While it is true that cold intellectual thinking can never bring anyone into a warm personal relationship with God, it is also true that, while a subjective commitment to God may be satisfying to the self, it lacks credibility to others unless it can be shown that there are good reasons for the actual existence of the God to whom commitment has been given. - Hugh Montefiore
There are two purposes of Christian Apologetics. The first is defense. The second is to communicate Christianity in a way that any given generation can understand. - Francis Schaeffer
Baie mense het vrae oor die bestaan van God. Sommige het spesifieke vrae oor die waarheid van die Christelike geloof. Hierdie soort vrae is gewoonlik nie onbelangrik nie. Dit is dikwels eerlike vrae wat diep in die hart van die Christelike geloof gaan draai en die fondasies baie deeglik wil toets. Interessant genoeg is die feit dat beide nie-Christene en Christene dikwels met sulke vrae worstel.
Die meeste mense is egter net bewus van die verskillende vrae en weet nie dat daar ook antwoorde is nie. Die feit is dat daar baie sinvolle antwoorde op sulke vrae is, want die Christelike geloof is waar. Hierdie beantwoording van vrae as 'n rasionele verduideliking van die Christelike geloof, of in verdediging teen vyandige kritiek, is spesifiek die taak van Christelike Apologetiek. (Dit het dus niks te doen met die idee dat Christene om verskoning vra vir iets nie.)
In 1 Petrus 3:15b-16a lees ons, "Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God."
In hierdie gedeelte is die veronderstelling dat, voordat ons ander se vrae oor ons geloof (die hoop wat in ons leef) kan beantwoord, ons self moet weet hoekom en wat ons glo. Hiermee saam is dit ook duidelik dat dit belangrik is om ander se vrae ernstig op te neem. Die moeilike vrae wat nie-Christene vrae kan nie bloot beskou word as 'n hardkoppige onwilligheid om net "die waarheid te glo" nie. Ons moet erns maak met die sake waarmee hulle worstel en wat hulle moontlik van geloof weerhou. Voordat die Evangelie verduidelik word sodat mense kan kies vir geloof in Christus, is dit dikwels nodig om eers die hindernisse na daardie geloof te help verwyder.
Deur vrae te beantwoord en ander sodoende te help om hulle pad na geloof gelyk te maak is 'n goeie beskrywing van die waarde en impak van Christelike Apologetiek. Christelike Apologetiek bied die basis vanwaar 'n nie-Christen al nader daaraan beweeg om die Christelike geloof, die Evangelie te kan aanvaar. Mense is beslis dood in sonde of weergebore, verlore of gevind. Hulle mag egter verder of nader daaraan wees om van die dood na die lewe oor te gaan, afhangende van wat hulle glo of nie glo nie. Mense staan gewoonlik nie stil nie: hulle beweeg oor die algemeen ná geloof toe of wég van geloof af. 'n Persoon wat nie geglo het dat God bestaan nie, maar wat nou daardie feit aanvaar deur die aanhoor van 'n apologetiese argument, het in die regte rigting beweeg. Alhoewel niemand deur die aanvaarding van 'n argument gered kan word nie, is Christelike Apologetiek beslis iets wat die Heilige Gees kan gebruik in die proses vir iemand om tot persoonlike geloof in Christus te kom.
Petrus sê verder dat ons as gelowiges ook altyd gereed moet wees om 'n antwoord te gee. Hierdie gedurige gereedheid sê iets van 'n ywerigheid om met ander die waarheid te deel - selfs al vra niemand ons ooit die moeilike vrae oor ons geloof nie. In ons ywer om met ander mense oor ons geloof te praat, moet ons ook nederig en van God afhanklik wees. Die belangrikste in ons gesprekke met mense is 'n gesindheid van liefde. Ons kan mense maklik vervreem deur arrogant en beterweterig oor te kom en 'n geleentheid laat verby gaan waarin hulle God beter kon leer ken.
Om altyd gereed te wees beteken egter nie dat ons as gelowiges nie soms ook self met vrae worstel nie. Ons hoef nie hierdie vrae van mekaar te verswyg en onder die mat in te vee nie. Ons mag maar twyfel en met vrae worstel en dit selfs openlik erken (lees maar gerus weer Tomas se uitspraak in Joh 20:25.) Dit beteken nie dat ons dan nie meer kinders van God is nie, net dat ons moet besig bly met 'n proses om wel antwoorde op ons vrae te kry. As gelowiges hoef ons veral nie te dink dat ons geloof en ons intellek teenoorgesteld van mekaar staan nie. Ons kan weet dat daar goeie redes is vir die waarheid van wat ons glo. As ons regtig glo dat die God wat bestaan ook die intellek geskep het, dan hoef ons nie hieraan te twyfel nie.
