Die Bergtop, die Olifant en die Drie Blinde Mans
‘n Kritiese Ondersoek na Godsdienstige Pluralisme
deur Udo Karsten
Notas:
(3) Die gebruik van die woord “God” is ‘n verwysings na die konsep van God en nie ‘n aanduiding van ‘n spesifieke godsdiens se verstaan van daardie konsep nie. Dit word duidelikshalwe met ‘n hoofletter gespel.
Godsdiens en die mens
‘n Mens wil amper dink dat iemand op ‘n verlore eiland êrens gebore moes gewees het om nie bewus te wees van die diversiteit van godsdienste wat bestaan nie. Maar so ‘n analogie sal nie noodwendig werk nie. So iemand sal waarskynlik deel wees van ‘n verlore stam op daardie eiland en so ‘n verlore gemeenskap sal in die grootste waarskynlikheid godsdienstig wees. Of ketters in ‘n pot gaargemaak word of nie, die kanse is goed dat daardie eilandbewoner bewus sal wees van ‘n aantal diverse godsdienstige menings.
Daar is ‘n paar dinge in die lewe wat moeilik is om te ontken. Soos byvoorbeeld dat, 1) die mensdom inherent godsdienstige neigings het; 2) daar verskillende godsdienste bestaan; en 3) mense ander wat van hulle verskil (op enige manier) dikwels met agterdog bejeën.
Veral Suid-Afrika word gekenmerk deur ‘n pluralistiese en diverse samelewing waarvan verskillende godsdienstige oriëntasies ‘n prominente element is. Mense met uiteenlopende godsdienstige agtergronde leef hul oortuigings uit in dieselfde geografiese grense en skuur skouers op elke denkbare vlak van die samelewing.
In so ‘n pluralistiese klimaat is dit ondenkbaar om ander mense met ander geloofsoortuigings, nie te aanvaar nie. Mense word aangemoedig om daadwerklike pogings aan te wend tot beter begrip vir mense wat anders dink en anders glo. Baie mense voel egter dat dit juis die wêreld se verskillende godsdienste is wat in die pad staan van menswaardigheid en harmonie tussen mense. Die mening is dat verskillende godsdienste meer moeite moet doen om godsdienstige diversiteit te erken en mekaar te aanvaar. Hopelik sal mense dan ophou om mekaar in die naam van een of ander God dood te maak of met agterdog te bejeën.
Twee metafore vir ‘n verstaan van godsdiens?
Sommige mense, in ‘n poging om te verduidelik hoe godsdienste mekaar kan begin respekteer, maak gebruik van die volgende illustrasie:
Die wêreld se verskillende godsdienste is soos mense wat die bopunt van ‘n berg uit verskillende rigtings nader. Hulle loop met verskillende paadjies teen daardie berg op en kom later almal by dieselfde bopunt uit.
Die illustrasie verduidelik hoedat godsdienstige mense almal in hul eie godsdienstige tradisies staan. Al hierdie mense streef met opregtheid daarna om ‘n goeie lewe te lei volgens die standaarde van hul gewete en die voorskrifte van hul afsonderlike godsdienstige tradisies. Tydens, of aan die einde van ‘n goeie lewe, bereik alle godsdienstige mense een of ander vorm van geestelike vervulling as reaksie op een en dieselfde Goddelike Realiteit.
Klink hierdie nie na ‘n besonder bevredigende manier om oor die wêreld se verskillende godsdienste en oor God te dink nie? Lei so ‘n verstaan van godsdiens nie noodwendig tot beter begrip, samewerking en verdraagsaamheid tussen alle mense nie? Is daar nie aansienlik minder rede vir godsdienstiglik gemotiveerde geweldpleging, menseregteskendings en diskriminasie as alle mense so oor die wese van godsdiens dink nie?
Sulke vrae verleen baie energie aan die idee dat alle godsdienste in werklikheid bloot verskillende maniere na dieselfde God is. Mense voel toenemend dat die wêreld waarin hulle leef ‘n beter plek sal wees as meer mense dit sal besef.
So ‘n verstaan van godsdiens wil daarop wys dat die strewe na menswaardigheid en harmonie tussen alle mense, die primêre funksie van godsdiens is. Het al die groot godsdienste nie almal immers een of ander formulering van die “Goue Reël” nie? As die kern van hedendaagse godsdienste ‘n uitdrukking is van hierdie soort etiese ideaal, bevestig dit dan nie verder dat alle godsdienste basies dieselfde is nie?
Dit word erken, ter wille van eerlikheid, dat selfs net ‘n oppervlakkige blik op die wêreld se godsdienste wys dat godsdiens nie net ‘n etiese sisteem is nie. Dit lyk skynbaar of al die godsdienste terselfdertyd ook probeer om een of ander beskrywing te gee van die verskillende aspekte van die realiteit waarin die mens leef. ‘n Spesifieke godsdiens sal tipies poog om antwoorde te gee op vrae soos die volgende: Waar kom die wêreld vandaan? Wat is die mens? Wat is die doel van die mens se bestaan? Hoe weet ons wat ‘realiteit’ is? Is daar ‘n God? Wie of wat is God? Wat is die dood?
Dit is verder, met dieselfde oppervlakkige blik, duidelik dat verskillende godsdienste meestal wyd uiteenlopende antwoorde op spesifieke vrae gee. Die rede hiervoor is dalk so eenvoudig soos dat mense dieselfde realiteit waarin hulle leef, verskillend ervaar. Mense het verskillende historiese, kulturele en filosofiese vooroordele wat hul ervarings en begrip, verskillend inklee. Persoonlike ervaring kan op baie verskillende maniere en met baie verskillende woorde beskryf word. Dis byna soos die resultaat wanneer verskillende ooggetuies dieselfde ongelukstoneel beskryf.
So, bo en behalwe dat verskillende godsdienste soos verskillende paaie na die bopunt van ‘n berg beskou kan word, is verskillende godsdienste miskien ook soos die drie blinde mans wat ‘n olifant beskryf. Die een blinde man voel aan die olifant se been en sê: “Ek dink ‘n olifant is soos die stam van ‘n boom.” Die tweede blinde man stem nie saam nie. “Nee, ek glo die olifant is soos ‘n slang,” sê hy, terwyl hy die olifant se slurp vashou. Die derde blinde man wat aan die olifant se maag raak, skud sy kop, “Nee, julle is albei verkeerd, die olifant is soos ‘n groot rots.” Elke blinde man dink hy is reg en dat die ander verkeerd is, maar inderwaarheid raak elkeen aan dieselfde olifant.
Is dit nie redelik om op soortgelyke manier te glo dat alle godsdienste met dieselfde realiteit te doen het, maar dit net op verskillende maniere beskryf of verstaan nie? Of dat elke godsdiens uitdrukking gee aan verskillende aspekte van dieselfde werklikheid nie? Die verskille tussen godsdienste is hiervolgens te wyte aan die mens se beperkte vermoë om ‘n beskrywing te gee van ‘n onbeperkte Goddelike Realiteit.
Dit sou voorlopig op hierdie punt dus wou blyk dat daar ‘n verantwoordelike (en polities korrekte) manier is om oor verskillende godsdienste te dink: dat hulle hoofsaaklik dieselfde is en slegs oppervlakkig verskillend is.
Die res van hierdie skrywe sal aantoon dat die bestaan van verskillende godsdienste in werklikheid die teenoorgestelde siening noodsaak. Die enigste posisie van integriteit is dat verskillende godsdienste oppervlakkig dieselfde is, maar hoofsaaklik verskillend is. Dit sal verder wys dat begrippe soos verdraagsaamheid (tolerance) en die erkenning van menswaardigheid juis deur hierdie siening ondersteun en bevorder word.
Godsdienstige diversiteit versus godsdienstige pluralisme
Die idee dat alle godsdienste verskillende paaie na dieselfde God is, is ‘n uitdrukking van godsdienstige pluralisme. Godsdienstige pluralisme moet onderskei word van godsdienstige diversiteit.
