom, ook meer het om te bied en dat hulle juis daarvoor groter aanvaarding beleef. Maar dis onwaar. Om ander maklik van jou te laat hou is dalk ʼn natuurlike voordeel, maar dis beslis nie in opsigself ʼn aanduiding van suksesvolle interpersoonlike interaksie en verhoudings met mense nie. Inteendeel, soms skuil die “partytjie-dier” bloot agter die spontaniteit van sy ekstroversie omdat hy nie die vaagste benul het hoe om egte, diep verhoudings te inisieer of te handhaaf nie.

Baie introverte wat geïntimideer voel deur die groep, besef dikwels nie dat suksesvolle interpersoonlike verhoudings nie ʼn groepsaktiwiteit is nie. Om betekenisvolle verhoudings met ander mense te hê is ʼn een-tot-een aktiwiteit. En dis presies hier waar veral die introvert, maar dit geld vir die ekstrovert ook, sy energie moet fokus.

Miskien is dit op hierdie punt belangrik om iets meer te sê oor die kwessie van selfbeeld omdat dit so ʼn hindernis is wanneer dit kom by ons interaksie met ander mense.

ʼn Worsteling met ʼn lae selfbeeld het dikwels te doen met ʼn soeke na ʼn eie identiteit. Elke mens wil weet wie hy of sy regtig is, en voordat dit gebeur beleef iemand baie onsekerheid en onvergenoegdheid. Vir ons as Christene lê ons identiteit natuurlik in Christus, in wat Hy van ons waar maak en wie ons is omdat ons “in Christus” is. As ons besef wie ons is omdat ons nuutgemaak is deur God (ons is geestelik nuwe mense, die ou mens is dood) en as ons verstaan waartoe die Heilige Gees ons in staat stel omdat Hy in ons woon, dan bring dit ʼn baie spesifieke perspektief. En nee, dit gaan nie hier daaroor om fanaties en weird te wees nie. Dit gaan oor ʼn manier van dink oor jouself en die vermoë om dan op te tree volgens wie jy is. (Kyk gerus na Neil T. Anderson se Victory Over Darkness wat baie kan help om te verstaan wat alles hier ter sprake is.)

Hoe jy oor jouself dink is baie belangrik; dit bepaal in ʼn groot mate hoe jy dink ander mense oor jou dink (ons is dikwels onnodig gemoeid met projeksie). As ʼn mens nie ʼn baie goeie siening van jouself het nie, dan dink jy dat ander ook nie het nie, en dit beïnvloed die manier waarop jy teenoor hulle reageer.

Om jou identiteit in Christus te vind (sien Anderson), is om te besef dat dit nie meer regtig gaan oor wat ek van ander mense nodig het nie, maar oor wat ek vir ander mense kan beteken, wat hulle van my nodig het omdat God my as instrument kan en wil gebruik. Die Here wil ons gebruik om deur wie ons is omdat Hy in ons woon, ʼn invloed in ander mense se lewens uit te oefen. Wat ander van ons dink word dan eintlik irrelevant, wat belangriker word is die positiewe bydra wat ons die potensiaal het om te kan maak in hoe ander oor hulleself dink. En waar begin ʼn mens om ʼn positiewe bydra te maak in iemand ander se lewe? Deur in hulle belang te stel, opreg belang te stel, vrae te vra, hulle te leer ken – sonder om iets terug te verwag of te wonder wat hulle van my dink of hoe hulle op my belangstelling gaan reageer (terloops, om belang te stel in iemand, gaan nie oor die 100 goed wat JY wil sê nie, maar om uit te vind, deur goeie vrae te vra, wat die 100 goed is wat IEMAND ANDERS wil sê). Weereens, alle mense het ʼn diep behoefte en soeke na aanvaarding en deur bloot geïnteresseerd te wees in iemand is een van die sterkste maniere om te wys dat jy iemand aanvaar. (Vir meer hieroor kan jy gerus na ʼn bekende maar relatief ouerige boek kyk, Dale Carnegie se How to Win Friends and Influence People. Sover ek kan onthou was hy ʼn besigheidsman, maar daar is uitstekend beginsels en insig vir interpersoonlike verhoudings.)

