Het Jesus regtig uit die dood opgestaan?

deur Phillip Scheepers 

1.1. Inleiding

Die vraag wat ons in hierdie studiestuk bespreek is nie sommer net een wat van akademiese is belang nie.  Dit is duidelik dat die opstanding deel is van die hart van die Christelike geloof.  Dit is op die opstanding dat ons hoop as Christene gevestig is aangesien dit vir ons die waarborg is van die ewige lewe wat Jesus vir ons verwerf het.  Dit is daarom opmerklik dat as mense die Christelike geloof aanval dat dit juis teen die feit van die opstanding is waarteen hulle aanvalle dikwels gerig is.  Die rede?  As Jesus nie uit die dood opgestaan het nie, dan val die hele Christelike geloof soos 'n kaarthuis inmekaar.  Hierdie aanspraak word nie net deur Ateïste of ongelowiges gemaak nie - ons kry dit sommer in die briewe van Paulus.  Paulus sê self dat as die dooies nie opgewek word nie (en Jesus daarom nie uit die dood opgestaan het nie): - "Laat ons eet en drink want more sterf ons!"[1]  (Wat terloops daarop dui dat hy baie seker van sy saak is as hy skryf om die opstanding te verdedig en te verduidelik). Natuurlik het die aanvaarding van die opstanding ook geloofsaspekte en daarom aanvaar ons dit ook in geloof.  Dit beteken egter nie dat daar nie ook besondere goeie getuienis daarvoor is wat ons eie twyfel dalk kan stilmaak en wat ons met die wêreld moet deel nie.

  • Is jy dalk so bevooroordeeld dat jy sekere dinge verwerp sonder om die getuienis te ondersoek?

Voordat ons in meer detail na hierdie onderwerp gaan kyk is dit dalk goed om net vinnig 'n opmerking oor wêreldsbeskouing te maak.  Baie kere het mense se verwerping van die opstanding niks te doen met die getuienis daarvoor of daarteen nie maar eerder met ons tyd se bewustelike en onbewustelike verwerping van die bo-natuurlike.  Baie mense is deur jare van modernistiese en rasionalistiese denke gekondisioneer om te glo dat die bo-natuurlike nie bestaan nie en dat wonderwerke daarom nie kan plaasvind nie.  Hieraan hou  hulle net so vas as die 'fundamentalisme' waarvan Christene soms beskuldig word.  So 'n persoon se argument teen die opstanding sou kortliks soos volg lui:  Omdat wonderwerke nie kan plaasvind (ek het so besluit) is dit nie moontlik dat Jesus opgestaan het nie.  'n Sirkelredenasie op sy beste!  Hiermee sê ek nie dat ons vir elke moontlike gebeurtenis 'n bo-natuurlike oorsaak moet gaan soek nie.  As my trein op tyd is bel ek tog nie onmiddelik die Huisgenoot om vir hulle te vertel van die wonderwerk wat met my gebeur het nie!  Dit kan bloot wees dat die vorige trein bitter laat is!  (Dit is dalk omdat te veel mense die Huisgenoot bel dat dit vir so baie mense moeilik is om in wonderwerke te glo!).  Ek elimineer dus eers alle moontlike oorsake voordat ek na die bo-natuurlike as antwoord begin soek.  Om egter te sê dat wonderwerke glad nie kan gebeur nie is om te sê dat ek alles weet wat te wete is - ook die presiese meganismes waarvolgens hierdie heelal opereer.  Aangesien niemand (nie eers die briljanstes onder ons) hierdie aanspraak kan maak nie, is enige verwerping van wonderwerke op net soveel geloof gebasseer as die gelowige se aanvaarding daarvan.

  • Glo jy dalk nie, juis omdat jy nie wil glo nie?

