November 2007

AntWoord het in Oktober weer geleentheid gebied vir 'n naweek se kuier en saamgesels. Hierdie keer was dit aan die oewer van die Vaalrivier, met netjiese geriewe en 'n rustige atmosfeer. Die gesprek-tema vir die naweek was rondom mense se wêreldbeskouings. Ons het spesifiek by vier tipes wêreldbeskouings stilgestaan, naamklik: Teïsme, Naturalisme, Panteïsme en Postmodernisme. Die doel was om 'n bietjie beter begrip te kry vir hoe mense met sulke wêreldbeskouings dink en optree, hoe hulle sin maak van die wêreld waarin ons almal woon. Sulke begrip stel ons as Christene in staat om beter brûe te bou na mense in die gewone gang van ons lewens wat soms heel ander sieninge oor die wêreld het as ons.

Eienskappe van 'n Ambassadeur

Is dit moontlik om 'n Christen te wees sonder om ook 'n volgeling van Christus te wees? Klink miskien na 'n snaakse vraag en iemand sal dalk vinnig antwoord deur te wys dat die woord 'Christen' uit die naam 'Christus' afgelei is. Inderdaad. Die feit is egter dat mense hulle maklik met die naam van Christus sal vereenselwig, maar nie besef dat dit noodwendig volgelingskap impliseer nie. Wat is 'n volgeling van Christus? Jesus Christus was 'n baie spesifieke persoon wat vir 'n baie spesifieke saak gestaan het. Inderwaarheid was sy persoon en sy saak onlosmaaklik verbind. Hy was die Seun van God wat hom vir die koninkryk van God beywer het. Vir 'n volgeling van Christus impliseer dit 'n toewyding, soos Christus, tot bepaalde aktiwiteit. Dis nie bloot 'n gedistansieerde bewondering, 'n tipe sentimentaliteit, rondom die naam van Christus nie. Om in die naam van Christus te glo beteken om Christus se belange te verteenwoordig - en dis 'n aktiewe strewe. Die vraag is nie of 'n Christen 'n verteenwoordiger van Christus is nie, maar watter soort verteenwoordiger hy of sy is. Daar is goeie verteenwoordigers en minder goeie verteenwoordigers (en as ons eerlik is selfs slegte verteenwoordigers). Tog kan alle Christene daarna streef om beter verteenwoordigers van Christus te wees. Daar is veral drie areas waarop ons as Christene kan konsentreer om beter verteenwoordigers van Christus en sy koninkryk te word, nl. die groei in kennis, die toepassing van wysheid en die ontwikkeling van karakter. Kennis. 'n Ambassadeur is 'n gestuurde verteenwoordiger, iemand wat deeglike kennis dra van wie hy verteenwoordig of wat die boodskap is waarvoor hy gestuur is. Ons as Christene moet dus nie nalaat om in studie (en nie bloot oppervlakkige lees nie) van die Bybel, sowel as boeke oor bepaalde onderwerpe van Christelike belang, gemoeid te wees nie. Ons kennis kan 'n verskil maak in die mate waartoe ons daaraan werk om dit te bekom. Dit gaan nie hier oor besonder intellektuele vermoë of net 'n opgaar van kennis nie. Dis eenvoudig dat Christene sal weet wat hulle glo en hoekom hulle dit glo. Wysheid. 'n Ambassadeur is ook 'n diplomatiese verteenwoordiger. Omdat ons in Christus se koninkryk met mense te doen het, is takt en respek in ons kommunikasie en omgang met mense, onontbeerlik. Mense wat vasgevang is in die koninkryk van duisternis kan nie maar net oorrompel word met woorde of idees waarvan hulle dalk niks mag verstaan nie. Wysheid beteken dat ons moeite, tyd en baie geduld aan die dag sal lê om seker te maak dat die mense met wie ons paaie kruis, die boodskap wat ons bring, sal verstaan (selfs al sou hulle dit ook op die ou end nie aanvaar nie.) Karakter. 'n Ambassadeur is iemand wie se boodskap deur sy optrede ondersteun en benadruk word. Dit is waarskynlik die mislukking in hierdie een enkele aspek wat Mahatma Ghandi, 'n Hindoe, eenmaal laat opmerk het: "I like their Christ, [but] I don't like their Christians." 'n Christen is onwrikbaar verbind tot 'n strewe in optrede, in woord en daad, wat niks minder as 'n weerspieëling van Christus se karakter behoort te wees nie. Dit beteken nie dat enigiemand sonder foute of sondige neigings is nie. Dit beteken wel dat ons as Christene nie ons foute ontken of ons sonde probeer wegsteek nie, maar dat wanneer ons daarvan bewus word, ons onophoudelik daarteen sal weerstand bied. Om op elkeen van hierdie areas te fokus, is om doelbewus na ambassadeurskap te strewe. Die groei in elkeen van hierdie areas bring 'n toenemende motivering mee om as Christene 'n verskil te maak in en vir die koninkryk van God. (Hierdie skrywe is 'n aanpassing uit 'n praatjie deur Greg Koukl. Besoek gerus sy webwerf by www.str.org vir goeie inligting rakende verskillende onderwerpe van Christelike belang.)


Dit is AntWoord se hoop dat ons in die afgelope jaar as bediening kon bydra tot effe meer fokus en groei in bogenoemde areas vir wie ookal met hierdie bediening in aanraking gekom het. Dit bly ook ons gebed en strewe vir die toekoms. Ons hoop dat die komende Kersfees 'n tyd sal wees om te besin oor die persoon van Jesus Christus wat sonder voorwendsel of hoogdrawendheid in 'n nederige stal gebore is. Mag ons dan opnuut gedring voel deur wie Hy is om ambassadeurs te wees vir 'n boodskap van redding, van lewensverandering en lewensoorvloed.

In die binnekamer

Ons gebed is Paulus se gebed aan die Kolossense: "We ask God to fill you with the knowledge of his will through every kind of spiritual wisdom and insight. We ask this so that you will live the kind of lives that prove you belong to the Lord. Then you will want to please him in every way as you grow in producing every kind of good work by this knowledge about God. We ask him to strengthen you by his glorious might with all the power you need to patiently endure everything with joy. You will also thank the Father, who has made you able to share the light, which is what God's people inherit. God has rescued us from the power of darkness and has brought us into the kingdom of his Son, whom he loves. His Son paid the price to free us, which means that our sins are forgiven." (Col. 1:9-14 GOD'S WORD) Therefore, we are Christ's representatives, and through us God is calling you. We beg you on behalf of Christ to become reunited with God. 2 Corinthians 5:20

Het jy iets om te sê? Wil jy graag kommentaar lewer? Doen dit gerus hier!