Die tipe interaksie wat ons met mense het, het eintlik niks te doen met of jy ʼn introvert of ekstrovert is nie. Elke mens kan opreg belangstel in ander mense deur vrae te vra en bemoedigend en ondersteunend te wees. Trouens, ek dink ek het sopas in een sin die belangrikste elemente opgesom van goeie interpersoonlike vaardighede en van byna enige gesprek tussen twee mense:

  1. Kweek ‘n gesindheid van opregte belangstelling. Stel opreg belang in iemand anders deur geïnteresseerd te wees in wie hulle is, wat vir hulle belangrik is in die lewe en waarmee hulle hulle besig hou.
  2. Leer om vrae te vra. ʼn Mens wys belangstelling deur vrae te vra en deurgaans beter te probeer verstaan. Die teenoorgestelde hiervan is om te dink jy moet ander probeer beïndruk of vermaak met jou kennis van ʼn onderwerp of om gedurig jou opinie oor iets te lig. Nee, laat ander die praatwerk doen – die meeste mense hou nogal daarvan om oor hulleself te praat!
  3. Let op na geleenthede om iemand te bemoedig of aan te moedig. Die meeste mense waardeer en het oor die algemeen bemoediging nodig in baie aspekte van hul lewens. Die lewe is vir die meeste mense met tye maar bitter swaar. En selfs al is dit nie, is dit lekker om geïnspireer te voel wanneer jy die gevoel kry dat iemand jou of jou situasie werklik probeer verstaan en dan saam met jou opgewonde is oor die moontlikhede daarin.
  4. Help iemand om sy opsies te ondersoek. Dit sluit aan by die vorige punt, maar dis ʼn tipe ondersteuning wat ʼn stappie verder gaan as om net aan te moedig of te bemoedig. Hier gaan dit daaroor om nadat jy werklik eers met iemand goeie rapport bewerkstellig het (deur 1-3, en waarskynlik ook nie al in die eerste gesprek met iemand nie), te dink aan maniere waarop jy iemand kan beïnvloed deur bepaalde denke of persepsies uit te daag en dalk alternatiewe voorstelle te maak wat dalk vir hulle iets kan beteken. (Hier word ʼn bietjie ervaring van die lewe veronderstel, maar niemand hoef ʼn ekspert te wees om uit sy eie ervaring en met wysheid te praat nie.)

Dis die introvert wat poog om hierdie vaardighede aan te leer (en dis regtig nie besonder moeilik nie) wat die groepskonteks wat met tye mag opduik, beter gaan kan hanteer. So ʼn persoon gaan besef dat die ongemak wat hy dalk in die groepskonteks mag beleef, glad nie ʼn weerspieëling is van sy vermoë om werklik met iemand op individuele vlak te connect nie. Sien dan maar die groep met tye as ʼn soort “necessary evil”, iets waarmee bepaalde dinge bloot net vinniger of makliker gedoen kan word as andersins. Maar besef dat die plek waar ‘n mens werklik ʼn verskil kan maak en wat nooit deur een of ander groep vervang kan word nie, die individuele verhouding is wat ons met mense het.

So, hier is ʼn paar dinge om te onthou:

  • Die feit dat jy dikwels jou eie geselskap verkies is okay. Dis okay om nie oral, ten alle tye, onder alle omstandighede en ter wille van ander of almal, aan alles te wil deelneem waaraan almal anders kan dink om aan deel te neem nie. Jy mag maar soms as jy genooi word, sê, “Nee, dankie, ek het ʼn ander afspraak,” selfs al is daardie afspraak met jouself, jou kat en Super Mario Bros., of die Franse filosowe wat jy geniet om te lees vir ontspanning. “Miskien ʼn volgende keer,” werk ook goed, al is dit darem ook nie ʼn mantra nie.
  • Dis okay as ander nie jou introversie verstaan nie. Die probleem lê nie by die introvert nie, maar by hulle wat dit nie verstaan nie. Om te verstaan is natuurlik ʼn tweerigting straat.
  • Dis okay as iemand jou stilte vertolk as doofstomheid of ʼn gebrek aan intelligensie. (Verras hulle gerus deur skielik hardop tot by drie te tel.)
  • Dis okay om nie besonder sterk emosies te ervaar nie, selfs al spring ander uit hul velle of word onvertrooslike trane gestort onder dieselfde omstandighede.
  • Dis okay om ongeïnteresseerd te wees in dinge wat jy as oppervlakkig beskou, solank jy net nie by ander mense die indruk skep dat jy dink dat hulle oppervlakkig is deur daarvan te hou nie.
  • Dis okay om te voel dat jou stand van geluk (happiness) skynbaar baie laer is as dié van meeste mense wat jy ken. Geluk is relatief, gevoelens is bedrieglik en die verwagtings van ander nog meer so.

In verband met die situasie met jou vriendin, die volgende. Ek weet nie wat jou idee van “pursue” is nie, maar hier is my definisie: dis om alles in jou vermoë te doen om iemand werklik te leer ken, en te wys dat jy hulle belange op die hart te dra, nie omdat jy iets terug verwag nie, maar bloot omdat jy hulle vriendskap baie waardeer. Hier is waar meeste mense in die hek duik. Hoekom? Wat hulle pursue nie die persoon nie, maar ʼn liefdesverhouding. Hulle dink dat as hulle maar net in ʼn liefdesverhouding kan wees, dan gaan daar ʼn leemte in hul eie lewe vervul word. Maar dis die verkeerde benadering. Ten spyte van die persepsie wat ons in TV-reekse en flieks kry, behoort ʼn liefdesverhouding amper die spontane resultaat te wees van ‘n ware en hegte vriendskap, en nie andersom nie.

So my ongevraagde advies is om ‘n liefdesverklaring so lank as moontlik uit te stel. Fokus in stede daarop om haar te “pursue” op ʼn manier wat werklik waarde gaan toevoeg in haar lewe: As jy sien sy voel af of bekommerd, vra uit daaroor, nie om raad te gee nie, maar om uit te vind hoe sy voel. As jy sien sy is bly oor iets, wees saam met haar bly en vra verder daaroor uit. As sy iets doen wat jou beïndruk of jou gelukkig maak, sê dit vir haar, versterk haar gevoelens en moedig haar aan. Praat oor soveel moontlik onderwerpe en vra en waardeer altyd haar opinie, moet dit nooit afmaak as onbelangrik of oningelig nie. Vrae eerder vrae vir meer duidelikheid, en verskil gerus, maar doen dit op ʼn manier wat julle beide stimuleer om dalk meer uit te vind oor iets, eerder as dat iemand dom of oningelig voel. Doen ook soveel as moontlik saam, veral die dinge wat sy geniet. Hopelik is dit darem wederkerig.

Daar is nog ‘n kwessie waaroor ons moet gesels: jy vra oor hoe jy met God kan connect en noem dat jy dink dis ʼn verhouding wat jy nog altyd verkeerd verstaan het. Wat bedoel jy daarmee? Hoe het jy dit verstaan?