‘n Woordeboek definisie van pluralisme is die volgende: “[Die] wysgerige en lewensbeskoulike stelsel wat verskillende standpunte en beginsels erken en aanvaar sonder dat die een die ander hoef uit te sluit.”<!--[if !supportFootnotes]-->[1]<!--[endif]-->
In soverre hierdie definisie van pluralisme daarop dui dat diversiteit (“verskillende standpunte en beginsels”) erken en aanvaar kan word, is dit goed en wel. Dat die een die ander nie hoef uit te sluit nie, kan egter tog nie vooraf besluit word nie. Sekere mense dink foutiewelik dat die erkenning van godsdienstige diversiteit (dat daar verskillende godsdienste bestaan) outomaties beteken dat alle godsdienste verskillende paaie na dieselfde God is.
Die feit van godsdienstige diversiteit behoort mense daartoe te lei om mense met ander godsdienstige oortuigings as hul eie, te erken, te aanvaar en te respekteer. Sulke respek is uiters noodsaaklik vir harmonie tussen mense. Die erkenning en aanvaarding van godsdienstige diversiteit is ‘n vorm van sosiale pluralisme. Sosiale pluralisme dui op die erkenning en aanvaarding van enige diversiteit soos ras, geslag, taal, kultuur, voorkeure, tradisies en oortuigings (mits dit natuurlik nie tot onetiese praktyke aanleiding gee nie.) Hierdie tipe pluralisme beteken egter nie dat daar met ander se sienings en voorkeure saamgestem moet word nie. Dit beteken ook nie dat ‘n mens nie op eerbiedige manier kan verduidelik waarom jy van daardie sienings verskil of nie van hul voorkeure hou nie. Dit beteken wel dat alle mense se vryheid van spraak, vryheid om te kies en menswaardigheid erken sal word.
Godsdienste verskil drasties in hulle opinie oor watter pad eintlik na die bergtop lei. Hulle verskil selfs oor teen watter berg daardie pad oploop. Op die gebied van die godsdiens is die mens se vermoë om in harmonie met mekaar saam te leef, nie afhanklik van ‘n idee soos godsdienstige pluralisme nie. Harmonie is die gevolg van respek en begrip vir mense, nie die ontkenning van mense se verskillende opinies soos wat godsdienstige pluralisme dit probeer doen nie.
Die beginsel van nie-teenstrydigheid
Die idee dat alle godsdienste verskillende paaie na dieselfde God is, kan slegs werk indien die verskillende godsdienste se standpunte en beginsels mekaar nie per definisie uitsluit nie. Beskou weer die bogenoemde definisie van pluralisme. Dit eindig kort in die uitspel van ‘n onmisbare voorwaarde wat nodig is vir enige stelsel om te werk of sin te maak. Verskillende standpunte en beginsels kan gelyktydig erken en aanvaar word, maar hulle kan nie gelyktydig en op dieselfde manier geldig wees as die een die ander per definisie uitsluit nie. Dit word die beginsel van nie-teenstrydigheid genoem.
So byvoorbeeld sou geen huwelik goed werk as ‘n man aan sy vrou met hartstog die volgende verklaar nie: “Ek is net vir jou lief”, dan doodernstig byvoeg, “Ek het jou nie lief nie,” en onmiddellik ook bely “Ek het iemand anders lief”. Probeer ‘n huwelik voorstel waar al hierdie verklarings gelyktydig en op dieselfde manier erken en aanvaar moet word. Die belangrikheid van hierdie beginsel kan met betrekking tot godsdienstige pluralisme, nie oorbeklemtoon word nie: twee of meer stellings kan nie gelyktydig en op dieselfde manier waar wees nie; stellings wat mekaar weerspreek (wat teenstrydig is) kan nie almal reg wees nie.<!--[if !supportFootnotes]-->[2]<!--[endif]-->
Godsdienstige pluralisme kan net waar wees as alle godsdienste wel besig is om teen dieselfde berg uit te klim. Dit moet egter eers vasgestel word, dit kan nie sommer veronderstel word nie.
In ‘n poging om die beginsel van nie-teenstrydigheid te omseil (want wie wil nou van irrasionaliteit beskuldig word) is dit godsdienstige pluralisme se strategie om die verskille tussen godsdienste eenvoudig weg te verklaar. Die pluralis is van mening dat al die wêreld se godsdienste, in essensie nie werklik van mekaar verskil nie (en mekaar daarom ook nie weerspreek nie). Waar dit dalk mag lyk asof hulle wel verskil, word daar verduidelik dat die verskille egter nie so belangrik is as om op enige teenstrydighede te dui nie.
Godsdiensverskille as illusie
Baie mense swig voor die populistiese en skynbaar intuïtiewe gevoel oor die waarheid agter die aantreklike metafore van die berg, die olifant en die drie blindes, sonder om ‘n noukeurige ontleding daarvan te doen. Kyk weer na die volgende twee metafore:
“Daar is verskillende paaie na dieselfde bergtop.”
“Elk van die drie blinde mans het ‘n stukkie waarheid oor die olifant beet.”
Godsdienstige pluralisme wil met hierdie metafore die gerusstellende versekering gee dat alle godsdienste op een of ander manier met dieselfde God te doen het, selfs al gee dit gebrekkige beskrywings van die realiteit waarin mense leef.
Wat is verskillende godsdienste se gebrekkige antwoord op byvoorbeeld die volgende aspek van realiteit: Wie of wat is God?
Sommige godsdienste sal antwoord en sê dat God monoteïsties is (een God); ander glo aan politeïsme (baie Gode); ander beweer dat God panteïsties is (alles is God); sommige godsdienste is selfs essensieel ateïsties (daar is geen God nie). Judaïsme en Islam voer aan dat God ‘n selfstandige en enkele wese is, maar tot verskillende mate persoonlik; die Christelike geloof glo in ‘n enkele persoonlike, maar drie-enige God; terwyl God in afdelings van Hindoeïsme en Boeddhisme as onpersoonlik en ononderskeibaar van realiteit voorgestel word.
Dit maak nie regtig saak of die godsdienste hier gebrekkige antwoorde gee nie. Die punt is dat daar meestal radikaal uitsluitende antwoorde gegee word.<!--[if !supportFootnotes]-->[3]<!--[endif]--> Iemand wat daarop wil aandring dat die geloof in “een God,” “geen God” en “alles is God” maar net op gebrekkige maniere van dieselfde God praat, sukkel met semantiese ontleding of met die onderskeiding tussen konsepte.
Die vraag is egter na hoekom dit bloot aanvaar moet word dat alle godsdienste se antwoorde gebrekkig sal wees. Die pluralis sal antwoord dat alle mense se insig beperk is, dat alle mense net soos die drie blinde mans deur hul vooroordele en beperkings blind gemaak word om die olifant te sien soos dit werklik is. Die metafoor van die olifant en die drie blinde mans maak ‘n belangrike en onmiskenbare punt: niemand is vrygespreek van die invloed van vooroordele en beperkte kennis nie. Dit geld spesifiek ook vir iemand se worsteling en soeke na God.
Die vraag bly egter essensieel onbeantwoord: hoe weet die pluralis dat alle godsdienste so lamgelê word deur vooroordele en onkunde dat geen godsdiens ‘n voldoende en ware verduideliking (nie noodwendig allesomvattend nie) kan gee oor wie God werklik is nie? As God, volgens die pluralis, grootliks onkenbaar is, waar kom die pluralis aan hierdie kennis dat God onkenbaar is? Hoekom is juis die pluralis so bevoorreg om te weet wie of wat God eintlik is (dat God onkenbaar is)? Dis duidelik dat die pluralis nie hier sukkel met ‘n gebrekkige antwoord nie. Meer tot die punt, as God dan grootliks onkenbaar is, hoe kan die pluralis dan in elk geval daarop aanspraak maak dat alle godsdienste geldige maniere is om selfs net ‘n deel van so ‘n onkenbare God te verstaan?
Hoekom kry ‘n mens eerder die suspisie dat dit eintlik net die pluralis is wat heeltemal onbevooroordeeld is en daarom ware kennis het, en nie enige van die wêreld se godsdienste nie? Wil die pluralis hê almal moet maar goedgelowig aanvaar dat slegs hy regtig die olifant kan sien, dat slegs hy werklik kan verstaan waaroor alles gaan?
