2006 het inderdaad met ’n vaart weggeskop! AntWoord het die afgelope ruk by ’n paar selgroepe gaan saamgesels oor hoe ons kan weet dat God bestaan en oor waar evolusie in ons Christelike wêreldbeskouing inpas.
AntWoord se eerste kamp van 12-14 Mei is ook besig om vinnig nader te kruip en ons sien besonder daarna uit. Daar is ongelukkig slegs nog een of twee plekke oop vir iemand wat sou belangstel. Ons beplan egter darem nie dat so ’n kamp ’n eenmalige fenomeen word nie – so hou hierdie spasie dop.
Onthou dat jy ons by AntWoord (Udo en André) kan kontak per epos: antwoorde@yahoo.com. Ons waardeer enige kommentaar, voorstelle en vrae. Selfs uitnodigings om te kom saamgesels oor ’n saak in belang van die rasionaliteit van die Christelike geloof, kan hierheen gerig word.
Apologetiek en Evangelisasie
Jimmy Williams is die stigter en vorige president van ’n apologetiek bediening Probe Ministries International. In ’n insiggewende artikel oor die verband tussen evangelisasie en apologetiek skryf hy dat Christene ’n spesifieke taak voor hulle het. Hy sê dat ons beide ons intellek en ons harte moet gebruik om soos Paulus alles te word vir alle mense om dan sommige te red.
Williams moedig ons aan om mooi te besin oor wat dit beteken. “Wanneer ons nadink oor die invloed wat ons as Christene uitoefen in ’n gefragmenteerde samelewing, moet ons in gedagte hou dat
baie mense nie ons Christelike uitkyk op die wêreld met ons deel nie. Die realiteit is dat sommige eintlik baie vyandig daarop reageer.”
’n Professor het by geleentheid gesê, vertel Williams, dat hy van mening is dat die grootste hindernis vir sosiale vooruitgang huidiglik, die bekrompe en dogmatiese Christelike gemeenskap is. Die professor het skynbaar egter nie hier bloot na ’n onregmatige tipe fundamentalisme met die gepaardgaande ongevoelige uitsprake van sommige Christene verwys nie, maar na ortodokse Christenskap in die algemeen. Die implikasie is dit: As ons as Christene maar net ’n bietjie kan ontspan en meer oopkop kan dink oor sommige sake, dan sal die wêreld ’n gelukkiger plek wees. Williams merk op dat hier nie bloot groter verdraagsaamheid bepleit word nie, maar eerder ’n totale aanvaarding van ander se lewenstyl en persoonlike keuses.
Die Bybel roep ons egter om “sout en lig” in die wêreld te wees, herinner Williams en vra die vraag: “Hoe kan ons dit effektief wees? Ek het nie ’n klinkklare antwoord nie, maar na dertig of meer jare in die bediening kan ek praat oor wat NIE werk nie. Volgens my waarneming, probeer te veel Christene die skrikwekkende sake van die dag, met een van drie baie oneffektiewe benaderings hanteer.” Williams gee dan ’n kort beskrywing van elk van hierdie benaderings.
’n Verdedigende benadering: Baie Christene is voortdurend daarop uit om te vra: “Hoe sterk is ons verdediging?” of “Hoe hoog is ons mure?” Hierdie verskansingsmentaliteit is die oorsprong van baie van ons Christelike subkultuur. Ons het ons eie taal, literatuur, helde, musiek, gewoontes en opvoedkundige sisteme. En natuurlik het ons plekke nodig vir wedersydse ondersteuning en die ervaring van gemeenskap van gelowiges. Maar wanneer Paulus in 2 Korintiërs 10 praat van geestelike oorlogvoering, skets hy eintlik die teenoorgestelde prentjie. Dit is die vyand (die bose) wat agter mure is, binne bastions van dwaling en bedorwenheid. Volgens Paulus is Christene gemoeid met ’n aanval op daardie mure om af te breek wat ook al bo kennis van God gestel wil word. Ons is veronderstel om grond te wen en dit nie net te probeer behou nie.
’n Verslaande benadering: Ander Christene het alreeds opgegee. Dinge is so sleg, sê hulle, dat ons nietige pogings nie iets gaan verander nie: “In elk geval, ons leef in die laaste tye en Jesus het gesê dat dinge net al slegter sal raak.” Dit mag waar wees, of dalk nie. Jesus het gesê dat niemand weet wat die uur is van Sy koms nie. Die Here mag baie naby wees, maar Hy kan ook nog ’n bietjie langer talm. Siende dat ons nie verseker weet nie, moet ons daarna strewe om ons en ons kinders voor te berei vir ’n lewe in hierdie 21ste eeu.
’n “Godsdienstige ervaring” benadering: Ander Christene probeer wel iets aan ander oor hulle geloof sê, maar ongelukkig kan hulle dikwels nie veel meer deel as net iets oor ’n eie persoonlike godsdienstige ervaring nie. Dit is waar dat Paulus ons bewus maak van die feit dat ons soos ‘briewe’ is wat deur almal gelees word. Ons lewe en ervaring met Christus is ’n baie belangrike getuienis. Daar is egter mense in ons samelewing wat ook getuig van veranderde lewens...en Jesus het nie daardie verandering gedoen nie! Evangelisasie moet daarom meer as net die uitruil van belewenisse wees. Ons moet ook leer hoe om ons geloof in die feite van die geskiedenis en die aansprake van Christus te anker en te verwoord. Ons moet help dat ander met Jesus Christus kan worstel, nie net met ons ervaring nie.
Volgende keer word ’n paar gedagtes gewissel oor wat ons dan wel in gedagte moet hou as ons meer effektief wil wees in ons strewe om sout en lig te wees.
(’n Vrye vertaling van uittreksels uit J.F. Williams se artikel Apologetics and Evangelism, www.probe.org)
In die binnekamer
Ons lewe in ’n postmoderne samelewing waar uitsprake oor wat ‘die waarheid’ is dikwels met groot agterdog bejeën word. Terselfdertyd veronderstel postmodernisme ook ’n groter openheid vir ander se idees. Dit is juis hier waar ons as Christene die beste gebruik moet maak van elke geleentheid (Kol. 4:5). Bid saam met ons
· dat ons as Christene sensitief sal wees in ons omgang met mense om die waarheid op so ’n manier bekend te maak dat hulle daardeur aangetrek word, dat ons nie ’n hindernis is in hoe die Heilige Gees met mense werk nie;
· vir die kamp in Mei, dat dit ’n geleentheid sal wees vir opbouing en toerusting in almal se persoonlike verhouding met God, asook in diens en liefde vir ons naaste.
“Instead, we have refused to use secret and shameful ways. We don't use tricks, and we don't distort God's word. As God watches, we clearly reveal the truth to everyone. This is our letter of recommendation… Our message is not about ourselves. It is about Jesus Christ as the Lord. We are your servants for his sake.” (2 Cor 4:2,5 GW)
Het jy iets om te sê? Wil jy graag kommentaar lewer? Doen dit gerus hier!