Geloof en Eksklusiwiteit

"[It] is an essential part of Christian faith that Jesus is God in a unique and exclusive way. It follows from this that all religions cannot be equally true. If all religions are equally true, then Christianity is false, and therefore not all religions are true." - C. Stephen Evans

[In] our culture today, tolerance no longer means to put up with something you believe to be false (after all, you don't tolerate things you agree with). Tolerance now means that you're supposed to accept every belief as true! - Norman Geisler

Intolerance does not arise when I think I have found the truth. Rather it comes about only when I think that, because I have found it, everyone else should agree with me. - Michael J. Behe

Inleidend

Hierdie studiestuk het hoofsaaklik die beantwoording van twee vrae ten doel. Eerstens is daar die vraag oor hoekom 'n mens godsdienstige geloofsaansprake ernstig sal wil opneem. Die tweede vraag vra of godsdienstige aansprake nie almal waar is nie, en indien nie, of enige van die godsdienstige aansprake waar is, en indien wel, hoe 'n mens kan weet watter een dan wel sou waar wees. As deel van laasgenoemde vraag word die kwessie van godsdienstige eksklusi­witeit en onverdraagsaamheid spesifiek aangespreek. Daar sal in die beantwoording van hierdie twee vrae kortliks na sekere aansprake van verskillende godsdienste verwys word, alhoewel dit nie 'n breedvoerige bespreking van sulke godsdienste insluit nie.

In die laaste gedeelte van hierdie studiestuk word die Christelike geloof as eksklusiewe aan­spraak baie kortliks bespreek, maar die argumente waarop hierdie aanspraak rus, word egter in aparte studiestuk ondersoek en uiteengesit (sien hiervoor studiestukke: Wie is Jesus? en Die Gesag van die Bybel, sowel as Die Bestaan van God).

Alledaagse Geloof

Is dit hoegenaamd belangrik wat 'n mens glo? Is dit nodig dat 'n mens iets spesifieks moet glo? Wat beteken dit om te 'glo'? Het 'geloof' net met godsdienstige aansprake te make?

Die antwoorde op hierdie vrae is belangriker as wat 'n mens mag dink en wel vir die volgende rede: om te 'glo' is iets waarvan elke mens elke dag van sy lewe gebruik maak. Alle mense maak elke dag keuses (bewustelik of onbewustelik) en tree dan op volgens wat hulle glo (weereens bewustelik of onbewustelik) die resultate van daardie keuses sal wees. Die student wat hard studeer, glo dat hy sy toets sal slaag.  Die passasiers wat op die vliegtuig klim, glo dat hulle hul bestemming veilig sal bereik. Die kunstenaar glo dat hy sy kunswerk sal verkoop. Die persoon wat op die stoel gaan sit, glo dat dit sy gewig sal dra.  Al vier situasies is voorbeelde van waar 'geloof' toegepas word. Nie in een van hierdie situasies tree iemand egter op omdat hy volkome seker is van wat die eindresultaat gaan wees nie. Sommige studente druip selfs maklike toetse, soms val vliegtuie tragies, sekere kunswerke is in die oë van ander nie hulle prys werd nie en partykeer veroorsaak 'n stoel wat onverwags meegee, 'n groot verleentheid. Die meeste mense is in 'n mindere of meerdere mate daarvan bewus dat die uitkoms van hulle dade nie altyd heeltemal seker is nie. Tog tree mense steeds op volgens wat hulle glo die resultate sal wees, al weet hulle dit nie in alle sekerheid nie.

Is dit nodig dat 'n mens glo? Ja, dit is eintlik onvermydelik en noodwendig. Die vraag is onge­twyfeld eerder: is dit belangrik wat 'n mens glo? Die student wat nie leer vir sy toets nie omdat hy glo dat hy slim genoeg is, kan wreed ontnugter word. Die leerlingvlieënier wat glo dat hy die aanloopbaan op die regte spoed en hoogte nader, word indien nodig, gou deur die vliegin­struk­teur reggehelp. Die kunstenaar sal met swart-en-wit foto's van die kleurvolle blomme tevrede moet wees as hy geglo het dat hy kleurfilm in sy kamera gelaai het. Die verliefde paartjie wat op die wankelrige bankie gaan sit, mag dalk eerder 'n komiese herinnering as 'n romantiese ervaring hê.

Dit is belangrik wat iemand glo. Die gronde vir dit waarop mense elke dag hul geloof baseer is belangrik, omdat hulle noodwendig daarvolgens optree en daardie optrede sekere implikasies het. Geloof is dus nie een of ander mistieke en irrasionele verskynsel waarvoor daar geen gronde is nie. Geloof is juis gegrond op dit waarvolgens mense rasionele keuses kan maak en effektiewe lewens kan lei. Hierdie gronde vir geloof word die objektiewe werklikheid genoem.

Die objektiewe werklikheid is dit wat dit vir elke mens moontlik maak om bepaalde keuses uit te oefen en bepaalde aksies uit te voer. Geen rasionele mens kan die bestaan van die objektiewe werklikheid betwyfel nie.  Dit beteken nie dat 'n mens altyd presies weet wat die objektiewe werk­likheid in 'n spesifieke situasie is nie. Om egter te glo dat die objektiewe werklikheid nie bestaan nie, of te dink dat dit van een mens na die volgende sal verskil, is eenvoudig en demon­streerbaar foutief.

Die bestaan en werking van al die natuurwette, soos byvoorbeeld die wet van gravitasie, vorm onder andere deel van die objektiewe werklikheid. Die opinie van enige hoeveelheid mense oor die bestaan van hierdie deel van die objektiewe werklikheid kan effektief ondersoek word. Die uitdaging om die wet van gravitasie te ontken deur van 'n hoë gebou af te spring, sal deur al diegene sonder enige selfvernietigende neigings, ten sterkste van die hand gewys word. Indien iemand tog van die gebou afspring omdat hy vir watter rede ook al, nie in die objektiewe werk­likheid van gravitasie glo nie, se optrede sal steeds sekere gevolge hê of hy in daardie gevolge geglo het of nie. Hierdie gevolge sal waarskynlik wys dat so 'n persoon se geloof in daardie situasie, nie die waarheid verteenwoordig het oor wat die objektiewe werklikheid is nie, maar slegs iets sê oor sy foutiewe interpretasie daarvan.

Bewustelik of onbewustelik tree alle mense op volgens wat hulle glo die objektiewe werklikheid is. Dit is egter elke mens se verantwoordelikheid om sover moontlik te probeer vasstel wat die aard van die objektiewe werklikheid is waarin geglo word. Hierdie ondersoek, hoe vanselfspre­kend of onbewustelik dit ook al mag wees, is iets waarmee elke mens van sy geboortedag af mee begin. Die vraag is egter na waarom baie mense vroeër of later doelbewus ophou met hierdie ondersoek na die objektiewe werklikheid wanneer hulle voor bepaalde ondersoek-areas oor die objektiewe waarheid te staan kom. Dit is spesifiek voor die ondersoek-area na die objektiewe werklikheid waarmee die godsdiens gemoeid is, waar baie mense skielik halt roep.

Godsdienstige Geloof

Baie mense het verskeie negatiewe reaksies wanneer hulle met die aansprake van 'n godsdiens gekonfronteer word. Party van hierdie reaksies verdien simpatie. Ander is bloot irrasionele en ongegronde aannames. Sommige mense is so dogmaties oor die valsheid van alle godsdiens­tige aansprake, dat hulle dit eenvoudig neerhalend afwys. Ander is net so onwrikbaar oortuig van die onvermoë om die waarheid van sulke aansprake te kan bepaal.  Hulle druk hulle koppe soos volstruise veilig in die sand en wil liewer niks daarmee te doen hê nie. Miskien voel hulle boonop geïntimideer deur die magdom godsdienstige aansprake wat vir aandag meeding en mekaar dikwels weerspreek, dat hulle dit ten beste eenvoudig afmaak as fabels en legendes.