'n Tweede opmerking.  Baie mense glo nie, omdat hulle nie wil glo nie!  Hulle glo dat as die Christelike geloof waar is, dit hulle vryheid en hulle lewenstyl ernstig sal aantas en dat dit daarom vir hulle onaanvaarbaar is.  Hoewel min mense dit so reguit en eerlik sal stel (of dit dalk al selfs deurgedink het) is dit 'n sterk sentiment in ons samelewing.  Eenvoudig gestel, as Jesus Christus werklik uit die dood opgestaan het, is Hy wie Hy gesê het Hy is en vereis Hy sekere keuses van my.  Sommiges sal eerder die opstanding ontken as om daardie keuses te maak.  Natuurlik weet ons as Christene dat ons in Jesus die wonderlikste vryheid en lewe in oorvloed het.  Tog is baie mense bang om die keuse vir Hom te maak en hou hulle daarom 'n 'intellektuele' beswaar voor, weereens sonder om regtig die getuienis vir of teen hulle standpunt ernstig te ondersoek.

1.2. Enkele feite rondom die kruisiging en begrafnis van Jesus

1.2.1.  Die graf was leeg!

Daar is een groot feit rondom die opstanding waaroor daar groot eenstemmigheid is.  Dit is:  Op die Sondagoggend na die kruisiging van Jesus Christus was Sy graf leeg.  Natuurlik is daar verskille oor hoe hierdie feit geïnterpreteer moet word, en dit is juis na hierdie verduidelikings waarna ons moet kyk.  Die vraag is:  Verduidelik die verskillende antwoorde wat op die vraag van die leë graf gegee word die rede daarvoor op so 'n manier dat ons nie anders kan as om hierdie gevolgtrekkings te aanvaar nie? Kortliks gestel is die volgende verduidelikings al vir die leë graf gegee:[2]

  • Die dissipels het gekom om die lyk te steel.
  • Jesus was nie werklik dood gewees nie.
  • Die dissipels het na die verkeerde graf gegaan
  • Die persone wat getuies was van die opstanding het aan hallusinasies gelei.
  • Die opstanding was 'n legende wat jare na die lewe van Jesus ontstaan het.
  • Jesus het werklik uit die dood opgestaan.

Kom ons gaan kyk na die feite rondom die opstanding.  Die gegewens wat ons hieroor het kom natuurlik veral uit die Evangelies[3].  Ek gaan egter probeer om nie net te fokus op die erkenning van die Evangelies dat Jesus opgestaan het nie - dit sal skeptici doodgewoon nie aanvaar nie.  Die Evangelies gee egter 'n duidelik genoeg beeld van die gebeure rondom die opstanding dat ons 'n ingeligte keuse kan maak vir die waarheid, al dan nie, van die gebeure wat hierin geskets word.

1.2.2.  Jesus was werklik dood.

Hierdie klink dalk na 'n baie voor die hand liggende stelling.  Dit is egter nodig dat dit duidelik gestel word.  Sonder dat Jesus gesterf het kan daar tog nie 'n opstanding gewees het nie (Dit is trouens soos hierbo gesien een van die verduidelikings wat mense vir die opstanding aanbied).  Tog dui alle getuienis daarop dat Jesus werklik daardie Vrydag aan die kruis gesterf het[4].

