Is die Bybel 'n betroubare rekord van die lewe en bediening van Jesus van Nasaret?

1.1. Inleiding

Toe die Teoloog Karl Barth gevra is wat die essensie van die Christelike geloof is het hy geantwoord in die woorde van 'n baie bekende kinderliedjie:  "Jesus loves me this I know, for the Bible tells me so!"  Ons reaksie as die wêreld ons uitvra oor ons geloof is daarom ook baie keer om te fokus daarop dat dit wat ons glo op die Bybel gebasseer is.  Dit is dan juis hier waar mense ons sal aanval met allerhande vrae oor die gesag (al dan nie) van die Skrif.  Die implikasie is duidelik.  As mense die bron van ons geloof kan aanval en as vals bewys dan hoef hulle in elk geval nie te glo wat ons sê nie.  Hierdie studiestuk sal daarom fokus op die gesag van die Bybel en die redes waarom ons daardie gesag aanvaar.  Omdat hierdie 'n baie wye onderwerp is gaan ons veral kyk na die sentrale elemente van die lewe en bediening van Jesus en die manier waarop dit spesifiek in die Evangelies aan ons oorgedra is.

Miskien is dit dalk eers goed om te fokus op die vrae wat oor die algemeen geopper sal word as mense ons uitdaag oor die gesag van die Bybel.  Ek vermoed die mees algmene vrae sal min of meer die volgende wees: ·Hoe kan jy seker wees dat die Evangelies soos wat ons dit vandag het betroubaar is?  Met ander woorde kan dit dalk wees dat die teks wat ons voor ons het nie dieselfde is as dit wat oorspronklik geskryf is nie? ·Hoe kan jy seker wees dat dit wat ons in die Bybel (en veral in die Evangelies) lees werklik die lewe en bediening van Jesus weerspieël en nie maar net legendes is wat later ontstaan het nie? ·Kan dit wees dat kerkleiers later hulle eie agenda in die lewe van Jesus ingeskryf het sodat die Evangelies uiteindelik meer verteenwoordigend is van latere opinies as van Jesus self?

1.2.  Algemene opmerkings oor die Bybel.

Voordat ek by hierdie vrae spesifiek uitkom net die volgende oor die Bybel in die algemeen.  Hoewel hierdie argument natuurlik nie sonder meer deur 'n ongelowige aanvaar sal word nie is dit duidelik dat die Bybel self aanspraak maak daarop dat God op 'n bonatuurlike en onfeilbare manier Sy openbaring aan mense oorgedra het (2 Tim 3:16, 2 Pet 1:20,21).  Daarom dra die Bybel ook die merktekens van hierdie inspirasie.  Dit sien ons byvoorbeeld in die feit van vervulde profesie (Lees byvoorbeeld Jes 53 wat ongeveer 600v.C. geskryf is en vergelyk dit met die lewe van Jesus) en in die feit dat die Bybel ten spyte van 'n groot klomp skrywers, kulture, tale, omstandighede en karakters tog 'n merkwaardige eenheid vertoon[1].  Hierdie eenheid sien ons in die feit dat die hele Bybel die verloop van God se verlossingsplan deur Jesus vir ons beskryf.

