Evolusie

The statistical probability of forming even a single enzyme the building block of the cell, is 1 in 1040 000.  The translation of that figure is that it would require more attempts for the formation of one enzyme than there are atoms in all the stars of all the galaxies in the entire known universe.       Chandra Wickramasinghe

1. Inleiding

Evolusie!  Dit is nou 'n onderwerp wat baie emosie by baie mense aanwakker.  Party ondersteun dit vurig terwyl ander dit met die ophaal van skouers verwerp. Daar is hoofsaaklik twee redes waarom dit belangrik is vir Christene.  In die eerste plek is dit belangrik omdat verskeie mense dit gebruik om geloof in 'n Skepper God aan te val en tweedens word die mens se menswaardigheid afgetakel.  Dit is belangrik om die vraagstuk van evolusie verder te ondersoek, want beide hierdie sake het implikasies vir die uitleef van die Christelike geloof. 

Daar bestaan 'n persepsie dat daar veral twee teenoorgestelde standpunte oor die onderwerp evolusie bestaan.  Ten eerste is daar die ondersteuners van evolusie.  Hulle stel hulself voor as intellektuele akademici wat baie verlig en ingelig is.  Teenoor hulle sien ons 'n ander groep wat as die Kreasioniste (Creationists) bekend staan.  In die mees konserwatiewe vorm glo hierdie groep dat die aarde en alles daarop in ses dae wat elk vier en twintig uur lank was, geskep is en dat die aarde ongeveer 6000 jaar oud is. Hierdie groep word dikwels in die media uitgebeeld as godsdienstige fundamentaliste wat baie konserwatief en nie baie ingelig oor die wetenskap is nie.  Hierdie twee uiterste standpunte verteenwoordig egter eerder die twee eindpunte van 'n kontinuum as die werklike opinies van die meeste mense.  Die meeste mense aanvaar nie een van die twee standpunte net so nie, maar hang eerder iets tussen die twee uiterstes aan.

Beide hierdie uiterste standpunte benader die saak vanuit 'n geloofsposisie.  Die evolusioniste kies om die meganisme wat in evolusie voorgestel word, te glo sonder werklike wetenskaplike bewyse, terwyl die kreasioniste die saak vanuit hul verstaan van die Christelike geloof benader.  Alle data en verskynsels word dan vanuit die onderskeie perspektiewe geïnterpreteer. Die verteenwoordigers van beide kante van die saak, is dikwels baie dogmaties en onverdraagsaam teenoor enige iemand wat van hulle durf verskil.  Die kreasioniste lê oormatige klem op 'n baie letterlike interpretasie van die Bybel.  Hulle impliseer dat hulle benadering die enigste korrekte benadering tot die Bybel is en probeer vanuit hierdie hoek die wetenskaplike inligting benader.  Soos met die konflik tussen enige twee geloofsposisies is die debat tussen hierdie groepe dikwels baie vurig.  In hierdie studiestuk gaan daar op die evolusieteorie en sy onderliggende swakpunte gefokus word en nie veel aandag aan kreasionisme gegee word nie. 

2. Terminologieverklarings

Vervolgens word 'n paar terme verduidelik word wat in die hieropvolgende bespreking ter sprake sal wees:

· Opeenvolging verwys na die toename in kompleksiteit en diversifiteit wat in die fossielrekord waargeneem kan word.  Die ouer rotslae bevat slegs minder komplekse organismes terwyl die jonger lae meer komplekse spesies ook bevat.  Hierdie waarneming word deur massas data ondersteun en die konsep van opeenvolging is so goed as 'n bewese wetenskaplike feit.

·Die woord evolusie is afkomstig van die Latynse woord "evolutio" wat uitvou of verandering beteken.  Dit is interessant om daarop te let dat die woord "evolusie" eers in die sesde uitgawe van Darwin se bekende boek "The Origin of Species" voorgekom het.  Die onderliggende idee van evolusie is dat daar met die verloop van tyd 'n oorgang van een spesie na 'n ander was.  Dus het die komplekse spesies hiervolgens vanuit die minder komplekse spesies ontwikkel of "uitgevou".  Die basiese idee van evolusie stel nie 'n meganisme voor wat op 'n geloofwaardige manier verklaar wat die gestelde verandering veroorsaak nie.  Daar bestaan wel omstandigheidsgetuienis wat hierdie konsep ondersteun, maar geen direkte empiriese getuienis nie.  'n Oorgang van een spesie na 'n ander is nog nooit waargeneem nie en in die afgelope 150 jaar is nog geen nuut ontwikkelde spesie ontdek of geskep nie.

· Mikro-evolusie verwys na verskillende eienskappe wat binne een spesie ontwikkel, dikwels as gevolg van verskillende natuurlike habitats.  So verskil voëls en ander diere van dieselfde spesie van een streek na 'n ander, maar bly steeds duidelik deel van dieselfde spesie.

· Makro-evolusie (Darwinisme en Neo-Darwinisme): Darwin het die meganisme van mikro-evolusie soos hier bo beskryf in die natuur waargeneem (bv. bekke van vinke wat verskil in grootte). Hy het voorgestel dat 'n baie groot hoeveelheid van hierdie veranderinge oor die verloop van 'n baie lang tyd, die ontstaan van nuwe spesies tot gevolg kan hê.  Deur die proses van natuurlike seleksie sou organismes by wie daar voordelige veranderinge plaasgevind het, beter oorleef en voortplant as die organismes sonder die spesifieke veranderinge.  Hierdie voordelige veranderinge sou na die organisme se nageslagte oorgedra word.  Darwin het voorgestel dat alle vorme van lewe deur natuurlike seleksie uit 'n gemeenskaplike voorouer afgestam en ontwikkel het. 

· Natuurlike seleksie is die proses waardeur organismes met 'n spesifieke eienskap 'n mededingende voordeel bo ander kry en so eerder as hulle oorleef.  Hierdie voordelige eienskap word dan na die organisme se nageslag oorgedra.

3. 'n Geskiedkundige perspektief op Evolusie

Die evolusieteorie is een van die belangrikste teorieë waarmee die wetenskap in die afgelope 200 jaar vorendag gekom het.  Die idee van die ontwikkeling van spesies vanaf eenvoudig tot meer kompleks is egter glad nie nuut nie.  Die mens spekuleer al baie lank hieroor en sekere godsdienste ondersteun selfs 'n konsep soortgelyk aan evolusie.  Die idee van evolusie het egter deur al die jare nie veel wetenskaplike aansien geniet nie.  Dit was 'n interessante gedagte, maar verskeie interessante vrae kon nie beantwoord word nie. Waar kom lewe vandaan? Wat is die meganisme wat die evolusieproses aandryf?  Daar was geen geloofwaardige antwoorde vanuit die wetenskaplike gemeenskap op hierdie vrae aangebied nie. 

Die meeste mense sal toegee dat lewe wel oor tyd meer kompleks geraak het.  Die erkenning van hierdie feit is egter nie wat die evolusieteorie nuuswaardig gemaak het nie.  Niemand kon voor die ontstaan van die evolusieteorie die oorsprong van lewe of die ontwikkeling van spesie diversifiteit op 'n geloofwaardige manier wetenskaplik verklaar nie.  Die evolusieteorie was die eerste geloofwaardige wetenskaplike poging om hierdie twee sake aan te spreek.

Charles Darwin en sy rit op die skip HMS Beagle, wat 'n besoek aan die Galapagos eilande ingesluit het, is wêreld bekend.  Op hierdie reis het Darwin vir die eerste keer met 'n geloofwaardige wetenskaplik teorie vorendag gekom om die oorsprong van lewe op aarde en die meganisme onderliggend aan die waargenome evolusie te verduidelik. Evolusie was gereed om as wetenskaplike teorie gestel te word.

Darwin het in 1859 sy evolusieteorie in die boek "The Origin of Species" bekendgestel.  Dit het aan die begin slegs die wetenskaplike wêreld beïnvloed.  Die populariteit van die boek het toegeneem en na 'n paar omstrede openbare debatte oor die onderwerp, het dit ook onder die algemene publiek baie gewild geword.  Wat het Darwin in "Origin" gesê?  Hoekom was dit so skokkend?  Wat is die moderne posisie van die evolusieteorie? 

