Waarheid vs. Opregtheid

ʼn Gesprek op Facebook:

Udo: Apostaat, jy skryf (sien https://apostaat.wordpress.com/2017/03/15/om-te-maak-of-jy-glo): “Iemand wat opreg oor godsdiens dink sal óf genoeg rede vind om te glo, of min genoeg om te weet hy glo nié.” Met so ʼn sin kan dit amper klink asof jy sê dat iemand wat opreg oor godsdiens dink tóg genoeg rede kan hê om te glo dat iets waar is. Ek weet natuurlik dat jy “om te glo” definieer as om iets “sonder rede aanvaar”. So wat jy skynbaar eintlik wil sê is dat iemand wat opreg oor godsdiens dink genoeg rede sal vind om iets sonder rede te aanvaar – wat ongelukkig niks anders as ʼn karikatuur veronderstel nie. Kom ek probeer verduidelik.

Jy sê verder aan dat dit moontlik is dat hoogs intelligente en geleerde mense valse geloofsoortuigings kan te hê. Hiermee stem ek natuurlik saam, daar is altyd die *moontlikheid* om valsheid te glo, maak nie saak wat jou oortuiging is en waaroor jy daardie oortuiging handhaaf nie – selfs in ʼn veld soos die natuurwetenskappe.

Hier is egter my vraag: Is dit moontlik vir hoogs intelligente en geleerde mense om ware geloofsoortuigings te hê? M.a.w. is dit moontlik vir hulle om, soos jy dit stel, “sommige dinge met ‘n redelike sekerheid te weet” juis omdat hulle al opreg oor dinge gedink het? Ek dink nou spesifiek aan filosowe en wetenskaplikes wat ook teïste is, soos Marilyn McCord Adams, Eleonore Stump, Alvin Plantinga, Richard Swinburne, Peter van Inwagen, Simon Conway Morris, John Polkinghorne, James Tour, John Suppe en Henry Schaefer. Wie van hierdie mense, dink jy, het hulle geloofsoortuigings sommer so by die agterdeur ingesleep? Of is redelike sekerheid net beskore vir diegene (ja, óók hoogs intelligent en geleerd) wat godsdienstige idees verwerp het? Ek sal graag jou antwoord wil hoor, want ek dink jy wys vooroordeel wat jou blind maak vir die simplistiese wyse waarop jy hier argumenteer.

Nog iets. Jy impliseer dat jy darem gelukkig nooit daaraan skuldig was “om te maak asof jy glo” nie, skynbaar in teenstelling met al die ander arme siele destyds in die kerk rondom jou. So ons hoef dus nie te wonder oor waarom jy jou artikel juis só betitel nie. Maar hier is my vraag, en kom ons verwys weer na daardie hoogs intelligente en geleerde teïste wat ek by name genoem het: Kan jy asseblief ʼn aanduiding gee oor wie van hulle bloot máák asof hulle glo?

Apostaat: Udo, duidelik is daar mense wat oortuig is dat hulle idees oor die bonatuurlike waar is. Ek is van die opinie – en jy weet dit want ons het al hierdie gesprek gehad – dat geloof nie ‘n manier is om by die waarheid uit te kom nie.

Jy vra so graag vir my hoekom dit vir my belangrik is om oor godsdiens en geloof te skryf, en hierdie post is ‘n antwoord op daardie vraag. As ek sou stilbly, sou dit beteken dat ek maak asof ek glo. Ek is nie bereid om dit te doen nie, want dit is oneerlik.

Jou implikasie dat ek sê daar is baie Christene wat maak asof hulle glo is ‘n wanvoorstelling van wat ek skryf. As jy verder hieroor wil gesels, sal ek dit waardeer as jy hierdie punt erken.

Udo: Jy het nadat jy mooi daaroor gedink het tot die oortuiging gekom dat godsdiens en geloof vals en skadelik is, en daarom kan jy nie stilbly nie. Ek verstaan dit. Uit wat ek egter tot dusver gesien het, handhaaf jy ʼn klomp karikature en oningeligte opinies van wat die Christelike siening oor ʼn klomp sake werklik is nie.

Ek verstaan dat die punt van jou artikel is “Stilbly is om te maak of jy glo”. Dis natuurlik retories baie minder uitlokkend as die gekose titel “Om te maak of jy glo”. En dis juis hierdie spesifieke betiteling wat my laat dink het dat jy eintlik impliseer dat ander Christene destyds in die kerk rondom jou “gemaak het of hulle glo”. Hoekom sê ek so?