1.3.  Het ons die oorspronklike teks van die Evangelies?

Baie mense sal Christene uitdaag deur te sê dat ons nie seker kan wees dat dit wat ons vandag voor ons het die oorspronklike Evangelies is nie.  Daar is baie variasies op hierdie tema.  Moslems sal byvoorbeeld aandring dat die Evangelies soos wat ons dit nou het vervalsings is, terwyl New Agers gewoonlik een of ander, ander Evangelie soos die Evangelie van Thomas sal uitwys as die 'ware Evangelie'. Hierdie vraag of ons die die oorspronklike teks het is in 'n sin die 'grondvraag' in ons bespreking, want as ons hierop 'Ja!' kan antwoord gaan dit die beantwoording van die volgende vrae ook baie makliker maak.  Die feit is dat ons met groot sekerheid 'Ja' op hierdie vraag kan antwoord. Ons het baie duidelik met dubbele standaarde te doen as dit kom by die beoordeling van die teks van die Evangelies en die vergelyking daarvan met ander historiese dokumente.  Kom ons hanteer die Evangelies dus nou vir die oomblik bloot as antieke Griekse dokumente en kyk na die getuienis. · Ons het meer vroeë manuskripte van die Evangelies as van enige ander antieke geskrif.  Die teks van boeke soos 'Die Annale van Rome' deur Tacticus is byvoorbeeld in 113nC geksryf.  Hiervoor het ons 2 manuskripte wat ongeveer uit 850nC dateer.  Vir die 'Joodse Oorlog' van Josephus het ons 9 manuskripte wat iut ongeveer die 11de en 12de eeu dateer.  Die antieke dokument waarvan ons die meeste Griekse manuskripte het is die Illiad van Homerus.  Hiervoor het ons 650 manuskripte waarvan die meeste meer as 1000  jaar nadat die Illiad geskryf is dateer.  Vir die Nuwe Testament het ons ongeveer 5000 antieke Griekse manuskripte waarvan die oudse fragmente uit Johannes op Papirus is (die John Rylands papirus) en gedateer word teen 140 nC, dit is minder as 'n honderd jaar sedert die Evangelies geskryf is.  As ons dieselfde tydsverloop (en vertalings) toelaat as vir die ander geskrifte wat genoem is (ongeveer 800-1000 jaar) kan ons verwys na 26000 manuskripte van die Nuwe Testament in 'n groot verskeidenheid tale.  Die vraag is dan hoekom mense bereid is om die betroubaarheid van hierdie tekste te aanvaar maar nie die van die Nuwe Testament nie. · As die Nuwe Testament nie betroubaar is nie is geen historiese manuskrip nie.  'n Ander taktiek wat mense sal gebruik is om te fokus daarop dat die Evangelies aanvanklik met die hand gekopieër is en dat kopieërfoute so ingesluip het.  Hierdie feit word deur niemand betwis nie.  Die vraag is egter tot watter mate sulke kopieërfoute die teks soos wat ons dit vandag het beïnvloed.  Die antwoord is eenvoudig - bitter min!  Hierin help die geweldige aantal manuskripte waaroor ons beskik ons baie, deur hulle met mekaar te vergelyk kan ons by die korrekte lesing van die teks uitkom.  Verder word geen Christelike leerstuk bedreig deur verskille tussen manuskripte nie.  Die feit van die saak is dat ons meer kontrole kan uitoefen oor die integriteit van die teks van die Nuwe Testament as oor enige ander klassieke teks waar kruiskontrole nie moontlik is nie omdat daar eenvoudig te min manuskripte is. · Slegs die 'kanonieke' Evangelies slaag die toets as betroubare Evangelies.  Baie kere sal mense na ons toe kom met ander 'Evangelies' waaroor hulle die bewering maak dat dit nader is aan die oorspronklike lewe van Jesus as dit wat ons in die kanoniese Evangelies kry.  Ek kan nie nou in detail op hierdie onderwerp ingaan nie maar dit is duidelik dat ons slegs in die kanoniese Evangelies die volle en ware prentjie kry.  In baie van die apokriewe Evangelies word verhale vertel wat direk in kontras is met die direktheid en eenvoud van die ware Evangelies.  Dit is bykans deurgaans die geval dat die Godheid van Jesus oorbeklemtoon word ten koste van die feit dat Hy ook werklik mens was.  Die twee 'Evangelies' waarmee ons dikwels gekonfronteer sal word is die Evangelie van Thomas (waarvoor die lede van die 'Jesus Seminar' baie lief is) en die Evangelie van Barnabas wat veral deur Moslems aangehaal word.  Dit is duidelik dat ons in die Evangelie van Thomas baie sterk tendense van Gnostisisme[2] kry, dit is trouens in die styl van 'n 2de eeuse Gnostiese dokument geskryf deurdat dit alle narratiewe materiaal weglaat.  Wat die Evangelie van Barnabas betref kan ons baie maklik aantoon dat dit 'n vervalsing van so laat as 1000nC is!

1.4.  Is die Evangelies nie maar net legendes nie?

Die tweede aanval waarmee ons te doen sal kry as ons met mense oor die Bybel praat sal wees dat mense beweer dat hoewel ons moontlik sal kan bewys dat die teks wat ons het die regte een is dit in elk geval nie die lewe van Jesus weërspieel nie aangesien dit maar net legendes is wat mense lank na die dood van Jesus aan Hom toegeskryf het.  Om op hierdie stelling te reageer is redelik eenvoudig.  Dit maak nie saak hoe jy die Evangelies dateer nie - hulle is almal binne 'n generasie of twee van die lewe van Jesus geskryf[3].  Legendes vat eeue om te ontwikkel en kan daarom nie deur getuies bevraagteken word nie.  Niemand kan byvoorbeeld die details van Koning Arthur se lewe betwis nie aangesien dit eeue na Sy dood eers in die vorm van legendes opgeskryf is.  Dit is egter nie die geval met die Evangelies nie, hier praat ons eerder van dekades as eeue.  Met ander woorde daar was nog mense wat die gebeure soos dit in die Evangelies weergegee is kon korrigeer.  Reeds in 1844 het die Teoloog Julius Muller sy kollegas wat beweer het dat die Evangelies legendes is met die volgende eenvoudige vraag gekonfronteer:  "Wys vir my enige voorbeeld van enige legende wat so vinnig ontwikkel het op enige plek in die geskiedenis."  Hierdie is 'n vraag wat vandag nog nie deur die voorstaanders van die legende teorie beantwoord kan word nie.  Laastens kan ons ook daarop wys die Evangelies uiters betroubaar is wat die gegewens wat hulle weergee betref.  Lukas is byvoorbeeld telkens deur die Argeologie reg bewys wat plekname, heersers ens. betref.  Hierdie presiesheid is nooit deel van die legendes nie en ons kan tog aanneem dat as ons die Evangeliste op die 'klein' dingetjies kan vertrou dat ons dit ook kan doen in terme van die 'groot' dinge.  Dit is ook duidelik dat daar in die vroeë kerk 'n groot klem was op die getroue weergee van die lewe van Christus (Bv. Paulus in 1 Kor 15 - Ek het ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het…)  Laastens is dit ook so dat die Evangelies details weergee wat moontlik die punt wat hulle probeer maak (Dat Jesus opgestane Here is) negatief sou beïnvloed.  So is al die Evangelies duidelik dat dit vroue was wat Jesus eerste gesien het na Sy opstanding - dit in 'n tyd waarin vrouens nie eers in 'n hof kon getuig nie.  As die Evangelies wel legendes was sou hierdie feit nie so weergegee kon word nie.

