deur Udo Karsten
DAAR’S WAARSKYNLIK GEEN GOD NIE. SO HOU OP KWEL EN GENIET JOU LEWE.
Hierdie woorde pryk tydens hierdie skrywe in groot gekleurde letters op sommige busse in London en omgewing. Nogal ‘n vreemde manier om Britte te probeer opbeur wat op grou wintersdae van publieke vervoer gebruik maak. Of miskien het Britte oor die algemeen nogal waardering vir ongevraagde advies...op die kant van ‘n bus.
Of dit woorde van wysheid is wat iemand se lewe gaan ophelder is te betwyfel. Dat dit bedoel is as ateïstiese evangelisasie word met verbete beslissing erken.
Ariane Sherine, ‘n organiseerder van die veldtog vir die plaas van hierdie slagspreuk op busse, het verduidelik dat dit hoog tyd is dat godsdienstige reklame op busse afdoende teenspraak kry. Soos byvoorbeeld al die advertensies vir die Alpha-kursus. Want word arme beïnvloedbare kursusgangers dan nie uit die hel en in die hemel in geskrik met dreigemente van ‘n ewige verdoemenis wat wag vir diegene wat nie in Jesus glo nie? Sherine verduidelik:
“Ek het gedink dit sal ‘n baie positiewe ding wees om dit teë te spreek deur ‘n vroliker en goedgeluimde advertensie daar te stel wat sê: ‘Moenie bekommer nie, jy gaan nie hel toe nie’.”
Die verondersteling is dat ateïsme ‘n bevrydende alternatief bied vir die onbevraagde dogma van godsdiens. Soos Richard Dawkins op sy webwerf sê:
“Hierdie veldtog om alternatiewe slagspreuke op Londense busse te sit sal mense laat dink – en om te dink is verbode vir godsdiens.”
Dit verg ook net soveel karikature voordat ‘n mens begin wonder oor ateïste soos Sherine en Dawkins: dink hulle werklik, met sulke oningeligte, indien nie moedswillige opmerkings nie, dat ‘n mens hulle ernstig kan opneem? Hulle gee waarskynlik nie ‘n snars om nie, maar dit maak ‘n mens des te meer suspisieus dat hier eintlik vir hulle ‘n dieper sentiment skuil hou: daar is waarskynlik geen God nie, en as daar was, sou dit nodig wees om van hom ontslae te raak.
Sommige ateïste probeer ‘n toonbeeld van “redelikheid” voorhou, maar gee hulleself dan heeltemal weg met die onsin wat hulle kwytraak. Maar nou ja, ‘n idee word nie weerlê deur te wys op die tekortkominge of vooroordele van die persone wat daarin glo nie. Laat die idee eerder op die keper te beskou word om te sien watter waarheid, indien enige, daarin te vinde is.
So, is dit werklik so dat daar waarskynlik geen God is nie?
Die Waarskynlike God
Mense wat bekend is met fundamentalistiese ateïste soos Richard Dawkins behoort te weet dat hulle die woord ‘waarskynlik’ in die slagspreuk eintlik heeltemal onnodig vind. Wat ondersteuners van ‘n stelling soos, “daar’s waarskynlik geen God nie” egter eintlik wil sê, is dat God se nie-bestaan deur die wetenskap beslis is. Vra maar gerus die gemiddelde ateïs waarom hy dink God waarskynlik nie bestaan nie. Die gemiddelde antwoord is dat daar geen wetenskaplike bewyse vir God is nie. Dit laat ‘n mens dink aan die eerste ruimtevaarder, Yuri Gagarin, wat terwyl hy in wenteling om die aarde was, na bewering gesê het:
“Ek sien geen God hier nie.”
Die Russies-gebore Gagarin kan miskien nog vir sy onkunde verskoon word. Die manier waarop ‘n persoon homself onlangs egter soos volg weerspreek het, is veelseggend:
“Wetenskaplikes weet baie goed dat jy nie ‘n negatief kan BEWYS nie [bv. dat God nie bestaan nie]. En ateïsme is gebaseer op die wetenskap.”
