Wat is Christelike Apologetiek en hoekom is dit belangrik?

deur Udo Karsten

While it is true that cold intellectual thinking can never bring anyone into a warm personal relationship with God, it is also true that, while a subjective commitment to God may be satisfying to the self, it lacks credibility to others unless it can be shown that there are good reasons for the actual existence of the God to whom commitment has been given. – Hugh Montefiore
 
Die Christelike Apologetiek het ten doel om Christene toe te rus om verantwoording te kan doen vir wat en hoekom hulle glo wat hulle glo, om aan skeptici te demonstreer dat die Christelike geloof nie ‘n blinde sprong in die donker is nie, en om soekendes uit te nooi om die waarheidsaansprake daarvan met integriteit te ondersoek.
 
____________
 
 
Die meeste mense het vrae oor die bestaan van God. Sommige het spesifieke vrae oor die waarheid van die Christelike geloof. Sulke vrae is dikwels eerlike vrae wat diep in die hart van die Christelike geloof gaan draai en die fondasies daarvan baie deeglik wil toets. As die Christelike geloof waar is, dan behoort daar sinvolle antwoorde op sulke vrae te wees. Hierdie beantwoording van vrae as ’n rasionele verduideliking van die Christelike geloof, of in verdediging teen vyandige kritiek, is spesifiek die taak van Christelike Apologetiek.
 
In 1 Petrus 3:15b-16a lees ons, “Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God.”
 
In hierdie gedeelte is die veronderstelling dat voordat ons ander se vrae oor ons geloof (die hoop wat in ons leef) kan beantwoord, ons self moet weet wat en hoekom ons glo wat ons glo. Hiermee saam is dit ook duidelik dat dit belangrik is om ander se vrae ernstig op te neem. Die moeilike of skeptiese vrae wat mense vra moenie bloot beskou word as ’n hardkoppige onwilligheid om te glo nie. Christene moet erns maak met die sake waarmee mense worstel en wat hulle moontlik van geloof weerhou. Om te sê “glo maar net” is nie ‘n intelligente antwoord op denkende vrae nie.
 
Voordat die boodskap van die Evangelie verduidelik kan word, is dit dikwels nodig om eers die struikelblokke op die pad na aanvaarding van die Evangelie te help verwyder. ’n Persoon wat byvoorbeeld nie glo dat God bestaan nie, maar wat deur ’n apologetiese argument tot ander insigte gebring word, het vanuit die Christelike perspektief ‘n stap in die regte rigting gegee. Dit beteken natuurlik nie dat iemand wat deur argumente oortuig word, noodwendig ook ‘n Christen word nie. Die Christelike Apologetiek is egter beslis iets wat die Heilige Gees kan gebruik in die proses vir iemand om wel tot persoonlike geloof in Christus te kan kom.
 
Petrus sê ook dat ons as gelowiges altyd gereed moet wees om ’n antwoord te gee. Hierdie ingesteldheid sê iets van ’n ywerigheid om met ander oor die waarheid van die Christelike geloof te praat. Wanneer ons so ‘n geleentheid het om met ander mense oor ons geloof te praat, herinner Petrus ons egter om nederig en van God afhanklik te wees. Van uiterste belang in ons gesprekke met mense is ’n gesindheid van liefde en respek, want mense word maklik vervreem deur arrogansie en beterweterigheid.  
 
Om gereed te wees om ‘n antwoord aan ander te gee beteken egter nie dat ons as Christene nie soms self ook met vrae worstel nie. Ons hoef nie hierdie vrae te verswyg en onder die mat in te vee nie. Ons mag maar twyfel en met vrae worstel en dit selfs openlik erken (lees maar gerus weer Tomas se uitspraak in Joh 20:25.) Dit beteken nie dat ons dan nie meer “glo” nie, net dat ons moet besig bly met die proses van soek na die antwoorde. Ons moet veral ook nie dink dat ons geloof en ons intellek in opposisie van mekaar staan nie. Daar is goeie en intelligente redes om te glo dat wat ons as Christene glo, die waarheid is. As ons werklik glo dat die God wat bestaan, ook die intellek geskep het, dan hoef ons nie hieraan te twyfel nie.
 
‘n Laaste punt is om te besef dat nie almal wat vrae vra oor geloofsake, altyd eerlik en opreg opsoek is na antwoorde nie. Sommige mense hou eenvoudig nie van die idee dat ’n Heilige God rekenskap van hulle lewens vra nie. In pogings om goeie antwoorde op vrae te gee, is daar dus geen waarborg dat bepaalde mense oortuig gaan word deur ons spesifieke antwoorde nie. Maar selfs al is dit die geval, bly dit steeds ons as Christene se opdrag om gereed te wees met die antwoord oor die hoop wat in ons leef.

Het jy iets om te sê? Wil jy graag kommentaar lewer? Doen dit gerus hier!