Steeds is daar ander mense wat voel dat die wetenskap die aansprake van die godsdiens verkeerd bewys het en dat dit twee onversoenbare entiteite is (sien studiestuk: Die Wetenskap en Godsdiens). Wat nie altyd besef word nie, is dat waar die wetenskap en die godsdiens dikwels dieselfde vrae oor die objektiewe werklikheid vra en dat die wetenskap op baie van hierdie vrae geen bevredigende antwoorde kan bied nie.

Daar is 'n hunkering in elke mens om te ontdek, te ondersoek en te verstaan. Dit is van toepas­sing op elke denkbare aspek en area van die lewe. Ook die soeke na antwoorde op die groot lewensvrae, wat in 'n breë sin as godsdiens beskryf word, kan nagestreef word. Vrae soos waar die heelal vandaan kom, hoe lewe ontstaan het, waar die idee van moraliteit vandaan kom en wat die sin van die mens se bestaan is, kan slegs deur die godsdienstige ondersoek sinvol beantwoord word. Is hierdie antwoorde bloot vals omdat die wetenskap dit nie kan bevestig nie? Kan die wetenskap hoegenaamd bewys (deur een of ander wetenskaplike metode) dat dit onmoontlik is om by die antwoorde op hierdie vrae uit te kom? Die wetenskaplike ondersoek het onmiskenbare beperkinge en om te dink dat die wetenskap die finale antwoord oor alle vrae moet of kan bied, is vals. Wetenskaplike kennis kan byvoorbeeld 'n goeie verduideliking gee van hoe 'n mens aan die lewe bly deur die prosesse soos asemhaling en spysvertering; dit kan egter nie 'n uitspraak maak oor hoekom 'n mens lewe of moet lewe nie en nog minder oor of en hoe 'n mens die vraag kan beantwoord.

Dit is belangrik om te verstaan dat alle godsdienstige aansprake, pogings is tot uitsprake oor die objektiewe werklikheid. Dit beteken nie dat alle aansprake noodwendig verteenwoordigend van die objektiewe werklikheid is nie. Die waarheid van enige aanspraak moet steeds ondersoek word. Die belangrike gedagte wat hier beklemtoon word, is dit: daar is geen rede waarom die tipe vrae wat die godsdiens oor die objektiewe werklikheid vra en die antwoorde wat daarop verkry word, minder geldig of waar hoef te wees, as enige ander vrae en antwoorde in enige ander studieveld na die objektiewe werklikheid nie.

'n Tweede belangrike punt is dat die tipe geloof waarop die aansprake van die godsdiens aan­dring, nie enigsins verskil van die alledaagse geloof wat tot dusver bespreek is nie. Dit is nie enigsins minder rasioneel of wesenlik anders nie. In sover godsdienstige aansprake gegrond is op die objektiewe werklikheid, is die aanvaarding van (of geloof in) sulke godsdienstige aan­sprake, presies dieselfde tipe geloof as die geloof van die persoon wat op 'n stoel gaan sit omdat hy glo dat dit sy gewig sal dra. Alhoewel die inhoud (die objek van geloof) van sulke alledaagse geloof en godsdienstige geloof heeltemal verskillend is, vorm beide deel van dieselfde objektiewe werklikheid.

Soos reeds kortliks aangedui is, beantwoord die godsdiens die groot lewensvrae soos onder andere die oorsprong en doel van die menslike bestaan, vrae oor lyding en moraliteit, vrae oor wie of wat die mens is en vrae oor wat met die mens na die dood gebeur, indien enigiets. Daar bestaan 'n objektiewe werklikheid as antwoord op hierdie lewensvrae. So byvoorbeeld is dit die objektiewe werklikheid dat die mens geen doel het nie of dit is die objektiewe werklikheid dat die mens wel 'n doel het. Dit is die objektiewe werklikheid dat die mens 'n beplande oorsprong het of 'n toevallige oorsprong het; dat die menslike bewussyn na die dood bly voortbestaan of nie voort­bestaan nie. Dit is 'n noodwendigheid dat daar 'n objektiewe, ware antwoord op hierdie vrae bestaan (enige nie-weersprekende vraag het 'n antwoord) en daar is geen rede om te glo dat 'n doelbewuste en eerlike soeke na die antwoord op hierdie vrae, nie gevind kan word nie.

Dit sou verder ook nie onredelik wees om aan te voer dat dit elke mens se verantwoordelikheid is om die antwoorde op hierdie lewensvrae na te streef nie. Dit sou immers irrasioneel wees om te maak asof die vrae nie bestaan nie, of om vooraf summier te besluit dat die antwoord nie belangrik is nie. Die antwoorde mag implikasies hê wat dalk te belangrik is om bloot te ignoreer. Die ma wat saam met haar vyfjarige kind by die see op die strand speel, mag hom vir 'n paar minute tussen al die mense uit sig verloor. Die vraag na waar haar kind is, as sy agterkom dat sy nie meer weet waar hy is nie, is te belangrik om te ignoreer. Daar is te veel op die spel om bloot aan te neem dat haar kind veilig is. Die besorgde ma sal opstaan om te gaan uitvind waar haar kind is. Dit sou die mees sinvolle en verantwoordelike optrede wees.

Ongeag of iemand voel dat die groot lewensvrae nie gevra kan word nie (tog bestaan die vrae), of dat die antwoorde nie gevind kan word of belangrik is nie (hoe weet iemand dit?), is dit 'n onvermybare feit dat alle mense tog leef volgens wat hulle glo die antwoorde op die groot lewens­vrae is. Soos met 'alledaagse geloof', tree alle mense bewustelik of onbewustelik op volgens wat hulle glo die objektiewe werklikheid oor die groot lewensvrae is. Selfs al sou iemand dit nie op 'n gegewe moment spesifiek kon verwoord nie, het alle mense wel 'n bepaalde lewens­uitkyk of wêreldbeskouing ('n kombinasie van antwoorde op die groot lewensvrae). Elke mens het 'n baie spesifieke geloof, al is hulle kognitief onbewus daarvan, oor dit waaroor die lewe gaan. Dit beïnvloed ook hulle lewens op 'n baie spesifieke manier.

Selfs al ontken iemand die relevansie van elkeen van die lewensvrae, is so 'n ontkenning in opsigself 'n spesifieke antwoord op sulke vrae. So 'n persoon sal steeds in geloof optree volgens sy ontkenning daarvan. So 'n ontkenning van die antwoorde (of die belangrikheid daarvan) op die groot lewensvrae, bring praktiese teenstrydighede mee met wat die objektiewe werklikheid inderwaarheid is:

·Iemand kan leef asof dit nie saak maak waar hy vandaan kom nie en dat hy daarom in beheer is van sy eie lewe. Tog wys die onvoorspelbaarheid van die lewe en die verloop van die geskie­­denis dat hy nie is nie.

·Iemand kan leef asof daar geen doel in die lewe is nie en tog moet hy die vraag kan antwoord na hoekom hy hoegenaamd aanhou met lewe. Selfs al besluit iemand om bloot enige doel na te strewe is daar geen logiese rede vir waarom dit juis daardie doel moet wees nie. As enige doel so goed soos die volgende een is, kan verskillende mense se botsende doele nie beslis word nie.