So presies hoe bereken ‘n mens die waarskynlikheid van God se bestaan?
Soos aangedui dink baie ateïste dat slegs die wetenskap in so ‘n berekening ingespan kan word. Maar ‘n bietjie nadenke wys hoe kortsigtig so ‘n aanname werklik is. As ‘n moontlike God per definisie nie ‘n materiële ding is wat in fisiese terme beskryf kan word nie, dan moet ‘n mens mos ‘n oog in die seil hou. Hoe wil ‘n mens, toegerus met net die wetenskaplike werkswyse – ‘n werkswyse wat daarop aanspraak maak om slegs fisiese dinge en materiele prosesse te ondersoek – dan enige verklaring maak oor die waarskynlikheid van God se bestaan? Dit sal mos wees soos om met ‘n wiskundige vergelyking te probeer bewys dat Martin Luther geleef het.
Die wetenskap, beperk tot materiële beskrywings, is onbekwaam om voortou te neem in dogmatiese uitsprake oor God. Maar ook is die gedagte dat slegs die wetenskap ‘n mens sekerheid kan gee oor wat werklik waar is, eenvoudig vals. (‘n Mens kan effe ondeund wonder watter wetenskaplike ontdekking in die eerste plek tot so ‘n waarheid gelei het.) Die wetenskaplike werkswyse self is ‘n bewys van hoe tentatief wetenskaplike kennis opsigself dikwels is. Wetenskaplike vooruitgang floreer in ‘n omgewing waar teorieë meeding om mekaar te verbeter of te vervang. So neig die wetenskap wel voortdurend tot al groter sekerheid oor diemateriële(!) wêreld. Dis egter hieruit duidelik dat ‘n mens moet waak teen absolute uitsprake oor algehele realiteit gebaseer op iets so veranderliks soos “wetenskaplike sekerheid”.
Hoeveel sin maak dit in elk geval om te praat van God se waarskynlike bestaan?
Presies wat is die waarskynlikheid dat God nie bestaan nie? Dalk is dit 99%. Dit kan egter net sowel 51% wees. En die verskil tussen 99% en 51% kan nogal ‘n verskil maak. Iemand wat 99% seker is dat die water in die rivier veilig is om te drink, sal baie redelik wees om dit te doen. Maar nie iemand wat 51% seker is nie, al is hy meer seker as wat hy nie is nie.
Maar hoe weet ons dan of God bestaan of nie?
Die Moontlike God
Die logiese beginpunt om oor God se bestaan na te dink is nie waarskynlikheid nie, maar moontlikheid. As God se bestaan nie moontlik is nie, dan kan dit ook nie waarskynlik wees nie. Daar is egter ‘n saak daarvoor uit te maak dat as God se bestaan wel moontlik is, dan is sy bestaan nie net ‘n waarskynlikheid al dan nie, maar ‘n noodsaaklikheid. Of effe anders gestel: As dit moontlik is vir ‘n wese om te bestaan op ‘n manier wat dit beteken om as God te bestaan (bv. ongeskape, ewig, ens.), dan volg dit dat so ‘n wese, naamlik God, nie anders kan as om te bestaan nie.
Die doel is nie hier om die kompleksiteit en logika van bogenoemde argument, wat briljante filosowe al vir eeue besig hou, uiteen te sit of die meriete daarvan te oorweeg nie. Die belangrike punt hier oor die moontlikheid van God se bestaan, is bloot dit: as dit moontlik is dat God bestaan en as hy in werklikheid wel bestaan, dan is dit ook moontlik dat ons iets van hom kan weet.