Dit is natuurlik die pluralis se goeie reg om te glo dat hy die vierde man is met die 20/20 visie wat in sy vuis lag vir die drie blinde mans omdat slegs hy die olifant kan sien. Die pluralis kan gerus daarop aanspraak maak dat hy ‘n beter begrip het van die realiteit as wat enige godsdiens sou hê. ‘n Mens sal egter verwag dat so ‘n aanspraak gemotiveer kan word. Met ander woorde dis nie arrogant of ongeregverdig om te sê “ek is reg en julle is verkeerd” nie, mits jy goeie redes het vir waarom dit so sou wees. In so ‘n geval sou dit vir enige verantwoordelike persoon raadsaam wees om daardie redes noukeurig te ondersoek.
Wat is egter die kern van wat die pluralis sê wat totaal onaanvaarbaar is? Die pluralis se mening dat godsdienste eintlik maar net op verskillende maniere oor dieselfde God praat, is in effek ‘n uiters aanmatigende reïnterpretasie van alle godsdienste se spesifieke sienings. Dis slegs so ‘n reïnterpretasie wat die ooglopende teenstrydighede onder die mat kan invee en kan maak asof dit eintlik oppervlakkige verskille is. Die pluralis is van mening dat omdat godsdienste gemeenskaplike kategorieë of soortgelyke konsepte gebruik (soos oor redding of bevryding, lewe na die dood, etiek, God, ens.), dit beteken dat hulle eintlik dieselfde ding sê. Die feit is dat byna enige vergelykende studie van godsdienste sal wys dat die inhoud van daardie konsepte in soortgelyke kategorieë geensins sinoniem is nie.
Die pluralis loop die gevaar om met so ‘n siening en reïnterpretasie, ‘n oneerlike omskrywing van enige spesifieke godsdienste te gee. Terselfdertyd kan dit bloot verwaand lyk, dat sy ware motiewe dalk eerder is om ander se godsdiensbeskouings by sy eie te wil laat aanpas en inpas. Wil die pluralis regtig aan die ortodokse Jood, die praktiserende Hindoe of die toegewyde Boeddhistiese monnik vertel wat dit is wat hulle eintlik glo? Om aan hulle te verduidelik dat hulle eintlik in dieselfde God glo, terwyl dit vanuit hulle perspektief gewis nie so is nie, verraai moedswillige onkunde en is bloot beledigend.
Elk van die drie blinde mans glo iets verskillend oor die olifant waaraan hulle raak. Dit help nie om dit wat hulle wel glo bloot te ontken deur te probeer verduidelik wat hulle behoort te glo nie. Vanuit die drie blinde mans se perspektief sou dit heeltemal geregverdig wees om hier aan die sogenaamde siende te vra waarom hulle moet glo dat hy, in die land van die blindes (die idee dat niemand regtig kan verstaan nie), die enigste een is wat werklik die olifant kan sien.
Die feit is dat die pluralis geen antwoord op hierdie vraag kan gee nie. Daar bestaan eenvoudig nie enige selfstandige redes ter ondersteuning van hierdie kennisaansprake van godsdienstige pluralisme nie. Godsdienstige pluralisme is in wese parasities, afhanklik van ‘n gasheer om te kan voortbestaan en dit teer op die karikature wat dit van ander godsdienste se standpunte en beginsels gemaak het.<!--[if !supportFootnotes]-->[4]<!--[endif]-->
As alle godsdienste eksklusiewe waarheidsaansprake maak (en nie sommer inkoop by die idee van gebrekkige of halwe waarheidsaansprake nie), dan is daar volgens gesonde logika, twee opsies. Alle godsdienste kan verkeerd wees, of slegs een kan reg wees, maar hulle kan nie almal reg wees nie.<!--[if !supportFootnotes]-->[5]<!--[endif]-->
Die pluralis is in ‘n dilemma. Dit sou volgens die pluralis arrogant wees om te moet erken dat net een godsdiens reg is en al die ander verkeerd, maar dit sou net so arrogant wees om te beweer dat almal verkeerd is. Daarom wil die pluralis eerder glo, synde so ‘n nederige en verdraagsame standpunt te wees, dat almal op ‘n gebrekkige manier reg is. Hierdie sogenaamde “verdraagsaamheid” is die een enkele rede waarom die idee van godsdienstige pluralisme met die eerste oogopslag so aantreklik lyk. Maar soos aangedui is, is ‘n pluralistiese siening eerder irrasioneel (die verskille is meestal onversoenbaar) en/of oneerlik (die verskille is werklik).
Dis ironies dat die pluralis die slagoffer word van dieselfde onverdraagsame arrogansie waarvan hy enige godsdiens sou beskuldig wat eksklusiewe waarheidsaansprake maak. Want wil die pluralis dan nie hê dat almal moet dink dat sy siening, en slegs sy siening, reg is nie?
Godsdiens as simboliek
Die geharde pluralis (wat hom nie steur aan die protes van die oningewydes nie) sal waarskynlik voet by stuk hou dat godsdienste se verskillende aansprake nie objektiewe waarheidsaansprake is nie. Die bewering is dat die essensie van godsdiens nie na die selfstandige bestaan van iets buite die mens se sintuiglike waarneming verwys nie. Die redenasie is dat alle godsdienste godsdienstige taal gebruik wat bloot verskillende metafore verteenwoordig. Metaforiese taal maak gebruik van alledaagse terme en beskrywings om simbolies uitdrukking te gee aan iets anders. Daarom maak dit, volgens hierdie pluralis, nie enige sin om godsdienste se metafore met mekaar te vergelyk en dit dan in terme van waar of onwaar te beoordeel nie. Die punt is dat verskillende metafore in beginsel nie teenstrydig kan wees nie, maar bloot verskillend.
As godsdienstige taal nie aanduiding gee van iets onafhanklik van ons waarnemings of gedagtes nie, waarna verwys dit dan? Die pluralis se mening is dat dit veel eerder ‘n uitdrukking is van die mens (of die van die skrywers van verskillende “heilige geskrifte”) se innerlike subjektiewe gemoedstoestand of onderdrukte begeertes en behoeftes.<!--[if !supportFootnotes]-->[6]<!--[endif]--> Maar hoe weet die pluralis dat alle godsdienstige taal geen spesifieke beskrywing gee van ‘n realiteit onafhanklik van ‘n mens se persepsie daarvan nie? Niemand ontken die gebruik van metafoor, analogie, allegorie of simboliek in godsdienstige taalgebruik nie. Hoekom egter glo dat dit die enigste genre is waarin godsdienstige taal kommunikeer? Hoekom moet dit aanvaar word dat ‘n stelling soos “God het die heelal geskep,” eintlik maar net een of ander poëtiese of mitiese weerspieëling is van ‘n subjektiewe emosionele toestand?
Waarom sou die pluralis se godsdienstige beskouing en die manier waarop hy dit kommunikeer, nie maar ook net ‘n uitdrukking wees van sy eie subjektiewe emosionele toestand en wat hy begeer om waar te wees nie? En hoekom moet enigiemand hom dan glo?
Godsdiens as morele verandering
Die meer gesofistikeerde pluralis wys daarop dat alle godsdienste (of dan die mees invloedrykes) morele verandering by hul aanhangers teweegbring. Hierdie morele verandering is skynbaar die gemene deler in alle godsdienste en gee spesifieke inhoud aan bogenoemde “simboliese” interpretasie van godsdiens. Hiervolgens verwys alle godsdienstige taal en meeste van die metafore wat in godsdienste gebruik word, na morele waardes of etiese beginsels. Enigiemand wat hierdie morele waardes volgens sy eie godsdienstige tradisie getrou navolg, ondergaan morele verandering (die gedagte van “verlossing” of “bevryding.”) Alle godsdienste is dus geldige maniere om hierdie morele verandering teweeg te bring. Dis hoofsaaklik in hierdie opsig dat godsdienste verskillende maniere na dieselfde God sou wees.