Wel, jy skryf elders dat “om te sê jy weet wanneer jy nie regtig weet nie, is ‘n leuen”. Jy impliseer hiermee dat ʼn Christen iemand is wat sê hy weet wat hy nie regtig weet nie. As dit die gronde van ʼn Christen se oortuiging is, dan is dit niks anders as om te maak of jy glo nie, nie waar nie? (“Om te maak of jy glo” is dan ook dieselfde as om te lieg.) Die probleem is dat dit dan onmoontlik is “om oortuig te wees dat jou idees oor die bonatuurlike waar is”, as jy bloot sê jy weet wat jy inderwaarheid NIE weet nie.

As jy dus wil ontken dat jy impliseer dat Christene bloot maak of hulle glo, dan moet jy ook bereid wees om te erken dat dit so kan wees dat Christene wérklik weet wat hulle hulle weet en nie maar net sê hulle weet wat hulle nie regtig weet nie. Is jy bereid om dit te doen?

Ek het ook al pertinent vir jou verduidelik, in ʼn reeks gesprekke, dat geen deurdagte Christen die simplistiese siening handhaaf dat “geloof” (volgens jou def.: “om te glo jy’s reg sonder goeie rede”) die manier is om by die waarheid uit te kom nie. Het jy nie verstaan wat ek probeer verduidelik het nie of is jy maar tevrede met ‘n simplistiese en valse weergawe van sake?

Apostaat: Kan jy vir my ‘n voorbeeld gee van ‘n saak waaroor my opinie oor die “Christelike siening” oningelig is?

Udo: Apostaat, elke stuk kommentaar wat ek hier lewer op jou Facebook-blad dien as voorbeeld van waar ek probeer aantoon dat jy oningelig en/of besig is met karikature.

Hier is die mees onlangse voorbeeld: “Ek is van die opinie – en jy weet dit want ons het al hierdie gesprek gehad – dat geloof nie ‘n manier is om by die waarheid uit te kom nie.” As dit jou opinie is dat geloof (skynbaar om oortuig te wees van iets sonder goeie rede) vanuit ʼn Christelike perspektief die metodologie is waarvolgens waarheid bepaal word, dan is jy oningelig.

Apostaat: Okay. Wil jy vir my vertel hoe jy te werk gaan om die waarheid te bepaal?

Udo: As “waarheid” in essensie gedefinieer kan word as die ooreenstemming tussen ʼn oortuiging en/of stelling, en wat werklik die geval is, dan het die proses om by die waarheid uit te kom te doen met kritiese denke en refleksie waarby geldige argumentering en relevante getuienis ʼn belangrike rol speel. Na aanleiding van die spesifieke area van ondersoek vir wat waar is geld spesifieke metodes en instrumente vir ondersoek. By ʼn natuurwetenskaplike ondersoek van wat werklik die geval is geld die metodes en instrumente van die wetenskap; filosofiese waarhede vereis ondersoek deur die metodes en instrumente relevant tot die filosofie; historiese waarheid word ontdek deur die metodes en instrumente van historiese ondersoek, ens.

So, waar dink jy pas ʼn Christen die metodologie van blinde oortuiging toe om die waarheid te bepaal?

Apostaat: Watter metodologie gebruik jy om te bepaal dat God bestaan?

Udo: God se bestaan is ‘n metafisiese vraagstuk en daarom word ‘n gepaste ondersoek gedoen met die metodes en instrumente van die filosofie. Gaan kyk weer na daardie verwysings in my artikel, Is God Real? as jy ‘n idee wil kry van hoe ‘n mens filosofies te werk gaan. En laat weet my gerus watter van die gevolgtrekkings daar is die resultaat van blinde oortuiging…

Apostaat: Ek is vertroud met hierdie argumente, en ek is seker jy sal nie verbaas wees om te hoor dat ek dink sommige van die idees is verdag nie. Ek sal dit graag ‘n ander keer wil bespreek, maar op die oomblik wonder ek of jy bereid sou wees om nog ‘n vraag te beantwoord: Wat sou jy sê vir iemand wat net so sterk oortuig is oor ‘n ander god, as wat jy oor joune is? Iemand wat opreg in gesprek is met jou, en julle probeer mekaar verstaan. Wat sou jy vir hom sê? Wat sou jy vir hom vra?

Udo: Apostaat, in so ‘n gesprek sal dit afhang van die aansprake wat oor God gemaak word en om sulke aansprake dan te ondersoek. M.a.w. dit gaan nie oor opregtheid nie, maar oor wat waar is. Dit is, stem my oortuigings ooreen met wat werklik die geval is.

Apostaat: Udo, ek stem saam dat dit nie oor opregtheid gaan nie. Dit is ongelukkig die geval dat daar baie mense is wat dink dat ‘n idee wat opreg geglo word meer respek vereis as een wat uit die bloute voorgestel word.

Udo: Hopelik verstaan jy teen die tyd dat ek nie een van daardie mense is nie. Alle idees moet op meriete beskou kan word.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*