Nie almal wat vrae vra oor geloofsake is altyd eerlik en opreg opsoek na sinvolle antwoorde nie. Sommige wil nie na gesonde rede luister nie. Miskien hou hulle eenvoudig nie van die idee dat 'n Heilige God rekenskap van hulle lewe gaan vra nie. In ons pogings om goeie antwoorde op goeie vrae te gee, is ons daarom nie gewaarborg van sukses nie. Bekering en sukses vir die koninkryk is God se werk. Tog het Hy gesê dat ons gereed moet wees.
Die AntWoord bediening se strewe is tweeledig: Eerstens wil die bediening GELOWIGES beter TOERUS om gereed te wees om 'n antwoord te kan gee en tweedens wil die bediening ONGELOWIGES help om te VERSTAAN dat die Christelike geloof nie 'n sprong in die donker is nie.
Udo Karsten is sedert 1997 in voltydse Christelike bediening betrokke. Sy fokuspunte vir bediening het sedertdien onder meer die volgende ingesluit: Vriendskap-evangelisasie op kibboetse in Israel, straat-evangelisasie in Hillbrow, die ontwikkeling en aanbieding van kursusse oor dissipelskap by MES (voorheen MES-aksie) en die fasilitering van kleingroepe onder hawelose mense in die middestad van Johannesburg. Hy was ook sedert 2003 deel van Athletes in Action, die sportbediening van Campus Crusade for Christ. Hier was hy spesifiek betrokke by studente van die Universiteit van Johannesburg deur evangelisasie, kleingroep-dissipelskap en die aktiewe bou van verhoudings. Udo is huidiglik (sedert April 2005) voltyds betrokke by die ontwikkeling en werk van AntWoord, die bediening vir Christelike Apologetiek. Udo is getroud met Ilse, 'n opvoedkundige sielkundige werksaam by die Universiteit van Johannesburg.
André van Zyl het van 1991 tot 1997 aan RAU gestudeer. Hy is sedert 1995 by 'n verskeidenheid onderwys instellings werksaam (laerskool, hoërskool, tegniese kolleges, technikons en onderwys in Engeland). Hy is huidiglik verbonde aan die Universiteit van Johannesburg. Onderwys is André se hoof bedieningsfokus, maar hy was en is steeds by verskillende bedienings van die kerk ingeskakel. Hy was betrokke by 'n diensjaar in die NG-gemeente Johannesburg en terwyl hy vir twee jaar in Engeland woonagtig was, was hy ook spesifiek verantwoordelik vir opleiding van selgroepleiers in die SA-gemeente Londen. Hier het André in 2001 betrokke geraak by 'n bediening vir Apologetiek. Hierdie bediening het kampe gehou, selgroepe besoek en kursusse aangebied om gelowiges toe te rus en om terselfdertyd ook die evangelie te verduidelik. Die totstandkoming van die AntWoord bediening is die vrug van 'n soortgelyke bediening wat reeds sedert 2002 informeel in Gauteng bestaan.
Philip Scheepers (Medewerker) is 'n boorling van Somerset Oos. Hy het die grootste deel van sy jeug in die Vrystaat deurgebring en het aan die Universiteit van die Vrystaat sy teologiese studies voltooi. Hy is met Chanel getroud en hulle het 'n seun, Ian, wat in 2004 gebore is. Philip het sy bediening in Port Elizabeth begin waar hy vir drie jaar werksaam was in die NG Gemeente Grasvoëlkop. Hy het op 'n deeltydse basis sy studies aan die UV voortgesit en in September 2003 'n Doktorsgraad in die Teologie behaal. Philip is al vir 'n geruime tyd by Veritas College werksaam. Veritas College is toegespaits op die ontwikkeling van kerkleiers reg oor die wêreld. Philip en Chanel is sedert die einde van 1999 in Engeland woonagtig. Behalwe vir sy werk by Veritas College is Philip ook op 'n deeltydse basis by die SA-Gemeente Londen betrokke. Philip het 'n aktiewe apologetiek bediening in die SA gemeente help vestig en is direk betrokke by die toerusting van lidmate.