Daar is iets soos godsdienstige universalisme: die idee dat alle mense op die ou end deur God aanvaar sal word, selfs al het hulle ‘n godloënde en heeltemal immorele lewe gelei. In teenstelling hiermee sê godsdienstige pluralisme egter dat alhoewel daar verskillende paaie na God is, mense wel een van daardie paaie moet volg, anders sal hulle nie by God uitkom nie. Wat egter hier besef moet word is dat die pluralis hiermee bedoel dat “God” en “moraliteit” een en dieselfde ding is. Die pluralis bedoel dat enigiemand, selfs al is hulle geensins godsdienstig nie, maar ‘n goeie lewe lei, gesien kan word as iemand wat by “God” uitgekom het. Godsdiens verwys dus nie na ‘n God in enige ander terme as die abstrakte begrip van moraliteit nie.
Die meeste godsdienste het natuurlik wel sekere gemeenskaplike morele waardes. Die vraag aan die pluralis wat morele waardes in alle godsdienste herken, maar nie objektiewe waarheidsaansprake nie, is egter die volgende: Hoe bepaal ‘n mens morele waarde? Waar kom godsdienste aan hul morele waardes? Hulle is sekerlik nie maar net uit die lug gegryp nie!
Waar kom die morele konsep van menswaardigheid byvoorbeeld vandaan? Hoe sal die pluralis Nazi-Duitsland se skending van menseregte veroordeel? Volgens die pluralis sal die antwoord waarskynlik moet wees dat menswaardigheid ‘n gemeenskaplike morele waarde in meeste (alle?) godsdienste is. Maar is dit nie bloot ‘n arbitrêre rede vir menswaardigheid as morele waarde nie? Naziïsme, as ‘n spesifieke ideologiese sisteem, verstaan die toekenning van menswaardigheid immers op ‘n ander manier. Hoekom sou Naziïsme se idee van menswaardigheid nie eerder geldig wees nie?
Die pluralis loop die gevaar om met ‘n arbitrêre antwoord, in morele relativisme of universalisme te verval. Die pluralis sal waarskynlik die moraliteit van Naziïsme ontken, maar doen nie so volgens enige objektiewe morele maatstaf nie. Sonder so ‘n objektiewe standaard is enige ideologie aanvaarbaar, selfs dié wat menswaardigheid ontken.
Die mens kan nie regtig bepaal wanneer iets goed is (morele waarde het) sonder om eers te weet wat werklik en waar is nie. Morele waardes moet gemeet word aan iets inherent goeds buite die sisteem waarin dit funksioneer. Sonder so ‘n selfstandige standaard wat inherent goed is, en wat daarom bepaal wat goed is, is alle opinies oor morele waardes presies net dit: opinies, arbitrêr en relatief. Dan hoef niemand verplig te voel om te glo dat daar hoegenaamd iets soos morele waardes is nie.
Godsdienste (of enige etiese sisteem) moet daarom eers ‘n verduideliking kan gee van wat werklik en waar is, wat daardie standaard is, sodat hulle daarvolgens kan sê wat moreel en goed is. Maar as godsdienste verskillende waarheidsaansprake maak oor wat werklik en waar is, kan wat moreel of goed is mos nie vir almal dieselfde ding beteken nie. Dan is morele waardes wat in breë, algemene trekke ooreenstem eintlik nutteloos.<!--[if !supportFootnotes]-->[7]<!--[endif]--> Sonder om spesifiek te weet wat waar en werklik is, kan niemand spesifiek weet hoekom iets goed is nie. In ‘n poging om te weet wat goed is, is dit tog betekenisloos om dit wat werklik en waar is bloot aan enigiemand se subjektiewe gevoelens oor te laat.
Die manier waarop mense leef is die resultaat van ‘n baie spesifieke siening oor die aard van die realiteit waarin hulle leef. Mense tree nie maar net op volgens ‘n subjektiewe gevoel oor wat werklik is nie (of volgens wat hul godsdienstige leiers voel of die skrywers van hul heilige geskrifte gevoel het nie), maar volgens wat hulle glo die realiteit in objektiewe terme werklik is. Selfs al tree iemand altyd op volgens wat hy voel reg is, is dit omdat hy dink hy in ‘n realiteit leef waar reg en verkeerd deur gevoelens bepaal word.
Die feit dat die aanhangers van verskillende godsdienste (of enige mens wat glad nie godsdienstig is nie) wel moreel kan optree sonder om ‘n verduideliking hoef te kan gee vir waarom dit moreel sou wees nie, beteken geensins dat almal daarom met verskillende paaie na dieselfde bergtop oppad is nie. Dit beteken dat alle mense in ‘n baie spesifieke realiteit leef waar morele wette vir almal geld en waar mense meestal intuïtief weet wanneer hulle daardie wette oortree het.
Die blote bestaan van morele waardes of wette (of dit gemeenskaplik en godsdienstig is of nie) dui op iets objektief, ‘n “Morele Wetgewer” as’t ware. Daarom is dit geensins onredelik om te dink dat die idee van moraliteit wat in godsdienstige taal omhul is, juis na ‘n objektiewe realiteit verwys nie.
Watter godsdiens dan, indien enige?
Godsdienstige pluralisme bied geen geloofwaardige verduideliking van hoe verskillende godsdienste op verskillende maniere bo-op dieselfde berg bymekaar kom nie.<!--[if !supportFootnotes]-->[8]<!--[endif]--> Dis ironies dat die olifant-metafoor, in ‘n poging om die waarheid in alle godsdienste te beklemtoon, eintlik wys dat alle godsdienste misluk in hul pogings om ‘n God te openbaar. Die pluralis het in sy strewe om alle godsdienste op gelyke voetstuk te plaas, op die ou end bloot daarin geslaag om almal daarvan af te stamp. Die pluralis verdien simpatie. Hy loop die risiko om hopeloos in die berg te verdwaal. Of die olifant se kort humeur op die hals te haal. Of die drie blinde mans se minagting.
As alle godsdienste dan nie reg kan wees nie, is die enigste twee opsie wat oorbly dat alle godsdienste verkeerd is (of dan ten minste dié wat eksklusiewe aansprake maak), of dat net een reg is.
Daar is veral drie pertinente besware teen hierdie direkte uitspraak dat alle paaie nie na dieselfde bestemming lei nie – of meer spesifiek, dat alle godsdienste verkeerd mag wees, of dat net een reg kan wees: 1) “So ‘n siening is baie eng en onverdraagsaam;” 2) “Dis nie so belangrik wat ‘n mens glo nie, maar eerder dat jy opreg is in wat jy glo;” 3) “Selfs al is daar net een geldige pad, is daar geen manier om te weet watter pad die regte een is nie.”
Elk van hierdie besware sal vervolgens individueel ondersoek word.
Godsdienstige onverdraagsaamheid (Religious Intolerance)
Dit is al tot vervelens toe geargumenteer dat die onverdraagsaamheid van die aanhangers van ‘n spesifieke godsdiens teenoor ander wat met hulle verskil, tot onnoembare en ontelbare bloedvergieting gelei het. Inderdaad. Die geskiedenis van die mensdom is deurspek met gruweldade as gevolg van godsdienstige fanatisme. Heilige oorloë, die kruistogte, die inkwisisie, anti-Semitisme, koloniale uitbuiting en onderdrukking – dis slegs enkele voorbeelde van menseregteskendings waarby godsdiens betrokke was, maar die lys is skynbaar legio.
Die onbetwisbare feit is dat hierdie optredes in die naam van enige godsdiens onverskoonbaar en verdoemenswaardig is. Maar hier lê ‘n belangrike punt wat maklik misgekyk word. Dis nie die verskille tussen godsdienste as sulks wat tot konflik lei nie. Dis hoe die aanhangers van godsdienste daardie verskille gebruik om konflik te motiveer of aan te hits. Dit gebeur dikwels dat iemand hom, te midde van konflik, op die naam van een of ander God beroep om daardie konflik dan met geweld te besleg. Om so “in die naam van God” op ‘n saak te hamer is egter meestal niks anders nie as ‘n goedkoop manier om steun te werf vir iets wat weinig met die etos van daardie godsdiens te doen het.
