ʼn Kort gesprek oor God, sekerheid en arrogansie

Winkelsmidt: Udo, Christene besef nie dat wanneer hulle sê dat hulle die enigste waarheid het, hulle verklaar dat hulle ateïsties is tot elke ander geloof op aarde. Ek sukkel nogal met daardie konsep…is my waarheid die enigste waarheid, of is dit die enigste waarheid vir my as individu…? Daar het onlangs vir my ‘n lig opgegaan toe ek besef dat vir ‘n Islamiet is ek ‘n Ateïs….wat is jou gevoel? Ek glo ook toevallig nie in Zeus, Isis of Ra nie(Egiptiese gode). So vir daardie gelowe is ek ook ‘n Ateïs.

Udo: Die term ‘ateïs’ verwys natuurlik na die idee van ‘geen god’ (van die Grieks, a-theos). Ek dink egter nie dat ‘n Moslem gaan dink dat ek as Christen in ‘geen god’ glo nie (m.a.w. dat ek dink dat daar geen god is nie), maar dat my konsep van God gebrekkig is. ʼn Foutiewe konsep van God, mag inderdaad beteken dat wat ek oor God glo NIE ooreenstem met wat werklik waar is van God nie. Dis slegs in hierdie sin dat ek dalk foutiewelik in ʼn God glo wat nie bestaan nie, maar ek is nie daarom willens en wetens ʼn ateïs nie en dit sou ook nie semanties korrek wees om my so te beskryf nie. Die belangrike punt wat hieruit voortvloei is dat dit nie eintlik genoeg is om te sê dat iemand in ‘God’ glo nie, maar of hul konsep van God ooreenstem met wat werklik die geval is. Laat weet gerus wat jy dink!

Winkelsmidt: ISIS (Islamic State) sal van jou en my in hierdie opsig verskil, hulle sal ons onder die ‘infidel’ kam skeer en sê ons is ongelowig aangesien ons nie Allah aanbid nie, maar dit is ‘n ekstremistiese uitkyk. Ek vind die idee dat ons as Christene ons self die reg toeëien om te besluit dat ander gelowe nie die ewige sal verwerf na die oordeel nie nogal ekstreem in die sin dat ons hulle eintlik ot ateïs verklaar. Dit laat my dink aan Henry Ford se quote oor die Model T, “You can have it in any colour as long as it is black” ek kan dit verander na “You can believe in any God as long as it is my God”?

Udo: ISIS dink ons konsep van God is verkeerd en daarom is ons volgens hulle ongelowig. Maar dit maak nie regtig saak watter etiket jy om iemand se nek hang nie, dit bring ʼn mens nie ver nie. Die feit is eenvoudig dat nie alle konsepte van God geldig kan wees nie – veral nie waar hulle mekaar weerspreek nie. Dit het niks met arrogansie te doen nie, maar met logika. Miskien is ons almal verkeerd, maar ons kan nie almal reg wees as ons konsepte van God mekaar weerspreek nie. Ons kan gerus oor die kwessie van redding ook gesels, maar ek wonder of jy dink dat alle konsepte van God ewe waar kan wees?

Winkelsmidt: Dit is juis hoekom ek nou-nou verwys het na “waar wees vir my as individu” Ek sukkel met die idee van ‘n objektiewe realiteit, als is subjektief, as grappige voorbeeld: vir die krewe op die Titanic was die skip wat sink ‘n wonderwerk…

Udo: Ja, ek is waarskynlik nie so skepties oor of ek iets kan weet van ʼn objektiewe realiteit soos jy nie. Ek dink daar is baie wat ons in ʼn objektiewe sin kan weet. Ek weet byvoorbeeld dat 2 + 2 = 4, dat as ek kop eerste van my balkon afspring ek my dinges gaan sien, dat God nie terselfdertyd kan bestaan en nie bestaan nie, dat dit verkeerd is om my kat te martel vir plesier, dat die Titanic werklik gesink het, en dat krewe nie in wonderwerke glo nie…;). Ek hoef nie arrogant te wees in my kennis van hierdie dinge nie, maar ek kan sê dat ek dit met redelike sekerheid weet. Watter van hierdie dinge is vir jou te subjektief om te sê dat jy dit nie bo redelike sekerheid weet nie?

Winkelsmidt: Ek hoor jou, wat ek bedoel is dat ek nie seker is of ek my subjektiewe realiteit kan afdwing op ander nie. Hoe weet ek met sekerheid, 100% sekerheid dat Islamiete nie die hiernamaals kan betree nie. Ek kan nie dit weet nie, en selfs as ek dink ek weet dit kan ek nie my realiteit oor hulle ekstrapoleer nie, en dit is wat ek bedoel met subjektiewe realiteit.

Udo: Ek dink nie die standaard is 100% sekerheid nie, soos ek sê, dis redelike sekerheid. Daar is min dinge waaroor ons absolute sekerheid kan hê. Is ek 100% seker dat nie enige Moslems die hiernamaals gaan betree nie? Nee, beslis nie. Maar as ek met redelik sekerheid kan weet wie God is, dat die mens redding nodig het, hoe ʼn mens gered kan word en selfs wat dit beteken om God en sy redding doelbewus (let wel, doelbewus) te verwerp, dan kan ek ook redelike afleidings maak oor wie die hiernamaals sou betree en wie nie. As daar ʼn bepaalde waarheid oor hierdie dinge is, dan is dit eenvoudig hoe realiteit is, en nie ek, selfs as Christen, wat “my realiteit” op ander afdwing nie. As ek oortuig is dat 2 + 2 = 4, dan is dit mos nie “my waarheid” wat ek op iemand anders afdwing nie? En ek stem egter saam, ek dink baie Christene is baie arrogant in die manier hoe hulle na ander gelowiges van ander godsdienste verwys en van hulle praat. Maar is arrogansie regtig die default funksie as mens redelik oortuig is van iets? Ek vermoed jy dink hieroor anders as ek. Wat dink jy is die gronde, indien enige, vir hoe iemand die hiernamaals betree?

Winkelsmidt: Om jou vraag te antwoord, ek gee nie myself toestemming om te dink dat ek daardie vraag eers mag antwoord nie. Ek vat Mattheus 7:1 baie letterlik op: “ek mag nie oordeel nie”. Ek sal eerder fouteer aan die kant van geen oordeel as verkeerd oordeel.

Udo: As jy Matt 7:1 letterlik opneem, dan kan jy sekerlik Matt 7:21-23 ook letterlik opneem? Maar ek verstaan wat jy sê. Op die ou end is dit God wat sal oordeel, juis omdat Hy alleen die harte van mense ken. My doel is verseker nie om my besig te hou met wie “in” en wie “uit” is i.t.v God se oordeel nie, maar ek is wel besorg oor wat ek met redelik sekerheid kan weet is waar: soos bv. wie die God is wat werklik waardig is om as God te aanbid. Daarom dat ek ʼn Christen is en nie ʼn Moslem of ʼn Jood of enigiets anders nie. Ek hoef nie arrogant daaroor te wees, maar ek hoef ook nie weg te skram vir die implikasies daarvan as waarvan ek oortuig is ooreenstem met wat werklik die geval is nie.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*