deur Phillip Scheepers
Niemand hoef te twyfel aan die sentrale rol wat Jesus van Nasaret binne die Christelike geloof speel nie. Ons bely gereeld ons geloof in die feit dat ons glo dat Jesus meer as 'n mens is, dat Hy trouens die Seun van God en God self is. Ons spreek Hom aan in gebed, en is trouens deur die naam Christen na Hom 'vernoem' en onlosmaaklik aan Hom verbind. Tog is die werklike identiteit en missie van Jesus dwarsdeur die eeue 'n onderwerp van debat gewees. Mense was nog altyd gefassineer deur hierdie man van Nasaret en deur Sy geweldige wysheid. Soveel so dat baie al op 'n manier probeer het om vir Jesus vir hulle doel te 'kaap'. So het daar baie interpretasies ontstaan oor wie Jesus nou eintlik was (en is) en wat Hy hier op aarde kom doen het. Hiervan is die belangrikstes:
Soos in die vorige hoofstuk is dit nodig dat ek weer 'n opmerking maak oor die manier waarop mense die soektog na die ware aard en taak van Jesus aanpak. Ons moet baie versigtig wees vir 'n selektiewe lees van die getuienis oor Jesus. Dit is baie maklik om reeds vooraf seker te wees van wat jy oor Jesus wil glo en dit dan op die teks te gaan toepas. Alles wat dan nie by jou skema inpas nie word verwerp. Dit is iets waarvoor groepe soos die 'Jesus Seminar' baie lief is en wat hulle ook grafies by hulle vergaderings illustreer deur oor die dade of uitsprake van Jesus te 'stem'. Die vraag is, wie besluit oor hierdie maatstawwe? Op grond waarvan maak ek hierdie keuses? As ek vooraf besluit dat die bonatuurlike nie moontlik is nie, of dat Jesus maar net 'n profeet is gaan ek tog dit wat met my aannames bots verwerp en dit nie as 'n akkurate getuienis oor Jesus beskou nie. Met ander woorde laat ek die beeld van Jesus het self uit die Evangelies opkom; of gebruik ek 'n tipe koekiedrukker om my moderne beeld van wat ek graag wil hê Jesus moet wees uit die getuienis te sny? Albert Schweitzer het reeds jare vantevore in sy boek 'The quest for the historical Jesus' aangetoon dat die 'Jesus' waarby mense deur middel van hulle 'navorsing' uitkom dikwels soos die navorser self lyk! Ongelukkig lyk dit nie of daar te veel ag gegee is op sy waarskuwing nie. So het ons al deur die jare 'Jesus die revolusionêre kommunis', 'Jesus die passifis', 'Jesus die kapitalis' en meer onlangs 'Jesus die vegetariër'[1] gehad. Die probleem met hierdie benadering is duidelik. Ek buig die getuienis rondom Jesus om te sê wat ek wil sê en verwerp dan die res. Ek en my eie ideologie, en nie die teks nie, word dan die finale maatstaf. Die spreekwoord sê daarom nie verniet 'Elke ketter het sy letter' nie. As ek so selektief met die teks omgaan is die identiteit van Jesus met alle respek gesê soos klei in my hande! Hierteenoor is die vraag egter watter afleidings ons kan maak vanuit die totaliteit van die getuienis oor Jesus!
