Die AntWoord bediening poog om die behoeftes van die Christelike gemeenskap in Suid-Afrika aan te spreek. Ons streef na bedieningsaktiwiteite van hoogstaande gehalte en ons fokus is veral op die volgende:
- Die ontwikkeling van materiaal - Daar word voortdurend aan 'n verskeidenheid artikels, studiestukke en geïntegreerde kursusse gewerk wat 'n breë spektrum van Apologetiese vraagstukke dek. Geskrewe materiaal is tans net in Afrikaans beskikbaar, maar enigiemand wat na inligting in Engels soek, sal na relevante boeke en toeganklike webwerwe verwys word. Die AntWoord bediening poog ook om eietydse vraagstukke in die nuus en samelewing, vanuit 'n Christelike hoek toe te lig.
- Besoeke aan selgroepe en kleingroepe - Die AntWoord bediening besoek graag selgroepe of enige ander kleingroepe. Hierdie diens van die AntWoord bediening kan tipies aan groepe as 'n eenmalige geleentheid vir 'n spesifieke behoefte, of as 'n kort kursus oor 'n paar weke gelewer word. (Alle aanbiedings van die AntWoord bediening word in Afrikaans of Engels gedoen.)
- Informele eredienste - Tydens sendingweke of informele eredienste kan die AntWoord bediening temas aanbied met die doel om die behoeftes van 'n gemeente op 'n praktiese manier aan te spreek. Die doel van hierdie aanbiedings sal wees om vrae te help beantwoord, maar ook om gemeentelede toe te rus om self vrae te kan beantwoord.
- Kampe - Die AntWoord bediening bied ook kampe aan om mense die geleentheid te gee om saam oor verskillende vraagstukke te dink en te gesels. Tydens so 'n kamp is daar meer tyd wees om rustig oor spesifieke sake te gesels en in meer diepte ondersoek te doen. Hierdie kampe is oop vir enige belangstellende persone. Alternatiewelik kan die AntWoord bediening ook as sprekers by gemeentekampe optree.
- Gespreksgeleenthede - Daar sal op die langtermyn gereelde gespreksgeleenthede aangebied word oor verskillende onderwerpe. Ons wil sodoende nie net mense bereik wat reeds glo nie, maar juis 'n geleentheid skep vir mense om vrymoedigheid te neem om hulle twyfel en vrae te kom bespreek.
- Korrespondensie - Hierdie aspek van die AntWoord bediening wil graag 'n geleentheid skep vir korrespondensie d.m.v. briewe en e-pos. Sulke korrespondensie sal in vertroulikheid plaasvind en enige persoon sou welkom wees om aan ons te skryf met vrae waarop ons persoonlik sal reageer.