Groete

Udo

 

Hi Udo

Ek sukkel nog altyd om met God te connect. Ek het al vroeg gehoor dat mens ‘n verhouding met God kan hê, maar dit nooit so beleef nie. Ek het gereeld na Jakobus 4:8 gekyk wat sê “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.” In antwoord daarop het ek Bybelstudie gedoen en gedink ek gaan ervaar hoe God naderkom (soos wat mens ander mense ervaar met wie jy in verhouding is). Ek het besef dat ek my verhouding met God absoluut op gevoel baseer. Ek wil Hom voel en ervaar, en as ek nie doen nie sien ek Hom as afwesig. Iemand het toe egter vir my uitgewys dat God Homself op verskillende maniere openbaar en dat gevoel glad nie ‘n goeie maatstaf is nie. Ek het toe weer bietjie gaan dink en besef dat God al baie kere tot my genader het deur die Skrif en deur die natuur, maar omdat ek Hom in ervarings soek het ek dit misgekyk. Dit wys ook dat my idee van mense verhoudings bietjie skeefgetrek is, deurdat ek baie daarvan op gevoel baseer. 

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ja, om ʼn verhouding met God te hê is ‘n unieke verhouding. Ons het intieme verhoudings met ander mense, maar God is nie ʼn mens nie (maar wel ʼn persoons-entiteit, oftewel persoonlik) en daarom sal wat dit beteken om ʼn verhouding met God te hê in vele opsigte baie uniek wees.

Die woord “ervaring” het natuurlik verskeie betekenisse. Dit kan dui op ʼn fisiese ervaring, d.i. deur my sintuie, of dit kan dui op ʼn emosie, of derdens kan dit ook op ‘n tipe bewustheid dui. Wanneer ek byvoorbeeld sê dat ek ervaar hoe mooi die sonsondergang is, dan het ek eerstens ʼn sensoriese ervaring van die son wat sak en hoe die lig breek om spesifieke kleure te veroorsaak wat dan op my retina val. Maar ek ervaar ook dat die sonsondergang ‘mooi’ is en dis nie ʼn sensoriese ervaring nie, maar ʼn estetiese ervaring oftewel ʼn bewustheid dat die beskrywing “mooi” ooreenstem met wat werklik die geval is. Verder kan ek juis omdat ek ʼn bepaalde bewustheid het, ʼn emosie beleef weens my waarneming van die sonsondergang, iets soos blydskap of verwondering.

Ons ervaring van God is meer soos ʼn estetiese ervaring as ʼn sensoriese ervaring of selfs ʼn emosionele ervaring. God is in elk geval nie ʼn fisiese wese dat ons Hom sensories kán ervaar nie.

Maar hoe ervaar ons God?

Om weer die voorbeeld van die sonsondergang te gebruik. Wat doen ʼn mens om ʼn mooi sonsondergang te ervaar? Jy plaas jouself in die beste posisie om dit te kan ervaar, m.a.w. jy gaan op die regte tyd na die regte plek waar jy die beste moontlikheid het om ʼn sonsondergang te kan ervaar. Dit help byvoorbeeld nie jy sit in jou kamer en hoop jy sien ʼn sonsondergang of ry na die strand as dit bewolk is nie.

Ek dink hier is ʼn analogie met ons verhouding met God. Ons ervaar God wanneer ons onsself in die beste posisie plaas om God te kan ervaar. En wat is hierdie ‘beste posisie’? Dis om planmatig en as deel van ʼn leefstyl, besig te wees met God se Woord, met gebed, deur tyd saam met ander gelowiges te spandeer en God saam met hulle te aanbid, en ook om om te gee vir mense wat geestelik en fisies behoeftig is. Dis hierdie tipe dinge wat die konteks skep om God geestelik te ervaar, net soos die regte tyd en plek die konteks skep vir ʼn estetiese ervaring. (Per implikasie is daar baie dinge waarmee ons kan besig wees wat ons in ʼn baie swak posisie plaas om God te ervaar – dit kan selfs ons ervaring van God verklein, ondermyn of selfs onderdruk totdat ons Hom glad nie meer ervaar nie!)

ʼn Ervaring met God is egter nie ʼn emosionele belewenis as sulks nie, maar ʼn geestelike ervaring. ʼn Geestelik ervaring kan wel tot bepaalde emosies aanleiding gee, maar dis nie dieselfde ding nie. Net so is ʼn estetiese ervaring nie ʼn emosionele ervaring nie, hoewel dit vir sommige wel tot emosionele ervaring kan aanleiding gee – maar dit hoef nie noodwendig nie. Ek kan ervaar en dus bewus wees dat iets werklik mooi is, sonder om enige emosie daaraan te koppel.

