‘n Vraag oor ateïsme

Hi Udo

Gewoonlik sê ʼn ateïs, “bewys vir my daar is ʼn GOD”. Kan ek daai vraag omswaai en vra, vanaf ʼn Christen se perspektief: “bewys vir my daar is nie ʼn GOD nie”?

Terloops, hoe hanteer ʼn mens ʼn ateïs in die alledaagse lewe?

En is ons nie almal maar op sy eie manier ʼn ateïs nie, want nie een van ons kan sê ons glo met alles wat in ons is in GOD nie. Om elke hoek en draai bevraagteken ons alles oor die kleinste en geringste ding wat fout loop in ons lewens.

Ek weet die pad van Christen-wees is nie maklik nie, dat daar altyd struikelblokke gaan wees, maar hoe weet jy of sulke struikelblokke mensgemaak is, van GOD af kom of van die Satan af?

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Hier is my antwoord in vier punte:

  1. Ek dink dat enigiemand wat enige aanspraak maak, redes behoort te kan gee wat so ʼn aanspraak ondersteun. So, as ʼn Christen sê, “God bestaan”, dan is dit heeltemal geregverdig om te vra wat die redes is vir waarom hulle so dink. Dit is dus net so geregverdig m.b.t. die ateïs wat sê, “God bestaan nie”. Wat is die redes vir waarom hulle glo dat so ʼn aanspraak waar is?
  2. Hoe hanteer ʼn mens ʼn ateïs? Soos jy enigiemand sou hanteer wat anders dink en glo as jy: met menswaardigheid en respek. Stel bloot belang in wat hulle dink en glo, en in hoekom hulle dit dink en glo, en wys dat jy probeer verstaan wat hulle oortuigings werklik is, eerder as om op hulle neer te praat of om hulle bloot te wys waarom hulle verkeerd is. Hier is die goue reël: ons benadering tot en gesprekke met mense moet altyd een wees waar iemand anders, ten spyte van verskille, ʼn positiewe ervaring met jou gehad sodat hulle bereid sal wees (selfs mag uitsien) om ‘n volgende keer weer in jou geselskap te wees. Dit beteken dat ons baie meer bereid moet wees om te luister en te probeer verstaan, as wat ons geneig is om vir ander te preek of bloot teë te spreek.
  3. Daar is dikwels ʼn nuanse wat verlore kan gaan wanneer die term “geloof in God” ter sprake kom. Daar is twee maniere om die term te verstaan. Eerstens kan dit bloot verwys na die feit dat iemand “glo in God se bestaan” (m.a.w. hulle is oortuig dat die stelling, ‘God bestaan’ ooreenstem met wat werklik waar is). Maar daar is ʼn tweede aspek van iemand se “geloof in God” wat meer omvattend is. Hierdie geloof is nie maar net ʼn oortuiging dat God bestaan nie, maar gaan oor vertroue in God in ʼn verhoudingskonteks. M.a.w. God wil nie maar net hê dat enigiemand moet oortuig wees dat Hy bestaan nie, maar Hy wil hê dat iemand Hom sal vertrou vir wie Hy is en wat Hy in en deur hulle lewe wil doen omdat Hy in verhouding met hulle staan. So jy is heeltemal reg. Te veel Christene sê dat hulle in God glo (hulle glo dat Hy werklik bestaan), maar het nog nie geleer wat dit beteken om in vertroue van Hom te leef nie en dáárom dat hulle die teleurstellings en swaarkry van die lewe dikwels so swak hanteer.
  4. Ja, die Christelike manier van doen en dink is definitief nie die pad van die minste weerstand nie en daarom nie noodwendig die pad wat altyd met sonskyn en rose besaai is nie. Maar dis beslis die pad wat die mees betekenis aan ons lewens gee. Dis ʼn pad wat ander se belange op die hart dra selfs al leef ons meestal in ʼn selfgesentreerde en materialistiese kultuur waarin gebroke verhoudings aan die orde van die dag is. Hoe weet ons egter wat die oorsaak van ʼn bepaalde struikelblok is? Wel, dit gaan afhang van die tipe struikelblok. Maar dis nie so belangrik watter tipe struikelblok ʼn mens teëkom nie, eerder hoe jy die struikelblok gaan oorkom. Maak jy staat op God se doel vir jou lewe en die krag waartoe Hy jou in staat stel, of kyk jy jou vas in jou omstandighede soos iemand wat geen benul het van waaroor die lewe werklik gaan nie.

Hier is ‘n paar plekke waar jy meer kan lees oor ateïsme:

Jy is welkom om enige tyd verdere vrae te vra.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.