Die godsdienstige pluralis is van mening dat morele verandering een van die sentrale funksies van enige godsdiens is. Dieselfde pluralis suggereer dat godsdienste wat eksklusiewe aansprake maak (soos wat godsdienste meestal doen) hul aanhangers tot konflik met ander inlei. Watter een is dan nou waar: is die godsdienstige persoon bestem vir morele integriteit of vir haatoptrede?
Die belangrike vraag is of die veragtelike optredes van godsdienstiges werklik die inherente gevolg van hul spesifieke godsdiens is. Is mensehaat en diskriminerende vooroordeel, en die uitdrukking daarvan op onderdrukkende maniere, ‘n inherent godsdienstige fenomeen? Is dit nie eerder die gevolg van ‘n universele mens-probleem nie? Of anders gestel: Is dit nie die mens, as mens, wat onvermydelik geneig is tot vooroordeel en egoïsme nie – maak nie saak watter kulturele, godsdienstige, morele of politieke ideale daardie mens nastreef nie? Die morele verandering wat die pluralis in alle godsdienste herken, bied miskien ekstra motivering om hierdie geneigdheid te tem, maar is dit ooit ‘n waarborg daarteen? Kan enige etiese sisteem so ‘n waarborg wees?
Dit gebeur baie dikwels dat die aanhangers van ‘n spesifieke godsdiens, maar ook die aanhangers van nie-godsdienstige ideologieë, onwelwillend optree. Dit volg egter nie dat so ‘n optrede die morele ideaal van daardie godsdiens of ideologie verteenwoordig nie.
Dis baie belangrik om te onderskei tussen ‘n godsdiens en die misbruik van daardie godsdiens (vir eie gewin deur byvoorbeeld ekonomiese en politieke ambisie te bevorder). Neem maar een spesifieke voorbeeld. Dit was baie maklik om in die naam van Christus aan die kruistogte of die inkwisisie te kon deelneem. Dis egter aansienlik moeiliker om die brutaliteit en versmading in daardie optredes te koppel aan die naam (die leerstellings en etiek) van daardie selfde Christus. Die onkunde en morele mislukking van ‘n leermeester se volgelinge, veronderstel geensins die ontoereikende boodskap van die leermeester nie. Waar lê die blaam wanneer Jesus se boodskap (liefde vir God én jou naaste) teëgespreek word deur die laakbare optrede van sy volgelinge? Is hulle optrede die logiese resultaat van sy boodskap?
Is daar hoegenaamd enige gronde vir die idee dat die verskille tussen godsdienste outomaties en noodwendig moet lei tot konflik of geweldpleging tussen mense? Beskou die volgende illustrasie.
Twee persone loop in die veld en kom op ‘n boomslang af. Wat sou die noodsaaklike verband wees tussen persoon A se stelling “Kyk, ‘n oulike molslang,” en die optrede van persoon B wat persoon A aggressief omstamp om rede hy nie met persoon A saamstem nie? Daar is absoluut geen noodsaaklike verband nie.
Veronderstel persoon B doen egter die volgende: Hy verduidelik eerbiedig dat hy dink dat persoon A verkeerd is. Hy gee verder redes vir waarom hy dink hy reg is deur die identifiseerbare verskil tussen ‘n molslang en ‘n boomslang te verduidelik, sowel as waarom ‘n boomslang gevaarlik is. Is dit nie wat enige verantwoordelike en ingeligte persoon sal doen nie? Sou persoon A egter dink dat persoon B darem vreeslik arrogant, eng en onverdraagsaam is om te sê dat hy reg is en persoon A verkeerd?
Om ander mense aan te val of teen hulle te diskrimineer bloot omdat jy dink dat hulle verkeerde dinge glo of omdat jy nie met hulle geloof saamstem nie, is die korrekte definisie van godsdienstige onverdraagsaamheid.<!--[if !supportFootnotes]-->[9]<!--[endif]-->
Dieselfde rasionaal geld wat verskillende godsdienste betref. Daar is eenvoudig geen gedwonge verband tussen die erkenning van verskille of ‘n eerbiedige uitspreek van die redes vir jou standpunt, en die aanklag van onverdraagsame of onderdrukkende optrede teenoor ander nie.
Dit is beslis belangrik dat groter godsdiensvryheid nagestreef sal word. Maar om te sê dat dit onverdraagsaam is om te beweer dat alle paaie nie na dieselfde bestemming lei nie, mis die punt heeltemal. Daar is ‘n verskil tussen mense se interaksie met mekaar (verdraagsaamheid) en die evaluering van aansprake tot waarheid. Die twee moenie met mekaar verwar word.<!--[if !supportFootnotes]-->[10]<!--[endif]-->
Dit is veral belangrik om mekaar te verdra en na mekaar te luister wanneer die aanvaarding of verwerping van die waarheid, bepaalde gevolge het. Om ‘n boomslang op te tel het heel ander gevolge as om molslang op te tel. Dit is daarom nie onverdraagsaam om die sienings van ander te probeer verander, deur toepaslike maniere van oorreding, waar iemand glo dat ander verkeerd optree of dink nie. Om ‘n paar opinies ligtelik of onnadenkend rond te gooi, of om ‘n opinie op iemand af te dwing, gaan egter nie enigsins help nie. Die idee is om intelligente gesprek te hê om dit wat objektief gesproke waar, reg en goed is, te probeer ontdek. Wanneer mense vrymoedigheid het om in ‘n veilige sosiale konteks oor verskillende sienings oor die lewe en realiteit met mekaar te kan gesels, is dit tot groot voordeel van almal.
Godsdienstige opregtheid en waarheid
Daar bestaan baie verskillende godsdienste waarvan sommige groot hoeveelhede opregte aanhangers het. Hierdie enkele feit noop sommige mense om te dink dat so baie mense nie sommer net almal verkeerd kan wees nie. (Vir dieselfde rede kan ook nie net een reg wees nie.) Hoe kan miljoene der miljoene mense so mislei wees? Hierdie sentiment (wat neig om die beginsel van nie-teenstrydigheid in die wind te slaan) lei daarom dikwels tot die volgende bewering: “Wat iemand glo is nie so belangrik nie. Wat werklik saak maak is die opregtheid van daardie geloof.”
Baie mense dink aan godsdiens as die strewe om ‘n goeie, morele lewe te lei. Soos reeds gesien is, is so ‘n idee heeltemal in lyn met die pluralis se verstaan van godsdiens. Dis nie enige waarheid of suiwer geloofsleer wat belangrik is nie, maar opregtheid, die strewe om ‘n goeie lewe te lei.
Wat hierdie siening gerieflikshalwe ignoreer is dat “opregtheid” nooit ‘n plaasvervanger kan wees vir wat waar is nie. Natuurlik is opregtheid belangrik. Waarheid sonder opregtheid word skynheiligheid genoem. ‘n Mens kan egter opreg wees, en terselfdertyd ook opreg verkeerd wees.
Dink weer aan bogenoemde scenario met die slang. Dit staan iemand vry om in alle opregtheid te glo dat die slang wat hy in die veld teëkom ‘n molslang is, terwyl dit inderwaarheid ‘n boomslang is. Maar maak so ‘n opregte geloof ewe skielik van die boomslang ‘n molslang wanneer hy dit van die grond af optel? Die realiteit is dat ‘n mens se geloof oor ‘n onderwerp (of stand van sake) baie versigtig onderskei moet word van die werklik toedrag van sake. Waarheid het gevolge waarvan opregtheid niks weet nie.
Die strewe na opregtheid bepaal nie die waarheidsaansprake van ‘n godsdiens nie. As waarheid opregtheid nie voorafgaan nie, dan kan die beginsel van opregtheid meriete gee aan selfs die mees onetiese ideologie. Dink maar aan die optrede van sommige godsdienstige ekstremiste. Daar is van hulle wat beweer dat die hoogste uitdrukking van ‘n strewe na ‘n goeie lewe, die bereidheid is om hul geloof met geweld te verdedig – selfs al sterf duisende onskuldige mense in die proses. Niemand kan byvoorbeeld die opregtheid en toewyding van godsdienstige fanatici ontken wat met vliegtuie in geboue vasvlieg nie.
