Blaise Pascal en die vraag na God se bestaan

The heart has its reasons which reason does not know - Blaise Pascal (1623 -1662) So 'n ruk gelede, in een van daardie reflektiewe oomblikke wat van ons almal die een of ander tyd leunstoel-filosowe maak, wonder ek weer oor die volgende: In watse soort wêreld leef ons? Waaruit bestaan die werklikheid? Wat is werklik en wat is eintlik net verbeelding en wensdenkery? Klink na die tipe vrae waaroor professionele denkers al eeue lank worstel, mag iemand tereg opmerk. Die vrug van sulke gedagtestruwelinge sal ons seker in dik stowwerige leerbeslaande boeke, so verbeel ek my, kan gaan naslaan.

The heart has its reasons which reason does not know - Blaise Pascal (1623 -1662) So 'n ruk gelede, in een van daardie reflektiewe oomblikke wat van ons almal die een of ander tyd leunstoel-filosowe maak, wonder ek weer oor die volgende: In watse soort wêreld leef ons? Waaruit bestaan die werklikheid? Wat is werklik en wat is eintlik net verbeelding en wensdenkery? Klink na die tipe vrae waaroor professionele denkers al eeue lank worstel, mag iemand tereg opmerk. Die vrug van sulke gedagtestruwelinge sal ons seker in dik stowwerige leerbeslaande boeke, so verbeel ek my, kan gaan naslaan. Daar is waarskynlik veel wysheid (of dan ten minste goed geargumenteerde bespiegeling) te put uit wat al die wêreld se filosowe en teoloë al neergepen het. Tog is ek, 'n selferkende leek, redelik oortuig dat die opsie eintlik skaamteloos eenvoudig is: ons lewe in 'n werklikheid waar God bestaan, of waar God nie bestaan nie. Is dít nou die resultaat van my diepsinnige oomblik, mag jy wonder en effe in jou mou lag. Kom ek probeer verduidelik wat so 'n voor die hand liggende gedagte behels. Eers iets oor die gedagte self. Daar is diegene wat die opsie oor God se bestaan al dan nie, as 'n valse opsie afskryf. In hulle oï is God 'n nulliteit. Enersyds het die term "God" vir hulle geen verwysende betekenis nie en is daarom niksseggend. Of andersyds het God onbewysbare bestaansreg - min of meer gelyk aan die geloof in 'n onsigbare, pienk eenhoringperd anderkant Mars. Volgens hierdie siening is daar net 'n haalbare opsie: ons leef in 'n realiteit wat slegs bestaan uit dit wat ons met ons sintuie kan waarneem en met ons verstand kan begryp. Ek het simpatie met bogenoemde se epistemologiese verknorsing (m.a.w. hierdie gebrek aan kennis oor wie of wat God is, sowel as die aard van die werklikheid). Tog is dit so dat indien God in wese 'n nie-sintuiglik waarneembare entiteit is en ook nie volkome deur die menslike verstand geanaliseer kan word nie, dan is dit ten beste arrogant, maar eintlik bloot 'n foutiewe redenasie om te dink dat so 'n God, om daardie redes, dus nie bestaan nie. Laat ek hierdie gedagte herhaal. Die feit dat God se bestaan metodologies onbewysbaar is, is absoluut geen bewys dat hy nie bestaan nie. (My gebruik van die term "God" verwys deurgans na die selfopenbarende en drie-enige God wat in die Bybel geken word en wat onder andere juis bogenoemde eienskappe het.) Blaise Pascal was 'n sewentiende-eeuse wiskundige, wetenskaplike en Christen, en was sterk onder die indruk dat ons verstandelike vermo'ns hul perke het. Hy het geskryf: "Reason's last step is the recognition that there are an infinite number of things beyond it. It is merely feeble if it does not go as far as to realize that. If natural things are beyond it, what are we to say about supernatural things?"1 Die vraag, "Kan ons bewys dat God bestaan?" is misleidend. Die vraag is veel eerder: "Maak dit sin om in (die Bybelse) God te glo?" As ons God dan nie onder 'n mikroskoop kan plaas, met 'n teleskoop kan opspoor of met 'n kamera kan vaslê nie, maak dit enigsins sin om te glo dat Hy bestaan? Of anders gestel, is dit redelik om te glo ons leef in 'n werklikheid waarvan 'n nie-sintuiglik waarneembare entiteit, deel is? Dis belangrik om daarop te let dat indien so 'n God bestaan, ongeag of enigiemand in hom glo, dan is dit redelik om te dink dat ons in 'n werklikheid leef wat wesenlik sal verskil van 'n werklikheid waarvan God nie deel is nie. 'n Paar oomblikke se refleksie oor 'n werklikheid waarin God moontlik nie bestaan nie, illustreer die punt:

  • Watter antwoorde kan ons verwag in 'n werklikheid waarin God nie bestaan nie, op die vraag na waar alles vandaan kom? Was alles nog altyd daar? Het alles sonder rede uit die niet ontspring?
  • Watse waarde het die mens, as mens, in 'n Godlose realiteit? Is ons dan in essensie hoogs intelligente diere wat arbitrêre waarde toedig aan dinge, of diegene, wat ons voel ons selfhandhawende belange (oorlewing?) dien?
  • Hoe antwoord so 'n werklikheid die vraag na die hoogste doel van die mens se bestaan? Skep elkeen sy eie doel en hoop dit meng nie in met iemand anders s'n nie?
  • Waarvolgens besluit ons tussen reg en verkeerd in so 'n werklikheid? Is die demokratiese meerderheid reg? Of dit wat die meerderheid se belange dien? En waarom sou so 'n kriteria noodwendig ?ltyd reg wees of selfs hoegenaamd reg wees?
  • Is die Bybel se beskrywing van God se objektiewe betrokkenheid by die mens 'n historiese feit of 'n saamgeflanste komplot deurdrenk met verdigsels en misleiding?
  • Was Jesus wie hy gesê het hy was en wie ander gesê het hy was? Of het hy en al sy volgelinge mooi kluitjies gebak, of was hulle dalk selfs die kluts effe kwyt?