Die oorgrote meerderheid van dit wat ons van Jesus van Nasaret weet kom natuurlik vanuit die Bybel en dan spesifiek die Nuwe Testament. Aangesien ek reeds in die vorige hoofstuk direk op die vraag ingegaan het of die Bybel 'n betroubare rekord van die lewe en die bediening van Jesus is, gaan ek nie veel hieroor sê nie. Wat egter wel baie duidelik is, is dat ons wel in die Evangelies 'n betroubare weergawe het van Jesus Christus se woorde en dade. Enige iemand wat dus op 'n selektiewe wyse dinge waarvan hy of sy nie hou nie verwerp sal daarom baie goeie redes hiervoor moet aantoon. Die aanklag kan maklik gebring word dat die Bybel 'n spesifieke agenda het en daarom bevooroordeeld is oor wie Jesus was. Die vraag is egter of geskiedenis wat 'met 'n doel' geskryf is onmiddelik as onbetroubaar beskou moet word. As dit so is sou ons omtrent alle geskiedenis moes verwerp aangesien dit uiteindelik maar alles met een of ander doel voor oë geskryf is. Die groot vraag is myns insiens nie die motivering van die skrywers nie, maar of hulle betroubaar met die waarheid omgaan. Ons het reeds gesien dat die skrywers van die Evangelies hierdie toets met vlieënde vaandels slaag. Jesus se identiteit en sekere details oor Sy lewe word ook deur verskeie buite Bybelse (en dikwels vyandige) historiese bronne bevestig. Dit sluit in Cornelius Tacticus, Flavius Josephus en Plinius. Dit is hieruit duidelik dat die historisiteit van Jesus en sekere biografiese feite oor Hom nie bevraagteken kan word nie. Die groot vraag wat ons aan die Evangelies as primere historiese bronne moet vra is oor die manier waarop Jesus voorgestel word. Is Hy 'n leermeester, 'n profeet of is daar getuienis dat Jesus meer as dit is? Hieroor is die Evangelies duidelik - Jesus is die Seun van God! Aangesien hierdie hoofstuk van beperkte omvang is kan ek hier maar net op van die belangrikstes verwysings hierna in die Evangelies kyk.
Die mees ondubbelsinnige uitspraak van Jesus self oor Sy identiteit vind ons in die gedeelte oor Sy verhoor (Markus 14:61-64) waar die hoëpriester Hom direk uitdaag oor of Hy die Seun van God is. Jesus se antwoord is: Dit is soos U sê (Letterlik vertaal). Hierop skeur die hoëpriester sy klere. Volgens Joodse wette is die hoëpriester verbied om sy klere te skeur in reaksie op sy persoonlike probleme[2]. Hy was egter verplig om dit te doen indien daar godslastering in sy teenwoordigheid geuiter is. Die hoëpriester was dus oortuig dat Jesus in sy teenwoordigheid Homself aan God gelykgestel het. Hy verklaar dan ook dat geen verdere verhoor nodig is nie aangesien Jesus as't ware Homself reeds as 'skuldig' bewys het. Onthou dat die kwessie in Jesus se verhoor nie is wat Hy gedoen het nie, maar Sy identiteit. Op grond van Sy eie uitsprake wat hierdie identiteit betref word Hy dan ook veroordeel.
Hoewel dit dwarsdeur die Bybel duidelik is dat aanbidding slegs vir God gereserveer is (Eksodus 20:3, Matteus 4;10, Lukas 4:8) sien ons baie gereeld in die Evangelies dat mense na Jesus toe kom en in aanbidding voor Hom neerval (Matteus 8:2, Johannes 9:35-39, Johannes 20:27-29). Jesus bestraf nie hierdie mense, of stuur hulle weg nie, maar aanvaar telkens hulle aanbidding.
Skeptici sou baie maklik die beswaar kan inbring dat hospitale vol is van mense wat daarop aanspraak dat hulle God is. Hierop wil ek vra: "Hoeveel ander mense stem saam?" Onthou weer eens dat die volgelinge van Jesus 100% oortuig was van Sy identiteit, soveel so dat hulle bereid was om vir Hom te sterf. Dit is nie net Jesus self wat sekere aansprake oor Sy identiteit maak nie. Dit is duidelik dat sekere ander mense ook in Jesus iemand raakgesien het wat baie meer as 'n mens was. Luister bietjie na van die uitsprake wat van die eerste gelowiges oor Jesus maak: Paulus "...Jesus Christus is die Here!" (Filippense 2:9-11) "Ons groot God en Verlosser" (Titus 2:13); Petrus: "U is die Christus die Seun van die lewende God" (Matteus 16:15-17); 'Ongelowige' Thomas: "My Here en my God!" (Johannes 20:28); en Stefanus "Here Jesus in U hande gee ek my gees oor" (Handelinge 7:59).