·Iemand kan leef asof daar nie iets soos absolute waardes is nie, asof die idee van reg en verkeerd relatief is en asof die kwaad, die pyn en lyding, eintlik net 'n illusie is. Tog vind hy daarmee fout as daar verkeerd teenoor hom opgetree word en soek hy wel 'n oplossing vir die lewe se pyn wanneer hy periodiek daarmee gekonfronteer word.

·Iemand kan lewe asof die vraag oor lewe na die dood nie saak maak nie. Tog kan baie mense eenvoudig nie van die knaende gevoel van angstige onsekerheid ontslae raak oor wat na die dood mag gebeur nie. Dikwels word geen moeite ontsien om die dood of enigiets wat daarop dui, so ver as moontlik te vermy nie.

Om nie in iets spesifieks te glo nie, beteken nie dat 'n mens in niks glo nie, maar dat 'n mens waarskynlik enigiets glo solank dit daardie mens pas. Die probleem is dus dat alhoewel ongeloof oor iets 'n keuse is, is nie-geloof oor enigiets 'n onmoontlikheid. Selfs al dink 'n mens sy ongeloof is bloot 'n opsie, is die gevolge van sulke ongeloof nie. 

Dit wat iemand oor homself, die lewe of 'n aspek van die lewe glo, bepaal wat hy dink, doen en sê. Daarom is dit rasioneel en beslis verantwoordelik om die objektiewe werklikheid oor die groot lewensvrae ernstig op te neem en daarom ook te ondersoek. Miskien is die grootste rede vir hierdie erns die feit dat die objektiewe werklikheid, ongeag watter deel daarvan, 'n mens se lewe dikwels op so 'n spesifieke manier beïnvloed. Of 'n mens in ooreenstemming daarmee glo, ver­keerde dinge daaroor glo, of glad nie daarin glo nie - die wet van gravitasie bly altyd dieselfde en het sekere gevolge in 'n mens se lewe. Maak dit daarom nie meer sin dat die mens sy lewe in lyn wil bring met die objektiewe werklikheid, waar dit ook al van toepassing is nie?

Alle gelowe dieselfde?

As dit besef word dat die vrae wat die godsdiens vra, die ontdekking van 'n deel van die objek­tiewe werklikheid veronderstel, is die volgende logiese vraag die volgende: Is verskillende gods­dienste verskillende maniere om dieselfde objektiewe werklikheid te verstaan? Het almal 'n stuk­kie van dieselfde waarheid beet, wat bloot maar deur kultuur, tradisie en taal 'n bietjie anders inge­kleur word?

Miskien is dit soos die drie blinde mans wat vir die eerste keer aan 'n olifant voorgestel word. Die een voel aan die olifant se been en kom tot die gevolgtrekking dat 'n olifant niks anders as 'n boom met 'n growwe bas is nie. Die tweede voel aan die stert en besluit dat 'n olifant 'n baie sterk stuk tou verteenwoordig. Die derde blinde voel aan die olifant se oor en maak die afleiding dat dit 'n olifant 'n ander naam vir 'n groot tropiese blaar is. Sou 'n mens nie tog hieruit kon aflei dat al drie mans met dieselfde objektiewe werklikheid (die olifant) te doen het, al dink hulle op verskillende maniere daaroor nie? Sou dit nie verder aanvaarbaar wees om te dink dat omdat al drie blind gebore is (m.a.w. hulle kon nie presies weet wat die objektiewe waarheid is nie), dit nie regtig soveel saak maak en is dit ook nie hulle skuld, dat hulle van mekaar verskil nie?

Die probleem is dat daar 'n verskil is tussen wat 'n mens glo oor die objektiewe werklikheid (elke blinde het iets anders geglo) en wat die objektiewe werklikheid eintlik is (dit was 'n olifant en nie iets anders nie). Hierdie verskil is uiters belangrik omdat dit wat 'n mens glo die uitoefening van bepaalde keuses beïnvloed en daardie keuses het dikwels baie spesifieke gevolge. Die blinde wat daaraan dink om die boom af te kap vir vuurmaakhout, is nie maar net besig om 'n onbe­lang­rike of skadelose idee te koester nie - dis 'n idee wat lewensbedreigende implikasies inhou. Verskillende wêreldbeskouings het verskillende optrede en daarom ook verskillende implikasies tot gevolg.

Geloof vind nooit in 'n vakuum plaas nie. Wat 'n mens glo moet, soos alreeds verduidelik is, gegrond wees op wat die objektiewe werklikheid is. Die redes vir geloof, die objek van geloof, die geloof self, die optrede uit geloof en die gevolge van sulke optrede, is almal ewe belangrik. Die blinde kan nie bloot maar net sy blindheid as verskoning gebruik vir sy gebrek aan kennis of vir die gevolge van sy dade nie. Onkunde is nooit 'n verskoning as daar wel genoeg getuienis beskikbaar was om 'n ingeligte keuse te kon uitvoer nie. Om aan te voer dat 'n mens nie genoeg geweet het oor iets nie, beteken nie dat 'n mens nie meer kon uitvind nie. Kan die blinde wat aan die "boom" begin kap, werklik iets of iemand anders kwalik neem as hy skielik die olifant se aggressie op die hals haal? Het hy regtig genoeg rede gehad vir die keuse wat hy gemaak het? Afleidings en keuses kan slegs gemaak word as daar voldoende rede is om dit te doen. Die verantwoordelikheid om die regte keuses te maak is soveel groter as daar baie spesifieke en drastiese gevolge mag wees. Die proses om genoegsame inligting in te samel om sulke keuses te kan maak, is nie noodwendig eenvoudig nie. Tog kan en moet die proses gevolg word.

Die idee dat alle godsdienste in essensie dieselfde objektiewe werklikheid verteenwoordig, is vals. Dit is slegs iemand wat nie regtig weet wat die spesifieke aansprake van die wêreld se verskillende godsdienste is nie, of nie die implikasies daarvan verstaan nie, wat kan beweer dat hulle eintlik dieselfde is. Dit is belangrik om te besef dat verskillende godsdienste, baie verskil­lende en selfs teenstrydige antwoorde bied op die groot vrae van waaroor die lewe gaan. Verskil­lende godsdienste is verskillende en dikwels onversoenbare wêreldbeskouings. Die objektiewe werklikheid is vir elkeen iets anders, tog kan daar per definisie net een objektiewe werklikheid wees. Terselfdertyd bepaal die wet van nie-teenstelling in die studieveld van logika, dat twee teenoorgestelde aansprake op 'n spesifieke tyd en plek, en op dieselfde manier, nie albei kan waar wees nie. Die glas is nie terselfdertyd vol en leeg nie. As verskillende gelowe in uitsprake oor die objektiewe werklikheid na die konsep van God verwys, is hierdie gelowe nie maar net besig om op verskillende maniere te praat oor hoe dieselfde God verstaan kan word nie. Hulle weerspreek mekaar dikwels lynreg oor wie of wat God in wese is. Dit is een ding om te sê dat alle mense die reg het om die spesifieke godsdienstige geloof van hul keuse aan te hang; dit is egter iets heeltemal anders om te sê dat almal se keuse reg is. Teoreties gesproke kan alle godsdienste verkeerd wees, logies is dit onmoontlik dat almal kan reg wees.

Die volgende skematiese uiteensetting wys duidelik op die beperkte aantal opsies (alhoewel die uiteensetting verder verfyn kan word) en die teenstellings wat tussen verskillende wêreldbeskouing of godsdienste bestaan:


Die volgende kursoriese uiteensetting van slegs 'n paar aansprake van die wêreld se grootste godsdienste, sal wys hoe verskillend en teenstrydig hierdie godsdienste werklik is.





