Spangenberg vs Craig: DIE GROOT DEBAT

debat

Spangenberg vs Craig: DIE GROOT DEBAT

Het jy al ooit ‘n rugby-wedstryd tussen die Springbokke en Samoa gesien?

As jy het, mag jy ietwat van ‘n idee hê van wat op 12 Mei 2010 gebeur het in die Musaion-ouditorium by die Universiteit van Pretoria, in die debat tussen Prof Sakkie Spangenberg en Prof William Lane Craig. Sakkie Spangenberg was bygestaan deur sy Nuwe Hervorming kollega, Hansie Wolmarans, en Bill Craig (www.reasonablefaith.org ) was bygestaan deur Michael Licona (www.risenjesus.com ).

Spangenberg en Wolmarans was heeltemal uit hul diepte en is oorweldigend verslaan deur Craig en Licona. Op ‘n manier was daar nie naastenby ‘n kompetisie in hierdie eensydige debat nie. Terwyl Craig en Licona streng by die terme van die debat gebly het, het dit voorgekom of Spangenberg en Wolmarans besig was om aan ‘n totaal verskillende gesprek deel te neem.

Die twee debatsvrae onder bespreking was:

1.   Het die skrywers van die Nuwe Testament bedoel om hul lesers te laat verstaan dat Jesus histories, fisies uit die dood uit opgestaan het?

2.   Is dit redelik om te glo dat Jesus fisies uit die dood uit opgestaan het?

Die meeste mense sou voel dat vraag 2 voor die handliggend is. Dit vra basies of daar goeie redes is om te glo dat Jesus wel opgestaan het. Maar vraag 1 lyk snaaks, selfs onnodig. Maar dit is nie. Sakkie Spangenberg probeer sê dat die Nuwe Testament skrywers sekere beelde en idees wou oproep, en nie noodwendig bedoel het dat hul lesers moes glo dat die dinge waarna hul verwys het, werklik gebeur het nie. So byvoorbeeld het die opstanding van Jesus nie letterlik gebeur nie, maar slegs figuurlik. Jesus het “in gees opgestaan” of “in mense se harte opgestaan,” of so iets. Dit was dus vir Craig en Licona nodig om te wys dat die NT skrywers wél bedoelhet om hulle lesers te laat verstaan dat Jesus letterlik en fisies, in ‘werklike’ geskiedenis, uit die dood uit opgestaan het. Dit was dus nie genoeg om net uit te wys dat daar baie goeie redes is om te glo dat Jesus uit die dood uit opgestaan het nie. Hulle moes ook die geskrifte van die NT op die regte voet sit, deur aan te toon dat hul verwysings na dinge soos die kruisiging bedoel was om letterlikverstaan te word.

Beide punte was goed verdedig deur Craig en Licona en nie een keer het Spangenberg of Wolmarans eers probeer om ‘n half ordentlike aanval op die geskiedkundigheid van die opstanding te loods nie. Hulle strategie was eerder om, wat ek ‘n “wolk van insinuasie” noem, te skep. Hulle het ‘n saak gemaak deur die gehoor te probeer oortuig dat die Bybel se wonderwerke nie inpas by ‘n moderne wêreldsiening nie, en dat die Christelike geloof soos ons dit vandag ken, gevorm is deur die vroeë kerkvaders, en nie deur die skrywers van die NT nie. Hulle punt was dat die Christelike geloof vanaf die tweede eeu sterk deur die Romeinse Ryk beïnvloed is, en dat dit nie meer die oop, buigbare Joodse geloof van die eerste eeu was nie. Maar soos Craig en Licona uitgewys het, sê dit hoegenaamd enigiets van die NT geskrifte om te beweer dat die Romeinse Ryk die Christelike geloof oorgeneem het en gemaak het wat dit vandag is? Licona het gesê dat hy met graagte hierdie punt sou debatteer, maar dat dit nie was waaroor hierdie debat gaan nie. (Miskien kon hy vir volledigheid net so ‘n minuut of twee daaraan spandeer het om dit wel te doen, net om mense gerus te stel dat die argument wel goed weerlê kan word. Ten minste het hy darem later uitgewys dat die geloof dat kerkrade die NT kanon vasgestel het, ‘n Da Vinci Code mite is.)

