Die 'Da Vinci Code'

'n Kritiese ondersoek na Dan Brown se 'Da Vinci Code'

Dan Brown se Da Vinci Code is een van die grootste sukses stories vir die moderne uitgewersbedryf. Dit is egter baie meer as net nog ‘n roman. Dit bevat ook, in die oë van baie, een van die sterkste uitdagings teen die Christelike geloof wat hulle ooit gesien het. As enige iemand egter teen hierdie tyd nog glo dat die aansprake in The Da Vinci Code op rotsvaste getuienis gebou is, het hy of sy nie aandag gegee nie! Letterlik duisende bladsye is al geskryf om aan te toon hoe historiese, teologiese, en kunshistoriese feite in dié boek verdraai is om Brown se eie godsdienstige agenda te dien. Hoewel dit ‘n nodige taak is, is die doel van hierdie artikel nie om by te dra tot so ‘n forensiese ontleding van al die feitelike foute in die boek nie. Ek wil vir die oomblik eerder so bietjie kyk na die hoekom agter die Da Vinci Code verskynsel.

Met ‘hoekom’ bedoel ek eintlik “Hoekom juis nou!?”. Die basiese punte wat die boek probeer maak is hoegenaamd nie nuut nie. Trouens Dan Brown is vir plagiaat gedagvaar (hy het homself egter tot dusver suksesvol verdedig) deur die skrywers van ‘n boek Holy Blood, Holy Grail waarin basies dieselfde bewerings gemaak word as dié wat in die Da Vinci Code voorkom. Bespiegelinge oor die “Holy Grail”, die “Knights Templar” en skaduagtige godsdienstige ordes is al vir dekades lank die stapelvoedsel van enige “conspiracy theorist” wat sy of haar sout werd is. Vir die grootste deel van hierdie tyd is dit egter (myns insiens met reg) bloot gesien as die eksklusiewe terrein van dié wat so bietjie kontak met die werklikheid verloor het. Die Da Vinci Code het dit natuurlik alles verander. Wat eers met ‘n effens verleë laggie begroet sou word is nou skielik in die oë van baie dié manier om oor die Christendom en oor God se besig wees met die mensdom, te dink. Die rede hiervoor was dat Dan Brown gelukkig (of dalk binne die groter skema eerder ongelukkig!) was om ‘n aar raak te boor wat vir baie lank reeds besig was om momentum op te tel in die Westerse samelewing.

Ek gaan met drie artikels so bietjie kyk na van die sytakke van hierdie aar waarby die boek so sterk aansluiting gevind het (en dus die hoekom van die boek se sukses probeer verduidelik). Ek gaan dan ook probeer om kortliks ‘n Bybelse perspektief op elkeen te gee.

Die tendense waarna ek in die volgende drie artikels kortliks gaan kyk is:

  • Die groeiende oortuiging dat waarheid amper noodwendig verborge moet wees.
  • ‘n Uiterste agterdog teenoor gesagsfigure en spesifiek teenoor ‘organised religion’.
  • Die opkoms van ‘n ‘Do it yourself’ mentaliteit wat godsdiens betref.

Het jy iets om te sê? Wil jy graag kommentaar lewer? Doen dit gerus hier!