 

Konsep van God

Stigter en Geskrifte

Idees oor lewe en dood

Christelik

Een persoonlike wese (Godheid) in drie persone (Vader, Seun en Heilige Gees). Liefdevol en betrokke in mense se lewens.

(Monoteïsme: een God)

Jesus maak aanspraak as enigste God - terselfdertyd volkome mens. Maak Homself die fokuspunt van sy leringe. Die aanspraak is dat God sy wil in die Bybel geopenbaar het deur Goddelike inspirasie van mense. Die Bybel is oor 'n tydperk van 1600 j. deur  ± 40 mense met geskryf.

Herstel van en leef in verhouding met God - doel van lewe. Begin met aanvaarding van Jesus se dood vir vergewing van sonde. Manier van lewe getuig van dankbaarheid vir vergifnis en God se liefde. Lyding is gevolg van sonde - die aanvanklike verwerping van verhouding met God - word veral deur bonatuurlike bose magte uitgebuit. Mens wat vergewing van sonde verwerp sal die gevolge van sonde beleef (hel: waar God nie is nie) en het geen aanspraak op ewige lewe saam met God in die hemel na die dood nie.

Boeddhisme

Geen goddelikheid bestaan nie, slegs 'n onpersoonlike werklikheid.

(Monisme: alles is een.)

Boedha (± 5 vC) maak nie aanspraak op goddelikheid nie. Verwerp gesag van spesifieke Hindoe geskrifte en stel sy leringe bekend as The Middle Way en The Eightfold Path

Enigste probleem of "sonde" is mens se begeertes na tydelike dinge. Dit is oorsaak van alle lyding. Bevryding van hierdie begeertes - Nirvana -  bereik deur Agvoudige Pad te volg. Indien nie na Nirvana streef nie, word mens volgens karma gereïnkarneer tot 'n ander lewensvorm. Nirvana: toestand waar "eie ek" nie meer bestaan nie.

Islam

Enkel, maar so verhewe dat Allah in effek 'n afgetrokke onpersoonlike goddelike wese is.

(Monoteïsme: een God)

Mohammed (± 570 nC) laaste belangrikste profeet van Allah. Allah dikteer sy wil deur die engel Gabriël aan Mohammed, in onvertaalbare Koran saamgevat.

In Allah is oorsprong van alle goed en kwaad  - en daarom alle lyding. Moslems word na die dood in Paradys beloon indien goeie dade meer as slegte dade was. Sonde is ongehoorsaamheid in daad en toewyding aan die Vyf Pilare van Geloof en die Vyf Belydenisse van Geloof.

Hindoeïsme

Baie verskillende gode, vorm almal saam 'n onpersoonlike goddelike werklikheid: Brahma.

(Panteïsme: alles is God)

Geen spesifieke stigter, maar oorsprong so ver as 3000 vC. Verskeie geskrifte o.a. die Vedas, Brahmanas, Upanishads, en die Bhagavad Gita. Die eerstes bestaan reeds sedert 1400 vC. Die res is oor baie eeue heen bygevoeg.

Realiteit van sonde en lyding ontken, die materiële werklikheid is 'n illusie. Die doel van die lewe is bevryding van die siel (atman) deur reïnkarnasie-siklus. Bevryding of Nirvana beteken eenwording van die siel met Brahma. Nirvana word bereik deur dade van toewyding, meditasie, goeie werke, kennis en selfbeheersing. Mens se waarde bepaal deur kaste waarin gebore.

Judaïsme

Enkel, persoonlik: selfde God die Vader van Christelike geloof, maar geen drie-eenheid.

(Monoteïsme: een God)

Geen spesifieke stigter. Die Ou Testament van Bybel (1400-400 vC), deur verskeie profete en individue geskryf deur Goddelike inspirasie. Saam met Talmoed (500 nC) belangrikste Joodse geskrifte

Sonde is om in keuse tussen goed en sleg, die slegte te kies. Mense sal deur God beloon word vir goeie lewe gelei en toewyding aan Hom. God sal mense straf vir sonde. Dit geld vir hierdie lewe en die lewe na die dood.

New Age

Alles en almal is 'n onpersoonlike goddelike realiteit (alles is een en alles is god)

Steun sterk op Hindoe leringe, maar leer iets uit verskeie ander godsdienste. Geen spesifieke stigter, geskrifte nie. Jongste geloofsisteem

Geen reg of verkeerd, of sonde en lyding nie. Reïnkarnasie van menslike siel in  opwaartse karma, wat dit moontlik maak om verligtheid te bekom wat mens sal lei in hoe hy moet leef. Die mens in essensie self goddelik.

Tradisionele godsdienste

Vae afgetrokke, goddelike entiteit, soms as onpersoonlike krag in sekere objekte.

(Animisme: God in sekere dinge)

Geen spesifieke stigter

of geskrifte nie

Twee verhoudings belangrik in lewe: met mense naaste aan jou, veral familie; en met voorvadergeeste (kan goed of sleg wees.) Mens se gees sluit na die dood by hierdie geeste aan. Voorvadergeeste bring voorspoed en teenspoed, beheer natuurverskynsels en moet tevrede gehou word

Slegs 'n paar afleidings uit bogenoemde vergelyking, bevestig die onoorbrugbare verskille tussen hierdie godsdienste:

  • Jode, Christene en Moslems glo in verskillende voorstellings van 'n monoteïstiese God (een God), terwyl Hindoes en  aanhangers van die 'New Age' -beweging glo dat alles wat bestaan deel is van 'n onpersoonlike, panteïstiese krag wat Goddelikheid verteenwoordig. Klassieke Boeddhiste glo nie in 'n spesifieke vorm van goddelikheid nie, maar slegs dat alles deel is van 'n ewigdurende realiteit.
  • Baie Hindoes glo dat boosheid en lyding 'n volslae illusie is, terwyl Christene, Moslems en Jode boosheid en lyding as 'n onvermybare, maar bestrybare werklikheid beleef.
  • Christene glo dat 'n mens gered word deur genade, terwyl ander godsdienste, indien hulle wel in iets soos redding glo, leer dat 'n mense se redding deur goeie dade plaas­vind. Wat egter "goed" is en waarvan 'n mens gered word, is uiteenlopend verskillend.

Natuurlik kan daar ook op die ooreenkomste gewys word.Om egter bloot net op die raakpunte te fokus, maak nie dat die verskille skielik verdwyn of minder belangrik word nie.

·Alle gelowe kan verstaan word as 'n poging om te verstaan wie God is. Alle nasies van alle tye het nog altyd 'n inherente Godsbesef gehad. (Dit sou sin maak om te dink dat so 'n besef deur die Skepper van alle dinge, in die mens geplaas is.)

·In al die godsdienste is daar verskillende elemente wat goeie intensies en die doen van goeie werke openbaar. Nie een is gerig op doelbewuste boosheid soos in die geval van Satanisme nie.

·Daar rus verantwoordelikheid by aanhangers van alle godsdienste om 'n sukses van sy of haar spesifieke geloof te maak deur gehoorsaam te wees aan tradisie, reëls en bepaalde aktiwiteite. Toewyding, opregtheid en die daad - eerder as net die geloof - is belangrik.

·Oor die algemeen het 'n belangrike leier of visioenêre figuur 'n sleutelrol gespeel in die ontstaan en ontwikkeling van 'n spesifieke godsdiens.

