Skeptisisme en ʼn verhouding met God

Apostaat vra die volgende op Facebook:

“Wat is die doel van lofprysing? Dit kan tog nie die geval wees dat God dit nodig het nie.”

Ons gesprek verloop soos volg:

Udo: Dalk is dit eenvoudig vir óns nodig, en nie vir God nie…

Apostaat: Ek dink jy is dalk reg. Wat is die gevolg daarvan as ‘n gelowige nie genoeg aan lofprysing deelneem nie?

Udo: Daar is natuurlik baie vorme van lofprysing. Hierdie tipe lofprysing is maar een vorm, so daar is nie regtig so iets soos “nie genoeg aan lofprysing deelneem nie”. Ek kan lof aan God bring vir wie Hy is op talle ander maniere en tye, saam met ander of op my eie. Vanuit ‘n Christelike perspektief is om God op te hou loof, om te vergeet wie Hy is, en dit het inderdaad bepaalde implikasies.

Apostaat: Wat is die bepaalde implikasies daarvan as ‘n gelowige ophou om God te loof en dus vergeet wie hy is?

Udo: In kort, jou verhouding met God ly skade. Maar ek kan dalk vir jou ʼn “worst case scenario” skets wat dalk soos volg ontvou: Jy vergeet van God, jou belangstelling in Hom kwyn. Kommunikasie met Hom versleg. Jou bewussyn van God vervaag. Twyfel en vrae ontstaan. Hierdie vrae wat bedoel is om ʼn soeke na groter begrip te stimuleer, word ʼn verskoning vir apatie. Apatie lei tot skeptisisme, die gevoel dat daar nie eintlik antwoorde is nie, dat jy jouself nog altyd mislei het, spesifiek oor jou verhouding met ʼn God wat nie werklik bestaan nie. En dan wantroue, die gedagte dat alle vermeende antwoorde in elk geval maar net pogings is om blinde oortuigings ten alle koste te verdedig. En dan nie lank voor iemand besef, Ek glo nie meer nie. Hierdie proses, subtiel en stelselmatig, is die proses van apostasie…

Apostaat: Stel my reg as ek verkeerd verstaan, maar dit klink asof jy sê die emosionele band wat ‘n mens ervaar teenoor God deur lofprysingsrituele versterk word, en daarsonder begin jy om vrae te vra oor God.

Hoekom sal ‘n mens ‘n ander antwoord op die vraag “bestaan God?” kry wanneer jy gereeld aan lofprysing deelneem as wanneer jy dit nooit doen nie? Of God bestaan of nie is ‘n feit. Hoe ons voel wanneer ons die vraag vra, verander nie wat die korrekte antwoord is nie.

Udo: Ek dink dit werk soos enige verhouding. Daar is dinge wat jy doen wat die emosionele band kan versterk of verswak. Enige verhouding wat emosioneel agteruit gaan, is op verskeie maniere meer kwesbaar as andersins. My punt is dat iemand wat ‘n gesonde verhouding met God het, nie oor God se bestaan twyfel op dieselfde manier as iemand wat nie so ‘n verhouding het nie. My ervaring met God is dan juis ‘n rede (nie die enigste nie, maar ten minste een van die sterkste redes) om te glo dat Hy bestaan.

Apostaat: Stem jy saam dat of iemand seker is oor God se bestaan of twyfel daaroor maak geen verskil aan of God bestaan nie?

Udo: Stem jy saam dat as iemand ‘n verhouding het met die God wat werklik bestaan, dan maak iemand anders se twyfel nie ‘n verskil aan my sekerheid nie?

Apostaat: Ja, iemand anders se twyfel hoef nie genoeg te wees om iemand te oortuig nie.

Ek vra omdat ek nie verstaan nie, en graag wil: Hoekom sal ‘n god homself slegs openbaar teenoor dié wat reeds in ‘n verhouding met hom is? Waarom soek die goeie herder nie na sy verlore skaap nie?

Udo: Ek dink ‘n verhouding met God is meer subtiel as wat skeptici dikwels dink. God wil nie net van geweet wees nie, Hy wil geken wees. So dis nie die geval dat God hom slegs openbaar aan diegene wat reeds in ‘n verhouding met Hom is nie. Die vraag is dus oor waarom God homself sou openbaar aan iemand wat in die eerste plek nie belangstel in ‘n verhouding met Hom nie (hulle is net nuuskierig oor of Hy werklik bestaan)? Die tweede vraag is of iemand wat werklik ‘n verhouding met God begeer hom of haarself in ‘n posisie gaan plaas waarin hulle God se openbaring kan ontvang en in ‘n verhouding kan groei. Dit help tog nie iemand sê hulle wil hê dat God homself aan hulle moet openbaar alles wat hulle doen en sê ‘n bewys van die teendeel is nie.

