AntWoord: die storie agter die naam

storie

deur André van Zyl en Udo Karsten

Name is belangrik. Daar lê dikwels baie meer in ‘n naam verskuil as wat eerste indrukke vertel. ‘n Naam bied dikwels leidrade oor waar iemand vandaan kom of verraai iets oor iemand se identiteit. Hierdie betekenis agter ‘n naam – een of ander storie oor waar dit vandaan kom – is ook waar vir spesifieke groeperings van mense. Ook die AntWoord bediening het ‘n storie agter die naam. Daar is besondere simboliek in die logo wat as motivering dien vir die naam ‘AntWoord’.

AntWoord het amptelik in 2004 ‘n aanvang geneem. Dit is nadat André van Zyl en Udo Karsten die behoefte vir ‘n apologetiek bediening (die beantwoording van vrae oor die Christelike geloof) geëien het. Een van die eerste en mees natuurlike vrae wat die lede van hierdie bediening moes beantwoord was: “Wat sal ons onsself noem?” Oor een ding was ons seker: dit moes ‘n naam wees wat die bediening se roeping betekenisvol kon uitbeeld. Udo het met die naam ‘AntWoord’ asook die logo vorendag gekom en dit het dadelik aanklank gevind.

Op die mees voor die hand liggende vlak is die strewe om ‘antwoorde’ te gee presies die taak van ‘n bediening vir Christelike apologetiek. Petrus moedig gelowiges aan: “Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.” (1 Petrus 3:15). Implisiet aan hierdie opdrag en aan die betekenis van hierdie bediening se naam, is die diep oortuiging dat die Christelike geloof baie sterk deur rasionele gronde onderlê word. Die gevolg hiervan is dat ons as lede van hierdie bediening glo dat daar rasionele en sinvolle antwoorde op alle vrae oor die Christelike geloof bestaan. Hiermee word nie geïmpliseer dat die AntWoord bediening al die antwoorde het of dat alle antwoorde wat deur die AntWoord bediening gegee word, finaal of alles-omvattend is nie.

In vandag se die postmoderne tyd het dit (selfs in die Christelike gemeenskap) baie modieus geword om ‘onkunde’ te pleit en nie aanspraak te maak tot die besit van ‘antwoorde’ of waarheid nie. Enige sulke aansprake sou kwansuis noodwendig dreig om ‘n strewe na ‘n ‘nederige soeke’ na die waarheid te ondermyn. In teenstelling hiermee glo ons as lede van AntWoord dat Christene juis nie in hul onkunde behoort of hoef te roem nie. Daar bestaan geen belangriker saak as die bestaan, identiteit en betrokkenheid van God in ons wêreld nie. Die antwoorde op vrae oor hierdie sake het gewigtige implikasies wat in alle erns beskou moet word.

Dit is juis omdat ons bloot mense is en onsself daarom nie kan beroep op die vermoë om God met outonome menslike rede te ontdek of te verstaan nie, maar afhanklik is van God wat gekies het om Homself aan ons te openbaar (met die implikasie dat ons daardie openbaring sal kan verstaan), dat ons na ‘n verstaan van die waarheid kan streef. Die mens is veral ‘n sondige en gevalle wese en daarom is daar geen mens wat alles weet of al die antwoorde het nie. Ons nederigheid as Christene lê egter nie daarin dat ons daarom nie kan aanspraak maak op enige waarheid nie, maar in die begrip dat ons aansprake in ooreenstemming moet wees met al die verskeie aspekte wat God oor Homself geopenbaar het. Ons kan dus wel waarhede oor God verstaan, selfs al sou ‘n mens God per definisie nooit tot ‘n suiwer kognitiewe verstaan kon reduseer nie.

Ons glo daar is hoofsaaklik drie maniere waarop God Homself aan die mens openbaar. Hierdie maniere word simbolies in die logo van AntWoord vervat:

  • Die eerste en belangrikste manier waarop God Homself openbaar is in sy seun Jesus Christus (histories gesproke, sowel as vandag deur die Heilige Gees). Die ‘t’ in die AntWoord logo herinner daarom aan die kruis.
  • Tweedens kan ons God leer ken deur die Bybel as sy Woord. Die hoofletter W in die naam verteenwoordig God se Woord, die Bybel.
  • Derdens openbaar God Homself ook in Sy skepping. ‘Ant’ in die naam, of die mier in die logo, simboliseer die skepping.

AntWoord se doel is om hierdie verskillende openbarings van God met ernstige en biddende nadenke te ondersoek en dan te poog om sinvolle antwoorde te bied op die vrae waarmee mense gekonfronteer word.

Die antwoord: Jesus

Hoewel ons as lede van die AntWoord bediening nie glo dat ons al die antwoorde het nie, glo ons wel dat daar een antwoord is wat finaal as “die antwoord” geklassifiseer kan word. Die verhouding tussen God en mens is met die sondeval en in hernuwing daarna deur elke mens se sonde, verbreek. Geen mens het die vermoë om hierdie gebroke verhouding deur eie poging te herstel nie. Dit is God wat die inisiatief geneem het deur sy seun Jesus aarde toe te stuur om, as ware God en ware mens, tussen ander mense ‘n sondelose lewe te kom lei. Op 33 jarige leeftyd sterf Jesus Christus aan die kruis om die prys vir die hele wêreld se sonde te betaal en op die derde dag word Hy deur God uit die dood opgewek. So het Jesus die dood oorwin en dra hy die straf vir die mensdom se sonde. Hierdeur word God se plan om die verhouding tussen Hom en die mensdom te herstel ten volle in werking gestel. Al wat die mens moet doen om gered te word is om persoonlik te glo dat Jesus aan die kruis ook vir sy sonde betaal het. Dit is spesifiek hierdie dinge oor Jesus en oor wat Hy kom doen het, wat ten diepste ‘die antwoord’ op die betekenis agter elke mens se lewe is.