Eksklusiwiteit en Onverdraagsaamheid

Die aard van die objektiewe werklikheid, tesame met die logika van nie-teenstelling, bepaal dat enige spesifieke vraag oor wat daardie objektiewe werklikheid is, net een korrekte antwoord kan hê. Dit sal dus noodwendig 'n eksklusiewe antwoord wees (m.a.w. ander spesifieke antwoorde kan nie ook waar wees nie). Die eksklusiwiteit van verskillende gelowe lê daarom nie eerstens in die aansprake oor wat die antwoorde op die groot lewensvrae is nie. Dit lê bloot as 'n logiese beginsel daarin dat daar net een objektiewe werklikheid kan wees.

Baie mense raak egter ongemaklik kriewelrig wanneer sommige gelowe 'n eksklusiewe stel antwoorde oor die groot lewensvrae op die tafel plaas. Sou sulke eksklusiwiteit dan nie veron­derstel dat een godsdiens dink dat dit beter is as ander nie? Indien 'n godsdiens se aansprake oor die objektiewe werklikheid met die objektiewe werklikheid ooreenstem, dan beteken dit dat daardie aansprake waar is. Dit is ongetwyfeld so dat die waarheid beter is as 'n leuen of selfs net 'n halwe waarheid. Daarom sou dit nie net rasioneel wees om te dink dat dit beter is om in die waarheid te glo nie, dit is 'n verantwoordelike besluit. Iemand sou daarom wel 'n rasionele en verdedigbare aanspraak kan maak wat beweer dat sy godsdiens of geloof reg is en dat alle ander godsdienste in die wêreld se aansprake (nie noodwendig alle aansprake van daardie godsdiens nie) verkeerd is. In sover daar genoeg redes bestaan vir waarom iets reg is (ooreen­stem met die objektiewe werklikheid) en iets anders verkeerd is (nie ooreenstem met die objek­tiewe werklikheid nie) is daar egter geen rede waarom so 'n aanspraak inherent as 'n hoogmoe­dige of onverdraagsame houding beskou hoef te word nie. Die aansprake van 'n godsdiens kan daarom "beter" wees as 'n ander, in dieselfde sin as wat waar "beter" is as vals.

Sommige mense is egter steeds dogmaties van opinie dat sulke aansprake en eksklusiwiteit noodwendig tot onverdraagsaamheid tussen mense moet lei. Hulle sien dit as die oorsaak van allerlei vergrype en skending van menseregte. Dit kan nie ontken word dat onverdraagsaamheid en antagonisme wel tussen sommige aanhangers van spesifieke gelowe bestaan nie. Daar is egter 'n saak daarvoor uit te maak dat sulke onverdraagsaamheid dikwels aangevuur word deur randfigure of groepe met bepaalde charismatiese invloed. Sekere van hulle fundamentalistiese idees verteenwoordig egter nie die hoofstroom godsdienstige beskouing nie. Dikwels word die essensie van 'n bepaalde godsdiens verdraai tot die eie gewin en verskuilde agenda van sulke individue of groepe. Die historiese feite wys op talle voorbeelde van onverdraagsaamheid van individue of sektes uit verskillende gelowe wat tot groot bloedvergieting en haatoptrede gelei het. Al sulke gevalle kan waarskynlik teruggevoer word na 'n verdraaiing van die werklike leer van sulke godsdienste.

Wat dikwels ook vergeet word is dat onverdraagsaamheid wat tot vergrype en skending van menseregte lei, nie uitsluitlik of eers hoofsaaklik 'n godsdienstige verskynsel nie. Verskeie ideologieë soos Nazisme en kommunisme is gegrond op ateïstiese beginsels wat tot onver­bloemde en mensevernietigende onverdraagsaamheid aanleiding gegee het. Rassisme, seksisme, diktature en ander politieke oorloë is nog enkele voorbeelde van onverdraagsaamheid wat nie noodwendig enige godsdienstige motiewe of ondertone het nie.

Die motivering vir onverdraagsaamheid of vyandigheid tussen mense wat verskillend glo, hetsy polities of godsdienstig van aard, is uiteenlopend. Wat die godsdiens aanbetref kan daar geen noodwendige verband getrek word tussen 'n aanspraak op eksklusiewe waarheid en 'n onver­draagsame gesindheid nie. Dit is 'n ongegronde aanname om die oorsprong van onverdraag­saamheid summier voor die deur van sulke eksklusiwiteit te lê. Daar is veral twee redes waarom hierdie aanname vals is.

Eerstens is dit moeilik om te sien hoe die feit dat die waarheid per definisie onverdraagsaam is teenoor dit wat nie waar is nie, noodwendig direk met onverdraagsaamheid tussen mense in verband gebring moet word. Die eksklusiwiteit van die waarheid is bloot 'n emosielose, kliniese feit. As 2 + 2 gelyk is aan 4 en iemand anders stem nie daarmee saam nie, is die eksklusiewe waarheid daarvan 'n probleem? Moet 'n mens, omdat ander nie daarmee saamstem nie en die konflik in opinie (afgesien van die feite) miskien kan aanleiding gee tot onverdraagsaamheid, maar toegee dat 2 + 2 ook soms gelyk kan wees aan 5?

'n Tweede rede vir die valsheid van die aanname dat 'n aanspraak op eksklusiewe waarheid noodwendig tot onverdraagsaamheid lei, lê daarin dat die aard van eksklusiewe waarheid juis 'n gesindheid van verdraagsaamheid tussen mense veronderstel. Dit is die mens wat die waarheid uitsluit, maar die waarheid sluit nie die mens uit nie.  Die feit dat waarheid ontdek moet word, bring 'n besef mee van die noodsaaklikheid en belangrikheid vir verdraagsaamheid. Alle mense moet leer wat die waarheid is en geen mens het volledige kennis oor alle waarheid nie. Daarom is alle mense, al is dit bloot deur onkunde, in 'n mindere of meerdere mate onverdraagsaam teenoor die waarheid en is dit nodig om alle mense in verdraagsaamheid te hanteer. Kinders is 'n goeie voorbeeld van onverdraagsaamheid teenoor die waarheid. Watter goeie ouer beskou egter onverdraagsaamheid as die beste optrede teenoor die kind wat in 'n leerproses is oor wat die waarheid is en soms dinge doen of dink wat duidelik verkeerd (onwaar) is? Sal so 'n ouer vir sy kind kwaad raak omdat hy dink dat 2 + 2 gelyk is aan 5? Dit is juis die liefde en aanvaarding (verdraagsaamheid) wat kinders ervaar ten spyte van hulle foute (onverdraagsaamheid teenoor die waarheid), wat hulle help om mense te word wat meer in lyn met die waarheid of objektiewe werklikheid kan leef.

Verdraagsaamheid beteken dus om mense te aanvaar juis omdat hulle soms nie weet wat die waarheid is nie. Dit beteken om hulle te aanvaar selfs al glo hulle dinge wat heeltemal verkeerd is. Vir geen oomblik beteken verdraagsaamheid teenoor mense egter dat hulle verkeerde idees as waar aanvaar moet word nie. Om onverdraagsaam en beoordelend te wees teenoor valsheid, bied geen gronde vir 'n gesindheid van onverdraagsaamheid en veroordeling (liefdeloosheid) teenoor ander nie. Onverdraagsaamheid teenoor mense is nooit aanvaarbaar nie. Om idees op ander af te dwing of mense te verwerp, sonder dat hulle voel dat hulle 'n keuse of 'n reg het om te glo wat hulle wil, is onverdraagsaam en onaanvaarbaar. Selfs al is daar 'n hardkoppige onwil­ligheid om die waarheid in te sien, kan dit nooit reg wees om ander te verkleineer of selfs aggres­­sief te vervolg omdat hulle bloot verkeerde idees handhaaf nie. Aan die ander kant mag sulke mense egter ook nie wanneer hulle die gevolge van hulle verkeerde idees ervaar, dit verwar met wat hulle dink ander mense se onverdraagsaamheid teenoor hulle is nie. Dit beteken dat selfs die arm persoon wat kos steel en daarvoor gestraf word, nie kan aanvoer dat daar met sulke straf teen arm mense gediskrimineer word of onverdraagsaam teenoor hulle opgetree word nie.

