Desember 2006

Die einde van die jaar is op hande en ons kyk met dankbaarheid terug op 2006 en alles waarby die AntWoord betrokke was. Ons sien  ook met verwagting uit na volgende jaar. Hier en daar wil ons ʼn paar verbeteringe aanbring (soos o.a. die nuwe logo en webbladuitleg wat teen einde Januarie voltooi sal wees) om te verseker dat ons ander na die beste van ons vermoë kan dien. En waar ons foute gemaak het wil ons graag daaruit leer en volgende keer beter doen. Dankie vir jou betrokkenheid – al is dit net deur die lees van hierdie nuusbrief – ons waardeer dit. Stuur gerus ʼn epos na antwoorde@yahoo.com 

BrugBou

AntWoord was die tweede helfte van 2006 intensief betrokke by die ontwikkeling van ʼn kursus, genaamd BrugBou.  Hier is ʼn kort oorsig daarvan.

Hoe kan ons, in ons strewe om Jesus te volg en ander te help om dieselfde te doen, beter aansluiting vind by mense? Hoe kan ons effektief betrokke wees by ‘n veelsydige wêreld met uiteenlopende prioriteite, maar waar ʼn gedagte aan God dikwels geen plek het nie?  Hoe bou ons as Christene brûe na ander in die kultuur waarin ons leef? In kort, hoe is ons in die wêreld, maar nie van die wêreld nie as deel van God se Koninkryk.

Die metafoor van ʼn brug wat gebou word beklemtoon verskeie belangrike aspekte in ‘n Christen se omgang met ander. Een daarvan is dat ʼn mens slegs ʼn brug na iemand kan bou wanneer jy weet waar daardie persoon homself bevind. Jy bou nie ‘n brug na ander met jou eie idees en voorveronderstellings oor wat jy dink vir ‘n ander persoon belangrik is, die probleme is wat sy ondervind of wat die antwoorde is waarna hy soek nie. Ons moet eerder ʼn doelbewuste poging aanwend om ander se wêreld te betree en dit met respek doen. Ons moet opreg belangstel deur vrae te vra vir beter begrip en eerlik wees oor die kompleksiteit van die lewe. Dit is onverantwoordelik om ander se vlees en bloed bestaan sommer summier met netjiese formuletjies te probeer regdokter. Ons moet leer om eers vir onsself uit te klaar wat presies iemand sê of dink en dan erns maak met hoekom dit gesê of gedink word. Terselfdertyd moet ons leer om daaruit te onderskei wat goed en waar is en doelbewus daarby aansluiting vind (m.a.w. ons hoef nie onmiddellik ʼn reaktiewe relaas te lewer oor als wat vals of verdraaid is in wat iemand sê of dink nie). Eers dan is ons gereed om saam met iemand te begin nadink oor hoe ons as mense in ʼn God-geskape realiteit oor sekere sake kan dink.

Dit bring ons by nog ‘n aspek van die brugbou metafoor. As ons dan in ʼn God-geskape realiteit woon, veronderstel dit tog sekerlik dat ons sal weet wat die aard van so ʼn realiteit is. Die Bybel se beskrywing van hierdie realiteit is in breë trekke die volgende: 1) God het die wêreld geskep, 2) die mens is verantwoordelik vir ʼn gevalle wêreld, 3) Christus het gekom om die mens van sy gevalle toestand te bevry, en 4) God sal op Sy bestemde tyd die hele wêreld weer nuut maak.

Die kern van hierdie realiteit is die genade wat in Christus te vinde is, die boodskap van die evangelie. In essensie beteken dit dat ons ʼn brug wil bou van waar mense is na die waarheid en boodskap van God se genade. In praktyk beteken dit dat ons as Christene moet kan erns maak met hoe ʼn gegewe aspek van die lewe verband hou met die aard van hierdie Godgeskape realiteit. Wat is daar in die dinge wat mense elke dag ervaar of in die wêreldbeeld waarvolgens hulle dink, wat kan dien as kontakpunte vir die bou van ʼn brug na ʼn Bybelse wêreldbeeld?

Christene is dikwels geneig om op een van drie ongesonde maniere te reageer wanneer hulle met vreemde wêreldbeelde gekonfronteer word: 1) Hulle gaan bloot daarmee saam omdat hulle nie eintlik weet wat of hoe om daaroor te dink nie, of nie weet hoekom dit belangrik is om daaroor te dink nie, 2) hulle hardloop daarvan weg omdat dit moontlik hul geloof kan bedreig of hulle dink dit bloot te ‘onbybels’ is om by betrokke te raak, 3) hulle raak aggressief en aanvallend en wil elke vreemde idee wat net ruik na ʼn onbybelse gedagte met wortel en tak uitroei.

Die BrugBou kursus stel ʼn alternatiewe opsie voor en ondersoek die manier waarop ons mense en hul wêreldbeeld op ʼn positiewe manier kan benader deur betrokke te raak -  en wat terselfdertyd ʼn brug bou na ʼn Bybelse manier van dink oor die wêreld waarin ons leef. Die ‘brugbou’ metafoor dui uiteindelik ook daarop dat die bou van ʼn brug nie die einddoel is nie, maar dat ons mense wil uitnooi om oor die brug te stap na ʼn ontmoeting met Jesus Christus.

[Die BrugBou (Building Bridges) kursus is in Oktober - November (8 sessies) vir die eerste keer by die Rosebank Bible College aangebied deur ʼn deelgenootskap van Truth Alive (www.truthalive.za.org), Johannesburg Bible College en die AntWoord Bediening (www.antwoord.org.za)]

 

Mag jy hierdie Kersfees weer eens bewus word van God se groot genade wat in die vorm van ʼn klein mensekindjie in ʼn armoedige wêreld na ons en die hele mensdom gekom het.

“…It's no light thing to know that we'll all one day stand in that place of Judgment. That's why we work urgently with everyone we meet to get them ready to face God. God alone knows how well we do this, but I hope you realize how much and deeply we care.” (2 Cor 5:11 -The Message)

Het jy iets om te sê? Wil jy graag kommentaar lewer? Doen dit gerus hier!