Hier is die essensiële verskil in mense se benadering tot die saak. Sommige mense bespiegel oor die waarskynlikheid van God se bestaan, gebaseer op die gebrek aan empiriese data. Ander dink dis redelik om te begin by die moontlikheid dat ons iets van God kan weet, indien hy wel sou bestaan, selfs al kan ons hom per definisie nie onderwerp aan ons wetenskaplike instrumente nie. In die eerste benadering is daar ‘n deurdringende en twyfelsugtige vooroordeel te bespeur. In die tweede benadering is daar groter ontvanklikheid vir wat werklik die geval mag wees. ‘n Mens hoef nie diep te wonder oor watter houding meer redelik is nie.
Die belangrike vraag blyk dus te wees: Kan ons iets van ‘n moontlike God weet? Of meer spesifiek nog: As daar ‘n God is wat bestaan, is dit moontlik dat hy homself bekend gemaak het?
Is daar enige getuienis van dinge wat iets oor ‘n moontlike God kon sê of enige aanduidings van ‘n God wat homself bekend gemaak het? Beskou die volgende verkorte lys:
- Daar bestaan iets eerder as niks.
- Die heelal (tyd en ruimte) het ‘n begin gehad.
- Die heelal is ‘n voorbeeld van komplekse en fyngevoelige ordelikheid en die rede vir waarom komplekse en self-bewuste wesens soos mense kan bestaan.
- Die bestaan van universele morele waardes, dinge wat reg en verkeerd is vir alle mense vir alle tye en op alle plekke.
- Daar het ‘n mens geleef wat daarop aanspraak gemaak het om in sy persoon ‘n bekendmaking van God te wees en sy woorde en dade het dit ondersteun.
- Daardie selfde mens het volgens betroubare bronne uit die dood opgestaan om sy aansprake op Godheid te bevestig (hy leef dus steeds) en voorspellings oor hom is sodoende vervul.
- Daar is getuienis van mense regdeur die geskiedenis van hul lewende verhouding met God.
Let op hoe weinig van die moontlike besware op bogenoemde stellings, op wetenskaplike gronde gedoen kan word. Daar is stellings met filosofiese, historiese of eksperiënsiële onderbou, maar dit is slegs stellings 2 en 3 wat betrekking het op direkte, wetenskapsgebaseerde data. Ironies dat dit juis hierdie twee stellings is wat die minste betwis word, selfs al dink ateïste nie dat dit op God se bestaan dui nie. Die vraag is egter of ‘n wetenskaplike verduideliking werklik die beste verklaring is vir hoekom stellings 2 en 3 waar is. Is dit byvoorbeeld wetenskaplik om te sê dat die begin van ‘n materiële heelal (die begin van tyd en alle materie) voorafgegaan is deur ‘n materiele oorsaak? Of dat die ordelike en fyngevoelige eienskappe van die heelal, wat menslike lewe moontlik gemaak het, bloot toevallig so is?
Elkeen van bogenoemde stellings (waarvoor volledige argumentasie elders gevind kan word) word natuurlik deur die ateïs betwis as aanduiders vir God se bestaan. Die stellings word met teen-argumente, op allerlei maniere, as onbeduidend afgemaak. Die implikasie van die data of die data self word ontken. Die feit dat dit so betwis word is egter nie ‘n aanduiding dat dit nie op God se bestaan dui nie. Dis nie eers ‘n aanduiding dat alternatiewe verklarings meer redelik is nie. Daar is argumente teen die teen-argumente. En natuurlik weer teen-argumente teen die argumente teen die teen-argumente. En so hou die intellektuele wipplank-ryery, al is dit hoe stimulerend, nooit op nie.
Uit laasgenoemde is die volgende duidelik: data en argumente, wat beslis baie belangrik is vir intellektuele integriteit (en ‘n doodskoot vir die Vlieënde Spaghetti-monster, die Tandmuis en Vader Krismis), gaan niemand forseer om in God se bestaan te glo as hy wel bestaan nie. Om egter te argumenteer dat God daarom nie bestaan nie, of waarskynlik nie bestaan nie, is ‘n ongeoorloofde denksprong.