Dit is veral die mense wat die meeste besorg is daaroor dat ander die waarheid sal ontdek, wat die grootste verdraagsaamheid teenoor hulle sal openbaar. Hierdie mense besef dat niemand gedwing kan word om die waarheid te glo nie. Selfs al weet hierdie mense dat die waarheid die beste opsie is, weet hulle egter ook dat dit nie die enigste opsie is nie. Daarom respekteer hulle die feit dat enige persoon vry is om 'n ander opsie te kies. Hulle glo dat wanneer ander mense met hulle foute en al verdra word, hulle vertroue mettertyd gewen kan word en dat daar dan hoop is dat hulle die waarheid sal vind. Hierdie selfde mense versuim egter ook nie om ander in verdraagsaamheid en besorgdheid te wys op verkeerde en valse interpretasies oor wat geglo word oor die objektiewe werklikheid nie. Die spesifieke gevare van 'n argelose houding teenoor die waarheid en die feit dat die waarheid baie spesifieke gevolge het, moet as gevolg van die liefde, in verdraagsaamheid meegedeel word.

Dit is interessant dat daar ook sommige mense is wat geen probleem sien met die eksklusiwiteit van godsdienstige uitsprake nie, maar wel vir 'n onverwagse rede. Vir hierdie mense is dit 'n uitgemaakte saak dat iets soos eksklusiewe waarheid eenvoudig nie bestaan nie. Die eerste logiese probleem met so 'n siening is dat dit noodwendig veronderstel dat die stelling "eksklu­siewe waarheid bestaan nie" eksklusief waar moet wees. Die ontkenning van die eksklusiwiteit van die waarheid is dus 'n selfweersprekende uitspraak en sulke uitsprake is noodwendig vals. Hulle mag dit daarom miskien bedoel as 'n stelling met verskeie uitsonderings. Met ander woorde, net sekere dinge is eksklusief waar, soos wiskundige waarheid of wetenskaplike waar­heid. Om die uitsondering te maak dat net sekere dinge eksklusief waar is, is egter net so 'n problematiese en onuithoudbare stelling. Hoe bepaal 'n mens watter dinge eksklusief waar is en watter nie? Hoe sou 'n mens byvoorbeeld kan bepaal of die stelling "net spesifieke dinge is eksklusief waar" - wat nie 'n wiskundige of wetenskaplik waarheid is of kan wees nie - ook een van daardie dinge is wat eksklusief waar is?

Behalwe vir die openlike teenstrydigheid wat bogenoemde benadering meebring is die argument dikwels nietemin dat die eksklusiewe waarheid oor sekere dinge, soos die waarheid van gods­diens­tige uitsprake (die groot lewensvrae) nie bestaan nie of nie geken kan word nie. Mense dink dus dat die objektiewe werklikheid (waarheid) waarmee verskillende gelowe gemoeid is, nie bestaan nie of nie geken kan word nie en daarom dat hulle dan aanvoer dat die aansprake van verskillende gelowe nie eksklusief kan wees nie. Tog is dit nie 'n logiese afleiding nie. Selfs al bestaan daar geen kenbare objektiewe werklikheid oor die vrae wat die godsdiens vra nie (ter wille van die argument), beteken dit steeds nie dat die eksklusiwiteit van sulke uitsprake bloot maar net ontken kan word nie. Die uitsprake sou steeds eksklusief wees en sou steeds verskil­lend wees, selfs al is dit ongegrond of verkeerd. Soos egter reeds aangetoon is, kan die objek­tiewe aard (waarheid) van die antwoorde op die groot lewensvrae, nie minder objektief (waar) wees as enige ander fokuspunte van die objektiewe werklikheid nie. Om bloot aan te voer dat hierdie waarheid nie gevind kan word nie, is 'n arrogante en ongegronde aanname.

Gronde vir Geloof

As alle godsdienste noodwendig eksklusief is en as almal daarom nie waar kan wees nie, hoe besluit 'n mens dan oor watter een van die verskillende gelowe, indien enige, 'n stel antwoorde bied wat die objektiewe werklikheid verteenwoordig?

Dit word dikwels aangevoer dat dit uiters arrogant en eiegeregtig is om van enigiemand te ver­wag om bloot die eksklusiewe aansprake van 'n vreemde godsdiens te aanvaar. Die nasiona­liteit, kultuur, tradisie en taal waarin iemand grootgeword het, het tog alles bygedra tot die vorming van daardie persoon se godsdienstige oortuigings. Dit sou inderdaad arrogant wees om van so 'n persoon te verwag om sulke oorgeërfde godsdienstige oortuigings prys te gee indien die objektiewe werklikheid oor die groot lewensvrae inherent gebonde was aan enige nasiona­liteit, kultuur, tradisie en taal. Die feit is egter dat mense se verstaan van wat godsdiens is en hulle verstaan van wat die objektiewe werklikheid is oor die groot lewensvrae, dikwels twee verskillende dinge is. Godsdiens wat nie ooreenstem met die objektiewe werklikheid nie, kan steeds 'n baie amptelike uitdrukking van 'n geloof wees in wat die objektiewe werklikheid is. So 'n godsdiens sou egter 'n voorbeeld wees van 'n menslike konstruksie wat rus op die persoon­like voorkeur en subjektiewe opinies van mense verbonde aan 'n bepaalde tradisie, kultuur of nasionaliteit. Bied so 'n godsdiens egter die basis vir uitsprake oor die objektiewe waarheid?

Alhoewel kultuur en tradisie nie noodwendig iets met die objektiewe werklikheid te doen het nie, beteken dit nie dat daar glad nie in sulke subjektiwiteit, ook objektiewe waarheid gevind kan word nie. Dit beteken net dat geen aansprake van enige nasie, land of taal, verhewe is bo 'n ondersoek na wat die objektiewe werklikheid nie. So 'n ondersoek na die gronde vir enige aan­spraak oor die objektiewe werklikheid is nie net belangrik nie, maar die enigste manier om die waarheid oor enigiets te ontdek. Dit is rasioneel en verantwoordelik om seker te maak dat 'n geloof in die objektiewe werklikheid op goeie redes gegrond is.

Dit kan as vanselfsprekend beskou word dat 'n mens in iets soos die wet van gravitasie kan glo. Tog is die geloof in die objektiewe werklikheid van gravitasie, ook van goeie redes afhanklik. Die vraag na die objektiewe werklikheid oor wat met 'n klip gebeur wat in die lug gegooi word, word goed deur die wet van gravitasie beantwoord. Die oorvereenvoudigde antwoord hierop, volgens die wet van gravitasie, is dat die klip altyd sal terugval grond toe.

Dit mag na 'n vanselfsprekende antwoord lyk, maar hoe is daar by hierdie wet van gravitasie uitgekom? Voordat die formulering van die wet van gravitasie gemaak kon word, is daar eers 'n hipotese gestel. Dit beteken onder andere dat die stelling: "'n klip wat in die lug gegooi word, sal altyd terugval grond toe" se geldigheid eers ondersoek moes word. Die hipotese moes deur verskeie toetse, wat as die eksperimentele metode bekend staan, as waar bewys word.  Wan­neer 'n hipotese al die toetse of eksperimente slaag, word dit in die vorm van 'n wet geformuleer, verteenwoordigend van die objektiewe werklikheid.