Dan is daar natuurlik die vraag na wat dit beteken om ‘n “goeie lewe” te lei. Baie mense het ‘n idee dat alle godsdienste verduidelik hoe daar ‘n goeie God is wat ‘n goeie plek reghou vir goeie mense. Verskillende godsdienste gee aan hierdie God verskillende name, maar hy is die God aan die bopunt van die berg waarheen alle paaie lei. Die manier om by God, en dus by daardie goeie plek uit te kom, is om goed te wees. Elke godsdiens het dan ‘n spesifieke definisie van wat “goed” is en wat ‘n mens moet doen om by daardie goeie plek uit te kom.
Maar selfs met verskillende godsdienste se verduideliking van wat ‘n mens moet doen om ‘n goeie lewe te lei, word selfs godsdienstige mense deur ‘n knaende twyfel gepla: lei ek regtig ‘n goeie lewe? Of: is die goeie lewe wat ek lei goed genoeg? Mense word deur hierdie vrae geteister omdat hulle besef dat as ‘n mens ‘n goeie lewe kan lei, dan kan ‘n mens ook ‘n slegte lewe lei. Wanneer iemand dit besef en dan ‘n bietjie verder dink, moet hy natuurlik begin wonder oor waar ‘n mens die lyn trek tussen ‘n goeie en ‘n slegte lewe. Wat is die standaard? Waar lê die grens? Êrens tussen Adolf Hitler en Moeder Teresa? (Maar is dit nou nader aan Hitler of nader aan Moeder Teresa?)
Hoe seker is iemand selfs binne sy eie godsdienstige tradisie of en wanneer hy goed genoeg is? Hoekom is die standaard nie eerder perfeksionisme nie? Dalk kan niemand eintlik goed genoeg wees nie. Of miskien gaan alle mense na die goeie plek toe. Miskien het Adolf Hitler op sy eie manier ‘n goeie lewe probeer lei. Hy was immers nie so sleg soos Joseph Stalin nie (as die aantal mense wat onderskeidelik onder elkeen se bewind gesterf het enige aanduiding is!) Maar dalk was daar selfs goedheid in Stalin. Miskien is dit glad nie nodig om ‘n goeie lewe te lei nie! (Dit is hier dat ‘n mens kan sien dat godsdienstige pluralisme se “moraliteit,” as standaard, eintlik niksseggend kan wees en maklik tot godsdienstige universalisme kan lei. Maar universalisme maak ‘n klug van moraliteit en enige motivering om enigsins iets goeds te doen.)
Die punt is dit: om ‘n goeie lewe te lei of ‘n goeie mens te wees beteken verskillende dinge vir verskillende godsdienste en selfs dan weet ‘n mens nie of sulke “goed”, goed genoeg is nie. Daarom is “opregtheid” dikwels ‘n leë begrip wat mense onnadenkend koppel aan ‘n algemene positiewe idee van wat hulle dink dit beteken om godsdienstig te wees. Die wasige idee van ‘n strewe na ‘n goeie lewe is egter ‘n onvoldoende maatstaf vir wat waar is. Die belangrike beginpunt vir ‘n evaluasie is die waarheidsaansprake van ‘n spesifieke godsdiens en nie die strewe na opregtheid nie.
Godsdienstige opregtheid en tradisie
Die gevoel dat opregtheid die mees deurslaggewende faktor in godsdiens is, word dikwels gesien in ‘n opmerking soos die volgende: “Iemand wat in Indië grootword, sal waarskynlik ‘n Hindoe word; en iemand wie se ouers ateïste is, word groot gemaak om nie in ‘n god te glo nie.” Die sentiment hier is verstaanbaar. Die kans is goed dat waar en hoe iemand grootword, grootliks sal bepaal wat hy glo. Dit word egter nie betwis dat iemand grootword om iets te glo nie, maar of dit wat hy grootgemaak is om te glo waar is?
Veronderstel Hindoeïsme se waarheidsaansprake is vals en dié van Islam waar. Is die toegewyde Hindoe (en miljoene medegelowiges) op ‘n onverskoonbare dwaalspoor bloot omdat hy, deur geen toedoen van sy eie nie, in die verkeerde geloof grootgeword het? Is so ‘n bewering, word daar gevra, darem nie baie arrogant en onverdraagsaam nie?
‘n Mens kan waarskynlik dieselfde vraag vra oor ‘n Duitser wat in Nazi-Duitsland grootgeword het, by die ‘Hitler Jeug’ aangesluit het en later op welke maniere ookal die uitmoor van die Jode ondersteun het. Is dit arrogant en onverdraagsaam om te sê dat as jy in Nazi-Duitsland gebore is, jy waarskynlik ‘n Nazi was, maar dat jy ‘n verkeerde (veragtelike!) ideologie aangehang het?
Is dit ooit geregverdig om te sê, “ek glo maar net wat ek geleer is om te glo,” of, “ek is ‘n Christen, want ek het in ‘n Christelike huis grootgeword”? Wanneer raak dit iemand se eie verantwoordelikheid om dit wat hy glo krities te ondersoek? Is dit nie soms regverdigbaar om te vra, “dit is my vertel, maar is dit regtig so” nie? Is dit nie selfs moontlik om te sê, “dit het ek nog altyd geglo, maar vir hierdie redes dink ek nou ek was verkeerd en vir hierdie redes glo ek nou iets anders” nie?
Sommige godsdienstige tradisies sal laasgenoemde paar vrae as ‘n belediging beskou. Die oortuiging is dikwels die volgende: “My godsdiens is deel van my erfenis, dis ‘n uitdrukking van my historiese wortels. Dit gee vorm aan my kulturele gebruike en gerespekteerde tradisies, dis die ruimte waarbinne my volk en my taal gestalte gekry het. Dit bepaal my en my familie (gemeenskap/kultuur/volk) se unieke identiteit in ‘n diverse wêreld. Om my eie godsdiens te ontken is om dit te verraai, dis om myself en die wat naaste aan my is, te minag.”
Hierdie siening oor die aard van godsdiens bied ‘n gevoel van gebondenheid, stimuleer solidariteit en bevorder ideologiese patriotisme. Dit bied ‘n veilige skans teen ‘n vreemde en dikwels vyandige (immorele) wêreld daarbuite en daarom is dit byna ondenkbaar om daarteen in opstand te kom. Die potensiële beskuldiging van onsensitiwiteit of kwaadwilligheid ten spyt, die vraag moet egter oor so ‘n godsdiens gevra word: Is dit waar? As dit aansprake maak oor hoe dinge werklik is, is dit oop vir ‘n ondersoek na die waarheid van daardie aansprake. Daar lê ‘n verantwoordelikheid by elke individu wat vrye keuse kan uitoefen, om dit wat hy glo te ondersoek en dit nie maar net met kulturele selfvergenoegdheid te aanvaar nie. Dis onregverdigbaar om kop in die sand te staan en dink dat jou godsdienstige tradisie verhewe bo kritiek of ondersoek is.
Dit is juis die bewustheid van die feit dat godsdienste verskil wat mense moet lei tot ondersoek. Dit is veral die verskille wat die aansporing moet wees vir dialoog met mense wat anders glo. As daar waarheid te vinde is in enige van die aansprake van die wêreld se godsdienste, moet dit gesoek word. Maar dit beteken nie dat alle aansprake ewe waar is nie, of dat sekere aansprake hoegenaamd waar is nie.
Soos reeds genoem is, kan hierdie soeke na wat waar is, die raamwerk wees waarbinne dialoog met die grootste respek en menswaardigheid gevoer kan word. Vir geen oomblik hoef ‘n mens te dink dat net die aanvaarding van godsdienstige pluralisme of ‘n sinkretistiese<!--[if !supportFootnotes]-->[11]<!--[endif]--> beskouing van die werklikheid, so ‘n dialoog kan moontlik maak nie. Tensy ‘n soeke na wat waar is, nie regtig op die agenda is nie. Dan is dialoog waarskynlik soos die uitruil van inligting oor wie van roomys hou, wie van sjokolade en wie van aartappelskyfies. So word dit maklik om absolute waarde te heg aan begrip vir ander se persoonlike voorkeure, eerder as om te dink dat iemand aansprake oor waarheid maak wat vir almal geldig is.