'n Besinning oor vrae soos bogenoemde het menige intelligente mense dwarsdeur die eeue tot die gevolgtrekking gelei dat dit inderdaad nie onredelik sou wees om te glo dat ons in 'n Godgeskape realiteit leef nie. Alhoewel intelligensie en getalle nie 'n bewys vir waarheid is nie, kan dit soms wel 'n aanduiding wees van wat redelik is. Maar hoekom word selfs sulke "redelikheid" heel dikwels heftig betwis? Terug na Blaise Pascal. Pascal het besef dat die mens meer is as net 'n redevoerende masjien. Die mens het ook gevestigde voorveronderstellings, meesleurende emosies, 'n eie wil en 'n aktiewe verbeelding. Vanuit 'n Bybelse perspektief is dit verder ook duidelik hoe sonde ons hele menswees ingrypend aangetas het. Neem al hierdie faktore in ag en jy besef dat "die rede" alleen dikwels eintlik maar 'n brose instrument is in die soeke na algehele objektiwiteit. Dit wil natuurlik nie sê dat die rede niksbeduidend of onbelangrik is nie. Allermins. Ek sal immers my rede moet gebruik om aan te voer dat die rede onbelangrik is - wat sou beteken dat so 'n stelling sélf bloot onbelangrik en niksbeduidend is! Die punt is dat die rede alleen dikwels onbekwaam is om selfs oor 'n saak soos "redelikheid" uitspraak te gee, wat nog te sê oor iets soos "waarheid". Pascal het nie die rede onbelangrik geag nie - hy was immers 'n wiskundige en wetenskaplike; hy het bloot besef dat die mens hom dikwels meer deur sy hartstog laat lei as deur sy rede. Wat staan my dan nou te doen as ek, met al die beperkte data tot my beskikking en met die besef van my subjektiewe neigings, gekonfronteer word met 'n stelling soos, "God bestaan of God bestaan nie?" Hoe moet ek besluit? In antwoord op hierdie vraag bied Blaise Pascal sy bekende weddenskap ("Pascal's Wager"). Voordat ons egter na die weddenskap self kyk, is dit nodig om te verstaan wat bedoel word met "geloof in God se bestaan". Om in God se bestaan te glo beteken baie meer as 'n koue, intellektuele aanvaarding dat God 'n ewigdurende, objektiewe en lewende entiteit is wat verantwoordelik is vir die oorsprong van die heelal. So 'n geloof is ten beste 'n vorm van belangelose deïsme, die geloof dat een of ander Goddelike wese die heelal geskep het as selfhandhawende geheel, en toe onttrek het sonder om enigsins weer op enige manier daarby betrokke te wees. Die Bybel se God staan in merkbare kontras met so 'n deïstiese Skepper. God word in die Bybel geopenbaar as 'n persoonlike Skepper wat spesifiek en intens geïnteresseerd is in die mens wat Hy na Sy eie beeld geskape het. Die betrokkenheid van God by die mens (die mens as wese met 'n vrye wil), word verder beskryf in terme van 'n verhouding. 'n Mens leer egter uit die Bybel dat die mens 'n algehele breuk in hierdie verhouding veroorsaak het deur te kies om nie die grense van daardie verhouding te respekteer nie. So kies die mens self 'n soort lewe op aarde, sowel as 'n soort bestaan vir sy lewe op aarde (die hel), waarvan hy nie wil hê God moet deel wees nie. Selfs al sou die mens wíl is dit totaal buite die mens se vermoï om sélf weer daardie verhoudingsbreuk tussen hom en God te probeer herstel. God is bewus van die mens se dilemma, want die feit is dat die mens homself bestem het vir 'n dood waaruit hy nie kan ontsnap nie. Maar dan doen God die ondenklike. Hy, die God van onpeilbare liefde, vergewe die mens wat eintlik niks met Hom te doen wil hê nie. Die ondenklike lê egter nie hoofsaaklik daarin dat Hy die mens, wat Hom verwerp het (en waarvan baie Hom steeds sal verwerp) weer nooi tot 'n verhouding met Hom nie. Nee, hoe ondenklik laasgenoemde ook al is, die ondenklike lê veral in die feit dat Sy vergifnis slegs bewerkstellig kon word deurdat Hyself die vorm van 'n mens aanneem om Hy 'n vernederend dood te kan sterf. Dit was eintlik die mens wat die (ewige) dood verdien het vir sy sonde, sy verwerping van God. Maar dit is wat God se genade beteken. Hy sterf in ons plek en dan bied Hy ons Sy genade, 'n geskenk, as die enigste manier om weer 'n verhouding met Hom te kan hê. Ons hoef dit bloot in geloof te aanvaar. 'n Bybelse verstaan van geloof in God, beteken om daardie uitnodiging tot 'n verhouding tot God te aanvaar. Om geloof in God te hê, beteken dus om te glo dat Jesus se genadedaad so 'n verhouding moontlik maak. Dit is in hierdie konteks van "geloof in God se bestaan", dat Pascal sy weddenskap uiteensit. Pascal het verduidelik dat indien jy 'n waagkans neem dat God bestaan, dan is daar twee moontlike uitkomste. As Hy bestaan, dan wen jy die ewige lewe. As Hy nie bestaan nie, verloor jy niks nie. Maar, indien jy die waagkans neem dat God nie bestaan nie, is daar ook twee moontlike gevolge. As Hy dan nie bestaan nie, wen jy niks nie. Maar as Hy wel bestaan, dan verloor jy alles. Pascal sê verder dat die neem van die waagkans oor God se bestaan onvermydelik is. 'n Derde opsie - die keuse om nie te waag nie, is nie moontlik nie, want om nie te waag nie (om nie te kies vir of teen God se bestaan nie) is self 'n waagkans (want God bestaan of hy bestaan nie en dit het bepaalde gevolge, ongeag wat iemand glo). In effek is elke mens dus besig om op een van twee maniere te waag:

  1. As ek waag en kies om in God te glo...
  • ...en God bestaan, dan ervaar ek die vrug van 'n verhouding met God hier op aarde (wat nie 'n vrywaring van moeilike omstandighede beteken nie), sowel as in die lewe na die dood (die hemel: waar God se teenwoordigheid, sonder die belemmering van die bose se teenwoordigheid, volkome vervulling meebring).
  • ...en God nie bestaan nie, dan ervaar ek bloot die vrug van my misplaaste geloof, alhoewel daar geen rede is om te dink dat so 'n misplaaste geloof in die God van die Bybel enige negatiewe implikasie het vir myself of enige ander persoon nie.