  • Jesus is na Sy veroordeling gegesel[5].  Dit beteken dat Hy verskeie houe toegedien is met 'n tipe sweep wat bestaan het uit leer rieme waaraan stukkies been en metaal vasgemaak is.  As gevolg van die feit dat die sweep ernstige bloeding en skade aan organe veroorsaak het, het persone wat gegesel is dit dikwels nie oorleef nie. Weens die bloedverlies wat betrokke was, sou die liggaam van 'n gegeselde persoon dikwels in 'n toestand wat ons vandag ken as hipovolemiese skok ingaan.  Dit veroorsaak onder andere dat die hart geweldig vinnig begin pomp om bloed te sirkuleer wat daar nie meer is nie; die persoon se bloeddruk val geweldig wat veroorsaak dat hy sal flou val of inmekaarsak; dit veroorsaak ook dat die persoon baie dors word aangesien die liggaam die verlore vloeistof wil probeer vervang.  Ons het baie getuienis uit die Evangelies dat dit wat hier beskryf is ook in Jesus se geval gebeur het.  Dit is duidelik dat Jesus ernstig bloed verloor het in hierdie geseling, soveel so dat Hy nie meer instaat was om Sy kruis te dra nie en iemand anders dit moes doen[6].  Aan die kruis sou Hy ook later laat blyk dat Hy dors is[7].
  • 'n Persoon wat gekruisig is, se hande (deur die polse) en voete (deur die enkels)[8] is aan die houtbalke van die kruis vasgespyker[9].  Weer-eens sou hierdie proses ernstige skade en bloeding veroorsaak.  Die persoon was op so 'n manier uitgestrek aan die kruis dat die diafragma in die 'inge-asem' posisie was.  Die enigste manier waarop hy kon asem kry was om homself op te druk om die longe instaat te stel om lug in te neem.  Hierdie proses was natuurlik uiters pynlik omdat die persoon dan direk moes afdruk op die enkels waardeur die spykers geslaan is.  Baie min veroordeeldes kon dit vir baie lank volhou en het dus vir alle praktiese doeleindes aan versmoring gesterf.  As gevolg van die hipovolemiese skok waarna in die vorige punt verwys is en die gebrek aan suurstof sou die persoon uiteindelik 'n hartstilstand beleef.  Dit sou voorafgegaan word deur die versameling van 'n helder vloeistof om die hart (kardiale effusie) en die longe (pleurale effusie).  Interresant genoeg sien ons dat Johannes hierna verwys as hy vertel dat die Romeine 'n spies in Jesus se sy gesteek het en daar toe bloed en water uitgekom het[10].
  • Ons sien in die Evangelies dat die persone wat die teregstelling uitgevoer het nie Jesus se bene gebreek het nie[11].  Ons moet onthou dat die Romeinse soldate wat die kruisiging uitgevoer het professionele laksmanne was.  Hulle werk was om mense dood te maak en hulle het dit goed gedoen.  Hulle was daarom ook seker wanneer 'n persoon gesterf het.  Die doel met die breek van die bene van 'n persoon wat gekruisig was om die dood van so 'n persoon te bespoedig.  Die bene is gewoonlik met 'n knuppel of 'n stewige spies ingeslaan.  Dit het dan beteken dat die persoon hom nie meer sou kon opstoot om asem te haal nie wat binne enkele minute sy dood veroorsaak het.  In Jesus se geval het die soldate gekies om dit nie te doen nie - die rede, Jesus was werklik dood gewees.

1.2.3.  Jesus was op 'n spesifieke plek begrawe.

Die Evangelies is baie duidelik daaroor dat Jesus op 'n spesifieke plek begrawe is en dat hierdie plek bekend was.  Jesus is in die rotsgraf van Josef van Arimatea[12], 'n lid van die Joodse raad wat Hom duidelik goedgesind was, begrawe.  Die grafte van ryk mense soos hierdie het gewoonlik bestaan uit 'n tipe kamer wat uit rots gekap was.  Daar sou dus nie later verwarring kon wees oor in watter stukkie aarde die liggaam van Jesus nou eintlik begrawe was nie, dit sou ook baie moeilik wees om te verduidelik hoe 'n liggaam uit 'n graf wat (soos dit die geval was) goed toegemaak en selfs goed bewaak was kon verdwyn.  Verder is dit ook duidelik dat die liggaam van Jesus gebalsem was en in doeke toegedraai was[13].  Hiermee bedoel ons nie 'n paar speserye en 'n lappie of twee nie.  Die speserye is gewoonlik in 'n tipe pasta gemaak (ongeveer 25kg daarvan) en dan reg rondom die lyk aangewend.  As dit klaar was, is die lyk met verskeie lae doeke toegedraai.  Die implikasie hiervan is baie duidelik.  As die kruis, of watter ander teregstellingsmetode ookal, nie 'n persoon doodgemaak het nie, sou die begrafnisgebruike dit gedoen het!  Geen persoon sou baie lank kon oorleef terwyl Hy toegdraai is in al hierdie speserye en doeke nie.

