Verlore Israeliet, verlore kennis

Ek moet bieg. Dit fassineer my eindeloos om die skrywes van wit Afrikaners aan die onderpunt van Afrika te lees wat aan hulleself dink as die tien verlore stamme van Israel wat YaHWeH aanbid en hul Messiach, Yeshua navolg. En met navolg bedoel ek al 613 wette van Moses, seremoniële wette en al. En met Yeshua bedoel ek nie die Goddelike Seun van God soos ortodokse Christene as Here van die here aanbid nie, maar die Yeshua wat God gebruik het om slegs diegene met ʼn blanke vel (m.a.w. verlore Israeliete) te red.

Die mistastings, verdraaiings en dun-versluierde rassisme uit hierdie geledere floreer. Daarom dat ek heel gretig was om kommentaar te lewer op die Facebook-groep, “Wat is Die Waarheid?” gestig deur die Neo-Israeliet, Japie van Zyl, oftewel die sogenaamde “Boerseun van Migdol”. Ek was egter bewus dat hierdie groep nie teenspraak duld nie en dat enige persone met meningsverskille summier geblok word.

Nietemin, ek het twee plasings kon doen voordat ek ook onvermydelik geblok is. Ek vermoed my eerste plasing en die draak-stekery wat daarmee gepaard gaan, het onderdeur die radar gevlieg, maar my tweede plasing was duidelik een te veel. Die leser kan egter vir hulself besluit…

Japie se Facebook-plasing: Christen lewe jy onder die Nuwe Testament?

My kommentaar:

Dankie, Japie, nadat ek hierdie gelees het besef ek dat die idee van ʼn “nuwe testament” sommer louter snert is.

Ek besef nou dat as Heb. 9:15 sê Yeshua is “Middelaar van ’n nuwe testament, sodat, terwyl daar ’n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste testament, die wat geroepe is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang”, dan moes die skrywer van Hebreërs sy idee van ʼn “nuwe testament” by Marcion gekry het (alhoewel Marcion eers in die tweede eeu geskryf het en die brief aan die Hebreërs waarskynlik vóór 70 n.C., maar dis ʼn onbelangrike detail).

Ek besef verder dat as Lukas praat van hoe Jesus die beker ná die maaltyd neem en sê, “Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word,” (Luk. 22:20) dan het óf Lukas óf Jesus die idee van ‘n “nuwe testament” by Marcion gesteel (Lukas was seker die blikskottel wat woorde in Jesus se mond gelê het, want Marcion is eers in 85 n.C. gebore; alhoewel, nou dat ek daaroor dink, Lukas het sy evangelie geskryf lank vóór Marcion op die toneel verskyn het… Ag wat, nog ʼn onbelangrike detail.)

Ek besef nou ook dat as die skrywer van die brief aan die Hebreërs die gedeelte uit Jeremia 31:31-34 in Heb. 8:8-12 aanhaal en dan daaroor in vers 13 sê, “As Hy sê ’n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning,” dan weet hy duidelik nie waarvan hy praat nie. Ook nie as hy sê, “Maar nou het Hy ’n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ’n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is. Want as daardie eerste een onberispelik was, sou daar nie plek vir ’n tweede gesoek word nie.” (Heb. 8:6-7) Wat wou! Wie soek dan nou na ʼn tweede, beter verbond as die eerste goed en ewig is?

Ek het nou al hierdie gedeeltes, sommer saam met Paulus se verregaande skrywes in 2 Kor. 3:6-8 en Rom. 7:6-7 asook Ef. 2:15, met Tip-ex uitgevee. Die probleem is dat my Bybel nou nie meer so lekker lyk nie (wat dink jy, moes ek dit dalk eerder met ʼn swart koukie uitgekrap het?). Ag wat, dit maak seker nie saak hoe my Bybel lyk nie, al wat saak maak is dat dit die waarheid weerspieël, nie waar nie?

Trouens, as die eerste verbond goed genoeg is vir die Boerseun van Migdol, dan is dit sekerlik goed genoeg vir die Here! (As Paulus en die skrywer van Hebreërs maar net een van daai vet woordeboeke op jou boekrak tot hulle beskikking gehad het, dan het hulle sekerlik nooit van ʼn “nuwe” of “beter” verbond gepraat nie!)

