Bedieningsbeginsels |
Bedieningswyses
Wat is die tipiese vrae wat ons ander wil help AntWoord?
Vrae oor Die bestaan van God:
- Hoekom maak dit enigsins saak of iemand in die bestaan van God glo of nie?
- As die bestaan van God nie bewys kan word nie, hoe kan 'n mens dan bo alle twyfel weet dat God werklik bestaan?
- Hoekom is daar nie genoeg bewyse vir die bestaan God nie?
- As God dan buite die fisiese werklikheid bestaan, hoe is dit enigsins moontlik om iets van Hom te weet?
- Hoe kan God gelyktydig drie persone, maar net een wese wees?
- Wie het vir God gemaak en waarmee was God besig voordat Hy die heelal gemaak het?
Vrae oor Die wetenskap en geloof:
- Gee evolusie dan nie 'n voldoende verduideliking vir hoe lewe ontstaan en ontwikkel het nie en maak dit nie daarom 'n geloof in God onnodig nie?
- Hoe is dit moontlik om in iets te glo wat nie met die sintuie waargeneem kan word nie?
- Doen die wetenskaplike denkwyse dan nie weg met 'n geloof in die bonatuurlike nie?
- Hoe kan dit van enigiemand in vandag se tyd verwag word om blindelings te glo in iets soos God wanneer sulke geloof niks anders as bygelowigheid is nie? Is dit nie maar dieselfde as om in feetjies of dwergies te glo nie?
- Hoe is dit moontlik dat wonderwerke die basiese natuurwette kan weerspreek?
Vrae oor Die Bybel:
- Hoe kan dit beweer word dat die Bybel van God af kom?
- Hoe kan 'n mens weet dat dit slegs die Bybel is wat van God af kom en dat dit volledig is?
- Hoekom sou 'n mens die Bybel glo as dit dan so vol teenstrydighede en foute is?
- Hoe kan dit bewys word dat die Bybel histories betroubaar is en nie net 'n versameling fabels en legendes nie?
- Hoe kan 'n mens al die wonderwerke in die Bybel glo?
- Daar is soveel verskillende interpretasies van die Bybel en soveel verskillende denominasies van Christelike kerke - is dit dan nie 'n bewys dat dit onmoontlik is om die ware betekenis van die Bybel te verstaan nie?
Vrae oor Jesus:
- Hoe kan dit beweer word dat Jesus God was en nie maar net 'n gewone mens met besonderse eienskappe van wysheid en liefde nie?
- Is dit nie uiters arrogant om te beweer dat Jesus die enigste weg na God is nie?
- Hoekom enigsins die Bybelse beskrywing van Jesus se lewe glo?
- Hoe kan 'n mens glo dat Jesus uit 'n maagd gebore is?
- Hoe kan 'n mens glo dat Jesus fisies uit die dood opgestaan het?
Vrae oor Verskillende godsdienste:
- Hoekom is die Christelike geloof so ekslusief en onverdraagsaam teenoor ander godsdienste?
- Is alle gelowe nie maar net verskillende pogings om dieselfde God te verstaan nie?
- Hoekom dring die Christelike geloof daarop aan dat 'n mens gered moet word; hoekom kan elkeen nie maar glo en doen wat hulle self kies om te doen nie?
- Hoekom sou enige mens die Christelike geloof bo ander gelowe wil kies as daar so baie Christene is wat skynheilige en immorele lewens lei?
- As Jesus die enigste weg is na God, hoe sal God regverdig kan wees teenoor mense wat nooit van Jesus gehoor het nie?
- Is dit nie billik om te glo dat God almal sal aanvaar wat opregte en goeie lewens gelei het sonder spesifieke godsdienstige oortuigings nie?
Vrae oor Swaarkry:
- Sou die bestaan van pyn, lyding en alles wat boos is, dan nie 'n bewys wees teen die bestaan van 'n liefdevolle en almagtige God nie?
- Hoe kan 'n liefdevolle God mense hel toe stuur?
- Hoe kan 'n liefdevolle God bestaan en hoe kan die Christelike geloof waar wees, as daar soveel onreg en bloedvergieting in die naam van God en Christenskap gepleeg is?
- As God enigiets kan doen, hoekom het Hy nie 'n perfekte wêreld gemaak nie?
Vrae oor Die mense se belewenis van geloof:
- Is dit nie waar dat geloof in God of die verskynsel van godsdiens, eenvoudig maar net verklaar kan word as sterk emosionele of sielkundige (soms selfs misleidende) ervarings wat nie na enige objektiewe waarheid wys nie?
- Hoekom sou iemand in God glo as hulle geen behoefte voel na God nie?
- Is dit nie skynheilig om in God te probeer glo as jy aanhoudend twyfel beleef nie?
- Is geloof nie maar net 'n uitdrukking van 'n bepaalde manier waarop die brein funksioneer nie?
Vrae oor Die verstaan van geloof in die postmoderne tyd waarin ons leef:
- Leef mense dan nie vandag in 'n verligte post-moderne era waar dit nie meer sin maak om te glo in pre-moderne en ongesofistikeerde idees oor God nie?