Enige ondersoek na die objektiewe werklikheid kan met so 'n hipotetiese stelling begin word. Dit is egter nie so dat alle hipotetiese stellings oor die objektiewe werklikheid op dieselfde manier getoets kan word nie. Die empiriese (of eksperimentele) metode wat gebruik is om die idee van gravitasie te ondersoek, kan byvoorbeeld nie gebruik word om hipoteses wat onherhaalbare gebeurtenisse insluit, te ondersoek nie (byvoorbeeld 'n vraag na die spesifieke dag van Jan van Riebeeck se aankoms aan die Kaap). Om die geldigheid van sekere hipoteses as verteenwoor­digend van die objektiewe werklikheid te ondersoek, moet daar dikwels van ander metodes gebruik gemaak word. Die forensiese ondersoekmetode in geregtelike sake is 'n goeie voor­beeld van hoe die waarheid oor 'n bepaalde eenmalige onherhaalbare gebeurtenis bepaal kan word. Die bepaling van die objektiewe werklikheid in studievelde soos etiek, logika, die geskie­denis, argeologie en literêre velde is goeie voorbeelde van hoe die ondersoek na hierdie objek­tiewe werklikheid op uiteenlopende maniere gedoen word. (Daar is selfs in die wetenskaplike studieveld, vrae oor die objektiewe werklikheid wat nie beantwoord kan word nie. Die rede is omdat hierdie vrae nie deur die empiriese metode ondersoek kan word nie. Die oorsprongs­wetenskap bied verskeie sulke voorbeelde: die ontstaan van die natuurwette, die oorsprong van materie, die oorsprong van lewe en selfs iets soos die ontstaan van DNA.)

Ook verskillende gelowe se antwoorde op die groot lewensvrae behoort as hipotetiese stellings getoets te kan word om die objektiewe werklikheid daarvan vas te stel. Soms word die indruk geskep dat godsdienstige aansprake onbevraag en onnadenkend aanvaar moet word, sonder dat daar redes hoef te wees vir waarom dit geglo word. Dit sou nie verkeerd wees om wel 'net te glo' indien so 'n geloof wel met die objektiewe werklikheid korrespondeer nie. Die enigste manier om egter uit te vind watter, indien enige, van die verskillende gelowe se aansprake gegrond is die objektiewe werklikheid, is deur daardie aansprake te ondersoek. Volgens die getuienis wat beskikbaar is, moet daar dan 'n ingeligte besluit gemaak word oor wat om te glo.

Die Christelike geloof

Die Christelike geloof maak daarop aanspraak dat dit 'n baie spesifieke en volledige wêreld­beskouing is oor al die areas van die lewe. Dit voer aan dat dit die enigste rasionele en verde­dig­bare antwoord in geheel op die groot lewensvrae bied. Die aanspraak is onder andere dat die spesifieke antwoorde wat dit gee oor die oorsprong van beide die fisiese en morele orde, die mens in staat stel om gesonde en gebalanseerde lewens te lei. Dit is veral ook die Christelike geloof wat daarop aandring dat mense moet erns maak met hierdie groot lewensvrae wat tot 'n bepaalde wêreldbeskouing lei. Die rede is omdat die Christelike wêreldbeskouing, wat 'n  spesi­fieke aanspraak tot 'n omvattende en alles-deurdringende realiteit is, baie spesifieke implikasies het. Baie mense wil nie hierdie implikasies aanvaar nie en die besware daarvoor is soms baie verskillend.

Ten spyte van verskillende godsdienste se teenstrydige aansprake en verwoede besware, is die vraag eenvoudig dit: is die Christelike geloof waar? Die antwoord op hierdie vraag lê daarin om die Christelike geloof se aansprake as hipotetiese stellings, verteenwoordigend van die objek­tiewe werklikheid, te toets. Dit is dan elke individu se eie verantwoordelik om volgens dieselfde standaarde en metodes van ondersoek wat in enige ander forensiese ondersoek sou geld, te besluit of die Christelike geloof die toets vir die waarheid slaag.

Dit moet besef word dat selfs al word dit aangetoon dat 'n spesifieke geloof die toets vir waar­heid slaag, niemand skielik hoef te voel dat hulle volgens daardie geloof se wêreldbeskouing moet leef nie. Die toets vir waarheid bied daarom geen waarborg dat iemand byvoorbeeld die Christelike geloof sal aanvaar nie. Daar is veral twee redes hiervoor.

Ten eerste verplig genoeg redes as motivering niemand om in die objektiewe werklikheid te glo en daarvolgens op te tree nie. Dit bly steeds 'n keuse en geloofsbesluit. Om onder 'n vallende baksteen pad te gee, is nie 'n verpligting nie, maar 'n besluit en boonop 'n geloofsbesluit.

Tweedens voer die Christelike geloof aan dat dit as godsdiens, nie net 'n wêreldbeskouing is nie, maar ten diepste 'n spesifieke en persoonlike verhouding met God. Geen persoon kan 'n ander persoon dwing of verplig om 'n verhouding met hom te hê nie. Die God van die Christelike geloof forseer niemand om Hom lief te hê nie - Hy forseer niemand om selfs eers in sy bestaan te glo nie. Sulke geforseerde liefde kan nooit liefde genoem word nie. Daarom dat hierdie God in sy wysheid bepaal het dat die mens uit vrye wil en met 'n opregte begeerte na Hom moet soek. Dit is daarom elke mens se keuse, tesame met 'n geloofsbesluit, om die ware essensie van die Christelike geloof te aanvaar.

Die volgende aansprake van die Christelike geloof vorm die basis vir die antwoorde op die groot lewensvrae en maak deel uit van 'n Christelike wêreldbeskouing:

  • God het die heelal en alles daarin, uit niks geskep.
  • God het die mens na Sy beeld gemaak om in 'n Skepper/skepsel verhouding met Hom te staan en oor Sy skepping te heers.
  • Die mens het uit vrye wil Sy Skepper verwerp as 'n Wese wat verantwoording eis.
  • Die gevolge van hierdie keuse en optrede was 'n lewe en wêreld vol lyding en boosheid.
  • God het sy wil vir die mens en betrokkenheid by die mens (soms spesifiek deur wonderwerke) in die geskiedenis geopenbaar.
  • Hierdie geskiedenis en wil van God is in die geïnspireerde woorde van spesifieke mense neergeskryf en in die Bybel saamgevat.
  • Die Bybelse geskiedenis bereik 'n unieke hoogtepunt in historiese tyd deur die vervulling van 'n voorspelde moment waarin God homself baie spesifiek openbaar.
  • Die Bybel lê spesifiek klem op God se openbaring van homself in die persoon en dade (wat wonderwerke insluit) van Jesus Christus.
  • Jesus het eksklusief daarop aanspraak gemaak as die enigste manier om met God versoen te word.
  • Jesus is gekruisig, het uit die dood opgestaan het en het weer na die geestelike (nie-sintuiglike, nie-materiële) dimensie teruggekeer.
  • Die menslike bewussyn of siel is onsterflikheid en diegene wie se gees met die Gees van God versoen is, sal verewig in God se heerlikheid deelagtig wees.
  • Die wat God verwerp, verwerp die enigste manier om met God versoen te word en kies self die gevolge van sulke verwerping.