Darwin het vir die eerste keer 'n omvattende skema daargestel vir die verklaring van die vraagstukke rondom evolusie en hy het 'n paar verbande getrek wat niemand voor hom getrek het nie.  In sy boek verwys hy na konsepte wat in vandag se terme, as mikro en makro-evolusie bekend staan.  Hy het klein variasies tussen subspesies opgelet (een van die bekendste voorbeelde is die verskil in die vorm van vinke se bekke).  Hy het na lang oordenking tot die gevolgtrekking gekom dat 'n hele reeks sulke klein veranderings, oor 'n baie lang tyd, aanleiding gegee het tot die vorming van nuwe spesies.  Mikro-evolusie was dus die meganisme wat Darwin voorgestel het vir die aandrywing van die veranderinge wat die makro-evolusieproses kenmerk.  Dieselfde proses word ook as verduideliking gebruik om die oorsprong van lewe te verklaar.  Die voorgestelde ontwikkelingsproses word teruggespeel tot by die basiese chemikalieë waaruit lewe sou ontstaan. Hiervolgens sou lewe op aarde spontaan ontstaan en deur aanhoudende mikro-evolusie gediversifiseer het. 

Die bekendstelling van die evolusieteorie het 'n opskudding veroorsaak.  Die bestaande idees oor die oorsprong van lewe en spesie diversifiteit is by die venster uitgegooi.  Hierdie ou idees was dikwels gebou om 'n baie letterlike interpretasie van wat in die Bybel weergegee word.  Die dae van Genesis is byvoorbeeld as vier-en-twintig-uur periodes beskou.  Die gebruik van die Bybel om 'n wetenskaplike vraagstuk op te los, het selfs baie wetenskaplikes wat Christene was, dwars in die krop gesteek.  Volgens algemene wetenskaplike opinie, moet wetenskaplike vraagstukke deur wetenskaplike teorieë en metodes opgelos word, nie deur verwysings na die Bybel nie.  Die evolusieteorie het vir die eerste keer 'n "suiwer wetenskaplike" verklaring vir die beskikbare getuienis gegee.  Dit was in baie opsigte geloofwaardig gemeet aan die beskikbare inligting en ander wetenskaplike teorieë van daardie tyd.  Die evolusieteorie is dus as wetenskaplike teorie aanvaar en ondersoek. 

Nie almal het hulle egter met edele wetenskaplike motiewe oor die nuwe teorie verheug nie.  Verskeie mense het die geleentheid aangegryp om hulle eie opinies te ondersteun.  Daar is gesê dat die evolusieteorie die nodigheid om na 'n God te verwys, om die ontstaan en ontwikkeling van lewe te verduidelik, uitskakel.  Indien die ontstaan van lewe en spesie diversifiteit dus "vanself" kon gebeur, was 'n God om die skeppingswerk te doen, oorbodig.  Die evolusieteorie het die idee van 'n "Skepper God" onttroon en aan ateïsme 'n intellektuele waardigheid gegee. 

Die konteks van die aanvaarding van die evolusieteorie is van groot belang.  In die laat 19de eeu was die wetenskap aan die opbloei.  Die wetenskaplike gemeenskap het baie sukses beleef en was optimisties oor hulle vermoë om uiteindelik wetenskaplike verklarings vir alle vraagstukke te vind.  Baie vraagstukke wat tot op daardie punt nie antwoorde gehad het nie, kon nou op 'n wetenskaplike manier beantwoord word.  Die heersende opinie was dat die heelal geen begin gehad het nie, maar eerder reeds vir 'n onbeperkte tyd bestaan het.  Dit het die spontane ontstaan van lewe en die spontane ontwikkeling van spesies baie moontlik laat lyk.  As daar genoeg (oneindige) tyd was, sou enigiets moontlik gewees het, maak nie saak hoe onwaarskynlik dit is nie.  Die wetenskap het egter sedert Darwin se tyd baie vordering gemaak. Verskeie wetenskaplike teorieë (oor die aard en struktuur van 'n sel, gravitasie, mikrobiologie ens.) lyk vandag heeltemal anders as in Darwin se tyd.  Hierdie veranderinge het belangrike implikasies vir die aanvaarding van die evolusieteorie

Die aanvaarding van die oerknalteorie (die teorie dat die heelal deur 'n groot ontploffing ontstaan het en steeds uitsit) en die ontdekking van die "Cambrian Explosion" (Die skielike verskyning van nuwe spesies in die fossielrekord)[1], was deel van 'n baie sterk opstapeling van getuienis teen die meganisme wat Darwin vir evolusie voorgestel het.  Onbeperkte tyd was nie beskikbaar nie, want die heelal het 'n begin gehad en dus was "enigiets" skielik nie meer moontlik nie.  Die fossielrekord het die egalige oorgang van een spesie na 'n ander heeltemal weerspreek.  Hierdie getuienis het dit genoodsaak dat die evolusieteorie drasties aangepas moes word om steeds geloofwaardig te bly.

'n Groep wetenskaplikes wat as die Neo-Darwinistebekend staan, het met 'n alternatiewe meganisme naamlik mutasies (veranderinge in DNA struktuur en daarom ook liggaamlike strukture) as metode vir die aandrywing van evolusionêre verandering vorendag gekom.  Hoewel dit in stryd is met Darwin se oorspronklike idees, was dit nodig om die geloofwaardigheid van die teorie in die lig van die beskikbare getuienis te herstel.  Volgens die fossielrekord het daar nie konstant nuwe spesies ontstaan nie en hierdie feit moes deur die nuwe teorie verduidelik word.  Neo-Darwiniste voer steeds aan dat een spesie deur verskeie mutasies na 'n ander sou kon oorgaan.  Hulle teorie staan as "Punctuated Equilibrium" bekend en impliseer dat daar tye is dat nuwe spesies skielik deur mutasies ontwikkel.  Hierdie tye van verandering word afgewissel deur lang tye van stabiliteit, met geen nuwe spesie ontwikkeling nie.  Oor die oorsprong van lewe het die Neo-Darwiniste nie die idees wat op Darwin gevolg het werklik aangepas nie.  Lewe sou steeds volgens hulle spontaan op die vroeë aarde ontstaan het.

Vandag is Darwin se evolusieteorie goed vasgelê in die akademie en daar word deur verskeie mense daarna verwys as 'n voldonge en bewese feit.  Sir Julian Huxley ('n Britse wetenskaplike) het al per geleentheid gesê:

The first point to make about Darwin's theory of evolution is that it is no longer a theory, but a fact.  No serious scientist would deny the fact that evolution has occurred, just as he would not deny that the earth goes round the sun.

 

Klink nogal seker van homself, nè!  Baie van die ondersteuners van die evolusieteorie voel baie sterk oor die waarheid daarvan en verdedig dit met mag en vaardigheid.  Mense soos Richard Dawkins, 'n bekende Britse wetenskaplike, sal gereeld in die koerante te velde trek teen enige iemand wat evolusie durf bevraagteken.  Dawkins het per geleentheid gesê:

It is absolutely safe to say that, if you meet somebody who claims not to believe in evolution, that person is ignorant, stupid or insane (or wicked, but I would rather not consider that).

Kinders leer vandag dat die evolusieteorie die bewese meganisme vir die oorsprong van lewe en die ontstaan van spesies diversiteit is.  Die evolusieteorie het 'n invloed op die samelewing uitgeoefen wat baie wyer as die wetenskap strek.  Dit het veral die manier waarop die mens oor homself en oor ander mense dink beïnvloed.

'n Saak kan uitgemaak word dat die gedagte dat - die mens uit 'n dier ontwikkel het en self niks anders as 'n dier is nie - 'n groot bydrae gelewer het tot van die sleutel gebeure van die twintigste eeu.  Daar word geensins geïmpliseer dat die evolusieteorie die direkte oorsaak van hierdie gebeure was nie, maar tog het dit 'n bygedra gelewer tot die aftakeling van die konsep van die mens se waarde. Voorbeelde hiervan is groeiende ateïsme en vrae oor morele waardes; kommunisme (Marx wou Das Kapital aan Darwin opdra, maar Darwin het geweier om direk met 'n ateïstiese werk verbind te word); Nazisme en rassisme. 

