Visie, Missie & Waardes

AntWoord is ‘n eg Suid Afrikaanse bediening vir Christelike apologetiek. Ons fokus is om:

  • Christene te help toerus om verantwoording te kan doen vir wat en hoekom hulle glo wat hulle glo tot versterking van hul geloof,
  • aan skeptici te demonstreer dat die Christelike geloof nie ‘n blinde sprong in die donker is nie en sodoende ‘n ongegronde aanklag af te weer, en,
  • soekende mense uit te nooi om die aansprake van die Christelike geloof te ondersoek ter wille van intellektuele integriteit.

 

AntWoord streef daarna om hierdie fokus in die konteks van opregte verhoudings te handhaaf. Niemand kom summier tot geloof deur ‘n argument nie. Tog glo ons dat waar mense omgee en liefde ervaar en waar mense se vrae en bekommernisse ernstig opgeneem word, daar die plek is waar die Heilige Gees graag werk om tot mense se harte deur te dring en om groei en wedergeboorte moontlik te maak.

AntWoord is deurdag, eerlik en toegewyd. Dit beteken:

  • Ons sal met vriendelikheid en goedgemanierdheid optree teenoor almal wat met ons in aanraking kom. Ons sal sinlose stryery vermy, veral wanneer iemand ons nie regtig ‘n regverdige kans gun nie. Ons onderneming is egter om altyd bereid te wees om te luister en ander se perspektief te probeer verstaan. Ons glo daar is altyd ‘n persoon agter ‘n vraag of ‘n kwessie en dikwels ook die dieper vraag agter ‘n vraag. Wanneer ons verskil sal ons dit met sagmoedigheid doen en ander altyd met respek en menswaardigheid behandel.
  • Ons sal in gedagte hou dat elke persoon en situasie uniek is en ons sal nie goedkoop antwoorde gee nie. Dit is vir ons belangrik om vrae te vra en altyd eers seker te maak dat ons ander reg verstaan, dat ons al die feite het en nie ander se idees en opinies wanvoorstel nie. Ons sal altyd die meriete in ander se kant van die saak erken, maar ons sal egter ook foutiewe denke uitdaag en ons verstaan van die waarheid in ‘n duidelike en deurdagte manier oordra. Ons erken egter terselfdertyd dat ons verstaan van die waarheid feilbaar is. Daarom is ons doel nie om argumente te wen nie, maar om saam met ander te soek na wat die redelikste is om te glo oor wat werklik waar is.
  • Ons is onbeskaamd verbind tot Jesus van Nasaret as historiese persoon en Here van ons lewe. Daarom is ons ook onbeskaamd verbind tot die waarheid van sy opstanding uit die dood as ‘n historiese gebeurtenis en as oorwinning oor die sonde. Ons maak geen verskoning daarvoor of geheim daarvan dat dit die kern is waarom die Christelike apologetiek draai nie. In ons navorsing, skryf en praat met mense is ons ook altyd van die Heilige Gees se werking en leiding afhanklik vir lewensverandering, in ons eie lewens, sowel as in dié van ander.

Sien ook:

Gesluit vir kommentaar.