deur Phillip Scheepers
Die Da Vinci Code is nou nie juis die plek vir klinkklare teologiese antwoorde nie! Jy sou die boek kon toemaak en onder die oortuiging wees dat, a) Jesus nie God is nie, maar tog 'n paar belangrike dinge geleer het, b) Jesus nou wel nie God was nie, maar darem met 'n godin (Maria Magdalena) getroud was, c) enige sprake van die bonatuurlike vals is, d) geloof eintlik maar net beteken om met jou 'feminine side' in kontak te kom, of, e) geeneen van bogenoemde nie! (As jy die fliek gesien het sou jy selfs nog ‘n opsie kon byvoeg naamlik, “Maybe human is divine”.) In hierdie sin is die Da Vinci Code 'n perfekte uitbeelding van baie moderne mense se eerste reaksie wanneer godsdienstige kwessies ter sprake kom, naamlik: "Maak nie saak wat jy glo nie, solank jy net opreg is!" Benewens die feit dat jy sommer dadelik kan sien dat hierdie nie 'n stukkie raad is wat ons sommer in ander dele van ons lewe sal navolg nie (ek kan byvoorbeeld opreg glo dat ek kan vlieg, maar ek sal nog steeds my tande uitval as ek van 'n dak afspring!), het dit so min of meer die gangbare godsdienstige dogma van ons tyd geword. Dit is iets wat Dan Brown terdeë besef het en waarby hy ook baie sterk aansluit in die Da Vinci Code. Ek wil in hierdie artikel so bietjie saam met jou kyk na die redes vir hierdie tendens en dan weer eens die vraag vra oor hoe ons as Christene met hierdie aspek van die moderne Westerse kultuur in gesprek kan gaan.
Dit is veral as gevolg van die New Age beweging en van relativisme dat baie mense glo dat verskillende godsdienstige oortuigings ewe geldige aansprake op die waarheid maak en dat dit dus nie eintlik saak maak wat jy glo nie, solank jy net vrede en vervulling vind op die pad wat jy gekies het. Ek gaan vervolgens elkeen van hierdie strominge kortliks bespreek.
Die ‘New Age’ beweging – “True for you, but not for me!”
Hoewel die sogenaamde ‘New Age’ beweging ‘n verbysterende aantal verskillende vorme aanneem, is dit in sy wese Hindoe-filosofie wat vir die Westerse samelewing aangepas is. As gevolg van die Westerse klem is die fokus daarom nie soseer op die rituele aanbidding van verskillende gode nie, maar op die oortuiging dat die mens uiteindelik deur ‘n reeks reïnkarnasies in die godheid opgeneem kan word. Die feit dat Hindoes glo dat alles god is (panteïsme) beteken dat die manier waarop nirvana (verligting) bereik kan word, van persoon tot persoon sal verskil. New Age en Hindoe leraars (met die moontlike uitsondering van die Hare Krishna’s) maak daarom nie eksklusiewe aansprake nie en verkondig dikwels die gelykheid van godsdienste.
Die New Age beweging het nie werklik reuse organisatoriese sukses in die Weste behaal nie. Slegs ‘n baie klein minderheid van Westerlinge neem aktief aan georganiseerde New Age aktiwiteite deel. Dit was egter baie meer suksesvol in die manier waarop dit die kulturele bewussyn van die Weste beïnvloed het. Baie van die konsepte van Hindoeïsme (karma, reïnkarnasie, nirvana, yoga, ens.) het via die New Age beweging deel van Westerlinge se woordeskat geword. Dit het ook ‘n fundamentele skuif in baie mense se siening oor godsdienstige waarheid teweeggebring deurdat dit mense geleer het om te glo dat ‘n geloofspad vir een persoon ‘waar’ kan wees, maar nie noodwendig vir ‘n ander nie! In die praktyk het dit gelei tot ‘n ‘laat maar gaan’ houding tot geloof waar persoonlike voorkeure, emosies, behoeftes en gevoelens (eerder as leerstellige inhoud) die vernaamste maatstaf geword het vir die beoordeling van enige iets wat met geloof te doen het. Dit het dit vir moderne mense moontlik gemaak om sonder ‘n oog te knip (en ongelukkig ook sonder om mooi daaroor na te dink!) dinge soos “Dit mag dalk vir jou waar wees, maar dit is nie vir my nie” en “Solank dit jou net laat goed voel” oor geloof te sê!
Relativisme – “Whatever!”
Westerse filosofie het oor die afgelope paar dekades baie vreemde draaie geloop. Een van die vreemdste en ook onrusbarendste hiervan is die opkoms (en die oorspoel daarvan uit klaskamers na die populêre kultuur) van wat relativisme genoem word. Waar vroeëre geslagte se filosowe hulle besig gehou het met vrae oor die aard van die waarheid, betwyfel relativisme of daar hoegenaamd iets soos waarheid in ‘n absolute sin bestaan (met ander woorde dat daar dinge is wat altyd en in alle omstandighede ‘waar’ is). Volgens hierdie denkrigting word ‘waarheid’ altyd deur omstandighede, kultuur gemeenskaplike norme en konteks bepaal. Die waarheid is dus maar net jou eie perspektief, daar is geen onafhanklike standaard waaraan dit gemeet kan word nie. Elke mens kan hoogstens maar sy of haar ‘storie’ vertel sodat iemand anders se waarheid daardeur verryk kan word, niemand het egter volgens relativisme die reg om elemente van sy of haar ‘storie’ as ‘waar’ of normatief vir enige ander persoon te beskou nie. Om hierdie rede is die relativistiese denkrigting ook uiters agterdogtig teenoor ‘meta narratiewe’ (letterlik ‘groot stories’) wat probeer om ‘n oorkoepelende verduideliking vir ‘life, the Universe and everything’ (soos die ‘Hitchikers Guide to the Galaxy’ dit sou stel!) te gee. Sulke groot stories sluit godsdienste (die Christendom, Islam, ens.) asook ekonomiese en politieke teorieë (Kapitalisme, Kommunisme, ens.) in.
