Dis die begin van 2007 en die AntWoord Bediening betree die kuberruimte
met ʼn webblad netjies uitgevat in nuwe, makliker geure en kleure. Of so is
dit ons beskeie opinie. Besoek ons by www.antwoorde.org.za
en besluit gerus self.
Dankie aan almal wat reeds vroeg die jaar vrae en kommentaar aan ons
gerig het. Een vraag wat nogal hard en aanhoudend tot ons deurgedring het was: "Kamp
AntWoord dan nou nooit weer nie?" Nou ja, so was AntWoord dan verplig om sy
vaardighede uit te brei en te leer om ook die retoriese tipe vraag te
beantwoord: Ons doen dus so met ʼn spanningsgelaaide "klik asseblief op die
volgende skakel": http://www.antwoord.org.za/ander/kamp200704.html
Die gedeelte hieronder is die inleiding tot die nuutste artikel wat op
die AntWoord webblad geplaas is. Besoek gerus ons webtuiste om die res van die
artikel te lees.
Blaise Pascal en die vraag na God se bestaan
The heart has its reasons which reason does not know ‐ Blaise Pascal (1623 -1662)
So ʼn ruk gelede, in een van daardie reflektiewe oomblikke wat van
ons álmal die een of ander tyd leunstoel-filosowe maak, wonder ek weer oor die
volgende:
In watse soort wêreld leef ons? Waaruit bestaan die werklikheid? Wat is
werklik en wat is eintlik net verbeelding en wensdenkery?
Klink na die tipe vrae waaroor professionele denkers al eeue lank
worstel, mag iemand tereg opmerk. Die vrug van sulke gedagtestruwelinge sal ons
seker in dik stowwerige leerbeslaande boeke, so verbeel ek my, kan gaan
naslaan.
Daar is waarskynlik veel wysheid (of dan ten
minste goed geargumenteerde bespiegeling) te put uit wat al die wêreld se
filosowe en teoloë al neergepen het. Tog is ek, 'n selferkende leek, redelik
oortuig dat die opsie eintlik skaamteloos eenvoudig is: ons lewe in ʼn
werklikheid waar God bestaan, of waar God nie bestaan nie.
Is dít nou die resultaat van my
diepsinnige oomblik, mag jy wonder en effe in jou mou lag.
Kom ek probeer verduidelik wat so 'n voor die
hand liggende gedagte behels.
Eers iets oor die gedagte self. Daar is
diegene wat die opsie oor God se bestaan al dan nie, as ʼn valse opsie
afskryf. In hulle oë is God ʼn nulliteit. Enersyds het die term 'God' vir
hulle geen verwysende betekenis nie en is daarom niksseggend. Of andersyds het
God onbewysbare bestaansreg ‐ min of meer gelyk aan die geloof in 'n onsigbare,
pienk eenhoringperd anderkant Mars. Volgens hierdie siening is daar net één
haalbare opsie: ons leef in 'n realiteit wat slegs bestaan uit dit wat ons met
ons sintuie kan waarneem en met ons verstand kan begryp.
Ek het simpatie met bogenoemde se
epistemologiese verknorsing (m.a.w. hierdie gebrek aan kennis oor wie of wat
God is, sowel as die aard van die werklikheid). Tog is dit so dat indien God in
wese ʼn nie-sintuiglik waarneembare entiteit is en ook nie volkome deur
die menslike verstand geanaliseer kan word nie, dan is dit ten beste
arrogant, maar eintlik bloot ʼn foutiewe redenasie om te dink dat so ʼn
God, om daardie redes, dus nie bestaan nie. Laat ek hierdie gedagte herhaal.
Die feit dat God se bestaan metodologies onbewysbaar is, is absoluut geen
bewys dat hy nie bestaan nie.
(My gebruik van die term "God" verwys
deurgans na die selfopenbarende en drie-enige God wat in die Bybel geken word
en wat onder andere juis bogenoemde eienskappe het.)
Blaise Pascal was 'n sewentiende-eeuse
wiskundige, wetenskaplike en Christen, en was sterk onder die indruk dat ons
verstandelike vermoëns hul perke het. Hy het geskryf: "Reason's last step is the recognition that there are
an infinite number of things beyond it. It is merely feeble if it does not go
as far as to realize that. If natural things are beyond it, what are we to say
about supernatural things?"
(Lees op ons webblad verder wat Pascal gesê het oor hoe ons
die gedagte "God bestaan of God bestaan nie" moet benader en wat hy met sy
bekende "weddenskap" wou bereik. Klik op die volgende skakel na die artikel:
http://www.antwoord.org.za/artikels/Blaise%20Pascal%20en%20die%20vraag%20na%20God%20se%20bestaan.html)
In die binnekamer
Ons gebede is in hierdie tyd spesifiek vir AntWoord se kamp in April.
Bid saam met ons vir die voorbereiding, reëlings en vir almal wat die
geleentheid sal bywoon. Bid vir die aanbieders en vir die aanbiedings, dat dit
God sal eer en dat dit 'n transformerende uitwerking sal hê in Sy Koninkryk.
The
weapons we use in our fight are not made by humans. Rather, they are powerful
weapons from God. With them we destroy people's defenses, that is, their
arguments and all their intellectual arrogance that oppose the knowledge of
God. We take every thought captive so that it is obedient to Christ.
(2 Korintiërs 10:
5-6, GW-vertaling)
Het jy iets om te sê? Wil jy graag kommentaar lewer? Doen dit gerus hier!