1.2.4.  Jesus se graf is geseël en bewaak

Dié wat (menslik gesproke) vir die dood van Jesus verantwoordelik was het geweet het dat daar iets besonders aan Hom was en daarom wou hulle selfs nie in die dood kanse met Hom vat nie.  In die eerste plek het hulle verseker dat die graf soos die gebruik was met 'n groot steen toegemaak is[14].  Hierdie steen het dan ten doel gehad om die graf te verseël en sou nie deur een persoon verwyder kon word nie aangesien dit baie swaar was.  Asof dit nie genoeg was nie, het hulle besluit om 'n wag voor die graf te plaas om te verseker dat niks met die lyk gebeur nie[15].  Hierdie feite maak die hele teorie dat die dissipels die lyk gesteel het net soveel moeiliker om te glo want dit sou beteken dat hulle teenstand sou ervaar in hierdie poging.  Hierdie selfde dissipels wat 'n rukkie vantevore weggehardloop het[16] moes nou, nadat hulle diep terleurgestel was deur die feit dat hulle geglo het dat Jesus oorwin is, die wapen opneem om Jesus se lyk te steel.  Met hierdie leuen moes hulle dan entoesiasties en teen groot persoonlike en emosionele koste die wêrled ingaan!  Bietjie moeilik om dit te glo is dit nie!?

1.3.  Hoekom getuig die kerk dat Christus opgestaan het?

Van die verskillende antwoorde wat vir die feit van die leë graf gegee is, het Christene nog altyd bely dat die rede daarvoor was dat Jesus uit die dood opgestaan het.  Aan die begin het ek gesê dat ons nie vir wonderwerke onder elke klip moet gaan soek nie, as die getuienis egter duidelik in daardie rigting wys moet ons egter ook nie bang wees om die bestaan van 'n wonderwerk te aanvaar nie. Op die Sondagoggend was dit duidelik dat ten spyte van al die voorsorg wat getref was die graf leeg was.  Niemand kon hiervoor 'n antwoord bied nie behalwe dat daar 'n klomp  mense (wat niks gehad het om hieruit te wen nie) was wat getuig het dat Jesus aan hulle verskyn het.  Die Joodse Raad kon nie 'n liggaam vir Jesus vind nie en het daarom die teorie laat versprei dat die liggaam gesteel is[17].  Dit is duidelik dat die getuienis oorweldigend ten gunste van die standpunt van die eerste Christene was.  Kom ons gaan kyk saam na van hierdie getuienis:

1.3.1. Jesus verskyn aan meer as 500 mense

Die opstanding was nie maar net een of ander mistiese gebeurtenis nie.  Jesus het werklik en fisies aan baie mense verskyn na Sy dood.  Hy het hulle trouens selfs toegelaat om aan Hom te vat[18] en saam met hierdie mense geëet om vir hulle te wys dat dit werklik Hy is.  Jesus het ook nie net aan mense wat Hom goedgesind was verskyn nie.  Hy verskyn aan een van die grootste vyande van die vroeë kerk (Saulus), iets wat Saulus duidelik oortuig van die identiteit van Christus aangesien dit hom in een van die grootste verkondigers van die hoop in Christus wat ooit gelewe het verander het[19].  As hierdie selfde Paulus oor die opstanding skryf is dit duidelik dat hy nie van die mense verwag om sy eie getuienis sommer net te aanvaar nie.  Hy noem die feit dat Jesus aan meer as 500 mense verskyn het waarvan sommige teen die tyd van Paulus se skrywe al gesterf het maar van wie die meeste nog gelewe het[20].  Die implikasie is baie duidelik - As julle my nie glo nie gaan vra een van hulle!