Spangenberg en Wolmarans het die aanspraak gemaak dat die NT ‘n primitiewe wêreldsiening uitdra wat nie vereenselwig kan word met moderne wetenskap en denke nie. Hierop het Licona na verskeie wêreld-beroemde en internasionale wetenskaplike navorsers verwys (soos bv. Suid-Afrika se eie George Ellis, wat selfs kundiger is op relatiwiteitsteorie as Steven Hawking) wat almal Christene is en wat wel glo dat God in hierdie heelal optree en betrokke is. As hierdie mensedit kan glo, hoe kan dit net ‘n antieke, verouderde of mitiese wêreldsiening wees? Wie presies is hierdie “moderne mense” waarna gereeld verwys word wat glo dat die NT verouderd is? En hoeveel is daar werklik van hulle?

Wat konsekwent uitgewys was, is hoe verouderd die navorsing van Spangenberg en Wolmarans is. Dit het by tye voorgekom of hulle onbekend is met hele velde van NT navorsing. Op ‘n punt het Wolmarans na ‘n akademikus in Amerika verwys om sy siening te rugsteun, net vir Craig om maklik uit te wys dat die spesifieke persoon waarna verwys is, ‘n afgetrede geleerde is met ietwat idiosinkratiese idees – skaars iemand wat op sy eie as gesaghebbend beskou kan word.

Craig en Licona het ook daarop gewys dat Spangenberg en Wolmarans se idees terug gaan na verouderde navorsing van meer as ‘n eeu gelede. In werklikheid ignoreer hulle die ‘Joodse herwinning’ van die Evangelies wat begin het teen die tweede helfte van die 20ste eeu. Hierdie belangrike en baie bekende herwinning van die NT se Joodse agtergrond, het gewys dat vroeëre NT kritici te veel gemaak het van die Griekse denke en dat hulle die aardse fisikaliteit van die Joodse wêreldbeeld waarin die NT manuskripte gegiet is, geïgnoreer het. Om in die Joodse wêreldsiening te skryf dat Jesus opgestaan het uit die dood, was inderdaad om te bedoel om te sê dat Jesus werklik (fisies!) opgestaan het uit die dood! Die Jode van daardie tyd was nie bekend met die postmodernistiese woord-speletjies waarmee Spangenberg en sy kollegas hulself besig hou nie. Fisiese opstanding het beteken fisiese opstanding, en NIE “opstanding in my hart” of “in my geloof” of in een of ander spesiale plek waarnatoe ek in my gedagtes gaan nie!

Licona het ‘n ander belangrike punt uitgewys: Die meeste teoloë is hopelose geskiedkundiges en hulle volg dikwels nie die gesonde beginsels van historiese navorsing wanneer hulle die Bybel beoordeel nie. As ander klassieke geleerdes van dieselfde metodiek in hul eie velde gebruik gemaak het as wat die meeste teoloë met die Bybel doen, dan sou die meeste van die Griekse en Romeinse geskiedenis nie bestaan het nie! Licona en Craig pas egter die regte beginsels vir historiese navorsing op die opstanding van Jesus toe.

Daar is twee punte in Craig se argumentasie wat ek voel wel duideliker aan die gehoor uitgewys kon gewees het. Ek dink dit sou sy argumente op ‘n goeie basis gestel het en as ‘n goeie voorbeeld gedien het vir slim bewyslewering. Dit is belangrik, omdat die gehoor ongelukkig baie keer onbewus is van hierdie punte (selfs hul debatsopponente is dikwels onbewus van die deurdagte aard hiervan!).