 

As die mens niks meer as 'n dier is nie en as dit gaan oor die "oorlewing van die sterkstes", kan daar nie 'n morele oordeel oor enigiemand anders se optrede gevel word nie.  Dit wat gebeur is bloot deel van die "natuurlike" proses van natuurlike seleksie.  Tog, as daar aan die uitmoor van die Jode in die Duitse konsentrasie-kampe gedink word, stuit dit enige normale mens teen die bors.  Dit was en is verkeerd.  Wat sou die rede uit 'n evolusionistiese perspektief wees vir waarom dit verkeerd sou wees?  Is dit dan nie 'n voorbeeld van die "oorlewing van die sterkstes" nie?

 

4. Wetenskap en wetenskaplike teorieë

Voordat evolusie as 'n wetenskaplike teorie geëvalueer word, is 'n paar opmerkings oor wetenskaplike teorieë in die algemeen gepas.  In die wetenskap word daar gedurig met teorieë gewerk.  'n Wetenskaplike teorie is 'n poging om 'n samehangende model daar te stel en sodoende waargenome verskynsels in die natuur te verklaar.  Hierdie teorieë hou baie nou verband met wetenskaplike wette.  Dit is belangrik om die hierdie twee terme te verstaan en van mekaar te kan onderskei.

Soorte wette:  Die wette wat die mensdom ken, kan in twee hoof kategorieë verdeel word.  Voorskriftelike wette en beskrywende wette.  Voorskriftelike wette doen presies wat die naam impliseer, hulle rig die optrede en gedrag van mense voorskriftelik.  Hierdie wette bepaal byvoorbeeld "Jy mag nie moord pleeg nie".  Dit beskryf nie die gedrag van mense nie, want moord is 'n misdaad wat daagliks gepleeg word, maar skryf eerder voor wat gedoen behoort te word.  Die tweede tipe wet staan as beskrywende wette bekend.  Wetenskaplike wette skryf nie aan die natuur voor hoe dit moet optree nie en is daarom nie voorskriftelik nie.  Dit beskryf eerder wat deur die eeue heen deur wetenskaplikes in die natuur waargeneem is.  Met ander woorde beskrywende wette sê nie wat moet gebeur nie, maar eerder wat tot dusver nog elke keer gebeur het as iets waargeneem is.  Hierdie tipe wet word dus deur waarneming bepaal en is slegs so sterk soos die observasie daarvan.  Die wet hoef slegs een keer nie te werk nie om ernstige twyfel oor die geldigheid daarvan tot gevolg te hê.

Wetenskaplike teorieë:  In hul pogings om die heelal te verduidelik en te verklaar, stel wetenskaplikes samehangende verduidelikende modelle saam as poging om die onderliggende prosesse te beskryf.  So was Newton se bewegingsformules en teorie oor swaartekrag 'n poging om te verklaar hoekom voorwerpe val as hulle in die lug gegooi word.  Newton se teorie is vir 'n baie lang tyd as korrek aanvaar en word steeds vandag in skole geleer.  Einstein se teorie van algemene relatiwiteit het egter bewys dat Newton se wette eintlik slegs geld by snelhede baie kleiner as die spoed van lig.  So het Einstein se teorie Newton se teorie aangevul en deels vervang.  Wetenskaplike teorieë word gereeld aangepas soos wat nuwe inligting en/of bewyse na vore kom.  Hierdie konstante kritiese wetenskaplike proses is ook die rede dat die Neo-Darwiniste Darwin se oorspronklike evolusieteorie aangepas het nadat nuwe inligting die ou teorie se geloofwaardigheid aangetas het. 

Alle wetenskaplike teorieë het veral twee belangrike funksies.  Ten eerste verklaar wetenskaplike teorieë die waargenome verskynsels en gebeure wat.  Indien dit wat ons sien nie binne die raamwerk wat 'n teorie daarstel, verklaar kan word nie, is die teorie ten minste deels foutief en moet dit aangepas word.  Die tweede funksie het te doen met die voorspellingswaarde van 'n teorie.  Die meeste teorieë kan gebruik word om voorspellings, oor wat daar verder in die natuur verwag kan word, te maak.  Indien hierdie voorspellings verkeerd is dui dit gewoonlik op 'n probleem met die inhoud van die teorie. [2]

5. Oorsprongswetenskap en werkingswetenskap

Wetenskaplike studie berus hoofsaaklik op die beginsels van oorsaak en gevolg en eenvormigheid.  Die beginsel van oorsaak en gevolg impliseer dat alle gebeure en/of verskynsels deur iets anders veroorsaak word.  Dinge gebeur nie maar sommer net uit die bloute nie, dit het altyd 'n oorsaak.  Die beginsel van "eenvormigheid" impliseer dat 'n spesifieke oorsaak gister, vandag en môre dieselfde gevolge sal hê.  Dus kan daar uit waargenome gevolge afgelei word wat die oorsaak daarvan was.  Dit is ook moontlik om die verwagte gevolge van 'n huidige proses te voorspel, indien die gebruiklike gevolge van hierdie spesifieke proses bekend is. 

Die wetenskaplike studieveld kan in twee dele verdeel word; oorsprongswetenskap en werkingswetenskap.  Hierdie onderskeid is belangrik, omdat die tipe wetenskap wat beoefen word, die tipe ondersoek en selfs die tipe verklarings wat gebruik kan word, wesenlik beïnvloed.  Werkingswetenskap ondersoek die manier waarop dinge normaalweg funksioneer.  Hierdie tipe studie werk met huidige verskynsels wat gewoonlik herhaalbaar is.  Werkingswetenskap soek antwoorde deur die uitvoer van herhaalde eksperimente.  Daar word verwag dat dieselfde resultaat verkry sal word, elke keer as 'n spesifieke eksperiment uitgevoer word.  Indien dit nie gebeur nie, is ten minste deel van die teorie verkeerd.  Daar word in werkingswetenskap altyd na natuurlike oorsake vir die gebeure wat in 'n eksperiment waargeneem word, gesoek.

Oorsprongswetenskap noodsaak egter 'n heeltemal ander tipe ondersoek.  In hierdie tipe wetenskaplike ondersoek word eenmalige onherhaalbare gebeure (singularities) ondersoek.  Oorsprongswetenskap sou byvoorbeeld die ontstaan van die heelal of die ontstaan van lewe ondersoek.  Hier gaan die ondersoek nie oor hoe dinge werk nie, maar hoe dinge begin het.  Die verskynsel wat ondersoek word, gebeur uit die aard van die saak slegs een keer en kan nie herhaal word nie. Oorsprongswetenskap is vanweë hierdie rede nie 'n empiriese (eksperimentele) wetenskap nie, maar eerder 'n forensiese wetenskap.  Dit beteken dat daar slegs na die huidige getuienis gekyk kan word, omdat die gebeure nie eksperimenteel herhaalbaar is nie.  Uit die bestaande getuienis moet 'n teorie oor die oorsprong afgelei word.  'n Alledaagse voorbeeld van hierdie tipe wetenskap is 'n speurder wat 'n misdaad ondersoek.  Die misdaad kan nie herskep word nie en die enigste opsie is om die bestaande getuienis te ondersoek en afleidings daaruit te maak.  Oorsprongswetenskap redeneer deur analogieë en die ondersoeking van getuienis om te probeer verklaar wat in die verlede gebeur het.  Die tipe wetenskap kan nooit empiriese resultate lewer nie, maar slegs resultate wat geloofwaardig is aldan nie. 