Die Verskanste God
Baie mense wonder egter spesifiek oor hierdie verskanste of dubbelsinnige aard van potensiële kennis oor God of sy openbaring van homself. As God bestaan, en as hy wil hê dat mense van hom moet weet, hoekom gee Hy nie duideliker, onbetwisbare bewyse vir sy bestaan nie?
As ‘n moontlike God terselfdertyd ook ‘n persoonlike en liefdevolle wese is, dan is dit redelik om te dink dat so ‘n God eerder daarin belangstel dat mense ‘n verhouding met hom sal hê, as dat hulle bloot van hom weet. Dink so daaraan: Sou jy tevrede wees met ‘n situasie waar iemand net wil weet hoe ryk jy is, wie jou vriende is en waar jy bly, maar nie andersins belangstel in wie jy is op ‘n persoonlike vlak nie?
Dubbelsinnigheid hoef nie gesien te word as ‘n struikelblok om God persoonlik te leer ken nie, maar eerder as ‘n filter om die nuuskieriges, uit te sif. Vir die persoon wat werklik begeer na ‘n verhouding met ‘n moontlike God, is daar genoeg aanduidings dat hy werklik bestaan sodat hy/sy intellektueel geregverdig sal wees om verder te soek na ‘n verhouding met God. Maar vir die persoon wat nie werklik in God as persoon belangstel nie, is daar nooit genoeg bewyse nie, juis omdat hy/sy nie werklik belangstel in wie God as persoon is nie, maar bloot sy/haar intellektuele nuuskierigheid wil bevredig.
Hoe produktief sal onbetwisbare bewyse vir God se bestaan in elk geval wees as God se belangrikste doel is om ongedwonge wedersydse verhoudings met mense te bewerkstellig? Het enigiemand ‘n idee van watter effek onbetwisbare bewyse van so ‘n wese op mense sal hê? Sal dit noodwendig bydra dat almal dan gevoelens van liefde en bewondering vir God gaan koester? Of sal daar onvermydelik ook gevoelens van verpligtingen wrewel ontstaan teenoor ‘n Almagtige en Heilige God waarmee mense gekonfronteer word, maar waarin sommige nie persoonlik belangstel nie?
God kan niemand deur mag of gesag dwing om hom te lief te hê nie. Nie eers deur onbetwisbare bewyse nie. (Gedwonge liefde is ‘n selfweerspreking en nie ‘n tekortkoming van God nie.) Daar is dus geen rede om te dink dat daar enigiets meer vermag kan word in die totstandkoming van vrywillige verhoudings as wat op verskanste en dubbelsinnige wyses gedoen kan word nie. Inteendeel, dit spreek eerder van besonderse wysheid.
Dis duidelik dat baie mense ‘n spesifieke wanvoorstelling het van ‘n moontlike God. Hulle dink skynbaar dat as God bestaan, hy met die doel bestaan om van geweet te word: net nog ‘n interessante fenomeen in ‘n wêreld vol interessante fenomene. Wie egter erns maak met ‘n moontlike God wat homself ook moontlik geopenbaar het, kom gou agter dat so ‘n God ‘n persoonlike wese moet wees. So ‘n God wil hê dat mense hom leer ken en nie net van hom weet nie. Die dinamiek van om enigiemand te leer ken, kan egter nie beskryf word in terme van data-analise of deduktiewe argumentering nie.
‘n Mens moet die ateïste toegee: ‘n waarskynlike God is ‘n steriele en impotente god van wie ‘n mens eintlik niks kan weet nie. Dis slegs die moontlike God wat enige hoop het om die werklike God te wees. Die moontlike God word die werklike God wanneer mense hom graag wil leer ken. En om hom te leer ken, is vertroue die belangrike eerste stap. Dis beslis ‘n geloofstap, maar dis nie ‘n blinde sprong in die donker waarvoor daar geen aanduidings is van waarheid, soos wat ateïste met slagspreuke op busse die wêreld wil laat glo nie.