Hierdie verskillende aansprake van die Christelike geloof kan in 'n paar kategorie opgedeel word en daarvolgens as hipoteses ondersoek word. Die kategorieë is die volgende: aansprake oor die bestaan van God, aansprake oor die gesag van die Bybel, aansprake oor die persoon en dade van Jesus, aansprake oor die bestaan van wonderwerke en aansprake oor die oorsprong van lyding en boosheid. (Elke hipotese word volledig in aparte studiestukke hanteer, soos Wie is Jesus?, Die Gesag van die Bybel en Die Bestaan van God)

Christelike eksklusiwiteit

Die feit dat alle godsdienste eksklusief van aard is, is reeds uiteengesit. Die Christelike geloof impliseer egter 'n spesifieke eksklusiwiteit wat dit vir baie mense besonder onaantreklik en ongewild maak. Aantreklikheid en gewildheid was egter nog nooit 'n voorvereiste vir die waar­heid nie. Tog is dit belangrik dat die vrae rondom hierdie eksklusiwiteit spesifieke aandag sal geniet.

Die eksklusiwiteit van die Christelike geloof word nie daarin gevind dat dit daarop aanspraak maak dat net sekere mense wat na God soek deur Hom aanvaar sal word nie. Toegang tot 'n ewigheid saam met God in die hemel, is potensieel vir alle mense beskore. Die eksklusiwiteit word ook nie gevind in enige aanspraak van die Christelike geloof dat dit presies weet wat in die gedagtes of gevoelens of bewussyn of onderbewussyn moet gebeur, voordat iemand met God versoen is en daarom gered is nie. Alhoewel elke individu wat met God versoen is, wel algehele sekerheid kan hê oor sy versoening met God, is daar niemand, behalwe God self, wat sekerheid oor iemand anders se redding kan hê nie. Die Christelike geloof se eksklusiwiteit rus ook nie op enige aanspraak oor hoeveel inligting iemand oor die enigste ware God moet hê of oor hoe duidelik en bewustelik sulke kennis en geloof in Hom moet wees, voordat so 'n persoon deur God se genade aanvaar sal word nie. Dit is inderdaad so (sien studiestuk: Wie is Jesus?) dat 'n persoon wat nooit van die God van die Bybel of van Jesus gehoor het nie, wel ook Sy reddende genade kan ontvang.

Die eksklusiwiteit van die Christelike geloof is alleen te vinde in die aansprake wat Jesus Christus oor homself gemaak het. Baie mense beskou die eksklusiewe aansprake van Jesus as die grootste hindernis op die pad van enige soeker na die objektiewe werklikheid. Die grootste vraag wat daarom beantwoord moet word in enige besware teen die sogenaamde arrogansie, kortsigtigheid en eksklusiwiteit waarvan die Christelike geloof beskuldig word, is eenvoudig dit: is Jesus se aansprake oor homself waar of vals?

Van al die godsdienstige leiers van die wêreld, is dit slegs Jesus wat aanspraak gemaak het op Goddelikheid. Die volgelinge van al die ander stigters of verteenwoordigers van spesifieke gods­dienste, het slegs hulle leringe beklemtoon. Jesus was die enigste wat homself die fokuspunt van sy leringe gemaak het. Dit maak daarom sin om in 'n ondersoek na die objektiewe werklik­heid van verskillende godsdienste, te begin by hierdie uiters eksklusiewe aanspraak van Jesus.

Hierdie aanspraak is die basis waarop die Christelike geloof gebou is en behoort met dieselfde standaarde van historiese ondersoek as enige ander ondersoek, nagevolg word. As sulke aan­sprake by nadere ondersoek dan bloot vals blyk te wees, dan kan die Christelike geloof as aan­spraak op die objektiewe werklikheid, in totaliteit verwerp word. Dan is die Christelike geloof op die beste 'n onskadelike fabel waarin mense riglyne soek vir 'n bepaalde lewenstyl. Op die ergste is dit 'n uiters bedrieglike komplot, indien nie totaal boos nie, wat niemand ernstig behoort op te neem nie. As die Christelike geloof valse aansprake maak, is dit sinvol om dan die eksklu­siewe aansprake oor die objektiewe werklikheid van ander godsdienste, wat minder drastiese implikasies het, te ondersoek. As Jesus se aansprake oor homself egter blyk om waar te wees, dan is die verwerping daarvan beslis die mees doelbewus hardkoppige en irrasionele keuse wat iemand ooit in sy lewe kan maak. (Vir 'n deurdringende ondersoek na hierdie saak, sien studie­stuk: Wie is Jesus?)

Gevolgtrekking

Die Christelike geloof maak nie daarop aanspraak om kennis te hê oor alle moontlike waarheid nie. Dit maak wel daarop aanspraak dat die kennis wat dit wel het, volledig waar is. As die Christelike geloof waar is, beteken dit nie daarom dat alles in alle ander godsdienste nood­wendig vals is nie. Daar is baie 'goed' te vinde in ander gelowe, baie aspekte wat aantreklik en nuttig is. Alle waarheid is egter God se waarheid, waar dit ook al gevind word. Wat egter besef moet word is dat daar in ander gelowe nie waarheid is wat nie in Christus te vinde is nie. Die skrywerC.S.Lewismaak die volgende opmerking: "If you are an atheist you do have to believe that the main point in all the religions of the whole world is simply one huge mistake. If you are a Christian, you are free to think that all those religions, even the queerest ones, contain at least some hint of truth."

Christene se gesindheid teenoor ander gelowe moet altyd een van respek wees. Daar is baie mense uit ander gelowe wat hulle godsdiens met erns en opregtheid beoefen en alle mense het die reg om gehoor te word oor wat hulle glo. Christene moet uit dankbaarheid vir God se genade aan ander liefde bewys en betrokke wees in die lewens van mense. Terselfdertyd kan en moet hulle die waarheid van die Christelike geloof kommunikeer sonder om arrogant of onverdraagsaam oor te kom. Christene kan ander helpom te bepaal wat die waarheid is sodat hulle in lyn met daardie waarheid kan leef (wysheid is immers om te weet wat die werklikheid is en jou lewe daarvolgens in te rig).

Die waarheid van die Christelike geloof is nie 'n stel reëls of  menslike pogings om God se guns te wen en sodoende deur Hom aanvaar te word nie. Dit is ook nie in die eerste plek bloot net 'n lewensuitkyk nie (alhoewel dit noodwendig 'n mens se lewensuitkyk vorm). Die Christelike geloof het alles te doen met 'n persoon -  Jesus - waarmee 'n mens 'n verhouding kan hê. Daar is 'n klomp redes om te kan glo dat die Christelike geloof waar is, maar dit is 'n persoon­like verhouding met Jesus, 'n vertroue in Hom vir elke aspek van die lewe, wat die waarheid daarvan ook op 'n ervaringsvlak prakties sal bevestig.

Bronne

CHARLES COLSON. How Now Shall We Live? Tyndale House Publishers, Inc., 1999.

FRITZ RIDENOUR. So What's the difference? Regal Books, 2001.

JOHN BLANCHARD. Does God believe in Atheists? Evangelical Press, 2000.

LEE STROBEL. The Case for Faith. Zondervan Publishing House, 2000.

LOUW ALBERTS. Is Jesus Christ Unique? Christian Art Publishers, 2002.

MICHAEL GREEN. You Must Be Joking! Hodder and Stoughton, 1991

NORMAN GEISLER & FRANK TUREK. I Don't Have Enough Faith to Be an Atheist. Crossway Books, 2004.

PAUL E. LITTLE.  Know Why You Believe. InterVarsity Press, 1988.

PETER KREEFT & RONALD K. TACELLI. Handbook of Christian Apologetics. InterVarsity Press, 1994.

Het jy iets om te sê? Wil jy graag kommentaar lewer? Doen dit gerus hier!