Die ondersteuners van evolusie maak die fout om die beginsels van werkingswetenskap op 'n oorsprong-situasie te probeer toepas.  Daar word gesoek na gereelde en voorspelbare oorsake vir gebeure (oorsprong van lewe en spesies) wat sover mense weet, slegs een keer plaasgevind het.  Dit is nie moontlik om 'n eenmalige gebeurtenis (die ontstaan van lewe) te verklaar deur slegs van waarnemings uit die werkingswetenskap gebruik te maak nie.  Oorsprongswetenskap sou die korrekte manier van ondersoek wees.  Dit is essensieel dat bestaande getuienis sonder vooropgestelde idees ondersoek moet word, om sodoende die mees geloofwaardige verduideliking daar te stel.  Evolusioniste span die kar voor die perde in deur met vooropgestelde idees 'n forensiese ondersoek te doen.  Dit is in beginsel dieselfde as 'n speurder wat besluit wie die skuldige is voor die ondersoek oor 'n misdaad nog begin het.  Die ondersoek is gedoem om ongeloofwaardig te wees nog voor dat dit begin het.

6. Probleme met en vrae oor evolusie

Die ondersteuners van die evolusieteorie het baie selfvertroue en is dikwels baie welsprekend soos in die vorige aanhalings gesien kon word.  Hulle het egter nie werklik al die bewyse aan hulle kant nie.  Daar is 'n verskeidenheid probleme en vrae wat hulle effektief sal moet aanspreek om hulle aansprake oor die geloofwaardigheid van die evolusieteorie te verdedig. 

Dit is belangrik om te sê dat die evolusieteorie en natuurlike seleksie tog waarde het vir die mens se verstaan van sy wêreld.  Die baba moet nie saam met die badwater uitgegooi word nie.  Evolusie vind wel tot 'n beperkte mate en oor die baie lang termyn, moontlik selfs op 'n groter skaal plaas.  Baie navorsing is nog oor evolusie nodig voordat die aard, skaal en meganismes daarvan enigsins verstaan sal word.  Natuurlike seleksie speel ook 'n baie belangrike rol in die natuur.  Die doel van die volgende bespreking is nie om die hele evolusieteorie aan te val of as leuenagtig of vals af te maak nie.  Dit is die dogmatiese uitsprake en verklarings dat evolusie 'n bewese feit is, wat hier die teiken is.  Daar is te veel vrae oor en probleme met die meganismes wat in die evolusieteorie voorgestel word, wat skynbaar onoplosbaar blyk te wees.  Daar is selfs bewyse wat in die teenoorgestelde rigting wys. 

Vervolgens sal na 'n paar van die probleem areas verwys word.  Hierdie probleem areas werp 'n skadu oor die kern van die evolusieteorie en pas nie by die meganismes wat deur Darwin of die Neo-Darwiniste voorgestel word in nie:

6.1. Oorsprong van lewe (Lewe in 'n proefbuis!?)

Die eerste probleem met evolusie is dat dit nie die oorsprong van lewe kan verklaar nie.  Die bekende eksperiment van Stanley Miller in die 1950s het die verbeelding aangegryp.  Hy het dit vermag om sekere van die boublokke van lewe, naamlik aminosure, in 'n proefbuis te skep.  Dit is gedoen deur 'n spesifieke mengsel chemikalieë onder beheerde toestande met elektrisiteit te stimuleer.  Die mengsel aminosure wat hieruit voortgekom het, het beide die korrekte tipe aminosure vir die ontstaan van lewe, sowel as die "verkeerde" tipe ("links en regshandige") bevat.  Om die waarheid te sê was daar ongeveer ewe veel van albei.  Die twee tipes aminosure neutraliseer mekaar en verlaag so die kanse op die ontstaan van 'n aminosuurketting wat noodsaaklik is vir die ontstaan van lewe.  Indien 'n aminosuur ketting sou ontstaan met een "verkeerde" aminosuur as deel daarvan, beteken dit dat die hele ketting nutteloos sou wees vir die ontstaan van lewe.  In die vyftig jaar sedert Miller se eksperiment, is miljoene der miljoene rande aan navorsing bestee en verskeie ander stowwe wat noodsaaklik is vir die ontstaan van lewe, is deur eksperimente geskep.  Die wetenskaplike konsensus is egter dat wetenskaplikes steeds nie veel nader aan die skep van lewe in 'n proefbuis is nie, om die waarheid te sê begin hulle nou eers besef wat die kompleksiteit van die probleme waarmee hulle te kampe het werklik is. 

Die omstandighede wat Miller vir sy eksperiment geskep het, veroorsaak op sigself verskeie probleme.  Die chemiese stowwe wat hy gebruik het, was baie suiwer, nie soos dié wat op die vroeë aarde te wagte sou wees nie.  Die omstandighede in die eksperiment was baie nouliks beheer om die ontstaan van aminosure moontlik te maak.  Daar was byvoorbeeld geen suurstof in die eksperiment teenwoordig nie, want oksidasie sou die vorming van aminosure verhoed.  Tog stem die meeste wetenskaplikes vandag saam dat daar wel suurstof in die vroeë atmosfeer was.  Selfs as wetenskaplikes wel iets wat soos lewe lyk in 'n proefbuis kon skep, sou dit steeds nie die spontane ontstaan van lewe ondersteun nie.  Die rede hiervoor is dat die hele eksperiment deur 'n intelligente menslike brein beplan en gerig moes word om te werk.  Denke en beheer is dus nodig om lewe te laat ontstaan.  Klink nogal na skepping, nie waar nie?

Ralph O. Muncaster maak in sy boek "Dismanteling Evolution" 'n baie sterk saak uit teen die spontane ontstaan van lewe.  Hy gebruik 'n statistiese analise om die kans dat lewe spontaan sou kon ontstaan te bereken.  Lees gerus die boek om die detail van die analise te sien.  Hier sal slegs 'n opsomming gegee word.  Dit is egter belangrik om te sê dat die aannames wat in die analise gebruik word, baie toegeeflik vir die spontane ontstaan van lewe is. 

Daar sal van wetenskaplike notasie gebruik gemaak word om die getalle wat in die illustrasie gebruik gaan word, weer te gee.  Die rede hiervoor is dat hierdie notasie dit moontlik maak om massiewe getalle op 'n prakties werkbare manier neer te skryf.  Waarskynlikhede gaan uitgebeeld word as 'n kans van een uit tien tot 'n sekere magsorde.  Die mag waartoe die tien verhef word verwys na die hoeveelheid nulle wat op die tien moet volg.  So is 102 gelyk aan 100 en 103 is 1000.  Vir syfers wat by die magsorde gevoeg word, word die vorige getal met 10 vermenigvuldig (102 = 100, maar 103 = 1000 ens.).  Hier volg 'n paar getalle om te illustreer hoe groot van die getalle is waarvan hier gepraat word:

·1 uit 107 of 10 000 000 is die kans dat jy 'n Amerikaanse staatslotery met een kaartjie sal wen

·1 uit 109 of 1000 000 000 is die kans dat jy vandag deur weerlig raak geslaan gaan word

·1025 sekondes, is die verwagte lewensduur van die heelal (van die Big Bang af tot al die energie in die heelal opgebruik sal wees)

·1084 is die totale geskatte hoeveelheid subatomiese partikels in die hele heelal

·Die meeste wetenskaplikes beskou 'n kans van 1 uit 10150 as wetenskaplik onmoontlik.  Onthou dat 1 uit 10151 nog tien keer minder waarskynlik is!! 

Hier volg 'n lys van die faktore wat nodig is met hul waarskynlikhede soos deur Muncaster bereken.  Onthou die elemente wat in die berekeninge gebruik word, word so positief as moontlik geskat, met ander woorde, die statistiese kans wat bereken word is die beste moontlike scenario:

Faktor

Waarskynlikheid

"Chirality" - Die kans dat al die boublokke wat nodig is vir die ontstaan van lewe, die regte tipe sou wees om dit enigsins moontlik te maak vir die nodige strukture om te begin vorm.

 

1 uit 1033 113

Die kans dat die aminosure wat noodsaaklik is vir die ontstaan van lewe by mekaar sou uitkom as hulle eers gevorm het.

 

1 uit 106021

Die kans dat indien die aminosure wel by mekaar uitgekom het, hulle hulself in die regte volgorde sou rangskik.

 

1 uit 1013 010

Die kans dat die regte materiaal in plek sou kom vir elke geen om te vorm.

1 uit 1060 155

Die kans dat die korrekte geen-volgorde sou vorm indien die gene wel vorm.