 

  1. As ek waag en kies om nie in God te glo nie...
  • ...en God bestaan nie, dan ervaar ek die vrug van 'n werklikheid waarin God nie bestaan nie (waar my eie bestaan dan geen objektiewe betekenis het nie en waar ander se optredes dan skynbaar geen objektiewe morele implikasies het nie) en waar ek met my dood bloot sal ophou bestaan.
  • ...en God bestaan wel, dan ervaar ek waarskynlik die vrug van God se indirekte se'n omdat hy alles gemaak het en die gewer is van alles wat goed is (tensy ek natuurlik doelbewus daardie goed verwerp). Maar ook sal ek dan die vrug ervaar (omdat ek dit so gekies en gewaag het) van 'n bestaan sonder God na die dood (die hel: waar daar geen rede is om enige vorm van vervulling te verwag nie, aangesien God nie daar aktief teenwoordigheid is nie).

Sommige mense dink dat Pascal met sy weddenskap van mense vra om 'n totaal arbitrêre keuse te maak (m.a.w. sonder rede) vir die bestaan van God. Hulle is van mening dat die weddenskap eintlik bloot spruit uit 'n selfgerigte begeerte om ten beste maar net die moontlike voordele van die hemel te bekom (as daar miskien werklik so iets is) of om, ten ergste, bloot die nadele van 'n moontlike hel te ontduik (byna soos assuransie teen moontlike stormskade). So 'n eensydige interpretasie van Pascal se weddenskap is totaal misplaas. Natuurlik hoef dit geensins ontken te word nie dat die begeerte om die voordele van die hemel te bekom en die nadele van die hel te vermy, juis 'n baie legitieme en gesonde begeerte in enige Christen se lewe behoort te wees (inteendeel, dit sou vir enigiemand irrasioneel wees om anders te voel). Maar dit is slegs so omdat 'n verhouding met God uit genade, die sleutelbegrip uitmaak van 'n korrekte verstaan van wat geloof in God beteken. Slegs vanuit daardie kernverstaan kry begrippe soos die hemel en die hel hoegenaamd betekenis. Tweedens, soos reeds genoem, is dit in die lig van Pascal se twyfel oor waartoe die menslike rede in staat is en nie ten spyte van enige data of getuienis teen die bestaan van God nie, wat die raamwerk vorm waarbinne hy sy weddenskap formuleer. Die feit is dat Pascal baie bekwaam was in sy gebruik van historiese bewyse in sy eie verdediging van die Christelike geloof. Die waarde en fokus van Pascal se weddenskap lê veral daarin dat dit ons wil wakker skud uit ons vermydende gedrag en argelose gesindheid ten opsigte van die werklikheid waarin ons leef. God bestaan of hy bestaan nie en dis geen ligtelike saak nie. Ons behoort daarom glashelder duidelikheid te hê dat selfs al is ons ongeërg, is ons reeds verbind tot 'n spesifieke optrede, 'n spesifieke lewe met spesifieke gevolge. Sou dit nie daarom wys wees om 'n slag indringend te kyk na die koers van ons lewe en daadwerklik ondersoek instel na die bewuste of onbewuste keuse waarop so 'n lewe gegrond is nie? Is die keuse wat gemaak is 'n redelike keuse of sommer net 'n toestand van onverskoonbare onkunde? In die konteks van laasgenoemde vrae maak Pascal 'n insiggewend opmerking: "there are only two classes of persons who can be called reasonable: those who serve God with all their heart because they know him and those who seek him with all their heart because they do not know him."2 Tog staan dit enigiemand vry om te weier om in God te glo (of selfs eers na Hom te soek). Niemand word gedwing om die genade te aanvaar wat hom aangebied word nie. Iemand mag selfs dink dat so 'n weiering vir hom intellektueel die eerlike en redelike ding is om te doen. Maar dis slegs so omdat God nie 'n kosmiese despoot is wat almal dwing om in Hom te glo nie. God