Eerstens het Craig en Licona nêrens in die hele debat die Bybel se foutloosheid en Goddelike inspirasie in hul argumente veronderstel of daarvan gebruik gemaak nie – al glo hulle baie sterk daarin. Maar dit is belangrik dat hulle so doen, want anders debatteer hulle punte wat formeel op ander voorveronderstellings gebou is as dit wat hul opponente gebruik. As Craig byvoorbeeld net heeltyd aangevoer het dat die Bybel geïnspireerd en foutloos is, dan het hulle eintlik verby mekaar gepraat. (Ons weet natuurlik dat dit die Heilige Gees is wat ‘n mens oortuig en harte verander, maar dwarsdeur die Bybel is dit duidelik dat die Heilige Gees middele gebruik om mense tot bekering te bring en hulle van gedagte te verander, soos byvoorbeeld ander mense, gebeure, argumente, ens. – alles logies en rasioneel, al is dit by tye ook bonatuurlik.) Daarom het Craig in die debat byvoorbeeld nie maar net veronderstel dat alles wat die Evangelies sê oor Jesus se kruisiging en opstanding, waar is nie. Selfs al glo Craig vas dat die kleinste feit en woord in die Evangelies waar is, sal hy slegs die relevante punte of teks-gedeeltes wat hy in sy argumente wil gebruik, verdedig. Daarom gebruik hy slegs ‘n arsenaal van bewyse wat streng gedemonstreer kan word (selfs met die minste voorveronderstellings oor die Bybel se betroubaarheid) met historiese en tekstuele navorsing wat so deur skeptiese NT navorsers aanvaar word. Op een punt het Michael Licona byvoorbeeld gepraat van “al die onbetwiste geskrifte van Paulus.” Natuurlik glo hy self dat al die NT boeke van Paulus, insluitende byvoorbeeld 1 en 2 Timoteus wel deur Paulus geskryf is – maar meeste Nuwe Testamentici glo dit nie. So beperk Licona homself slegs tot die NT briewe wat die verre meerderheid van kritiese Nuwe Testamentici (sowel as Spangenberg en Wolmarans) ongetwyfeld oortuig is wel deur Paulus geskryf is (boeke soos o.a. Romeine en Galasiërs). So kan die opponente nie beswaar aanteken oor punte wat nie direk relevant is tot die gesprek nie. Ons het definitief nodig om hierdie tipe wysheid van denke tuis te bring by party Christene wat vinnig is op die sneller, vinnig om die inspirasie van die Bybel op hulle ongelowige kollegas af te dwing, maar stadig is om te vra met watter posisie hulle ongelowige vriende begin.

Tweedens, maar in samehang met die eerste punt, is daar nog ‘n belangrike punt wat ek voel Craig en Licona miskien net ‘n paar oomblikke aan kon spandeer om vir die gehoor te verduidelik. Dit is dat die oorgrote meerderheid NT akademici waarna Craig en Licona gereeld verwys, nie veronderstel of selfs glo dat die Bybel onfeilbaar of geïnspireerd of gesaghebbend is nie. Dit maak Craig se verwysings na hulle soveel meer kragtig, en die feit dat hy so kan doen, indrukwekkend. Hy haal mense aan wat nie noodwendig (of enigsins) geneë is om te glo dat die Bybel waar en gesaghebbend is nie. Die probleem om dit nie te verduidelik nie is net dat wanneer meeste mense op straat hoor van “NT akademici,” hulle dikwels vir hulself sê, ‘Ag, maar wat verwag jy van NT akademici, hulle begin deur te glo dat die Bybel waar is!” Maar so ‘n siening is uiters naïef. Meeste NT akademici is nie evangeliese Christene nie!

Daar was ‘n paar interessante oomblikke waar Spangenberg vir ‘n ruk lank heftig gereageer het oor hoe die Bybel verkeerdelik gebruik is om Apartheid te verdedig. Sy denke hieroor is egter heeltemal skeef en onverstaanbaar: Apartheid was nie die Bybel se skuld nie! Dit is weens onnadenkende, naïewe Christene en hulle predikante, wat nie die Bybel bestudeer het vir wat dit is nie, dat Apartheid ooit regverdig kon word.

Na alles het dit voorgekom dat die Spangenberg-Wolmarans span swak voorberei en uit pas was. Die totaliteit van hul aanbieding het hulle by tye laat lyk soos ‘n paar verstrooide proffies en nie soos mense wat iets ernstig te sê gehad het nie. Craig het later opgemerk, “Hulle radikale sienings oor die Christelike geloof is ‘n onsamehangende mengelmoes van modernistiese wetenskaplike naturalisme en postmodernistiese ontkenning van objektiewe betekenis.”

Dit was werklik opmerklik dat Spangenberg en Wolmarans nie hul huiswerk oor Craig en Licona gedoen het nie. ‘n Mens moet jou afvra: as mense so slordig is met hulle voorbereiding, as hulle nie eers die eenvoudige moeite gedoen het om hulle te vergewis van Craig se debatte oor hierdie onderwerp op die internet nie, hoe goed kan hul navorsing en aansprake werklik wees? Hulle het byvoorbeeld die fout gemaak om te verwys na die werk van die liberale akademikus, Geza Vermes. Licona het egter juis ‘n ruk gelede ‘n resensie geskryf vir ‘n bekende akademiese tydskrif waarin hy uitwys hoe onhistories en ongegrond Vermes se benadering in werklikheid is. In onderhoude in die verlede het Spangenberg nogal sterk daarop aanspraak gemaak dat hy tekste deeglik lees, sodat ‘n mens die indruk gekry het dat hy ‘n deskundige is in die lees van antieke tekste. Maar daardie Woensdagaand was Spangenberg se kundigheid met tekste nêrens te vinde nie.