1 uit 10528

Die totale waarskynlikheid vir die spontane ontstaan van die mees eenvoudige bakterium

 

1 uit 10112 827

Dieselfde probleem kan vanuit 'n ander hoek beskou word.  Die molekulêre bioloog, Harold Morowitz het bereken dat die kans dat al die chemiese bindings van die mees eenvoudige lewensvorm weer sou vorm indien hulle gebreek sou word 1 uit 10100 000 000 000 is.  Die probleem word gekompliseer daardeur dat die heelal nie vir 'n onbeperkte tyd bestaan het nie.  Daar is ook nie 'n onbeperkte hoeveelheid partikels wat kon reageer om lewe te laat ontstaan nie.  Soos vroeër gestel, word daar geskat dat daar ongeveer 1084 subatomiese partikels in die heelal bestaan.  Daar word ook geskat dat die heelal tot op hede 1017 sekondes (15 biljoen jaar) oud is.  Veronderstel dat die tempo van interaksie tussen al die partikels in die heelal 1020 interaksies per sekonde is ('n baie toegeeflike tempo!)  Die totale hoeveelheid interaksies wat sou plaasvind sou dus 1084 * 1017 * 1020 =10121 wees.  Die kans dat lewe dus spontaan sou ontstaan is dus


Die antwoord op die bogenoemde berekening neig so na aan nul dat dit nie sinvol sou wees om dit te probeer neerskryf nie.  Uit 'n statistiese perspektief is die kans dat lewe spontaan kon ontstaan, in effek 0.  Waar kom lewe dan vandaan as dit nie spontaan ontstaan het nie?  Darwinisme het geen antwoord op hierdie dilemma nie.

6.2. Die "Big Bang" of Oerknal

Een van die oorspronklike evolusieteorie se belangrikste aannames was die beskikbaarheid van 'n onbeperkte hoeveelheid tyd.  Enige iets sou tog moontlik wees as daar net genoeg tyd beskikbaar was.  Die oerknalteorie impliseer dat daar nie onbeperkte tyd beskikbaar was nie.  Die heelal het volgens hierdie teorie 'n begin (ontploffing) gehad.  Daardie oomblik waarop die heelal begin het, bepaal die beperkte tyd vir die ontstaan van lewe - om nie te praat van die ontwikkeling van al die verskillende spesies nie.  Volgens die oerknalteorie is die heelal ongeveer 15 000 000 000 (15 biljoen) jaar oud.  Die aarde sou egter eers teen ongeveer 4 biljoen jaar gelede gevorm en genoegsaam afgekoel gewees het om lewe te kon onderhou.  Daar is baie meer bewyse wat die oerknalteorie ondersteun, as wat daar is vir die evolusieteorie.  Die bewyse sal nie hier verder bespreek word nie, maar sluit die beweging van die waargenome sterrestelsels en die kosmiese agtergrondstraling in. 

6.3. Onverminderbare kompleksiteit

"If it could be demonstrated that any complex organ existed which could not possibly have been formed by numerous, successive, slight modifications, my theory would absolutely break down."     Charles Darwin in "The Origin of Species"

Soos hier bo gesien kan word, het Darwin self besef dat indien daar enige liggaamlike struktuur sou wees, wat nie stap vir stap  kon vorm nie, dit die evolusieteorie sou weerlê.  So verskynsel word as "onverminderbaar kompleks" beskryf.  In Darwin se tyd het die mens nie veel van die werking van die sel of biochemie verstaan nie en die sel is as 'n relatief eenvoudige struktuur gesien.  Mikrobiologie en die biochemie het in die twintigste eeu baie meer lig op hierdie twee gebiede gewerp.  Verskeie stelsels en prosesse wat aan Darwin se eie beskrywing soos hier bo gestel voldoen, is gevind.

Onverminderbare kompleksiteit (irreducible complexity) kan verduidelik word met die beeld van 'n muisvalletjie.  Die muisvalletjie bestaan uit verskeie dele, maar sal slegs werk as al die dele op een slag in 'n volle werkende toestand teenwoordig is.  Dit kan nie stap vir stap ontstaan en steeds as 'n muisvalletjie funksioneer nie.  Daar sal geen mededingende voordeel in 'n half-gevormde struktuur (wat nie kan werk nie) wees nie. 

Volgens Michael Behe, bekende biochemikus en outeur van die boek "Darwin's black box", is daar veral in die biochemie verskeie sisteme wat onverminderbare kompleksiteit toon.  Dit sluit die biochemiese prosesse van sig, bloedstolling en DNA-duplisering in.  Daar bestaan geen naturalistiese verduideliking vir hoe hierdie besonder komplekse biochemiese prosesse, stap vir stap sou kon ontstaan het nie. 

6.4. Mutasies

'n Mutasie is 'n verandering in die DNA (verduidelik in 6.5) van 'n organisme wat die fisieke eienskappe van die organisme laat verander. Soos vroeër vermeld behels die Neo-Darwinistiese teorie dat veranderings in diere deur klein mutasies in hul DNA veroorsaak sou word. Hierdie veranderinge word dan van een geslag na die volgende oorgedra.  Volgens die Neo-Darwinistiese teorie, sou al die verskillende spesies deur 'n groot aantal mutasies ontstaan het.  'n Paar probleme met mutasies as veranderingsmeganisme is uit eksperimentele resultate en waarnemings duidelik: 

· Natuurlike mutasies is besonder skaars.  'n Mutasie kom ongeveer een keer uit elke tien miljoen replikas van DNA voor.  Pierre Grasse van die Sorbonne Universiteit in Parys het 'n studie van bakterieë gemaak wat 400 000 keer vinniger as die mens vermenigvuldig.  Hy maak die volgende opmerking:

"The opportune appearance of mutations permitting animals and plants to meet their needs, seems hard to believe.  Yet the Darwinian theory is even more demanding.  A single plant, a single animal, will require thousands of lucky appropriate events.  Thus miracles would become the rule:  events with an infinitesimal probability could not fail to occur.  There is no law against daydreaming, but science must not indulge in it."

Sir Julian Huxley, 'n stoere ondersteuner van evolusie sê die volgende (die deel in donker letters deur die outeur bygevoeg vir meer duidelikheid):

"A proportion of favorable mutations of one in a thousand does not sound much, but is probably generous...  and a total of a million mutational steps (to get a new species) sounds a great deal but is probably an understatement…  With this proportion but without any selection, we should clearly have to breed a million strains to get one containing two favorable mutations, up to a thousand to the millionth power to get one containing a million…  A thousand to the millionth power, when written out becomes a figure 1 with three million noughts after it; and that would take three large volumes of about 500 pages just to print!  No one would bet one anything so improbable happening."

· Mutasies is byna altyd skadelik.  Na meer as 'n honderd jaar se eksperimente kon geen wetenskaplike nog ooit 'n ander spesie laat ontstaan deur selektiewe teling of enige ander eksperiment nie.  In die meeste gevalle is mutasies nadelig vir die organisme self en kan selfs tot die dood daarvan lei.  Dit is baie uitsonderlik om enige mutasies waar te neem wat enigsins 'n kans het om tot 'n dier se voordeel te wees. 

· Verskeie mutasie sou ongeveer gelyk moes plaasvind om werklik die gevolg te hê wat die ondersteuners van evolusie voorstel.  Dit sou 'n dier byvoorbeeld nie help om skielik van kiewe na longe oor te gaan nie.  Wat van al die ander prosesse wat saam met die longe moet funksioneer om die effektiewe verskaffing van suurstof aan die weefsel te verseker?  Wat van die vermoë om op land te leef?  'n Vis wat met longe uitbroei sal dadelik verdrink.  Die kans op soveel gelyktydige voordelige mutasies is baie klein. 'n Spesie kan wel veranderinge ondergaan, maar 'n vlieg bly 'n vlieg en 'n hond bly 'n hond. 

Die eksperimentele resultate wat beskikbaar is weerspreek die verwagte getuienis dat mutasies die aandrywingsmeganisme van evolusie sou wees.  Bykans alles wat deur die moderne wetenskap oor mutasies bekend is weerspreek die aansprake van die Neo-Darwiniste.