Die Kosmiese Pretbederwer
Daar is veel te sê oor ‘n ateïstiese modus operandi om doelbewus van God ontslae te wil raak. In die ateïstiese gemoed is dit seker soos om ontslae te wil wees van iemand wat jou irriteer omdat hulle jou in ‘n boksie wil druk of bloot jou pret bederf.
God word dikwels geskets as die Kosmiese Pretbederwer: ‘n God wat heeltyd voorskryf met arbitrêre reëls oor wat mag en nie mag nie. En wie kan dan nou sy lewe geniet as hy nie vry is om te doen wat hy wil doen, wanneer hy dit wil doen en waar hy dit wil doen nie? Dis ‘n sadistiese God wat mense in lyn probeer hou deur hulle vir die geringste misstap met die mees afskuwelike pyn te dreig. Wie wil in elk geval in ‘n God glo wat jou in die diepste hel gaan smyt, bloot omdat jy nie genoeg bewyse gehad het om in sy bestaan te kan glo nie. Om nie eers te praat van al die verskriklikste goed wat deur godsdienstige mense in die naam van God gepleeg word nie.
Nee-wat, dink sommige mense, daar’s waarskynlik geen God nie en dis beter vir sy reputasie dat hy eerder nie bestaan nie!
Nog ‘n belanghebbende by die ateïstiese advertensie-veldtog, Hanne Stinson, sê die volgende oor die doel van die slagspreuk op busse:
“Dit is ontwerp om mense die versekering te gee dat dit okay is om nie godsdienstig te wees nie. Mense kan gelukkige, genotvolle en vrugdraende lewens lei sonder godsdiens.”
Geïnstitusionaliseerde Pretbederwery is die idee wat baie nie-godsdienstige mense van ‘godsdiens’ het. Dis ‘n indruk wat hulle dikwels juis by godsdienstige mense kry. Dit gebeur waarskynlik omdat baie godsdienstige mense hoofsaaklik aan God dink as iemand wat sekere reëls neerlê sodat mense dit kan nakom. Indien jy die reëls nakom, word God tevrede gestel en verdien jy sy guns. Indien jy nie die reëls nakom nie, moet jy straf te wagte wees, wat jou hopelik tot insig sal bring. So ‘n verstaan van godsdiens is ‘n eenvoudige en praktiese sisteem wat baie mense se gedrag al vir eeue lank effektief reël.
Mense wat volgens so ‘n sisteem ‘n godsdienstige lewe probeer lei, voel dikwels selftevrede. Dis egter onwaarskynlik dat so ‘n loon-gerigte verstaan van hoe godsdiens werk, werklik ‘n “gelukkige, genotvolle of vrugdraende” lewe veronderstel. Beloning en straf is dalk goeie opvoedkundige strategieë om kinders se gedrag by tye te probeer reguleer. Dis egter nie die primêre wyse waarvolgens kinders in selfgemotiveerde en gelukkige volwassenes ontwikkel nie.
Maar dit beteken nie Stinson is reg nie. Dit beteken bloot dat godsdiens in sommige gevalle meer sê oor hoe mense optree en hoekom hulle so doen, as wat dit werklike begrip toon vir wie die werklike God is in wie se naam hulle so optree. ‘n Godsdiens wat nie werklik belangstel in die ware betekenis van woorde soos ‘God’ en ‘diens’ nie, is besonder kwesbaar vir misbruike en vergrype.
Die Werklike God
Dit is dus belangrik om te probeer verstaan wie die God wat moontlik bestaan, werklik is. Daarom ook dat dit so belangrik is om erns te maak met die moontlike bekendmaking van so ‘n God (selfs al is dit moeilik om deur al die verskillende aansprake tot so ‘n openbaring te sif).