Dit sal natuurlik naïef wees om die ysere greep van gevestigde denkpatrone en vooroordele in enige ondersoek na wat waar is, te ontken. Niemand kan beweer dat daar nie allerlei faktore is wat dit vir enige mens besonder moeilik maak om ‘n ondersoekproses te begin, wat nog te sê van ingrypende paradigmaskuiwe te maak nie. Godsdienstige en ander ideologiese oortuigings het nie bloot oornag totstand gekom nie en verander ook nie na willekeur nie. Terselfdertyd het niemand egter besondere intelligensie, diep filosofiese insig of enige geleerdheid nodig om te kan vra, “Is dit wat ek glo waar?” nie. Wie verkies om nadat hulle hierdie vraag gevra het, eerder ‘n leuen of ‘n halwe waarheid te glo as dit redelik binne hul bereik is om die waarheid te ontdek?<!--[if !supportFootnotes]-->[12]<!--[endif]--> Die feit dat hele gemeenskappe, kulture, volkere of godsdienste met opregtheid aan sekere idees vashou bepaal geensins die noodwendige waarheid van sulke idees nie. Dit behoort eerder geweldige klem te plaas op die feit dat argelose of onnadenkende navolging van sekere idees, groot en omvangryke implikasies het.
Sommige godsdienstige groepe onderdruk hulle eie aanhangers se vryheid van keuse. Dit word soms selfs verbied om die keuse te maak vir ‘n ander godsdienstige oortuiging. Geen godsdiens of idee verkry egter meer geloofwaardigheid deur mense se vryheid te onderdruk om daarteen te kies nie. Verdoemende optrede (in daad of spraak) teenoor enigeen wat tot ander oortuigings kom, lei nie tot die groter waarheid van dit waarteen iemand rebelleer nie. Sulke onderdrukking maak ‘n klug van menswaardigheid, etiese integriteit en morele transformasie. Al is dit hoe opreg.
Godsdiens en dialoog
Daar is veral twee gesprekke waarby mense dikwels voel hulle nie graag betrokke wil raak nie. Gesprekke oor politiek en godsdiens. Dis nogal vreemd as ‘n mens in ag neem hoe groot rol politiek en godsdiens nog altyd in mense se lewens gespeel het. Miskien is dit omdat mense weet hoe belangrik politiek of godsdiens vir mense kan wees, dat hulle versigtig is. Miskien probeer hulle eerder gesprekke vermy waar daar op tone getrap en mense geaffronteer kan word. Of miskien wil mense ook maar net nie hê dat hul eie tone in die slag moet bly nie!
As mense egter juis weet hoe belangrik iets soos godsdiens vir ander is, sou dit nie beter wees om eerder spesifiek met hulle daaroor te praat nie? Is dit nie in elk geval ‘n goeie kommunikasie-vaardigheid om met ander te praat oor wat vir hulle belangrik is nie? Bevorder dit nie eerder welwillendheid tussen mense wanneer iemand in ander belangstel om meer uit te vind oor wat dit is wat hulle glo en dink, en hoekom hulle so glo en dink nie? Die feit is dat godsdienstige mense selde geaffronteer sal voel wanneer hulle by ander ‘n opregte gesindheid van belangstelling in hulle oortuigings opmerk.
Daar is egter ‘n ander meer subtiele rede waarom mense eerder ‘n onderwerp soos godsdiens vermy. Wie het nie al te doen gehad met die dweepsieke wat die wêreld met goedkoop godsdienstige propaganda wil probeer beïndruk nie. Meeste mense sal eerder dood óf uit die mode wil wees as om selfs net die vaagste indruk te skep dat hulle aan sulke dweepsug ly.
Wat is egter hier die onderliggende aanname van baie mense oor die aard van godsdiens? Is dit dan nie dat godsdiens effe grillerig is, ‘n koddigheid, miskien vaagweg interessant, maar essensieel irrelevant nie? Dit laat ‘n mens nogal dink aan ‘n beskrywing van die molslang in ‘n illustrasie van vroeër: effe grillerig, koddig, miskien selfs ‘n interessante troeteldier, maar beslis nie sommer vir almal nie. Die siening dat godsdiens grootliks irrelevant is, pas natuurlik heel goed by die godsdienstige pluralis se siening dat ‘n verwysing na die werklike, of objektiewe “boomslang,” ‘n baie ongesofistikeerde siening is.
Die probleme met laasgenoemde siening wat in hierdie skrywe bespreek is, kan as volg opgesom word. Die verskille tussen godsdienste kan nie bloot ontken, geminimaliseer of verdraai word om by ‘n eenvormige en globale godsdiensbeskouing (sinkretisme) te pas nie. Die aansprake van godsdienste kan daarom ook nie sommer net geallegoriseer, gemoraliseer of gemitologiseer word asof dit geen aanduiding van ‘n objektiewe realiteit gee nie.
Elke mens se algemene ervaring en sin vir regverdigheid dui daarop dat die lewe en realiteit veel eerder soos ‘n “boomslang” as ‘n “molslang” is. Die manier waarop mense leef, hoe mense met realiteit omgaan en die gevolge wat hulle beleef, wys dat hier (die lewe) nie maar net sprake is van ‘n skadelose molslang nie.
Die manier waarop mense leef, hoe hulle realiteit verstaan en daarmee omgaan vorm natuurlik ‘n groot deel van waaroor mense lekker kan saamgesels. Daarom gesels mense graag oor die kuns en kultuur (bv. boeke, flieks, musiek), aspekte wat lewensgehalte direk beïnvloed (bv. gesondheid, behuising, veiligheid), beroepstevredenheid (bv. die strewe na sekuriteit, betekenisvolheid, ideale) en familie-lewe (bv. kinderopvoeding, huweliksgesondheid, huishouding).
‘n Verantwoordelike verstaan van verskillende godsdienste is dat elkeen ‘n spesifieke verstaan het van wat die werklikheid werklik is. Maar is gesprekke tussen mense oor onderwerpe soos bogenoemde dan nie ook maar ‘n weerspieëling van wat hulle dink die werklikheid is en hoe dit die samelewing of individue beïnvloed nie?
Wat hier besef moet word is dat dit waaroor mense graag gesels, baie van dieselfde soort kwessies as godsdiens aanraak. Baie mense besef nie dat die manier waarop hulle leef, hoe hulle realiteit verstaan en daarmee omgaan, alles aspekte rondom hulle onderliggende wêreldbeskouing is nie. Alle mense het so ‘n onderliggende wêreldbeskouing. Sommige mense se wêreldbeskouing word net meer spesifiek in godsdienstige sisteme uiteengesit, maar is nie noodwendig minder rasioneel of enigsins onsamehangend nie.
In gesprekke met mense is oppervlakkige godsdienstigheid bloot ‘n irritasie. Die kwistige gebruik van godsdienstige jargon dra weinig by om mense se lewens met wysheid of insig te penetreer. Dis die weldeurdagte opinies vanuit ‘n gegronde geloofsoortuiging oor wat werklik waar is, wat ‘n verskil kan maak. Dis die intelligente artikulasie van hoe sulke geloof spesifieke aspekte van die lewe beïnvloed, wat noemenswaardige impak kan hê.