bestaan op 'n manier wat mense nie dwing om in sy bestaan te glo nie. Hy openbaar Homself nêrens só oorweldigend (selfs nie in Sy Seun, as mens op aarde nie) dat dit vir enigiemand onmoontlik sou wees om hom te weier nie. Dit blyk eerder waar te wees dat, "...there is enough light for those who desire only to see, and enough darkness for those of a contrary disposition."3God is nie net ge'nteresseerd in die verstand nie. Hy wil weet dat die hart en wil ook aan hom toegewy word. En waar die hart en wil se lojaliteite lê, word nie noodwendig deur die verstand bepaal nie. Maar wat van iemand wat sê dat hy graag wil glo maar nie weet hoe nie? Pascal was van mening dat almal wat die ingeligte kans neem om in God se bestaan te glo, 'n lewe van geloof op dieselfde manier begin: deur eenvoudig op te tree ásof hulle glo. Richard Creel sê in hierdie verband: "It would not be irrational for me to continue to search a lake and its environs for a child that I concede, along with everyone else, has almost certainly drowned. If you ask me if I believe that the child has drowned, then I will say "yes" - but I will add that I hope that my belief is false and that I think that my continued efforts to find the child alive are justified by the great good that would obtain were I to succeed? In conclusion, when God is thought of as infinitely perfect goodness, it seems consummately rational to hope that there is a God and to live as though there is, as long as there is no conclusive proof that there is not."4 Pascal was oortuig dat om jouself in die posisie te plaas waar jy oop is vir God (m.a.w. deur die regte weddenskap te maak en daarvolgens op te tree), Hy jou geloof sal versterk. God sal jou genoeg lig gee om te weet wat waar is. Dit is dan dat geloof begrip moontlik maak en nie andersom soos wat mense verkeerdelik dink die geval moet wees as hulle oor die bestaan van God nadink nie. Iemand het eenkeer in desperaatheid die volgende gevra: "Wat moet ek doen met Jesus wat Christus genoem word?"5 So word ons almal vandag ook voor dieselfde keuse gestel: Wat maak ons met Jesus? In lyn met Pascal se weddenskap het ons die volgende twee opsies: Ons kan saam met die man wat bogenoemde vraag gevra het, roem in ons onkunde en ons verantwoordelikheid ontken om die saak enige ernstige aandag te gee, deur te antwoord: "Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Dis julle verantwoordelikheid."6 Of, ons kan saam met 'n ander man, 'n tydgenoot van laasgenoemde, met ingeligte nederigheid erken: "U is die Christus, die beloofde Redder. U is die Seun van die lewende God."7 _____________________________ Eindnotas1 Peter Kreeft, Christianity for Modern Pagans: Pascal's Pensees Edited, Outlined and Explained (San Francisco: Ignatius Press, 1993), soos aangehaal in dr. Phil Fernandes se artikel, "The Apologetic Methodology of Blaise Pascal" (www.leaderu.com)2 Aangehaal in dr. Phil Fernandes se artikel "The Apologetic Methodology of Blaise Pascal", (www.leaderu.com)3 Peter Kreeft, Christianity for Modern Pagans: Pascal's Pensees Edited, Outlined and Explained (San Francisco: Ignatius Press, 1993), soos aangehaal in Rick Wade se artikel, "Blaise Pascal: An Apologist for Our Times", (www.leaderu.com)4 Richard E. Creel, "Agatheism: A Justification of the Rationality of Devotion to God," Faith and Philosophy vol. 10 (Januarie 1993), soos aangehaal in dr. Phil Fernandes se artikel, "The Apologetic Methodology of Blaise Pascal" (www.leaderu.com)5 Matt 27:226 Matt 27:24 7 Matt 16:16

Het jy iets om te sê? Wil jy graag kommentaar lewer? Doen dit gerus hier!