‘n Antwoord: met beskeidenheid

Die bogenoemde antwoord van God, wat ons in die verlossingswerk en persoon van Jesus vind, staan sentraal tot al die ander antwoorde waarmee AntWoord besig is. Ons wil dit egter onomwonde stel dat hoewel ons oortuig is van die antwoorde wat ons gee, besef ons dat ons kennis en insig beperk is. Die moontlikheid bestaan altyd dat ons in verband met die detail, die onderliggende beginsels of selfs die antwoord in sy geheel verkeerd kan wees. Ons verwelkom daarom spesifiek die geleentheid om met belangstellendes in gesprek te tree oor ons antwoorde. Ons wil altyd oop bly vir kritiek – dit kataliseer immers beter begrip en dieper insig. Ons oortuiging is egter terselfdertyd dat alle standpunte op ‘n rasionele manier uiteengesit en verdedig behoort te kan word.

Ons is ook diep onder die indruk dat ons onder geen omstandighede die vermoë het om enigiemand te oorreed om Jesus as verlosser aan te neem nie. Dit is en bly die werk van die Heilige Gees. Ons ervaring is egter dat daar dikwels verskeie redes as verskonings gebruik word om nie die Christelike geloof ernstig op te neem of te aanvaar nie. Dit is hierin dat ons dit belangrik ag om na antwoorde vir vraagstukke te help soek. Die rede waarom ons dus beredeneerde standpunte op die tafel plaas is nie om argumentasie uit te lok nie, maar om verdere gesprek te stimuleer wat tot groter begrip vir alle partye kan lei.

AntWoord vs. ander antwoorde

Die postmoderne tydsgees van vandag lê besonder klem op verdraagsaamheid (‘tolerance’) tussen mense. AntWoord glo ook dat verdraagsaamheid uiters belangrik is. Tog dink ons anders oor verdraagsaamheid as in die manier waarop die postmoderniste dit bedoel. Postmoderne verdraagsaamheid beteken meestal om alle standpunte, selfs dié wat radikaal van jou eie verskil, in gelyke mate as geldig te beskou. Iemand sou daarom geen oordeel daaroor kan uitspreek of ‘n eksklusiewe waarheid kan verkondig nie. Die ervaring in ons huidige samelewing is dat indien iemand wel aanspraak maak op kennis oor absolute of eksklusiewe waarheid (soos dat Jesus die enigste weg na die Vader is) word so ‘n persoon vinnig as ‘dogmaties’, ‘fundamentalisties’ of ‘fanaties’ gebrandmerk en sodoende summier uit die hoofstroom debat verwyder. Ons is egter van mening dat werklike verdraagsaamheid eerder impliseer dat mense van mekaar kan verskil en mekaar steeds in medemenslikheid kan aanvaar, al word die ander party se siening as foutief beskou (in hierdie opsig word die valsheid dus ‘verdra’, al word daar daarmee verskil).

Ons as lede van AntWoord glo dat waarheid in essensie altyd eksklusief en enkelvoudig is. Twee partye kan dus met teenoorgestelde standpunte beide verkeerd wees, maar nie beide reg nie. Eksklusiewe waarheidsaansprake behoort daarom deur kritiese evaluasie en gesprekke ondersoek te kan word, sonder dat iemand voel dat daar ‘n aanval op sy/haar persoonlike integriteit geloods word.

Ten slotte

AntWoord glo dat die belangrikste vrae in die lewe rondom die bestaan en identiteit van God draai. Indien God bestaan en indien die Christelike geloof waar is, dan is dit die heel belangrikste inligting wat in die heelal beskikbaar is. Ons dink nie dit is sinvol of aanvaarbaar om hierdie vrae met ‘n ligsinnige ophaal van die skouers of met agnostiese selftevredenheid wat eie is aan ons postmoderne tyd, te begroet nie. Hoe belangriker ‘n vraag, hoe belangriker is dit om met alle middele tot jou beskikking, met erns en moeite, na die mees redelike antwoord te soek. Die lede van AntWoord is self voortdurend met so ‘n soeke besig en wil baie graag met ander medesoekers in gesprek tree oor die vrae wat hulle mag hê. Ons strewe is om ander mense (hetsy Christene of nie-Christene) deur so ‘n proses op ‘n opbouende manier te dien.

(Sien ook “Sout en lig”)

2 Comments

  1. Ek werk as Bybelvertaler, het nog eers werklik jul glad gelees en is heel beindruk met julle standpunte. Nie net not Bybelvertaling en d grondtekste nie, maar sommer met jul totale Bybelse teologie!

    • Baie dankie, Roelie! Jy moet asseblief reghelp vanuit jou ekspertise as jy dink ons iets meer genuanseerd moet stel of selfs onakkuraat is oor iets!

Leave a Reply to Roelie Cancel reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.