 1.3.2.  Die kerk word gebore

In dieselfde stad waar die gebeure rondom die kruisiging en opstanding van Jesus plaasgevind het, het daar spoedig baie mense na vore gekom wat die boodskap van verlossing in Sy naam aangeneem het.  Die persone wat hierdie verlossing aan hulle verkondig het, het baie duidelik daarop klem gelê dat die opstanding van Christus die bevestiging van hierdie verlossing is[21].  Die kerk ontstaan dus op die presiese plek waar dit die moeilikste sou gebeur as Jesus nie werklik opgestaan het nie!  Die vyande van die kerk het net nodig gehad om 'n liggaam na vore te bring of om die mense te oortuig dat die lyk gesteel is.  Dit is duidelik dat die mense wat in die beste posisie was om hieroor te oordeel nie oortuig was nie want hulle neem die Christelike boodskap by hulle duisende aan.  Eenvoudig gestel, as daar ernstige twyfel was oor die waarheid van die opstanding sou die kerk nie kon ontstaan het op dié plek en onder dié mense wat die naaste aan hierdie gebeure was nie.  Paulus sou later voor Koning Agrippa klem lê op hierdie feit as hy hom herhinner dat 'hierdie dinge nie iewers in 'n hoekie gebeur het nie'[22].

1.3.3.  Mense se lewens word radikaal verander.

Van die sterkste getuienis vir die opstanding is die feit dat die lewens van die mense wat iets daarmee te doen gehad het radikaal verander is.  Petrus wat voor die opstanding nie bereid was om sy verbintenis met Jesus teenoor 'n diensmeisie[23] te erken nie preek nou daaroor voor duisende mense[24].  Hy gaan trouens direk teen die wense van die Joodse Raad in[25].  Die dissipels wat weggehardloop het gaan nou teen geweldige groot koste die wêreld in om die boodskap te verkondig.  Elkeen van die dissipels (met die uitsondering van Johannes wat in ballingskap gesterf het) het op 'n geweldadige manier gesterf ter wille van die boodskap van Jesus as die opgestane Here.  Jy kan dalk nou vir my sê - baie mense in baie gelowe en baie ideologieë is bereid om daarvoor te sterf.  Dit is verseker so - my vraag is egter:  Hoeveel mense is bereid om vir 'n leuen te sterf?  Mense wat die opstanding ontken verwag dus van ons om te glo dat die dissipels nadat hulle weggehardloop het bymekaargekom het en besluit het om die hele wêreld om die bos te lei.  Daarna het hulle die wapen opgeneem en Jesus se lyk gaan steel.  Wat hierna volg is nog meer ongelooflik.  Terwyl elkeen van hulle weet dat dit wat hulle verkondig 'n leuen is, en dat hulle niks het om hieruit te wen nie (hulle kan trouens eerder die dood verwag!) gaan hulle dan met hierdie boodskap die wêreld in en oortuig duisende mense daarvan!  Toe daar geweldige teenstand hierteen kom, red hulle nie hulle lewens deur hierdie 'leuen' te verloën nie maar sterf met groot vreugde daarvoor.  Ek vermoed dit vat ten minste net soveel (indien nie meer) geloof om dít te glo as om in die wonderwerk van die opstanding te glo!  Wat baie duidelik hieruit is, is dat die persone wat die naaste aan die gebeure was en wat dus die beste toegerus was om te oordeel oor die waarheid van die opstanding, 100% daarvan oortuig was.

1.3.4.  Die kerk word ingerig rondom die feit van die opstanding.

Reeds in die eerste jare van die ontstaan van die kerk gebeur daar dinge wat vir ons wys dat die vroeë Christene se geloof in die opstanding nie sommer maar iets is wat later ontstaan het nie maar dat dit van die begin af 'n ongelooflike impak op hulle gehad het.  Die meeste van die eerste Christene het natuurlik uit 'n Joodse agtergrond gekom wat beteken dat hulle op die Sabbat (Saterdag) aanbid het.  Tog sien ons dat die vroeë kerk baie gou op Sondae bymekaar begin kom het[26].  Iets geweldigs moes gebeur het om mense te oortuig om so skielik die rug te keer op letterlik eeue se tradisie en op iets wat sentraal gestaan het tot hulle eie belewenis van hulle geloof.  Daardie iets was natuurlik die opstanding - Christene kom vandag nog op Sondag bymekaar om hierdie feit te herdenk.  Verder sien ons dat dit een van die grootste feeste in die kerk is as Christene bymekaarkom om die dood en opstanding van Jesus te herdenk.  So was dit dan ook reg van die begin af[27].  Vir die vroeë kerk sou dit tog absurd gewees het om die dood van Jesus feestelik te vier as Hy dood gebly het.  Tog was die Nagmaal van die begin as vreugdefees in die kerk gevier - dit sou net sin gemaak het as daar 'n wydverspreide oortuiging was dat Jesus nie meer dood was nie, maar lewe.

