Is ‘n antwoord nodig?
“Hoe voel dit vir ’n ware Christen om sy of haar geloof te verloor? Hoe voel dit as die onmoontlike dit self in jou kom tuismaak? Hoe voel dit vir ’n wedergebore Christen om weer te sterwe? Wat ervaar jy wanneer God dood is en jyself nie meer so lekker voel nie?”
So begin ’n brief op ‘Kletskerk’, die Kerkbode se internet-gespreksforum (www.kerkbode.co.za). Wat opval aan hierdie woorde is nie eerstens die teenstrydigheid met Calvyn se leer oor geloofsbehoud, of selfs die pittige, dog emosionele naroep van Nietzsche se eksistensiële slagkreet (God is dood) nie. Wat wye reaksie ontlok het, is dat die skrywer van die brief, wat ’n doktorsgraad in die teologie en nagraadse studie in filosofie en antieke tale voltooi het, vertel hoe hy êrens “teen sy sin in ateïsme geëindig het nadat selfs agnostisisme onhoudbaar geword het”. “Teen hierdie tyd was my oë volledig oop vir die realiteit van teenstrydighede, valshede, foute en absurditeite in die Bybel, die onregverdigheid en wreedheid in die goddelose wêreld van natuur en kultuur, die logiese foute in my godsdiensfilosofiese argumente vir die bestaan van God en legitimiteit van my godsdienstige ervarings, die mensgemaaktheid van godsdiens en die mitologiese aard van my eie geloof.”
Dit is nie dat ’n mens nie simpatie met die skrywer van die brief kan of wil hê nie. Dat die skrywer voel dat hy sy geloof verloor het is te betreur. Dis net dat ’n mens die gevoel kry dat sy getuienis waarskynlik baie meer sê oor hoe daar deesdae in die teologie (of in sommige universiteite se teologiese opleiding?) gedink word, as dat daar werklik rede is
om in sak en as “saam met ander te huil oor hul onbeskryfbare verlies [aan geloof] en die ervarings in ’n vreemde wêreld.”
Na aanleiding van bogenoemde is die volgende vraag amper skreiend retories: Is Christelike apologetiek (en ’n bediening soos AntWoord) noodsaaklik?
Ten spyte daarvan dat die skrywer van die brief meen dat hy ‘konserwatiewe’ apologetiek geweeg en te lig gevind het, maar miskien juis as gevolg daarvan, is daar wel verskeie redes waarom die taak van die apologeet onontbeerlik is. Eerstens is dit ’n Bybelse opdrag: “Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee...” Hierdie is ’n antwoord oor die hoop wat in ons leef, ’n antwoord oor wat waar is. (Die apologeet se eerste uitdaging is natuurlik dat die hele konsep van waarheid/antwoord in die postmoderne denkraamwerk onder verdenking staan, dit word as onhoudbare ‘fundamentalisme’ geëtiketteer en daarmee onverwyld as ongeldig verklaar). Die skrywer van bogenoemde brief skep die indruk dat daar selfs in die teologie genoeg waarheid tot valsheid verwring en valsheid vir (postmoderne!) waarheid gesmous word, om te kan sien hoekom dit ’n opdrag is.
Tweedens kan die apologetiek sommige mense beslis help om nie te voel dat hulle eers naby die gevaar is om hulle geloof te verloor nie. Dit help Christene om te besef dat hulle twyfel nie noodwendig dieselfde is as skeptiese ongeloof nie. Dit help hulle om te weet wat hulle glo en hoekom hulle dit kan glo. Dit wys daarop dat die Christelike geloof NIE op teenstrydighede, absurditeite of mensgemaakte idees gegrond is nie. Dit kan rasionele verantwoording doen, al getuig dit terselfdertyd van ’n onpeilbare God wat nie bloot tot die rede gereduseer kan word nie.
Derdens is apologetiek nodig in ’n wêreld waar Christenskap dikwels met agterdog en selfs vyandigheid bejeën word. Hoe Christene leef plaas dikwels die inhoud van wat Christene dink onder verdenking. Tog help dit ook nie baie as ’n skynbare Christelike lewenstyl deur onsamehangende (of valse) denke gemotiveer word nie. As Christene egter kan leer om hulle denke en dade tot ’n beter geheel te versoen, kan sommige gestereotipeerde persepsies en media karikature dalk verander. So ’n integrasie kan dan soos suurdeeg deurwerk tot ’n transformerende invloed op alle aspekte van die samelewing.
Laastens kan die apologetiek selfs mense help wat vasgevang is in die wurggreep van nihilisme (sinneloosheid) of selfs die doodsheid van “godsdiens”. Dit kan hulle help om moontlik by die punt te kom waar hulle in ’n verhouding met die lewende God kan tree. Tog sal sommige steeds nie tot geloof kom nie en sal ander steeds aanvoer dat hulle hul geloof verloor het. Geen mens of rasionele, apologetiese argument kan iemand oortuig om te glo nie. Dit is onteenseglik die Heilige Gees se werk om redding en vernuwing te bring. Tog beteken dit nie dat die apologeet se argumente outomaties waardeloos, ongeldig of summier weerlê is omdat iemand dit nie kan aanvaar nie. Selfs die Heilige Gees kan niemand oortuig wat nie oortuig wil word nie. Daarom dat die apologeet C.S. Lewis se opmerking so gepas is: "Good philosophy must exist, if for no other reason, because bad philosophy needs to be answered".
Nuus en gebeurlikhede
AntWoord is tans in verskeie e-pos gesprekke gewikkel oor onderwerpe soos die vraagstuk oor evolusie, vrae rondom denominasies en sektes, asook die geldigheid van godsdienstige geloof in die algemeen. ’n Paar weke gelede is daar ook saam met ’n selgroep in Pretoria oor die vraag na die betroubaarheid van die Bybel gesels.
As enigiemand gewonder het oor wat van die wegbreek-naweek geword het waar ons saam met belangstellendes oor die Apologetiek wil gesels, hou moed! Ons beplan dit vir die eerste kwartaal van volgende jaar. So hou die dagboeke solank oop en afspraak-vry!
In die binnekamer
Ons beskou die werk waarmee AntWoord besig is as toerustingsgeleenthede vir gelowiges, maar ook in baie gevalle as pre-evangelisasie wanneer ons in gesprek tree met mense wat Jesus nie ken nie. Ons is daarom beslis in ’n geestelike stryd gewikkel waarin gebed ’n deurslaggewende rol speel. Bid daarom saam met ons (Udo en André) vir:
· wysheid in die details van persoonlike gesprekke, hetsy in persoon of in skrywe
· sensitiwiteit vir die onderliggende behoeftes van mense wat worstel met geloofsvrae
· ’n nederige afhanklikheid van God se leiding en oopheid vir sy werk in ons eie persoonlike lewens
“He must hold firmly to the message which can be trusted and which agrees with the doctrine. In this way he will be able to encourage others with the true teaching and also to show the error of those who are opposed to it.” (Tit 1:9 GNB)
Het jy iets om te sê? Wil jy graag kommentaar lewer? Doen dit gerus hier!