Spangenberg en Wolmarans het ook probeer om Craig en Licona by implikasie voor te stel as fundamentaliste wat uit voeling is met die nuutste navorsing en met ‘n oudmodiese wêreldsiening werk. Dit was daarom besonder gepas toe Craig op ‘n stadium die enorme Blackwell Companion to Natural Theology (waarvan hy die mede-redakteur was) uitpluk om aan te toon dat nie ‘n enkele teoloog van enige aard bygedra het aan daardie volume nie, maar wel erkende deskundiges in ‘n verskeidenheid van ander velde, onder andere filosofie. Daarin wys hulle dat geloof in ‘n persoonlike God vandag geensins verouderd of onverantwoordbaar is nie.

As daar een ding is wat Craig en Licona duidelik gewys het, dan is dit hoe ingegroei, plaaslik en self-verwysend liberale teologie in Suid-Afrika oor die algemeen is. Liberale teoloë kap natuurlik gewoonlik terug met die desperate, amper koorsagtige refrein dat Amerikaanse Christene “fundamentaliste” is. Amerikaanse Christene word deur die bank geskets as reaktief en obsessief. So word Wolmarans, wat nie in God glo nie, in ‘n Rapport-artikel oor die debat soos volg aangehaal oor die Amerikaners se aanbiedings: “Dit is ‘n tipe retoriese geweld, ‘n aggressiewe vorm van Christenskap.” Maar hoewel daar baie in Amerikaanse Christenskap is wat uiters misleidend is (bv. welvaartsgeloof, “Word of Faith” asook die ontluikende kerk, “contemplative spirituality”), is die beste in Amerikaanse Christenskap steeds die bron waaruit behoudende Christenskap wêreldwyd gevoed word. Dit is tot Suid-Afrika se nadeel dat die teologie hier nog altyd sterker op liberale Europese teologie gefokus het, met die gepaardgaande noue teologiese denkwyse. Dis wat maak dat selfs sogenaamde behoudende teologie in Suid-Afrika oor die afgelope drie dekades so uiters onbeholpe was om die liberale opmars te keer. In hierdie verband het Craig die Suid-Afrikaanse kerk beskryf as “piëtisties en swak toegerus om die uitdagings van die sekulêre kultuur aan te vat.”

Ons kan nie ignoreer dat in Suid-Afrika hierdie verskralende liberale teologie ‘n dreinerende effek op konserwatiewe Christenskap gehad het nie. Dis tyd dat ons, soos Andrew Murray in die 1850’s, toe die kerk deur liberale teologie bedreig is, weer kyk na die Amerikaanse evangeliese beweging as die beste rigting om in te slaan. Dit is slegs met die herontdekking in Suid-Afrika van die betekenis van die woord ‘evangelies’ soos dit in Amerika verstaan word, dat daar hoop is. Die suiwerste en mees lewenskragtige vorm van Christenskap is daar te vind, vergestalt in The Gospel Coalition. Dit is ‘n robuuste en dinamiese uitrusting wat ‘n onverskrokke akademiese intensiteit in die studie en geloof in die Bybelse teks kombineer met ‘n optimistiese en praktiese uitleef van ‘n persoonlike Christelike geloof. Michael Licona se aanmoediging aan konserwatiewe, Bybel-gelowige Christene hier, en sy illustrasie van hoe die hiper-radikale “Jesus Seminar” in Amerika uiteindelik verdof en gekwyn het, was baie welkom. Amerika het egter een groot voordeel. Oor die algemeen is predikante daar baie beter opgelei in evangelieseteologie en ‘n Bybelse wêreldsiening. Dit is nie die geval in Suid-Afrika nie, die standaarde van “behoudendheid” en wat dit beteken om “evangelies” te wees, is hier oor die algemeen baie meer afgewater.