Wat die AntWoord bediening glo oor God:
God het as Skepper alles gemaak wat ons kan sien en nie kan sien nie. God is 'n persoonlike en unieke geestelike wese. Hy openbaar onder meer die volgende eienskappe: almagtigheid, alomteenwoordigheid, alwetendheid, onafhanklikheid, ewigheid, onveranderlikheid, regverdigheid, heiligheid en liefdevolheid. God as enkele Godheid openbaar homself in drie onderskeibare persone, naamlik God die Vader en die Seun en die Heilige Gees. God het die mens as die kroon van sy skepping gemaak om in 'n persoonlike verhouding met Hom te staan.
Wat die AntWoord bediening glo oor Jesus Christus:
God het homself op 'n spesifieke tyd in die geskeidenis en met 'n spesifieke doel in die persoon van Jesus geopenbaar. Jesus is as 'n volkome mens uit 'n maagd gebore. Hy het in alle opsigte (intellektueel, emosioneel, sosiaal, fisies en geestelik) in sy mensheid ontwikkel, maar was in wese altyd volkome God. Jesus het Sy Godheid pertinent en verbaal verklaar, maar dit ook bevestig deur die verskeie wonderwerke wat Hy verrig het. Jesus het in totale gehoorsaamheid aan Sy Vader se wil, homself vrywillig en doelbewus aan 'n kruisiging onderwerp, sodat Hy vir die vergewing van alle mense se sondes kon sterf. Nadat Hy aan die kruis gesterf het, is Hy begrawe en daarna deur God uit die dood opgewek. Sy fisiese opstanding uit die dood wys daarop dat almal wat sy Verlossing aanvaar, ook uit die dood sal opstaan om vir ewig saam met God te wees.
Wat die AntWoord bediening glo oor die Mens en Verlossing:
God het die mens gemaak om in 'n persoonlike verhouding met Hom te staan. Adam en Eva, na die beeld van God geskape, het as die eerste mense en as verteenwoordigers van die mensdom, uit vrye wil gekies om aan God ongehoorsaam te wees. Hierdie ongehoorsaamheid was die begin van sonde en sou vervolgens deel uitmaak van elke daaropvolgende mens se basiese neiging en natuur. (Hierdie sonde het die verhouding met God verbreek.) God het verklaar dat die mens se sonde met die dood gestraf moes word, want slegs iets so volledig en finaal soos die dood, sou sonde in die teenwoordigheid van sy Heiligheid kon uitwis. God het egter in sy algehele liefde vir die mens besluit dat Hyself die straf vir die mens se sonde sou dra. Daarom stuur God die Vader vir Jesus, sy Seun, wat self geen sonde gedoen het nie, om vir die mens se sondes te sterf. Sodoende ontkom die mens die uiteindelike gevolge van sonde (die ewige hel). Dit gebeur wanneer die mens in geloof aanvaar dat God sy sonde (van die verlede, hede en toekoms) in liefde vergewe het toe Jesus aan die kruis gesterf het. Dit is met hierdie aanvaarding van Jesus deur geloof alleen - sonder om ooit self iets te doen om vir God aanvaarbaar te probeer wees - dat die mens deel kry aan God se Heilige Gees. Dit is hierdie Gees van God wat die verhouding tussen die mens en God herstel, wat die mens instaat stel om uit dankbaarheid gehoorsaam te wees aan God en hom verseker van 'n ewige lewe saam met God.
Wat die AntWoord bediening glo oor die Bybel:
Die geskrewe woord van die Bybel (die Ou en Nuwe Testament) is saam met die Persoon Jesus Christus, God se spesifieke manier om Homself en Sy wil aan die mens bekend te maak (God maak sekere aspekte van Homself ook op ander maniere bekend soos bv. in die skepping). Die Bybel is deur verskeie mense geskryf wat elkeen in die konteks van 'n eie persoonlikheid en kultuur geleef en geskryf het. Dit was egter omdat God se Heilige Gees hierdie skrywers geïnspireer het dat die Bybel die spesifieke en volkome uitdrukking is van God se wil en openbaring. Die inhoud van die Bybel is egter ook in verskillende style geskryf en daarom is die betekenis van spesifieke gedeeltes onder meer afhanklik van die konteks van daardie style. Hiermee saam is dit egter ook dieselfde Gees van God wat die Bybel geïnspireer het, wat mense help om die Bybel reg te verstaan.
Boontoe