Benewens die uitsprake van Jesus sien ons baie duidelik uit soveel ander aspekte dat Hy veel meer as 'n mens is. 'n Paar voorbeelde hiervan is:
As ons daarom moet oordeel oor die lewe van Jesus en ons dit aan die hand van die Evangelies wil doen kan ons nie anders as om te erken dat hierdie geskrifte vir Jesus teken as baie meer as net nog 'n leermeester of profeet nie. Kom ons gaan kyk daarom na elkeen van die antwoorde op die vrae oor Jesus se identiteit, en besluit of dit met die getuienis van die Evangelies strook.
Jesus was net 'n leermeester - CS Lewis[4] het uitgewys dat iemand wat net 'n mens was en die tipe dinge geleer het wat Jesus geleer het nie 'n groot leermeester sou wees nie. So 'n persoon sou of van sy kop af wees of 'n duiwel wees! As iemand net 'n mens is en die tipe aansprake maak wat Jesus maak, beteken dit dat hy beloftes maak wat hy nie instaat is om na te kom nie en dat hy mense van die regte pad weglei! Nie iets wat van 'n groot leermeester verwag word nie! Jesus was net 'n profeet - Ons het baie duidelik gesien dat Jesus Homself voorstel as baie meer as net nog een van God se boodskappers. Hy gebruik nie die profetiese formule nie, maar sê eerder: "Ek se vir julle!" Verder het geen ander profeet nog daarop aanspraak gemaak dat mense na Hom kan kyk en God kan sien nie, en het geen profeet het homself ooit voorgestel as die oplossing vir die mens se geestelike soeke nie. Jesus is een van baie gode - Dit is duidelik dat persone wat hierdie standpunte huldig groot dele van dit wat in die Evangelies oor Jesus geleer word by die deur moet uitgooi of ignoreer. Soos gesien gebruik Jesus die Naam en titels van God. Hy laat dit egter nie oop asof daar ander is wat hierop kan aanspraak maak nie. Inteendeel, Hy stel dit baie duidelik dat Hy die eksklusiewe Weg na versoening met God is (Johannes 14:6). As ons daarom die getuienis van die Evangelies aanvaar (en daar is goeie rede om dit te doen) kan ons nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat hulle oorweldigend bevestig dat Jesus die Seun van God en self God is nie. Iemand wat tot 'n ander gevolgtrekking wil kom sal groot gedeeltes moet ignoreer of as onbetroubaar moet beskou (en dan ook moet verduidelik hoekom hy of sy dit doen). As Jesus dan wel die Seun van God is, is daar 'n paar baie belangrike implikasies. Ons sal in die eerste plek die verlossing wat Hy bewerkstellig het moet aanvaar. Ons sal ook moet aanvaar dat Hy werklik Here is, en ons lewens in gehoorsaamheid voor Hom moet neerlê. Laastens sal ons wat aan hierdie oortuiging vashou met die boodskap van Jesus Christus se heerskap en verlossing na 'n ongelowige wêreld toe moet gaan. Mag Hy self vir ons instaat stel om dit te doen.
Groothuis, D 1996 Jesus in an age of controversy Kingsway; Eastbourne Stott, J. 1986 Basic Christianity Grand Rapids; Eerdmans Wilkins, MJ and Moreland JP (eds.) 1995 Jesus under fire Grand Rapids, Zondervan Witherrington, B. 1990 The Christology of Jesus Fortress, Minneapolis
Het jy iets om te sê? Wil jy graag kommentaar lewer? Doen dit gerus hier!