Is God nie miskien ‘n persoonlike wese wat ‘n verhouding met mense begeer nie? Is dit nie dalk ‘n God wat ‘n onpeilbare opoffering gemaak het om so ‘n verhouding moontlik te maak nie? Is dit nie dalk ‘n God wat iets soos die volgende sou sê nie:
- “Ek is hier om vir julle die kans te gee om altyd by God te wees. By Hom sal julle die lewe voluit kan geniet.” (Johannes 10:10, Die Boodskap)
- “Leef elke oomblik van die dag in afhanklikheid van My. Ek sal dan elke oomblik by julle ook wees! So sal julle vir God ‘n vrugbare lewe kan lei.” (Johannes 15:5, Die Boodskap)
- “Weet julle hoekom sê Ek al hierdie dinge vir julle? Ek wil hê julle moet dieselfde vreugde en genot hê as Ek. Daar moet geen einde aan wees nie.” (Johannes 15:11, Die Boodskap)
Dit klink nogal soos verwysings na die “gelukkige, genotvolle en vrugdraende” lewe waarvan Stinson praat. Die verskil is dat dit binne die konteks van ‘n verhouding met God genoem word. (Kan iemand ‘n gelukkige, genotvolle, ‘n vrugdraende lewe beleef sonder dat hulle aan God ag slaan? Ja, hulle kan. Dis net dat sulke begrippe einde ten laaste hol en betekenisloos is sonder ‘n vaste en fundamentele verwysingspunt soos God.)
‘n God wat homself geopenbaar het soos wat sopas beskryf is, kan beswaarlik vereenselwig word met iets soos die Kosmiese Pretbederwer. Skynbaar is die werklike God ingestel op die belangrikheid van verhoudings, eerder as reëls. Dit help niemand om strooipoppe aan die brand te steek en dan te dink dat so ‘n God op sy plek gesit is nie. Maar selfs al word dit gedoen, omdat mense nie belangstel in ‘n verhoudingswese soos God nie, dan word hulle keuses gerespekteer. Soos reeds genoem, kan niemand gedwing word om iemand anders lief te hê nie.
Daarom help dit nie om die vyfduimse verskoning te probeer gebruik dat ‘n God wat iemand hel toe stuur, nie waardig is om in te glo nie.
Eerstens is geloof in ‘n persoonlike God niks minder as ‘n verhouding met hom nie; dis nie – soos ook reeds verduidelik – om bloot van hom te weet nie.
Tweedens kry die hel slegs ware betekenis in ‘n verhoudingskonteks. Wie nie ‘n verhouding met God begeer nie, begeer op die ou end ‘n plek waar hulle werklik vry is van God. So ‘n plek word die hel genoem, hoe dit ookal mag wees om daar te wees.
Derdens word niemand dus hel toe gestuur nie, selfs al begeer niemand om spesifiek daar te wees nie. Maar die enigste alternatief, die idee van ‘n verhouding met God, is skynbaar vir sommige mense ‘n groter afgryse. In teenstelling met al die kwaadwillige karikature, begeer selfs die werklike God nie dat enigiemand in die hel moet wees nie.
Die ateïs neem ‘n moontlike God kwalik dat daar hoegenaamd iets so onverbiddelik soos die hel mag bestaan. Maar ‘n waarskuwing oor ‘n realiteit soos die hel, dien hoofsaaklik as versoberende toeligting en is ‘n bewys van hoe God mense se verborge begeertes eerbiedig. Hoe kan God in elk geval moreel aanspreeklik gehou word as hy mense waarsku teen die hel en dan nog terselfdertyd verduidelik hoe vermybaar dit is. Dis soos om iemand kwalik te neem omdat jy in ‘n gat geval het, nadat hy vir jou gesê het dat daar ‘n gat is én waar daar ‘n ander pad is sonder gate!
Baie mense se nekhare rys wanneer hulle gemanipuleer voel deur verdoemende vermanings oor ‘n ewige hel. Hulle is natuurlik dikwels geregverdig om verontreg te voel as hulle met oningeligte en onverstandige individue gekonfronteer word. Niemand word hemel toe geskrik deur hard, aanhoudend en vingerwysend “HEL! HEL!” te skree nie. Verwysings na die hel neem dikwels nie die Goddelike verhoudingskonteks in ag nie. Godsdienstige mense wat hieraan skuldig is, pleeg onverantwoordelike misbruik. Nie-godsdienstige mense wat dit doen, hou hulle besig met onverskoonbare karikature.