Dit mag dalk vir jou klink (as jy nog wakker is!) asof ek dink dat ek in ‘n filosofie klas is en totaal vergeet het dat ek eintlik veronderstel is om die tendense agter die Da Vinci Code te bespreek! Die feit is egter dat relativisme besig is om deur middel van die populêre media ‘n reuse impak op ons kultuur te hê. Tot so ‘n mate dat baie mense begin glo het dat die waarheid maar iets is wat onsself uitvind en opmaak soos ons aangaan. Rocco Buttiglione, ‘n Italianer wie se benoeming as Europese Unie kommissaris onlangs weens sy Christelike oortuigings gestuit is, het sy stuiting toegeskryf aan die oortuiging in Europa dat: “These days there are only one thruth and that is that there is no truth”. Dit is dus nie nodig om te opgewonde te raak oor enige standpunt of om te veel te leer oor wat ander glo en dink nie. Ek het dan reeds die waarheid (vir my!) hierbinne. Jy sal baie gou agterkom dat as jy met baie moderne Westerlinge oor groot waarhede (groter selfs as hulle eie waarheid!) praat, die reaksie dikwels ‘n glaserige uitdrukking, ‘n skouerophaling en ‘n lustelose “Whatever!” is.
‘Doen dit self’ Da Vinci
Die twee tendense wat ek hierbo genoem het dra by daartoe dat mense hulle geloofslewe as ‘n ‘Do it Yourself’ (DIY) projek begin sien het. Aangesien alle godsdienstige waarheid in elk geval in dieselfde algemene rigting lei en die individu self die vernaamste bepaler van die waarheid van iets is, kan jy maar deur middel van ‘pick and mix’ vir jouself die geloof bou waarmee jy gemaklik is. Mense wat op hierdie manier hulle eie ‘inner voice’ volg, is dikwels baie trots daarop dat hulle die beperkings van ‘traditional religion’ agtergelaat het en dat hulle (so glo hulle) op ‘n hoër geestelike vlak is as die massas wat hulle nog laat voorsê oor wat waar is of nie. Die Da Vinci Code sluit meesterlik by hierdie tendens aan deurdat dit baie sterk fokus op die aanmekaarflans van sy eie ‘pick and mix’ teologie wat vanuit elke denkbare hoek konsepte leen. Die helde in die storie is die ‘ingeligtes’ wat bereid is om toe te laat dat hulle diepste oortuigings op hierdie manier gevorm (vervorm?) word.
Daar kan (en is al) dik boeke geskryf oor hoe om op hierdie tendense te reageer. Ek sal egter volstaan deur met ‘n paar opmerkings eers in die algemeen kommentaar te lewer en dan op ‘n paar Bybelse perspektiewe te fokus.
Hoe reageer ons op DIY geloof?
Net eers ‘n paar algemene opmerkings:
As ons, ter afsluiting, na die Bybel draai is daar ‘n paar perspektiewe wat ‘n redelike skerp lig op ‘n DIY geloof laat val. (Terloops, ek besef dat ek in die gedeelte oor die aard van waarheid dalk meer vrae losgemaak het as wat ek hier kan antwoord):
Die sanger Rich Mullins het die gevare van ‘n DIY geloof asook die teenmiddel daarvoor baie duidelik raak gesien. Die lirieke van een van sy liedjies (The Maker of noses) lui as volg:
“They said boy you just follow your heart
But my heart just led me into my chest
They said follow your nose
But the direction changed every time I went and turned my head
And they said boy you just follow your dreams
But my dreams were only misty notions
But the Father of hearts and the Maker of noses
And the Giver of dreams He's the one I have chosen
And I will follow Him”
DIY is iets wat ons doen wanneer ons hopelik nie te veel skade kan doen nie. Daar is baie mense wat ‘doen dit self’ projekte by die huis of in die tuin aanpak. Geeneen van ons sal egter gemaklik wees met ‘n ‘doen dit self’ hartchirurg of kernfisikus nie! Dink aan die geweldige gevolge as jy die DIY projek van jou eie geloof sou opmors! Geloof is hopeloos te belangrik om bloot op te maak soos ons aangaan. Ons het ‘n betroubare gids nodig. Genadiglik vertel die Bybel vir ons baie duidelik van een wat die WEG genoem is.
Webskakels:
Hier is ‘n resensie (met besprekingsvrae!) vanuit ‘n Christelike hoek oor die Da Vinci Code fliek:
http://www.christianitytoday.com/movies/reviews/2006/davinci.html
Het jy iets om te sê? Wil jy graag kommentaar lewer? Doen dit gerus hier!