6.5. DNA

Die ontstaan van DNA is 'n groot probleem vir die evolusieteorie.  DNA is gekodeerde inligting wat die bloudruk van 'n organisme se eienskappe verteenwoordig.  DNA bevat byvoorbeeld inligting (soveel inligting as in die dertig volumes van die "Encyclopedia Britanica") oor hoe elke sisteem van 'n spesifieke organisme moet ontwikkel en funksioneer.  Hoe kon hierdie hoeveelheid inligting bloot spontaan ontstaan het?

Die inligting, wat in die kode van DNA opgesluit lê, kan in terme van kompleksiteit geredelik met menslike taal vergelyk word.  Niemand sal suggereer dat taal spontaan sou kon ontstaan nie, dit bevat orde, kompleksiteit en inligting en is daarom onweerlegbaar die gevolg van 'n intellek.  Hubert P. Yockey wat 'n informasie-spesialis is, sê die volgende oor die ooreenstemming tussen geskrewe taal en die DNA kode:

"It is important to understand that we are not reasoning by analogy.  The sequence hypothesis applies directly to the protein and genetic text as well as to written language and therefore the treatment is mathematically identical."

Geen mens sal dink dat 'n klomp speelgoedletters wat uit 'n houer val vanself op 'n sinvolle manier orden nie.  Daar is 'n verstand nodig om met die ordeningsproses te help.  So is die DNA kode van alle diere 'n komplekse en geordende versameling van inligting.  Sulke kompleksiteit en orde dui op 'n intelligente ontwerper.  Daar is 'n duidelike boodskap en dit dui noodwendig op 'n Boodskapper. 

Daar is 'n verdere probleem met mutasies se invloed op DNA. Volgens die evolusieteorie moes die hoeveelheid inligting wat DNA bevat, toegeneem het soos wat die kompleksiteit van organismes verhoog het.  Uit al die miljoene eksperimente wat al oor mutasies gedoen is, was daar nog nie een waartydens genetiese inligting deur mutasie tot DNA toegevoeg is nie.  In al die eksperimente is dit die verlies van genetiese inligting wat 'n fisieke verandering (mutasie) teweegbring. Die bewering dat genetiese inligting deur middel van mutasies progressief ontwikkel het, is direk in stryd met alle eksperimentele resultate. Dit is ook teenstrydig met die beginsel van toenemende entropie.  Hierdie beginsel word vervolgens in meer detail bespreek.

6.6. Entropie en Evolusie

Die beginsel van Entropie staan ook bekend as die tweede wet van Termodinamika.  In 'n baie basiese vorm sê dit dat chaos altyd toeneem in enige ongekontroleerde geslote sisteem.

Vir makro-evolusie om waar te wees, moes nie-lewende materie "vanself" opwaarts georganiseer het tot baie hoër vlakke van kompleksiteit en doelgerigtheid.  Volgens die wet van Entropie is dit nie iets wat ooit van nature in die heelal gebeur nie.  Hoewel die son konstant energie aan die geslote sisteem van die aarde verskaf, is die blote toevoeging van energie nie genoeg om kompleksiteit, ontwerp en ontwikkeling te veroorsaak nie.  Daar is spesifieke gevalle waar die natuur wel spontaan orden, soos met die vorming van kristalle.  Dit is egter 'n baie eenvoudige vorm van orde en weerspreek nie die tweede wet van termodinamika nie. 

6.7. Ontwerp

Verskeie wetenskaplikes (gelowig en ongelowig) erken vandag prontuit dat baie aspekte van die heelal en van lewe op ontwerp dui.  Daar is 'n groot groep wetenskaplikes wat 'n sterk argument hiervoor uitmaak sonder om 'n uitspraak te maak oor die aard of identiteit van 'n moontlike ontwerper.  Hulle is geïnteresseerd in die aanwesigheid van tekens van ontwerp, maar sien dit nie as deel van hulle studieveld om oor die oorsprong van hierdie ontwerp te praat nie.  Hierdie tekens van ontwerp volg uit die sterk wetenskaplike bewyse vir geordende kompleksiteit. 

Orde kan wel deur natuurkragte op hul eie veroorsaak word soos gesien kan word in die struktuur van kristalle.  In die struktuur van kristalle word dieselfde patroon weer en weer herhaal en is daar geen sprake van werklike kompleksiteit nie.  Kompleksiteit op sy eie word ook deur natuurkragte veroorsaak, soos gesien kan word in 'n mengelmoes skulpe wat op 'n strand uitgespoel lê.  Die hoop skulpe is baie kompleks, maar daar is geen sprake van orde nie.  Indien dieselfde skulpe egter 'n duidelike boodskap op die sand uitspel, sal niemand dink dit is deur die golwe veroorsaak nie.  Die feit dat daar 'n hoë mate van kompleksiteit en 'n hoë mate van orde is (inligting), impliseer onafwendbaar dat dit deur 'n intellek geskep is. 

Walter L. Bradley stel dit soos volg:

"It is sometimes argued that there are self-ordering tendencies in nature that may account for the observed order in living systems.  Crystal formation as well as vortecies (as in your bathtub when it is nearly empty) or convective heat currents are offered as examples of the self-ordering tendencies in nature.  Such anologies fail to recognize that the ordering in vortices, crystals etc. is very redundant compared to the observed ordering in living systems which is quite diversive and information intensive. The three sequences of letters below illustrate a random arrangement, a highly ordered but redundant arrangement and a highly ordered, information intensive arrangement:

Random

ACDBGEF ADGEBFC CBFGEAD

Ordered but redundant (like a crystal)

ABCDEFG ABCDEFG ABCDEFG

Ordered and information intensive like DNA

THIS SEQUENCE OF LETTERS CONTAINS A MESSAGE!"

Die eerste twee lettergroepe kon spontaan ontstaan het, maar die laaste definitief nie.  In enige situasie waar daar duidelike tekens van beide orde en kompleksiteit is, is 'n intelligente ontwerper altyd betrokke.  Wat makro-evolusie voorstel is in direkte teenstelling met die erkende en bestaande wetenskaplike wette.  Die ondersteuners van evolusie moet 'n verduideliking hiervoor verskaf.

6.8. Fossiele

Why if species have descended from other species by insensibly fine graduations, do we not everywhere see innumerable transitional forms?  Why is not all nature in confusion in stead of the species being as we see them, well defined?… But, as by this theory innumerable transitional forms must have existed, why do we not find them embedded in countless numbers in the crust of the earth?    Charles Darwin in "The Origin of species"

 

Fossiele is die enigste werklike getuienis van hoe die evolusieproses in die verlede sou plaasgevind het.  Dit is die rede waarom fossiele van die belangrikste getuienis vir of teen evolusie is.  Daar is volgens die skrywer John Blanchard al reeds ongeveer 100 miljoen fossiele opgegrawe (ander skrywers stel die syfer so hoog as 250 miljoen).  Daar behoort dus volgens die evolusieteorie 'n paar dinge in die fossielrekord te wagte te wees indien makro-evolusie werklik plaasgevind het:

· Daar sou oorgangsspesies gevind wordwat die geleidelike oorgang van een spesie na 'n ander aantoon.  Hierdie spesies sal die verskillende tussenstappe in die evolusieproses aandui.  Dit beteken dat daar spesies behoort te wees wat half gevormde organe het of nie-funksionele organe wat nog net begin vorm het.  Klassieke evolusie vind nie plaas met die skielike verskyning van 'n volledig gevormde en werkende orgaan nie.  Dit is eerder 'n stadige stap vir stap proses van ontwikkeling.  Dus help dit nie om 'n spesie te vind wat lyk of dit half vis en half amfibies is, maar reeds volledig funksioneel nie.  Dit is nie die gladde tipe oorgang waarna daar gesoek word nie.  Wat was die organisme en wat word dit nou?  So 'n volledig gevormde spesie dui nie op ontwikkeling nie, maar eerder op variasie wat nie meer vandag bestaan nie. 

· Meer komplekse wesens behoort nie in die ouer lae van die fossielrekord gevind te word nie.  Die meer eenvoudige spesies behoort onder te wees en soos die lae jonger word, behoort die spesies geleidelik meer en meer kompleks te word.