Om iemand egter met raad op die skouer te klop en te sê, “Moet jou nie bekommer nie, jy gaan nie hel toe nie,” is soos om haar te verseker dat deur jou oë baie styf toe te knyp, niemand jou kan raaksien nie.
Die God Wat Vrae Verwelkom
Een ding is duidelik: Dit maak ‘n verskil of daar ‘n God is wat bestaan of nie. Nie omdat sulke kennis intellektuele nuuskierigheid bevredig nie, maar omdat ‘n werklike God werklike betekenis en hoop kan meebring. Soos iemand gesê het:
“Dis wanneer ons God leer ken dat ons rasionele dinge oor ons ervaring van Hom kan sê, van hoe hy ons lewens raak, ons morele perspektief, ons keuses en ons beeld van die wêreld.”
Selfs al word sy waarskynlike bestaan ontken, is daar implikasies met sy moontlike bestaan. Selfs al wil niemand daarvan weet nie. Daarom is daar, ironies genoeg, baie waarde in selfs ‘n ateïstiese slagspreuk op busse. Soos Paul Woolley oor die advertensie-veldtog sê:
“Ons dink die veldtog is ‘n wonderlike manier om mense te kry om oor God na te dink.”
Jenny Ellis, ‘n predikant in die Metodiste Kerk in Engeland, stem saam:
“Ons verwelkom die ateïstiese bus-veldtog as ‘n geleentheid om oor die diepste vrae van die lewe te gesels.”
Inderdaad. God word noodwendig op die voorgrond geplaas waar hy baie aandag kry. Mense gaan noodwendig begin vrae vra oor wat bedoel word met iets soos, “hou op kwel”. Of wat dit werklik beteken om jou lewe te geniet. Of hoekom iemand moet glo dat God waarskynlik nie bestaan nie. Is dit nie ten minste moontlik dat hy bestaan nie? En as dit so is, bestaan hy nie dalk werklik nie? En as hy werklik bestaan, is dit nie dalk moontlik om hom te leer ken nie?
Al sulke vrae is geleenthede vir mense, godsdienstig en nie-godsdienstig, om aktief oor God na te dink. Selfs al het hulle nog nooit oor hom gedink nie. Hoekom dink, dat die vra van vrae, mense skielik van ateïsme gaan oortuig? Inteendeel, dit kan mense eerder nader bring aan ‘n werklike God omdat daar geleentheid is om ingelig te word. Soos Ellis verduidelik:
“Die God wat baie ateïste verwerp het, is nie die God wat ons herken nie en hierdie veldtog maak dialoog tussen Christene en ateïste moontlik waar hierdie tipe wanpersepsies uitgedaag kan word.”
Iemand soos Richard Dawkins is besig om homself om die bos te lei (‘n mens noem dit ‘n ‘delusie’). Dis nie verbode vir godsdiens om te dink nie. Inteendeel, dis essensieel. Veral die Christelike geloof is vir mense wat nie bang is om oor die lewe te dink nie. Jesus het sy volgelinge spesifiek geroep om God ook met hul verstand lief te hê.
***
There is a gap between the probable and the proved. How was I to cross it? If I were to stake my whole life on the risen Christ, I wanted proof. I wanted certainty. I wanted to see him eat a bit of fish. I wanted letters of fire across the sky. I got none of these. And I continued to hang about the edge of the gap… It was a question of whether I was to accept him – or reject. My God! There was a gap behind me as well. Perhaps the leap to acceptance was a horrifying gamble – but what of the leap to rejection? There might be no certainty that Christ was God – but, by God, there was no certainty that he was not. This was not to be borne. I could not reject Jesus. There was only one thing to do once I had seen the gap behind me. I turned away from it, and flung myself over the gap towards Jesus.
– Sheldon Vanauken