Mense moet en kan daarom veral ook oor die godsdiens sinvolle en opbouende gesprekke voer. Dit beteken dat nie-godsdienstige mense by sulke gesprekke kan baatvind, sonder dat enigiemand in ‘n “godsdiens-is-soos-‘n-molslang”-mentaliteit hoef te verval. Dit beteken dat mense ook met ander godsdienstige mense oor godsdiens kan gesels. ‘n Sorgvuldige evaluasie van godsdienstige pluralisme dui daarop dat mense mekaar se verskille ernstig kan opneem. Sulke verskille hoef nie in trivialiteite te ontaard met praatjies oor berge, olifante en blindes nie. Dit beteken terselfdertyd dat mense mekaar doelbewus kan help in ‘n soeke na wat waar is. Die blote bestaan van eksklusiewe waarheid sluit niemand uit nie. Dis dikwels eerder die mens se eiesinnigheid wat ‘n wig dryf tussen wat geglo word en dit wat werklik waar is. Dit wil nie sê dat die strewe om naastenby in pas te wees met die waarheid altyd maklik is nie. Dis egter die enigste verantwoordelike strewe.
Bronnelys
Do All Roads Lead to God? (Artikel) Rick Rood (www.probe.org)
Do All Religions Lead to God? (Artikel) Kenneth Richard Samples
Do All Paths Lead to the Same Destination? (Artikel) Keith E. Johnson
How Good is Good Enough? Andy Stanley
Christianity and World Religions: The Challenge of Pluralism, Sir Norman Anderson
Woordelys
Pluralisme: (Volgens die Pharos: Verklarende Afrikaanse Woordeboek) [Die] wysgerige en lewensbeskoulike stelsel wat verskillende standpunte en beginsels erken en aanvaar sonder dat die een die ander hoef uit te sluit.
Godsdienstige pluralisme: Die idee dat verskillende godsdienste verskillende maniere is na dieselfde God.
Sosiale pluralisme: Die erkenning en aanvaarding van diversiteit soos byvoorbeeld, godsdiens, ras, geslag, taal, kultuur, voorkeure, tradisies, oortuigings, ens.
Godsdienstige universalisme: Die idee dat alle mense op die ou end deur God aanvaar sal word, selfs al het hulle ‘n godloënde en heeltemal immorele lewe gelei.
Godsdienstige diversiteit: Die bestaan van verskillende godsdienste (met verskillende standpunte en beginsels).
Godsdienstige sinkretisme: Die versoening van elemente (selfs teenstrydige elemente) uit verskillende godsdienste om dit tot ‘n nuwe geheel te omskep (die “New Age” godsdiens sal hiervan ‘n goeie voorbeeld wees.)
Die beginsel van nie-teenstrydigheid: Die logiese beginsel dat verskillende standpunte en beginsels nie gelyktydig en op dieselfde manier geldig kan wees wanneer die een die ander per definisie uitsluit nie.
Eksklusiewe waarheidsaansprake: Aansprake oor wat waar is en wat teenstrydige aansprake volgens die beginsel van nie-teenstrydigheid uitsluit.
Morele relativisme: Die idee dat wat een persoon as moreel beskou, nie noodwendig vir ‘n ander moreel sou wees nie.
Godsdienstige onverdraagsaamheid: Hierdie konsep kan op twee verskillende maniere verstaan word, naamlik, 1) die idee dat dit onverdraagsaam is vir een godsdienste om eksklusiewe waarheidsaansprake te maak, en 2) die onverdraagsame optrede teenoor mense met (ander) godsdienstige oortuigings. Daar is geen rede om te glo dat stelling 1 waar is of dat genoemde aansprake noodwendig tot die onverskoonbare optrede in stelling 2 moet lei nie.
Abrahamietiese godsdienste: Hoofsaaklik verwysend na die volgende hoofgroepe godsdienste: Judaïsme, die Christelike geloof en Islam
Oosterse godsdienste: Hoofsaaklik verwysend na godsdienste met ‘n oorsprong in Asiatiese lande en volkere. Dit sluit godsdienste in soos onder andere Boeddhisme, Hindoeïsme, Taoïsme, Konfusianisme en Sjintoeïsme.
<!--[if !supportFootnotes]-->[1]<!--[endif]--> Pharos: Verklarende Afrikaanse Woordeboek
<!--[if !supportFootnotes]-->[2]<!--[endif]--> Die Christen-filosoof Ronald H. Nash sê "[any] one who would become a pluralist must first abandon the very principles of logic that make all significant thought, action, and communication possible."
<!--[if !supportFootnotes]-->[3]<!--[endif]--> Hierdie voorbeeld van uitsluitende antwoorde is van toepassing op die meeste antwoorde wat godsdienste op spesifieke vrae gee. Byna enige vergelykende studie van godsdienste sal dit duidelik aantoon. Harold A. Netland verduidelik, "Careful examination of the basic tenets of the various religious traditions demonstrates that, far from teaching the same thing, the major religions have radically different perspectives on the religious ultimate."
<!--[if !supportFootnotes]-->[4]<!--[endif]--> Wilfred Cantwell Smith: “No one has understood the diverse faiths of mankind if his so-called explanation of them makes fundamental nonsense of each one.”
<!--[if !supportFootnotes]-->[5]<!--[endif]--> Die Christen-filosoof C. Stephen Evans maak die volgende punt: "[it] is an essential part of Christian faith that Jesus is God in a unique and exclusive way. It follows from this that all religions cannot be equally true. If all religions are equally true, then Christianity is false, and therefore not all religions are true."
<!--[if !supportFootnotes]-->[6]<!--[endif]--> Sigmund Freud was ‘n sterk voorstander van hierdie siening: “These [religious ideas], which are given out as teachings, are not precipitates of experience or end-results of thinking: they are illusions, fulfillments of the oldest, strongest and most urgent wishes of mankind… Thus the benevolent rule of a divine
<!--[if !supportFootnotes]-->[7]<!--[endif]--> Huston Smith, ‘n professor van die Cal Berkeley Universiteit maak die volgende opmerking: “For as soon as [the notion of sameness] moves beyond vague generalities [that] 'every religion has some version of the Golden Rule' - it founders on the fact that the religions differ in what they consider essential and nonnegotiable.”
<!--[if !supportFootnotes]-->[8]<!--[endif]--> George Bernard Shaw het gesê, "There is only one religion, though there are a hundred versions of it."
<!--[if !supportFootnotes]-->[9]<!--[endif]--> Daar is natuurlik ‘n geval waar persoon B persoon A moet probeer omstamp! Veronderstel persoon A buk om die boomslang op te tel voordat persoon B iets kon sê. Of veronderstel persoon A tree nader om die boomslang met ‘n stok in die rigting van ander mense te slinger. Sal persoon B geregverdig wees om blitsig en met die nodige aggressiwiteit op te tree? Inderdaad, dit sal immoreel wees om dit nie te probeer doen nie. Maar dis duidelik dat die motief agter so ‘n optrede die ondubbelsinnige welsyn van ander is.
<!--[if !supportFootnotes]-->[10]<!--[endif]--> In hierdie verband sê dr. Norman Geisler: “[In] our culture today, tolerance no longer means to put up with something you believe to be false (after all, you don’t tolerate things you agree with). Tolerance now means that you’re supposed to accept every belief as true!”
<!--[if !supportFootnotes]-->[11]<!--[endif]--> Met betrekking tot die godsdiens word sinkretisme en pluralisme dikwels as wisselterme gebruik. Die verskil is taamlik subtiel. Sinkretisme kan beskryf word as die poging om elemente (selfs teenstrydige elemente) uit verskillende godsdienste te versoen om dit dan tot ‘n nuwe geheel te omskep (die “New Age” godsdiens sal hiervan ‘n goeie voorbeeld wees.) Pluralisme beskryf nie soseer ‘n samesmelting soos sinkretisme nie, maar maak daarop aanspraak dat verskillende godsdienste almal elemente het wat elke godsdiens in eie reg ‘n pad na God maak.
<!--[if !supportFootnotes]-->[12]<!--[endif]--> Daar is ten minste twee minimum vereistes in ‘n aktiewe strewe om enige waarheid te ontdek: Eerstens, ‘n mens moet dit wil ontdek. Tweedens is die aanvaarding van ‘n bietjie waarheid, waarskynlik die voorvereiste vir die ontdekking van nog meer waarheid. Dit is in hierdie twee beginsels dat die noodsaaklikheid van opregtheid onontbeerlik is.
Het jy iets om te sê? Wil jy graag kommentaar lewer? Doen dit gerus hier!