Ons outoriteit en God se wil

Goeie môre,

Die vader het ons geleer om te bid: “as dit Sy wil is”. Tog het Hy terselfdertyd vir ons die outoriteit gegee om te bid dat Hy mense in sy naam gesond sal maak. Maar as ons met sulke outoriteit kan bid, waarom bid ons dan dat Hy hulle sal gesond maak as dit Sy wil is

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek dink dis belangrik om te besef dat outoriteit dikwels gedelegeerde outoriteit is. Dit beteken dat sulke outoriteit nog steeds ondergeskik kan wees aan die wil van die een wat dit toegestaan het.

ʼn Analogie mag help.

ʼn Enkelma het ʼn kinderoppasser wat elke Dinsdagaand na haar tweeling-dogters omsien terwyl sy skilderklasse neem. Sy gee outoriteit aan die oppasser om te sorg dat hulle 8 uur in die bed kom. M.a.w. die kinders sal die oppasser gehoorsaam, want die oppasser het outoriteit van die ouer ontvang.

Veronderstel egter die ma belowe haar kinders oor die naweek dat sy vir hulle daardie Dinsdagaand ʼn geskenk van haar skilderklas af gaan saambring (sy werk al weke aan ʼn groot gesinsportret wat sy van ʼn foto af skilder), want dis immers hulle verjaarsdag.

Dinsdagaand breek aan en die oppasser wil die kinders soos gewoonlik bed toe neem. Nee, sê die kinders, hulle wag vir hulle ma wat gesê het sy bring vir hulle ʼn geskenk vir hulle verjaarsdag.

Die oppasser besef dadelik dat sy nie hier haar outoriteit sonder diskresie kan afdwing nie, omdat dit inderdaad die geval mag wees dat die ma vir die kinders ʼn geskenk wil bring. Die ma het dalk net vergeet om haar daarvan te sê en die wyse optrede sal wees om vir die ma dalk ʼn sms te stuur om te vra wat sy te doen staan. Die ma mag dan antwoord dat sy inderdaad so ʼn belofte gemaak het. In so ʼn geval is die oppasser se outoriteit onderworpe aan die wil van die ma, en mag en kan sy dus nie haar outoriteit uitoefen nie.

Dis wat ek bedoel met gedelegeerde outoriteit. Wat ons die naam van Jesus kan en mag doen, kan en mag steeds afhanklik wees van die Vader se wil. Ons kan en moet altyd in gebed na God gaan, ons bly van Hom afhanklik en moet altyd sensitief bly vir hoe die Heilige Gees ons lei.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.