Is ʼn teologie van die liefde genoeg?

Udo, wat dink jy van die idee dat die belangrikste van die teologie is dat ʼn mens ʼn teologie van die liefde moet nastreef?

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

My vraag sou wees oor hoe iemand die idee van die liefde teologies regverdig. Ek dink die sentraliteit van die liefde in die teologie is baie belangrik, maar nog belangriker is die begronding daarvoor.

Dink daaraan. Hoe betekenisvol is dit om van die “liefdesgebod” te praat sonder die bestaan van ʼn persoonlike en goeie God? Dis omdat ons in ʼn teïstiese heelal leef, dat die wet van die liefde (Gal. 5:14) sin maak.

Of anders gestel: as ʼn algoeie God nie bestaan nie, en daar dus nie sprake is van ‘n absolute morele verwysingspunt nie, hoe kan ʼn mens dan werklik ‘n objektiewe onderskeid tref tussen iets wat ‘goed’ of ‘sleg’ is, of optredes wat ‘reg’ of ‘verkeerd’ of wat ‘liefdevol’ of nie is? Is ons nie dan uitgelewer aan subjektiewe en relatiwistiese opinies op individuele of samelewingsvlak nie? Wat vir jou en jou samelewing reg is, is nie noodwendig vir my en my samelewing reg nie. Waarom sou dit?

Natuurlik is ons die tipe wesens wat wanneer ons rasioneel reflekteer tot die gevolgtrekking kom dat mense oor die algemeen pyn probeer vermy en gelukkig wil wees. Sodoende kan ons ʼn etiese stelsel uitwerk, sonder verwysing na God, waarvolgens dit “verkeerd” is om ander fisiese of emosionele skade te berokken, of dat dit “reg” is om mense se welvaart te bevorder.

Alles goed en wel, maar waarom behóórt ons sulke dinge doen? Waarom is die mens die tipe wese aan wie ons nie skade sou mag doen nie? Ja, mense, soos alle biologiese organismes is pynvermydend, maar wat daarvan? Hoe veronderstel dit ʼn morele verpligting om nie pyn aan ‘n ander te veroorsaak nie? En waardeur word ons verplig om enigiemand se welvaart te bevorder? Ter wille van wederkerige voordeel en sodoende uiteindelik ter wille van oorlewing? Maar waarom behóórt die mens te oorleef?

Ten diepste is die vraag oor wat aan die mens inherente waarde gee dat ons sodanig verplig sou wees/voel om mekaar met liefde en respek te hanteer. Die Christelike antwoord is dat alle mense die beeld van ʼn persoonlike God reflekteer, en daarom dat ons inherente en objektiewe waarde het. Dit maak sin op ʼn manier wat die alternatiewe antwoorde nie doen nie.

Dit beteken dat selfs al glo iemand verkeerdelik dat God nie bestaan nie, dan is hulle steeds wesens met werklike morele ervarings (en wat die morele gewig van die liefdesgebod kan begryp) omdat hulle, ten spyte van wat hulle sou glo, na die beeld van God geskape is. Maar indien God nie bestaan nie, dan is die liefdesgebod dalk iets wat tot ons spesie se vooruitgang en oorlewing bydra (ʼn feit wat opsigself geen morele verpligting veronderstel nie), maar nie iets wat ons nastreef omdat enige mens enige inherente waarde het nie.

Ter opsomming dus. Die idee van liefde kan nie anders as om slegs uit goeie teologie wat die bestaan van ʼn persoonlike en liefdevolle God erken, gebore te word nie en dat ʼn gesprek oor die liefde hierdie feit nooit kan miskyk nie.

Groetnis

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*