1.5.  Reflekteer die Evangelies nie maar net konflik in die vroeë kerk nie?

Die laaste uitdaging wat deesdae baie gewild is, is dat mense weer eens sal erken dat die teks soos wat ons dit vandag het wel die oorspronklike teks is maar dat dit slegs die produk is van latere kerkleiers wat hulle konflikte in die die Evangelies teruglees en dus vir Jesus 'gebruik' om hulle posisie te regverdig.  Hierdie beswaar is seker die maklikste van die drie waarna ons tot dusver gekyk het om uit te daag.  Die rede hiervoor is eenvoudig omdat ons weet wat die konflikte in die vroeë kerk was omdat ons daarvan in Handelinge en die briewe lees.  Die groot kwessies is onder andere die besnydenis, geestelike gawes en die eet van vleis wat aan afgode geoffer is.  Van hierdie kwessies het ons byna geen sprake in die Evangelies nie.  Iets wat tog nie so sou wees as kerkleiers hulle eie standpunte in die lewe van Jesus wou teruglees nie.

1.6.  Slot

Ons sou nog baie lank oor hierdie onderwerp kan praat.  Ek hoop egter van harte dat jy baie duidelik gesien het dat ons as Christene se geloof in die Bybel en dan veral in die Evangelies as 'n akkurate weerspieëling van die lewe en bediening van Jesus nie sommer net uit die lug gegryp is nie maar op baie sterk gronde staan.  Ons kan regtig met groot vrymoedigheid met enige iemand wat dit betwyfel in gesprek gaan, dit is egter so dat baie mense nie in die gesag van die Bybel wil glo nie deurdat hulle dan ook die boodskap daarvan moet glo.  Dit bring ons by die eerste deel van die liedjie waarna ek aan die begin verwys het.  As ons dan wel kan sê 'for the Bible tells me so…" moet ons werklik glo dat Jesus van Nasaret is wie Hy sê Hy is en ons lewens voor Hom neerlê as Here en Verlosser.  Dit is dan ook presies na die uniekheid van Jesus Christus en Sy unieke aansprake waarna ons in die volgende hoofstuk gaan kyk.

Verdere leeswerk:

Bloomberg, C 1987 The Historical reliability of the Gospels IVP; Downers Grove Bruce, FF 1960 The New Testament documents - are they reliable? Eerdmans; Grand Rapids Bruce, FF 1974 Jesus and Christian Origins outside the New Testament Eerdmans; Grand Rapids McRay, J 1991 Archaeology and the New Testament Baker Book House; Grand Rapids Metzger, BM 1992 The text of the New Testament Oxford University Press New York


[1]  Vergelyk dit byvoorbeeld met die 'wet van herroeping' in Moslem teologie wat sê dat 'n latere openbaring in die Qur'an 'n vroeëre een vervang.  Dit ten spyte van die feit dat hulle glo dat die Qur'an oor 'n tydperk van slegs ongeveer 30 jaar aan een man geopenbaar is. [2] 'n Denkrigting wat sedert die 1ste eeu sterk opgang gemaak het en wat beweer het dat die fisiese boos is terwyl die geestelike rein en heilig is.  'Christene' wat deur die Gnostiek beïnvloed is het daarom die mensheid van Jesus en Sy aardse bediening onderbeklemtoon. [3]  Persoonlik sal ek Lukas voor 64 n.C. dateer (die jaar waarin Paulus gesterf het) wat beteken dat Markus nog vroeër as dit geskryf is.

Het jy iets om te sê? Wil jy graag kommentaar lewer? Doen dit gerus hier!