Apostaat: Udo, dit maak nie vir my sin om ‘n verhouding te soek met iemand sonder dat ek weet hy bestaan nie. As ek dit sou doen, hoe kan ek weet dat ek nie net met myself praat nie?

Udo: Dis juis omdat ek in verhouding met God staan, dat ek weet dat ek nie maar net met myself praat nie. Ek wonder egter oor iets. Sou jy sê dat as jy wat Apostaat is kan weet dat ‘n wese soos God bestaan, dan sal jy wat Apostaat is ook in ‘n persoonlike verhouding met Hom belangstel? En as ‘n verhoudingswese soos God bestaan, dink jy dat hy onder verpligting is om mense bloot van sy bestaan bewus te maak as hy terselfdertyd weet dat sulke kennis nie opsigself tot ‘n verhouding met hom gaan lei nie? M.a.w. watter verskil gaan dit aan iemand maak dat God bestaan as hulle niks met hom te doen wil hê nie? Ek wonder hieroor, want dalk is God se bestaan duidelik genoeg vir diegene wat terselfdertyd ook belangstel in ‘n verhouding met God, en dalk kan God se bestaan nooit duidelik genoeg wees vir diegene wat nie werklik in hom belangstel nie.

Apostaat: Dit klink vir my na ‘n aaklige ding om te doen: om te weier om jou bestaan bekend te maak aan iemand omdat jy reken hulle sal nie van jou hou nie, en dan hulle vir ‘n ewigheid te straf daarvoor dat hulle nie in jou geglo het nie.

Die ander kant van die saak is dat ek vir baie jare opreg gesoek het, met die aanname dat God bestaan. Ek het gebid, ek het die Bybel gelees, ek het kerk toe gegaan en probeer optree soos ek gedink het ‘n Christen behoort op te tree. Wil jy nou vir my sê dat God dít alles gesien het en steeds oortuig was dat ek nie in ‘n verhouding met hom belangstel nie?

Udo: Ek vra jou weer: watter verskil gaan dit aan iemand maak om te weet God bestaan as God weet dat hulle nie ook in ‘n verhouding met Hom sou belangstel nie? En dan maak jy verder ‘n aanspraak dat God iemand vir ewig straf bloot omdat hulle nie in hom glo nie. Waar kom jy daaraan?

Ek probeer glad nie aannames maak oor jou opregtheid nie. Maar ek wonder oor ‘n klomp dinge van daardie destydse soeke van jou. Waarna presies het jy gesoek of wat het jy gehoop om te vind? Wat het jy gedink beteken dit om ‘n verhouding met God te hê of te ontwikkel? En hoe het jy gedink *behoort* ‘n Christen op te tree?

Apostaat: Ek stel belang in die waarheid. Dit is hoekom dit vir my ‘n verskil maak om te weet of God bestaan. Ek kan nie iets sê oor God se motivering as hy wel soos jy voorstel my weerhou daarvan om hom te ervaar, maar ek hou vol dat dit ‘n aaklike ding sou wees om te doen.

Die idee dat God mense vir ewig sal straf vir ongeloof kom uit die Bybel en is die basis van die Christelike godsdiens. As jy dink ek is hieroor verkeerd sal ek graag wil hoor hoekom.

Udo: My vraag bly dieselfde: so belangrik as wat enige waarheid in opsigself is, watter verskil maak dit aan iemand om die waarheid oor God se bestaan te weet, as dit terselfdertyd die geval is dat God weet dat hulle nie ook in ‘n verhouding met Hom belangstel nie? Hiermee sê ek glad nie, soos jy verkeerdelik dink, dat God enigiemand daarvan weerhou om hom te ervaar nie (God wil juis hê dat alle mense hom sal leer ken). Dit gaan hier oor hoe skeptici dikwels eis dat as God bestaan, hy sy bestaan duideliker moet maak. My vraag is: waarom? Gaan sulke skeptici ook in ‘n verhouding met God wil tree, net omdat God se bestaan byvoorbeeld op een of ander manier wetenskaplik bewys kan word? Die punt is dat God se bestaan duidelik genoeg is (en dit het niks met blinde geloof te doen nie) vir diegene wat terselfdertyd ook belangstel in ‘n verhouding met God en dat dit eenvoudig nooit duidelik genoeg is vir diegene wat nie werklik in God as ‘n verhoudingswese belangstel nie.

Nou, ek hoor jy sê jy het opreg na God gesoek en hom nie gevind nie. Ek stel belang in waarna jy presies gesoek het of wat jy verwag het om te vind. Ek sien jy het intussen iets daaroor geblog (https://apostaat.wordpress.com/2017/04/23/soek-en-jy-sal-uitvind/). Ek reageer later daarop.