1.3.5.  Jesus Christus verander vandag nog lewens

Miljoene Christene regoor die wêreld kan getuig dat Jesus Christus nie maar net 'n gestorwe godsdienstige leier is nie maar dat Hy vandag nog mense se lewens verander.  My eie lewe is deur Sy liefde en krag omgekeer en ek kan saam met die kerk dwarsdeur die wêreld getuig dat Hy 'n lewende werklikheid is.  So is in die Naam van Christus al baie lewens en selfs samelewings verander.  Dit is na 2000 jaar en eeue se pogings om hierdie boodskap uit te roei nog steeds die belydenis van mense reg oor die wêreld dat Jesus leef!

1.4  Die verskillende verduidelikings vir die leë graf

In die lig van die voorafgaande kan ons die verskillende redes wat vir die feit dat die graf leeg was aangebied word soos volg evalueer:

1.4.1.  Die dissipels het gekom om die lyk te steel.

Ons het gesien dat dit baie moeilik is om te glo dat die dissipels wat 'n kort rukkie tevore nog weggehardloop het nou skielik die moed sou kry om iets so waaghalsigs te doen.  Verder word daar vir ons verwag om te glo dat elkeen van hulle bereid was om vir hierdie leuen te ly.  Hierdie teorie verduidelik ook nie die radikale verandering wat in hulle lewens plaasgevind het nie.

1.4.2.  Jesus was nie werklik dood gewees nie.

Die getuienis wys baie duidelik daarop dat Jesus werklik dood was en dat indien Hy nie aan die kruis gesterf het nie, die metode waarop Hy begrawe is Sy dood sou veroorsaak.  Hierdie teorie verwag verder van ons om te glo dat iemand (wat soos die persone wat dit aanhang glo maar net 'n mens was) wat gekruisig en gegesel is dit kon regkry om ten spyte van Sy beserings 'n groot klip weg te rol en die wagte voor Sy graf te oorrompel.  Daarna kry Hy dit reg om Sy dissipels te oortuig dat Hy die Here van die lewe is, hulle is op hulle beurt so oortuig dat hulle die wêreld ingaan met hierdie boodskap.  Weer eens lyk dit vir my of jy 'n hele klomp geloof nodig het om dit te glo!

1.4.3.  Die dissipels het na die verkeerde graf gegaan

Dit is duidelik dat die plek waar Jesus begrawe was bekend was.  Verder sou die Joodse owerhede tog baie gou die regte graf (met die lyk daarin) uitgewys het as die dissipels na die verkeerde graf gegaan het.  Onder sulke omstandighede sou die kerk tog sekerlik nie kon ontstaan nie.

1.4.4.  Die persone wat getuies was van die opstanding het aan hallusinasies gelei.

Enige persoon wat iets van die sielkunde af weet sal weet dat hallusinasies hoogs individuele verskynsels is.  Vir 12 (of meer) mense om op die dieselfde tyd dieselfde hallusinasie te kry sou op sy eie reeds 'n wonderwerk gewees het!

1.4.5.  Die opstanding was 'n legende wat jare na die lewe van Jesus ontstaan het.

Die uitdaging van Julius Muller waarna in 'n vorige studiestuk verwys is kan hier herhaal word.  Wys vir my enige legende, in enige tyd onder enige taal en kultuurgroep wat so vinnig as die getuienis rondom die opstanding ontstaan het.  Legendes floreer doodeenvoudig nie waar daar nog ooggetuies lewe nie!

