Mei 2007

AntWoord se afgelope kamp was soos die vorige keer, 'n besondere
geleentheid. Die kursus wat tydens 'n naweek verlede maand aangebied is, was
getiteld, "Brugbou: Hoe om beter betrokke te wees in die wêreld rondom
jou."
Dit maak ons opgewonde om so 'n kwaliteit kursus te kon beskikbaar
stel. Dankie aan almal wat die eerste aanbieding daarvan in Afrikaans, met
soveel entoesiasme byge­woon het. Julle insette word waardeer en dra by tot
verdere verfyning en verbetering.

AntWoord se afgelope kamp was soos die vorige keer, 'n besondere
geleentheid. Die kursus wat tydens 'n naweek verlede maand aangebied is, was
getiteld, "Brugbou: Hoe om beter betrokke te wees in die wêreld rondom
jou."
Dit maak ons opgewonde om so 'n kwaliteit kursus te kon beskikbaar
stel. Dankie aan almal wat die eerste aanbieding daarvan in Afrikaans, met
soveel entoesiasme byge­woon het. Julle insette word waardeer en dra by tot
verdere verfyning en verbetering.

In die lig van bogenoemde kursus het 'n aanhaling uit Alister
McGrath se boek, Bridge-Building: Effective Christian
Apologetics
nogal opgeval. Hy skryf:

"It seems relatively pointless to extol the attractiveness of the
Christian faith, if this is not accompanied by a deadly serious effort to
discover why it so obviously unattractive to so many people. There is a
reluctance to listen to those outside the community of faith, in order to
learn why they are outside that community."

Dit laat die vraag nogal onstaan na wat ons sien as ons na mense kyk
wat nie Christene is nie? Sien ons mense wat hardkoppig aan hulle sonde
vashou en nie die knieg wil buig voor 'n morele God nie? Sien ons dalk mense
wat net weer moet hoor, net nog 'n beter, duideliker aanbieding van die
evangelie moet kry sodat hulle tot geloof kan kom? Sien ons mense wat van
hulle intellektuele meewaardigheid moet afstand doen (wie se skanse selfs
deur goeie apologetiese argumente grond toe gebring kan word), omdat God
slegs in 'n plek van nederigheid ontmoet kan word?

Daar is waarskynlik, tot 'n mindere of meerdere mate, waarheid in elk
van die bogenoemde opinies oor mense wat nie in die Christelike geloof deel
nie. Bepaalde lewenswyses, wanbegrip van die evangelie, misplaaste
intellektuele trots - dit alles kan 'n rol speel vir waarom mense die
Christelike geloof met agter­dog of selfs met openlike vyandigheid bejeën.
Elkeen van hierdie sake (en enige ander) moet en kan op die regte manier
deur Christene aan­gespreek word.

Maar is die grootste rede vir mense se skeptisisme nie eerder die
afwesigheid van Christene met lewensverruimende betrokken­heid op alle
vlakke van die samelewing nie? Ellis Potter vra die vraag so:

"Verbeel jou Christene gaan in die stad uit en vra enige 10 mense
hierdie vraag: 'As jy vandag 'n Christen sou word, dink jy dat jou lewe
groter, voller, ryker sal word, meer betrokke by mense en die omstandighede
rondom jou? Of dink jy jou lewe sal kleiner wees, enger, meer teruggetrokke,
minder betrokke by die mense om jou?' Wat dink jy sal hulle antwoord wees?
Jesus het gesê hy het gekom om ons oorvloedige lewe te gee, nie 'n
gesorteerde lewe nie. Ons moet die sout van die aarde wees, nie van die
hemel nie. Ons moet die lig van die wêreld wees, nie van die lug nie. Ons is
nie veronderstel om bymekaar te kom om op mekaar te skyn nie, maar om uit te
gaan in die wêreld en in die donkerte te skyn, smaak te gee, die verrottende
kultuur van verderf te bewaar. Die meeste mense dink die Christelike lewe is
'n kleiner lewe. Waar het hulle aan so 'n idee gekom? Hoekom het ons dit so
aan hulle gewys?"

Soms dink Christene dat hulle vasgevang is in 'n teenstrydige dilemma:
ons is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie - so hoe nou
ge­maak? Die feit is dis nie 'n dilemma nie, maar 'n dubbele opdrag: 1) wees
(sout en lig) in die wêreld, en 2) wees nie van die wêreld nie.

Natuurlik is dit ook 'n uitdaging. Soms voel ons bedreig, raak ons
onseker en wil ons hals­oorkop vlug uit die wêreld. Soms raak ons opstandig
en veg ons hand en tand teen die wêreld, maar bring ons dikwels in die
proses net seer en bied ons geen oplossing met ons oordrewe pessimisme nie.
En ander kere raak ons eenvoudig moeg en volg ons die pad van die minste
weerstand deur maar toe te gee aan die wêreld se manier van doen en
dink.

Die feit is dat om onnadenkend te vlug, te veg of toe te gee, nie net
die eerste opdrag verontagsaam nie, maar dit laat blyk dat ons ook nie
eintlik waarde heg aan die tweede opdrag nie. Want wat beteken dit om nie
van die wêreld te wees nie? Dit beteken dat wat vir ons as Christene
belangrik is (liefde vir God en mense) anders is as wat vir die wêreld
belang­rik is. En dis slegs wanneer ons volgens wat belangrik is begin om
in hierdie wêreld, tussen hierdie wêreld se mense, anders te
dink en te leef (spesifiek te wys dat ons werklik vir hulle omgee), dat ons
ander kan help om ook te sien wat belangrik is en hoe dit ware vervulling
meebring.

In die binnekamer

Dankie vir al die gebede vir AntWoord se kamp in April. Dit was
besonder geseënd, van voor­bereiding tot aanbieding tot logistiese reëlings.

Gedurende die naweek was dit algaande duidelik hoe belangrik en groot
ons taak as Christene is in 'n wêreld wat God nie ken nie en dikwels nie
wil ken nie. Ons gebed is dat die Here Jesus dit al meer op ons harte
sal druk, ons al meer gewillig en bekwaam sal maak om sy voorbeeld in
hierdie wêreld na te volg. Selfs al beteken dit dat dit vir ons ongerieflik
is of dat dit ons ongewild sal maak.

"'n Mens se gedagtes lê baie diep - soos die water
onder in 'n put. Maar iemand wat verstandig is, kan 'n ander se gedagtes na
die oppervlakte bring."

(Spreuke 20:5, Die Lewende Bybel)

Het jy iets om te sê? Wil jy graag kommentaar lewer? Doen dit gerus hier!