Interessant genoeg het Beeld se liberale en pro-“Nuwe Hervorming” joernalis, Neels Jackson, nie iets oor die debat geskryf nie. Soos die faro’s van ouds, verkondig hulle klaarblyklik nie hul nederlae nie. Hulle is egter onder stof geloop, deeglik en eerlik, al is hulle dalk nou kwaad of bitter daaroor.

Ons mag mense soos Sakkie Spangenberg en Hansie Wolmarans nie beledig nie, en wanneer ons hulle in die straat raakloop, of wanneer ons met hulle praat of aan hulle skryf, moet ons dit met vriendelikheid, waardigheid en sensitiwiteit doen. Wanneer ons egter hul argumente bespreek, wil ons dit blootstel aan ‘n lig so helder dat dit die gebrekkigheid van hul argumente in volle naaktheid ontbloot! Terselfdertyd het ons nodig om hierdie sake in genoeg sensitiwiteit te benader, om te probeer verstaan waarom mense bepaalde dinge oor God (dat hy nie bestaan nie) en die Bybel (dat dit nie betroubaar is nie) begin glo. Ons kan nie net van buite af kom, vanuit ons eie sekerheid en ‘n grap daarvan maak nie. Ons kan gerus lees wat hulle lees om te verstaan hoe verstandige mense se denke stadig maar seker in blinde straatjies en stegies van deurmekaar denke ingelei word, en baie mense wegneem van geloof (en redding!).”

As ons hoop om mense te beïnvloed moet ons weet hoe hulle dink. Veral moet ons probeer verstaan hoe dit gebeur dat mense hulle geloof verloor. Baie studente wat kweekskool toe gaan na skool en wat slegs toegerus is met Sondagskool lessies, beleef gou ontnugtering wanneer gedugte professors hul naïewe geloof begin uitdaag. Ons het nodig om dit te verstaan en te beveg met kennis, insig en ‘n persoonlike sensitiwiteit wat mense kan help waar hulle ook al is. Ons moet deelneem aan hierdie debat, want daar is baie op die spel, beide vir ons en vir ander. Die Bybel se waarskuwings oor die wegdraai van die lig af, dwing ‘n mens tot sobere nadenke as ‘n mens iemand soos Sakkie Spangenberg se geloofsreis in ag neem. Hy het begin met ‘n geloof in Jesus veertig jaar gelede toe hy as ‘n teologie-student begin studeer het, maar glo vandag glad nie meer in God nie. Hebreërs 6:4 verduidelik dat dit onmoontlik is om terug te draai nadat ons die lig verwerp het. Net so verwys 1 Johannes 5:16 na die onvergeeflike sonde waarvoor daar nie gebid kan word nie – die verwerping van die Evangelie van Jesus ná ons dit met oortuiging geglo het.

Kom ons hou egter aan skryf aan die koerante wanneer liberale teoloë dinge kwyt raak wat nie water hou nie. Kom ons wees kreatief, wys en uitdagend, maar kom ons maak seker dat ons altyd met waardigheid optree. En as die koerante nie ons briewe publiseer nie laat ons die internet gebruik om te sê wat die werklike stand van sake is.

Toe ons uitstap na die debat van Woensdagaand, het ek ‘n groepie ouens met mekaar hoor praat oor die aand se gebeure. Uiteindelik het een van hulle gesê, “As hierdie die beste is wat die Nuwe Hervorming kan doen, dan kom dit nie op veel neer nie.”

Laat ons dus wanneer die DVD van die debat beskikbaar word, dit tot die grootste effek aanwend.

–        Christiaan DeWet Ferreira

(© Bogenoemde artikel is kopiereg van Christiaan DeWet Ferreira, maar mag vrylik geherproduseer word, solank die volle artikel geherproduseer word met die web-adres as verwysing, of in geval van korter aanhalings, die outeur en hierdie web-adres.)

Christiaan DeWet Ferreira is mede-stigter en uitvoerende direkteur van Truth To Tell Media, ‘n bediening wat hom toespits op die verspreiding van hoë kwaliteit Bybellering DVDs, CDs, boeke, seminare en artikels. Christiaan Ferreira het ‘n regsgraad, asook tersiêre studies in wiskunde, sterrekunde en fisika, en ‘n Honeursgraad in Antieke Tale en Kulture. Hy is tans besig met nagraadse studies oor die antieke Nabye Oosterse en Klassieke beskawings, en het deelgeneem aan argeologiese opgrawings in die Midde-Ooste.

Webwerf: www.TruthToTell.co.za

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.