Die eerste probleem is dat daar 'n afwesigheid van ondersteunende fossiele vir die evolusieteorie is.  Die aanhangers van die evolusieteorie is lank reeds op soek na die "missing link" wat verwys na die oorgangsspesie tussen die aap en die mens.  Verskeie spesies en fossiele is al as die "missing link" aangekondig, maar nog geen van hierdie aansprake kon werklik in die lig van baie geldige teen-aansprake, as so 'n oorgangsspesie bevestig word nie.  Die fossielrekord wys wel op die ontwikkeling binne spesies en die ontstaan van nuwe spesies, maar van die oorgange van een spesie na 'n ander, is daar nie genoeg getuienis nie.  Al die fossiele wat as sogenaamde oorgangsspesies uitgeken is, is aanvegbare voorbeelde. 

Hoewel daar wel 'n toename in kompleksiteit van fossiele gevind word van die ouer na die nuwer rotslae, is dit glad nie getuienis vir 'n egalige oorgangsproses nie.  Behalwe dat daar geen oorgangsspesies gevind word nie, verskyn nuwe organismes (kompleks en minder kompleks) skielik in die fossielrekord.  Dit gebeur ook dikwels dat fossiele wat volgens die evolusieteorie nie gelyktydig behoort te bestaan nie (eenvoudig sowel as baie kompleks), saam in rotslae gevind word.  Spesies wat veronderstel is om baie ouer as ander te wees, kom saam met die nuwer spesies voor. Indien hulle saam bestaan het, is die een nie werklik die voorgeslag van die ander nie, hulle is net verskillende spesies.  Daar is ook nie sprake van 'n oorgang van eenvoudig na meer kompleks nie. 

Daar kom wel organismes in die fossielrekord voor wat na oorgangsspesies lyk.  Een van die bekendste voorbeelde hiervan is die fossiel van die Archaeopteryx.  Dit was 'n organisme wat eienskappe van 'n voël (funksionele vlerke met vere) en eienskappe van 'n reptiel (kloue en tande) geopenbaar het.  As daar met vooropgestelde evolusionistiese idees daarna gekyk word, lyk dit definitief na 'n goeie kandidaat vir 'n oorgangsspesie.  Die Archaeopteryx was verseker 'n heeltemal unieke spesie, heeltemal anders as enige spesie wat vandag bestaan.  Die probleem vir die evolusieteorie is dat al die verskillende liggaams-eienskappe - reptiel en voël - van die Archaeopteryx ten volle gevorm en funksioneel is.  Daar is geen teken van 'n oorgangsorgaan nie.  Dit is dus 'n goeie voorbeeld van 'n vreemde organisme, maar kan nie as die lang verwagte oorgangsspesie geïdentifiseer word nie.  Dit sou ook nie as 'n oplossing beskou kon word as net een oorgangsspesie gevind word nie.  Soos Darwin te reg gevra het, waar is die honderde en honderde oorgangsspesies wat ons te wagte sou wees?

6.9. Onwelkome gaste

Die volgende probleem sluit direk by die vorige punt aan en staan as die Kambriese ontploffing bekend.  Die evolusieteorie voorspel dat spesies oor tyd sou ontstaan en dat ons van die fossiele van daardie spesies in die verskillende rotslae sou ontdek.  Die spesies sou ook wissel van die eenvoudige spesies in die oudste lae tot die mees komplekse spesies in die nuwer lae. 

Dit is egter nie die geval nie.  Tydens die Kambriese periode wat ongeveer 600 miljoen jaar gelede was, gebeur iets onverwags.  Bykans al die verskillende basiese liggaamsvorme van diere wat vandag nog voorkom, verskyn vanuit die bloute in die fossielrekord.  Daar is geen teken van enige voorafgaande evolusionêre opbou nie.  Nie net is dit 'n probleem vir die evolusieteorie nie, maar 'n weerspreking daarvan.  Die Kambriese ontploffing is die heel belangrikste getuienis vanuit die fossielrekord, teen die geloofswaarheid van die meganisme soos voorgestel is in klassieke makro-evolusie. 

6.10.  Die mens as dier

Die mens is kwalitatief baie anders as enige dier.  Dit is nie vanuit evolusionêre denke moontlik om 'n logiese verduideliking vir die kwalitatiewe verskille te gee nie.  Die apologeet Josh McDowell noem die volgende nege eienskappe van die mens wat hom verskillend maak van 'n dier:

·Die mens kan analities dink, redeneer en filosofeer.

·Die mens kan geskiedenis maak en neerskryf.  Die mens skep en waardeer kultuur.

·Die mens kommunikeer met die gebruik van abstrakte simbole en taal.

·Mense is sosiale wesens op 'n heeltemal ander vlak as waarop diere sosiaal is.

·Mense is ekonomiese wesens wat transaksies in besigheid gebruik.

·Die mens kan estetiese dinge waardeer wat baie nou verwant is aan die mens se etiese oriëntasie.

·Net die mens verstaan die konsep van geregtigheid en meer as blote reg en verkeerd.  Regspraak en straf is hier ook ter sprake.

·Die mens is 'n etiese wese.  Goed en sleg, mooi en lelik, ens. speel 'n belangrike rol in die mens se lewe.

·Slegs die mens het 'n geloofsdimensie.  Hulle kan hul Skepper erken en aanbid en in 'n verhouding met hom staan.

7. Evolusie as wetenskap

Soos vroeër verduidelik is, behoort wetenskaplike teorieë aan spesifieke vereistes te voldoen.  Die getuienis teen die geloofwaardigheid van die evolusieteorie is sopas bespreek.  Waar laat dit evolusie as wetenskaplike teorie?

Voorspelling van evolusie

Getuienis

Oorgangsspesies in fossielrekord

Moontlike voorbeelde bestaan, maar geen bewese oorgangsspesie nie

Duidelike en gladde toename in kompleksiteit in die fossielrekord met die verloop van tyd

Fossielrekord wys komplekse en minder komplekse organismes in meeste van die geologiese lae. Geen gladde toename

Geen voorbeelde van onverminderbare kompleksiteit sal bestaan nie

Verskeie voorbeelde van onverminder-bare kompleksiteit bestaan

Moontlike oorgangsspesies in die natuur ontdek

'n Paar baie aanvegbare moontlike oorgangsspesies in die natuur ontdek

Spontane ontstaan van lewe en hoër vlakke van orde en kompleksiteit spontaan in die natuur moontlik

Geen voorbeelde hiervan in enige wetenskap

Geen van die voorspellings wat evolusie maak kan as onomwonde waar bewys word nie.  Die getuienis wat Darwin self verwag het (oorgangsspesies in fossielrekord) is nie gevind nie, dit wat hy geweet het sy teorie omver sou werp (onverminderbare kompleksiteit), is gevind.  Nie een van die veranderde vorme van Darwinisme (Neo-Darwinisme ens.) het die vermoë om getuienis vir hul teorieë te verskaf nie.  Hulle probeer geloofwaardige verduidelikings gee, maar kan nie vir 'n toename in DNA inligting of vir die tekens van hoë orde en hoë kompleksiteit in organismes 'n verduideliking gee nie. 

As wetenskaplike teorie het evolusie nie werklik geloofwaardigheid nie.  As geloofstandpunt word dit met alle mag verdedig.  Die volgende vrae ontstaan egter: Hoe kan daar met soveel vooroordeel in 'n forensiese wetenskap verduideliking gesoek word? Sou enige verduideliking uit so bevooroordeelde ondersoek enige geloofwaardigheid hê?  Die bevooroordeelde ondersoeker gaan altyd die inligting vind wat sy geloofstandpunt ondersteun. 

Watter voorspellings sou gemaak word as die verklaring vir die oorsprong van lewe en spesie diversifiteit die ontwerp van 'n "ontwerper" is?

Voorspelling deur 'n ontwerpteorie

Getuienis

Skielike verskyning van nuwe tipes fossiele in die rekord

Presies wat gevind word volgens die Kambriese ontploffing

Tekens van hoë orde en hoë kompleksiteit in organismes

Presies wat gevind word (Struktuur van die sel, DNA ens.)