- Kan ons dan nie juis nou in die Suid-Afrikaanse en spesifiek die Afrikaanse konteks, dankbaar wees vir 'n langverwagte en meer verligte siening oor die verstaan van ons geloof in wat Die Nuwe Hervorming ons wil leer nie?
- Hoekom in dinge glo soos 'absolute waarheid' en 'absolute morele waardes' as alle waarheid eintlik maar relatief is (m.a.w. wat vir jou waar of reg is, is nie noodwendig vir my waar of reg nie)?
- Hoekom sou iemand glo dat daar enige ander sin in die lewe is as die sin wat die mens self aan die lewe gee, of dat daar enige ander doel is as die doel wat die mens self besluit het om na te streef?
- Hoekom sou iemand in 'n persoonlike God glo as dit net sowel waar kan wees dat die idee van God eintlik 'n kreatiewe en alles-deurdringende krag is wat nie onderskei kan word tussen dooie materie en lewe nie?
Vrae oor Die lewe na die dood:
- Hoe kan 'n mens weet dat daar 'n lewe na die dood bestaan?
- Hoekom glo in die bestaan van die hemel eerder as in reïnkarnasie?
- As daar lewe is na die dood, hoekom noodwendig glo in die idee van 'n hemel en 'n hel?
- Hoe kan iemand regtig seker wees dat hy of sy hemel toe sal gaan?
Wat is ons bedieningsbeginsels?
Boontoe
Die volgende beginsels sal deel uitmaak van enige kontak met die AntWoord bediening:
- Ons sal eerlike antwoorde gee.
- Enige vraag is welkom.
- Ons sal probeer luister om die dieper probleem agter die vrae te verstaan.
- Ons sal nie goedkoop antwoorde probeer gee nie.
- Mense is vir ons belangriker as blote antwoorde of die wen van argumente.
- Die Evangelie is die kern van ons bediening, maar die bediening omsluit die hele veld van Apologetiek.
- Ons wil nie krap waar dit nie jeuk nie. Ons wil graag werk met vrae wat huidiglik vir 'n spesifieke groep of gemeente relevant is, eerder as met vrae waarop ons besluit.
Wat is ons bedieningswyse?
Boontoe
Die AntWoord bediening poog om die behoeftes van die Christelike gemeenskap (Afrikaans en Engels) in Suid Afrika aan te spreek. Ons streef na bedieningsaktiwiteite van hoogstaande gehalte en ons fokus is veral op die volgende:
- Ontwikkeling van materiaal - Daar word voortdurend aan 'n verskeidenheid artikels, studiestukke en 'n geïntegreerde kursus gewerk wat 'n breë spektrum van Apologetiese vraagstukke dek. Inligting oor 'n spesifieke onderwerp word in 'n artikel of studiestuk saamgestel. (Geskrewe materiaal is tans net in Afrikaans beskikbaar, maar sal oor geleidelik ook na Engels opgedateer word. Enigiemand wat na inligting in Engels soek, word tans na spesifieke en toeganklike internet web-tuistes verwys). Op die medium-termyn wil die AntWoord bediening ook eietydse vraagstukke in die nuus en samelewing, vanuit 'n Christelike hoek deur studiestukke en artikels toelig.
- Besoeke aan selgroepe en kleingroepe - die AntWoord bediening besoek graag selgroepe of enige ander kleingroepe. Hierdie diens van die AntWoord bediening kan tipies as 'n eenmalige geleentheid vir 'n spesifieke behoefte, of as 'n kort kursus oor 'n paar weke, aan groepe gelewer word. (Alle aanbiedings van die AntWoord bediening word in Afrikaans of Engels gedoen.)
- Informele eredienste - Tydens sendingweke of informele erediense kan die AntWoord bediening temas aanbied met die doel om die behoeftes van 'n gemeente op 'n praktiese manier aan te spreek. Die doel van hierdie aanbiedings sal wees om vrae te help beantwoord, maar ook om gemeentelede toe te rus om self vrae te kan beantwoord.
- Kampe - die AntWoord bediening wil ook kampe aanbied om mense die geleentheid te gee om saam oor verskillende vraagstukke te dink en gesels. Tydens so 'n kamp sal daar meer tyd wees om rustig oor spesifieke sake te gesels en in meer diepte ondersoek te doen. Hierdie kampe is oop vir enige belangstellende persone. Alternatiewelik kan die AntWoord bediening ook as sprekers by gemeentekampe optree.
- Gespreksgeleenthede - Daar sal op die langtermyn gereelde gespreksgeleenthede aangebied word oor verskillende onderwerpe. Ons wil sodoende nie net mense bereik wat reeds glo nie, maar juis 'n geleentheid skep vir die wat nog twyfel om vrymoedigheid te neem om ook hulle vrae te kom bespreek.
- Internet inligting en besprekings - die AntWoord bediening het ook die langtermyn-doelwit om 'n interaktiewe webwerf op die been te bring, waar inligting verskaf kan word, vrae bespreek kan word en besprekings gehou kan word.
- Korrespondensie - Hierdie aspek van die AntWoord bediening wil graag 'n geleentheid skep vir korrespondensie d.m.v. briewe en e-pos. Sulke korrespondensie kan in die openbare arena of in vertroulikheid plaasvind en enige persoon sou welkom wees om aan ons te skryf met vrae waarop ons persoonlik sal reageer.
Boontoe