Baie seëninge vir jou; mag jou beeste altyd bosluisvry wees en jou kakieklere nooit kreukel nie.

Groete

(NS: Japie verwys na die Hebreeuse woord “chadash” in die Strong’s H2319 en dui korrek aan dat die wortel daarvan in die Strong’s H2318 gevind geword (ook “chadash”, maar nie presies ʼn identiese woord aan H2319 in Hebreeuse skrif nie). Wat Japie natuurlik nalaat om te noem (omdat dit nie sy agenda pas nie) is dat H2318 ʼn werkwoord is wat beteken “hernu of herstel” en dat H2319, soos dit in Jeremia 31:31 verskyn,  ʼn byvoeglik naamwoord is wat beteken “nuwe of nuut”. As Jeremia wou sê dat God sy verbond sou HERSTEL (soos Japie sy lesers probeer mislei om te glo), dan sou hy die Hebreeuse werkwoord (H2318) daarvoor gebruik het. Maar Jeremia doen nie, hy gebruik baie spesifiek die byvoeglike naamwoord (H2319) om te praat van ʼn verbond wat nuut is, nie ʼn herstelde verbond nie.

So wanneer Japie sê, “Dus sien ons die Nuwe verbond, is die oorspronklike Verbond wat Hernuwe OF HERSTEL gaan word!” dan het Japie duidelik gekies wat hy wil glo ongeag wat die teks werklik sê.)

_____________________________

Japie se Facebook-plasing: WIE IS ONS VERLOSSER?

My kommentaar:

Hallo Japie

Teen die tyd is my Bybel so vol tip-ex, dit lyk of masels uitgebreek het! Maar eerder ʼn Bybel wat siek lyk, as een wat vals is!

So, dankie, ek het lankal gedink dat hierdie leer dat die Seun ons Verlosser is, tot grootse misverstand kan lei – of hy nou deur God gestuur is of nie. Ek bedoel, as ek my laaitie stuur om vissentjips by ou Oom Porra op die hoek te gaan koop, wie het dan nou eintlik die koopwerk gedoen: ek wat die R20 gegee het of my laaitie wat al die pad soontoe moes hardloop, so op ʼn skroeiende agtermiddag en al.

Jy is spot-on met ou Titus 1 vers 3. Ek het egter besluit om die volgende vers, vers 4, te tip-ex, sommer vir die wis en die onwis, want as hy sê, “Genade, barmhartigheid, vrede van God die Vader en die Here Jesus Christus, ons Verlosser!”, dan klink dit darem wraggies asof hy die Vader en Yeshua op gelyke voet plaas as “ons Verlosser”! Trouens, as Paulus sy woord-orde so bietjie omruil en in Titus 2:13 (net ná vers 10 wat jy so mooi uitwys, dankie) sê, “terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” dan lyk dit kompleet asof “Jesus Christus” die Grote God en ons Verlosser is! So, dáár, sowel as in 2 Pet.1:1 met dieselfde probleem, het my tip-ex sy werk darem góéd gedoen!

En toe jy Judas 1:25 noem, toe roep ek hardop uit, “HalleluYAH!!”. (My vrou sê ek moet haar nie weer so laat skrik nie; o, en terloops, sy kla dat al die tip-ex ons nou ʼn fortuin kos). Want dit is natuurlik ʼn eggo van 1 Kronieke 29:10-12 waar dit van YaHWeH praat:

“EN Dawid het die Here geloof voor die oë van die hele vergadering, en Dawid het gesê: U sy geloofd, Here, God van ons vader Israel van ewigheid tot ewigheid. Aan U, Here, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, Here, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles. En die rykdom en die eer kom van U, en U heers oor alles; en in u hand is krag en mag, en in u hand is dit om alles groot en sterk te maak.”

Maar kyk nou net wat doen die skarminkel Petrus as hy skryf: “Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid. Amen.” (2 Pet. 3:18). Hy noem nie eers vir YaHWeH nie, maar verstout hom om Yeshua soortgelyke lof toe te spreek.

Trouens, Johannes, die vabond, gaan nog heelwat verder in hoe hy van die Lam praat in Openbaring 5:13: “Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof. En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!”