1.4.6.  Jesus Christus het uit die dood opgestaan!

Die enigste gevolgtrekking wat ons kan maak is dat daar werklik iets bonatuurliks op Paassondag gebeur het en dat Jesus Christus werklik uit die dood opgestaan het.  Die persoon wat weier om dit te aanvaar (of om ten minste hierdie aanspraak baie ernstig te ondersoek) hou dalk net so stewig vas aan sy/haar wêreldbeeld as die Christen aan syne/hare. As dit dan so is dat die getuienis wel daarna wys dat Jesus leef beteken dit dat Sy aansprake ernstig oorweeg moet word.  Dit beteken ook vir ons as Christene dat ons hierdie boodskap van ons lewende Here met groot ywer en energie in hierdie wêreld moet verkondig.

Verdere leeswerk:

Craig, WL 1988 Knowing the truth about the resurrection Servant; Ann Arbor Craig, WL 1994 Reasonable faith Westchester, Crossway Geisler, N 1992 Miracles and the modern mind Grand Rapids; Baker Book House Geivett, RD and Habermas G. 1997 In defence of miracles IVP; Downers Grove Habermas, G and Moreland, JP 1998 Beyond death: Exploring the evidence for immortality Westchester; Crossway McDowell, J. 1981 The resurrection factor. San Bernadino, Here's life Morrison, F. 1988 Who moved the stone? Grand Rapids; Zondervan


[1] 1 Kor 15:32 [2] Na van hierdie teorieë sal ek later in die teks in meer detail verwys, ander sal ek net kortliks aan die einde hanteer. [3]  Hierdie gedeelte moet dus baie duidelik gesien word in die lig van die gedeelte oor die betroubaarheid van die Skrif. [4]  Ons moet waak daarteen om maar net op 'n koue en kliniese manier na hierdie feite te kyk.  Ons moet daarna streef om altyd te onthou dat dit wat daar gebeur het VIR ONS en ons verlossing was. [5]  Markus 15:15 [6] Matteus 27:32 [7]  Johannes 19:28 [8]  Die gebruik van spykers in kruisiging word deur die argeologie bevestig.  In 1968 is die ligame van 36 Jode wat in 70nC in 'n opstand teen Rome betrokke was gevind.  Een van hulle is gekruisig.  'n 18cm lange spyker was nog deur die persoon se enkel met stukkies hout wat daaraan vas was. [9]  Petrus bevestig die feit dat Jesus met spykers gekruisig in Handelinge 2:23 voor 'n gehoor wat as moontlike ooggetuies hom maklik sou kon weerspreek. [10]  Johannes 19:34 [11]  Johannes 19:33 [12]  Al vier die Evangelies noem hierdie feit.  Die plek waar Jesus begrawe was was dus baie goed bekend.  (Matteus 27:57, Markus 15:43, Lukas 23:50, Johannes 19:38) [13]  Johannes 19:40 [14]  Matteus 27:60 [15]  Matteus 27:66 [16]  Matteus 26:56 [17]  Matteus 28:13 [18]  Die bekendste voorbeeld hiervan is seker die van 'ongelowige Thomas' - Johannes 26:26-29 [19]  Handelinge 19:1-18 [20]  Handelinge 15:6 [21]  Vergelyk byvoorbeeld die geweldige klem wat Petrus op die opstanding plaas as hy die Evangelie in Jerusalem verkondig. [22]  Handelinge 26:26 [23]  Matteus 26:69-70 [24]  Handelinge 2:14 vv. [25]  In Handelinge 4:19-20 sien ons die reaksie van Petrus en Johannes op die bevel van die leiers van die volk dat hulle moet ophou om die boodskap van Christus te verkondig:  "Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: "Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie." [26]  Vir voorbeelde van die belang van Sondag in vroeë kerk sien:  Handelinge 20:7 en I Korintiërs 16:2.  Sondag sou baie gou die Sabbat vervang as die amptelike dag van aanbidding in die vroeë kerk. [27]  1 Korintiërs 11:23-26

Het jy iets om te sê? Wil jy graag kommentaar lewer? Doen dit gerus hier!