Medewerkers

Philip Scheepers is ‘n boorling van Somerset Oos. Hy het die grootste deel van sy jeug in die Vrystaat deurgebring en het aan die Universiteit van die Vrystaat sy teologiese studies voltooi. Philip het sy bediening in Port Elizabeth begin waar hy vir drie jaar werksaam was in die NG Gemeente Grasvoëlkop. Hy het op ‘n deeltydse basis sy studies aan die UV voortgesit en in September 2003 ‘n Doktorsgraad in die Teologie behaal. Philip is al vir ‘n geruime tyd by Veritas College werksaam. Veritas College is toegespits op die ontwikkeling van kerkleiers reg oor die wêreld. Philip is met Chanel getroud en hulle het ‘n seun, Ian, wat in 2004 gebore is.

Henk Stoker is vir twee dekades al besig met die uitdra van die evangelie na mense vasgevang in kultes en ander dwaalleer. Hy het al verskeie wetenskaplike en populêre artikels hieroor gepubliseer. Hy het ‘n doktorsgraad in teologiese apologetiek (PU vir CHO), ‘n meestersgraad in filosofie, en ‘n honneursgraad in sielkunde. Hy is leraar by Gereformeerde Kerk Rietvallei. Hy is getroud met Elsa, en het vyf kinders, Louisa, Arina, Tertia, Pieter en Johannes.

Christiaan DeWet Ferreira is medestigter en uitvoerende direkteur van Truth To Tell Media , ʼn organisasie wat hom toespits op die verspreiding van hoë kwaliteit Bybellering DVD’s, CD’s, boeke, seminare en artikels. Christiaan Ferreira het ʼn regsgraad, asook tersiêre studies in wiskunde, sterrekunde en fisika, en ʼn Honneursgraad in Antieke Tale en Kulture. Hy is tans besig met nagraadse studies oor die antieke Nabye Oosterse en Klassieke beskawings, en het deelgeneem aan argeologiese opgrawings in die Midde-Ooste.

Herman Carstens is in Johannesburg gebore en getoë. Terwyl hy meganiese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria  gestudeer het, het hy ‘n Christelike apologetiek bediening vir studente op kampus begin. Hy werk tans as ‘n meganiese en lugvaartkundige ingenieur en voltooi deeltyds ‘n honneurs in Bedryfsingenieurswese by TUKS. Herman is betrokke by die Dialoog in ‘n ondersteunende hoedanigheid.

Gesluit vir kommentaar.