Ek bedoel, die vermetelheid! Dieselfde lof en eer aan die Lam as aan Hom wat op die troon sit! (Terloops, Paulus maak dieselfde fout in Romeine 9:5 – toemaar, klaar ge-tip-ex.) Dis tog baie duidelik wat YaHWeH sê: “EK is die Here, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee, of ook my lof aan die gesnede beelde nie.” (Jes 42:8). Maar dan kom die einste swernoot Johannes (5:21-23) en sê, “Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil. Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee, sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie.” Dieselfde eer?! Johannes weet duidelik nie waarvan hy praat nie!!

Terloops, Johannes (1:23) is so verwaand dat hy homself sien as iemand wat die weg voorberei vir Yeshua, as die stem in die woestyn wat uitroep: “Maak die pad van die Here reguit!” wanneer dit baie duidelik is dat Jesaja (40:3) dit oor YaHWeH gesê het: “Berei in die woestyn die weg van die Here; maak gelyk in die wildernis ’n grootpad vir onse God!” Gmf! Selfs sy trawante Matteus (3:3), Markus (1:3) en Lukas (3:4) verwys so na Johannes asof hy vir beide Yeshua en YaHWeH ʼn weg berei. (Dalk is dit eerder Jesaja wat die kat aan die stert beet het; wel, net om veilig te wees – o, gits, my tip-ex is amper op!)

Of dink aan Deut. 10:17 en Psalm 136:3. Die een oomblik is YaHWeH die “Here van die here” en dan skielik in Openbaring 17:14 en 19:16 is die Lam die “Here van die here”. Trouens, in Openbaring 3:21 en 22:3 deel hulle selfs ʼn troon! Verbeel jou dit!

Okay, ek moet hardloop, vóór die winkels toemaak, my tip-ex is op…

Baie seëninge vir jou; mag jou windpompe aanhou draai en jou baard nie yl word nie.

Groete

_________________________

Kort hierna val die byl van die Admin-laksmanne toe ongelukkig en my kommentaar verdwyn in die niet…

En ek dog ek was dan só beleefd en waarderend!

4 Comments

  1. Lukas 18 verse 9 t0t 14 gee ‘n beeld van twee persoonlikhede as jy wil. Die eerste een aan die woord is so vol van homself en sy ‘werke’ dat dit soos ‘n seer duim uitstaan. By hom het God nie juis ‘n aandeel in sy voortreflike eienskappe van wetsonderhouding nie.

    Die tweede persoon is ‘n voorbeeld van iemand wat homself sien soos hy is, sondig en slegs op God se genade aangewys is.

    Ek oordeel nie, maar wonder in watter een van die rolle soos in Lukas 18 beskryf word, ons vir Japie sien en waar hy homself graag sien. Met die oog op sy ooglopende miskenning van die VOLLEDIGE prys wat Jesus Christus vir sondaars betaal het en sodoende in Sy eie woorde die VOLLE wet vervul het. {Sela}

  2. Hello julle. Dit klink vir my na n kombinasie tussen sabbethism( ou testamentiese geloof sonder die talmud en mishnah) en wit teologie( net wit mense kan gered word).
    Die Bybel kan net die hulp van die Heilige Gees verstaan word. Ek Dink aan 2 Petrus 2 :16-21. Veral vers 20 is so belangrik in die geval
    Groete

    • Thomas, dankie vir jou kommentaar. Ja, Japie van Zyl se dwaling val onder die groter naam van die sogenaamde ‘Israel-visie’ (soortgelyk aan ‘British Israelism’). Dit is inderdaad ‘n rasgemotiveerde teologie wat ‘n totaal verwronge verstaan van die nuwe verbond het. Van Jesus as God en Verlosser verstaan hulle maar weining. Sluit gerus aan op Facebook by die groep, https://www.facebook.com/groups/boerseunontbloot/ as jy belangstel om meer uit te vind oor die goed wat Japie alles kwytraak.

  3. Thank you for exposing this fake and fraud called Japie van Zyl here and also on their site: blog article “die hele wêreld is omgeploeg” on vaandel.co.za/
    You did a good job there. Much appreciated.

Leave a Reply to Udo Cancel reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.