Verskeie voorbeelde van onverminder-bare kompleksiteit

Presies wat gevind word in byvoorbeeld Biochemiese prosesse van bloedstolling en sig

Die vermoë van spesies om by verande-rende omstandighede te kan aanpas

Mikro evolusie vind binne spesies plaas soos in verskeie voorbeelde gesien kan word

Komplekse inligting en planne nodig vir die implementering van die ontwerp

Presies wat in DNA gevind word.

As die oorsprongswetenskap se forensiese metode gebruik word, is dit duidelik dat ontwerp 'n meer geloofwaardige verduideliking as makro-evolusie verskaf.  'n Geloof in evolusie mag mens tydelik blind maak en geloofsverandering is 'n moeilike stap om te neem.  As die feite onbevoor-oordeeld oorweeg word, is ontwerp egter die beste verduideliking.  Dit verg moed om voor-oordele opsy te skuif en weer die getuienis te heroorweeg, maar is die waagstuk nie die mees wetenskaplik korrekte weg nie?

'n Voorbeeld van die oortuigingsmag van die ontwerp argument is die verandering wat dit in die denke van Prof. Antony Flew gehad het.  Flew is wêreldwyd bekend as filosofie professor en uitgesproke ateïs.  Hy het al verskeie boeke en artikels geskryf teen die bestaan van God.  Flew het aan die einde van 2004 sy standpunt verander en beskou homself nou as 'n teïs.  Dit beteken hy glo dat daar wel 'n God bestaan.  Niks meer as dit nie, net die bestaan van 'n God.  Wat het hom oortuig?  Soos hy vroeër in die onderhoud sê, "ek moes volg waarheen die getuienis lei".  Wat is die argumente wat Prof. Flew oortuig het?  Laat hy vir homself praat:

"FLEW: I think that the most impressive arguments for God's existence are those that are

supported by recent scientific discoveries…I think the argument to Intelligent Design is enormously stronger than it was when I first met it.

HABERMAS: So you like arguments such as those that proceed from big bang cosmology and fine tuning arguments?

FLEW: Yes.

HABERMAS: So of the major theistic arguments, such as the cosmological, teleological,

moral, and ontological, the only really impressive ones that you take to be decisive are the

scientific forms of teleology?

FLEW: Absolutely. It seems to me that Richard Dawkins constantly overlooks the fact that

Darwin himself, in the fourteenth chapter of The Origin of Species, pointed out that his whole

argument began with a being which already possessed reproductive powers. This is the creature the evolution of which a truly comprehensive theory of evolution must give some account.  Darwin himself was well aware that he had not produced such an account. It now seems to me that the findings of more than fifty years of DNA research have provided materials for a new and enormously powerful argument to design."

8. Kreasionisme

Die teenoorgestelde kant van evolusie op die kontinuum van opinies oor die ontstaan van lewe, staan as wetenskaplike kreasionisme bekend.  Hoewel enige ontwerpteorie 'n ontwerper impliseer en in daardie opsig ook 'n vorm van kreasionisme is, is dit nie wat hier bedoel word nie.  Wetenskaplike kreasionisme huldig die standpunt dat die heelal slegs 'n paar duisend jaar oud is en stel 'n alternatiewe wetenskap daar om die standpunt te ondersteun. Daar kan egter baie kritiese vrae oor hierdie standpunt gestel word.  Ook hierdie siening benader die feite vanuit 'n geloofstandpunt.  Weereens is die forensiese ondersoek bevooroordeeld en dus nie altyd geloofwaardig nie.  Wetenskaplike kreasionisme bring verskeie onverklaarbare gapings mee en laat 'n hele paar onbeantwoorde vrae.[3] 

9. Hoe moet daar dan hieroor gedink word?

Dit is onmoontlik om heeltemal objektief (sonder enige tipe van vooraf opgestelde idees) 'n gegewe stel feite te benader.  Die beste wat 'n mens kan doen, is om te probeer om te keer dat die spesifieke verstaan van 'n stel geloofstandpunte, nie rasionele denke en getuienis oorheers nie.  Laat die feite wat bewys kan word, vir hulleself spreek.  Sedert die vroeë kerkvaders is daar geglo dat die Bybel en die natuur albei help om God te leer ken.  Die een moenie deur die bril van die ander gelees word nie, want dit bring 'n drogbeeld van die feite na vore.  Laat elke deel vanself spreek.  God het nie nodig dat Hom verdedig deur swak argumente nie.  Hy is nie skaam of bang vir wat uit die Bybel of uit wetenskaplike ondersoek van die natuur ontdek sal word nie.  Dieselfde outeur het beide "boeke" geskryf en hulle boodskappe sal mekaar ondersteun.

Gevolgtrekkings

Christene hoef nie 'n probleem met al die aspekte van die evolusieteorie te hê nie.  God het diere en mense ontwerp om by verskillende omstandighede aan te pas.  Vanuit die ontwerp perspektief maak dit sin dat mikro-evolusie, soos wat in die natuur waargeneem word, wel sou plaasvind. 

Makro-evolusie is egter vêr van 'n bewese wetenskaplike feit soos wat die ondersteuners van hierdie teorie beweer.  Selfs al sou daar onteenseglik bewys kon word dat een spesie na 'n ander oorgaan deur middel van evolusie, sal dit nie 'n krisis wees nie.  Hoe lewe ontstaan het en wat die mens anders maak as ander diere, is nie binne die navorsingsveld van die wetenskap nie.  Dit is uiteindelik die kern vrae.

10. Evolusie se plek?

Waar pas evolusie in?  Dit is een van die kern vrae wat in die volgende eeu beantwoord sal moet word.  Beide kante loop die gevaar om te oorvereenvoudig en om die ander af te maak as karikature.  Dit gaan niemand help of die feite verander nie. 

Ja, lewe het ontstaan.  Ja, daar het met die verloop van tyd meer komplekse spesies op aarde te voorskyn gekom.  Op beide daardie twee gebiede het daar moontlik 'n vorm van "evolusie" plaasgevind.  Is daar 'n wetenskaplike teorie wat 'n geloofwaardige verklaring vir een van die twee verskynsels gee?  Klassieke Darwinisme?  Wat van Neo-Darwinisme of selfs kreasionisme?  As daar na die beskikbare getuienis gekyk word, is die antwoord in elk van die gevalle 'n onomwonde nee!  Niemand weet wat die meganismes van die ontstaan van lewe of spesie diversifisering was nie.  Dit lyk asof daar een of ander vorm van ontwerp in die heelal aanwesig is.  Is dit moontlik?  Is daar enigsins plek vir 'n "ontwerper" in wetenskaplike teorieë?  Is dit moontlik om hierdie vrae op 'n wetenskaplik geloofwaardige manier te beantwoord?  Dit is van die belangrike vrae wat die wetenskap ernstig moet ondersoek.

Evolusie moet sonder vooroordeel, dogmatiek en retoriek as suiwer wetenskaplike teorie beoordeel word.  Wat van waarde is moet gebruik word en wat ongeloofwaardig is, moet verwerp word.  Dit sal dalk beteken dat partye wat beide kante van die argument verteenwoordig hul trots sal moet sluk om nader aan die waarheid te kom.  Sal dit nie 'n blye dag wees nie!!

Bronne:

Creation and Evolution- Alan Hayward

Darwin's Black Box - Michael Behe

The Neck Of The Giraffe - Francis Hitching

Does God Believe In Atheists? - John Blanchard

Baker Encyclopedia Of Apologetics - Norman Geisler

Josh Answers Five Tough Questions - Josh McDowell

When Skeptics Ask - Norman Geisler

Dismantling Evolution - Ralph O Muncaster

Onderhoud tussen Gary Habermas en Antony Flew, verkry vanaf www.apologetics.com



[1]  Later in die module word die oerknalteorie en die Kambriese ontploffing in meer detail bespreek.

[2] Aan die einde van hierdie module sal die evolusieteorie aan die hand van verklarings- en voorspellingswaarde geëvalueer word. 

 

[3] Die kreasionistiese standpunt sal egter nie verder in hierdie studiestuk bespreek word nie.

 

Het jy iets om te sê? Wil jy graag kommentaar lewer? Doen dit gerus hier!