Laastens, ek ontken nie die realiteit van die hel nie, maar jou aanspraak dat God mense vir ewig straf vir ongeloof, vra om verduideliking. Kan jy aandui wat jy in die Bybel lees wat jou tot so ‘n gevolgtrekking bring? En hoekom sê jy is dit die *basis* van die Christelike geloof?

Apostaat: Udo, as dit só is dat God die wêreld so liefgehad het dat hy sy eniggebore seun gestuur het sodat elkeen wat in hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê, dan is dit ook waar dat God elkeen wat nie in hom glo nie, sal laat verlore gaan. Nie omdat ons teen hom optree nie, nie omdat ons immoreel leef nie, omdat ons nie in hom glo nie. Wat is ek veronderstel om te doen? Is ek veronderstel om voor te gee dat ek oortuig is oor iets waaroor ek nie oortuig is nie? As hy alwetend is sal hy dít ook weet. Hy sal weet dat ek eerlik na die waarheid soek en hom nie vind nie. Ironies genoeg sou dit my slegs gepla het as ek wel in God geglo het. Wat my wel pla is dat daar gawe goeie mense in hierdie wêreld is, wat oortuig is dat ek ‘n ewige straf verdien. Mense wat hulle naaste liefhet, maar nie bereid is om hulle God te bevraagteken oor sy plan om ons hel toe te stuur nie.

Udo: Wat dink jy beteken daardie “in Hom glo” van Joh. 3:16? En waarom sê jy dat dit Gód is wat iemand verlore laat gaan wanneer daar juis in die volgende vers (17) staan, “God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom gered kan word”? Die vraag is dus eerder: Wat staan God te doen as Hy alles gedoen het wat nodig was om mense te red, maar mense verwerp sulke redding of dink dat hulle redding nie nodig het nie? Dis deels hoekom ek gevra het wat jy verwag het om te vind in jou soeke na God. In jou blog noem jy ʼn klomp dinge, maar dis noemenswaardig dat ʼn besef dat jy redding nodig het, nie deel daarvan nie. As die kern van die Christelike geloof gaan oor hoe ons as mense met God in ʼn verhouding versoen kan word, en jy ontken dat jy nodig het om met God versoen te word deur sy redding te aanvaar, dan het jy God inderdaad nog nie gevind nie. Jy sê:

  • “Ek wou die gevoel hê dat God daar is”, maar het jy al ooit die gevoel gehad van die sonde in jou eie lewe wat jou weerhou van ʼn verhouding met ʼn heilige God?
  • “Ek wou daardie warm gevoel van liefde hê waarvan gelowiges praat”, maar het jy al ooit iets van God se liefde teenoor jóú besef, van wat dit God gekos het om dit moontlik te maak om met hom versoen te kan word?
  • “Ek wou ʼn manier hê om te weet my gebede word gehoor”, maar het jy ooit besef dat die belangrikste gebed wat jy kon bid, voordat jy hoef te wonder of God al jou ander gebede hoor, bloot is om in dankbaarheid te aanvaar wat God deur Jesus vir jou gedoen het?

Wat dink jy is die kanse dat as jy hierdie dinge (naamlik ʼn sondebesef, God se liefde, en dankbaarheid) werklik ervaar het, dat jy God dán sou gevind het? Dit is juis omdat dit oor die waarheid van hierdie dinge gaan dat die Heilige Gees gedurig met mense werk om hulle daarvan te oortuig. Dit is hierdie dinge wat die grond voorberei vir ʼn verhouding met God. Geen mate van oortuiging van die blote feit dat God bestaan, maak opsigself ʼn verhouding met Hom moontlik nie.

Dis dus inderdaad so dat God weet dat jy eerlik gesoek het na bepaalde waarheid oor Hom, maar volgens alle aanduiding het jy nog nie werklik na ʼn verhouding met Hom gesoek nie. Want as jy het, dan sou jy God lankal gevind het. Hoe anders? God is ʼn God wat gevind wil word sodat ons in die seën en rykdom van ʼn verhouding met Hom kan leef! Sedert jy destyds “jou benadering verander het” is jy sedertdien besig om die Heilige Gees se werking om jou te oortuig van sonde, sy begeerte na versoening met jou sowel as hoe Hy dit moontlik gemaak het, aktief teen te staan. Dis nou as jou algemene gesindheid en strewe om enige gedagte aan God as ʼn valse oortuiging te probeer demonstreer, enige aanduiding is.

Ek weet jy is iemand wat besorg is oor waarheid en dis goed so, maar nie alle waarheid is te vinde in ʼn stelling wat reg of verkeerd bewys kan word nie. God is nie ʼn stelling wat reg of verkeerd bewys moet word nie; God is ʼn persoon wat jou uitnooi na ‘n verhouding met Hom en wie se teenwoordigheid in jou lewe algaande duideliker word soos wat jy in ‘n verhouding met Hom groei.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.