Hier is nog ʼn voorbeeld: morele ervaring. ʼn Morele ervaring is die bewustheid en wete dat sekere dinge objektief reg of verkeerd is, ongeag ander se opinie daaroor. Ek weet byvoorbeeld dat dit verkeerd is om my kat, of enige kat, te martel vir plesier. Dis ‘n morele ervaring, maar het as sulks niks met emosie te doen nie. En tog kan iemand baie emosioneel raak as hulle sien hoe iemand ‘n kat, of diere in die algemeen, mishandel.

ʼn Geestelike ervaring is ʼn ervaring van God. Op ʼn heel basiese vlak is dit die bewustheid dat daar iets of iemand soos God is wat waardig is om aanbid te word. Vir ʼn Christen is ʼn ervaring van God egter gesetel in die bewustheid van iets meer: dat en hoe God ʼn persoonlike verhouding met hom of haar begeer. ʼn Christen is dus iemand wat God ervaar deur dinge na te streef wat ʼn verhouding met God fasiliteer: soos deur God as Persoonswese te leer ken, met God te kommunikeer, te hoor wat ander van God sê en ervaar en met ander jou eie belewenis van God te deel, ook op ʼn baie praktiese, fisiese vlak. Soos ek reeds gesê het, al hierdie dinge is maniere om jouself in ʼn posisie te plaas om God te ervaar op ʼn manier wat dit sou beteken om God geestelik te ervaar. Niks hiervan het inherent met emosie te doen nie, hoewel emosie natuurlik nie by enige persoonlike verhouding uitgesluit is nie. Emosie is ʼn spesifieke manifestasie op spesifieke tye van ʼn bepaalde bewustheid, maar weereens, emosie en bewustheid is nie dieselfde ding nie, en die afwesigheid van emosie beteken nie ʼn afwesigheid van ʼn diepe en vaste bewustheid nie.

Jy vra oor hoe jy as introvert met God kan connect. Wel, al die maniere om in ʼn verhouding met God te groei wat ek hierbo genoem het, geld steeds, maar omdat jy ʼn spesifieke persoonlikheid het is daar inderdaad dinge waarop jy spesifiek kan fokus wat jou ervaring van God kan verryk en verdiep.

Jy noem dat jy analities en rasioneel is. Wel, waarom dit nie tot jou voordeel aanwend nie? Ek het ook hierdie spesifieke geaksentueerde persoonlikheidseienskappe (alle mense is natuurlik tot ʼn mindere of meerdere mate rasioneel en analities) en dis ʼn groot rede waarom ek doen wat ek doen, naamlik Christelike apologetiek. Ek probeer sin maak (en probeer ander help om sin te maak) van die aansprake van die Christelike geloof omdat ek die Here ook met my verstand wil liefhê en dien. (Om jou ʼn idee te gee, vrae soos die volgende, en die besinning daaroor, fassineer my eindeloos: Is God real?. Kyk veral na die kort YouTube video’s waarna ek in die artikel verwys).

Die punt is dat jy deur van jou sterkpunte gebruik te maak, maniere kan vind om jou ervaring met God te verdiep. Dit hang natuurlik saam met jou belangstellings (en dit lyk vir my of dit dalk verband hou met die sielkunde en teologie). Ek wonder daarom of jy al van die Strength Finder vraelys gehoor het? Ek sou dit ten sterkste aanbeveel as ʼn aanduiding van waar jou sterkpunte lê. Die idee is dat elke mens ʼn natuurlike neiging het om sterker te wees in sekere dinge as ander, en dat jy uiteindelik jou potensiaal verwesenlik deur op jou “strengths” te fokus en nie toe te laat dat persepsies oor jou “weaknesses” jou terughou nie. Google dit bietjie.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.