Sout en lig

deur Udo Karsten

Ek stel my voor dat iemand al oor die volgende gewonder het. Waarom die naam ‘AntWoord’? Is dit nie effe arrogant en dogmaties selfversekerd om so ʼn naam vir ‘n bediening te kies nie? Hou die Christelike geloof nie straks eerder verband met ʼn meer nederige houding nie? Selfs die hele gedagte aan ‘apologetiek’ roep nou nie juis beelde van vredeliewendheid en toeganklikheid op nie. Dis ʼn vreemde, akademies klinkende woord om mee te begin. En as ʼn mens die moeite doen om rond te vis na definisies dan duik woorde soos ‘rasioneel’, ‘verdedig’ en ‘redenasie’ op. Suggereer dit nie ‘n verhewenheid, ʼn soort ek-weet-van-beter houding nie?

Wat toegegee moet word is dit: ʼn Vinnige en kontekslose antwoord wat nie eers behoorlik met die vraag agter die vraag – en belangriker nog, met die mens agter die vraag – moeite gedoen het nie, is ten beste ʼn eensydige monoloog met bedenklike, indien enige waarde. Daarom is die Christen wat gemoeid is in nie-persoongesentreerde apologetiek in gevaar om mense van die Christelike geloof te vervreem met ʼn eiegeregtige ek-weet-van-beter houding, eerder as om enige opbouende invloed uit te oefen.

In ‘n ander artikel (Apologetiek en evangelisasie) is daar gekyk na drie oneffektiewe benaderings tot mense en sake van die dag waarin ons elkeen gemoeid is. Hierdie benaderings is oneffektief veral omdat dit nie ʼn persoongesentreerde gesindheid in ons daaglikse interaksie teenoor ander openbaar nie. Maar wat presies beteken dit om persoongesentreerd te wees? Wanneer is ons besig om waarlik sout en lig in die wêreld te wees? Waarskynlik wanneer ons…

  • …doelbewustelik inisiatief neem om by mense betrokke te raak (veral nie-Christene) – in hulle alledaagse emosionele ervaring, sowel as die manier waarop hulle die wêreld rondom hulle op ʼn verstandsvlak interpreteer.
  • …effektief kommunikeer. Effektiewe kommunikasie begin deur te luister, belang te stel en te probeer verstaan wie die ander persoon is, wat die faktore is wat bydra tot sy/haar verstaan van wat die wêreld waarin hy/sy leef. Sulke kommunikasie vra aanvanklik meer vrae as wat dit poog om antwoorde te gee, dit probeer dialoog stimuleer eerder as om ‘n gesprek deur monoloog te smoor.
  • …mense help om teenstrydighede in hul manier van dink oor die wêreld waarin hulle leef raak te sien, sowel as teenstrydighede tussen so ‘n manier van dink en hul alledaagse optrede in die wêreld. Maar is dit dan nie juis ʼn ek-weet-van-beter houding nie? Wel, dit staan enigiemand seker vry om te dink iemand het ‘n ek-weet-van-beter houding as hy ʼn ander daarop wys dat 2 + 2 nie 5 is nie. Dis ironies dat mense meestal net die ek-weet-van-beter houding by diegene beleef wat eintlik niks van hulle af weet nie, nie die moeite gedoen het om uit te vind nie en praat asof hulle wel iets weet. Daarom dat effektiewe kommunikasie en die vaardigheid om na ander te luister met die doel om te verstaan, so belangrik is. Dit is in die konteks van ʼn verhouding dat ons saam met ander die kwessies van die lewe in ʼn veilige ruimte kan ondersoek, selfs al kom ons nie tot vergelyk nie, sonder dat daar enigsins sprake hoef te wees van enige beterweterigheid.
  • ..die boodskap van die evangelie, die kern van die Christelike geloof, met mense se lewens in verband bring. Dit kan ons slegs effektief doen wanneer ons die moeite gedoen het om te probeer verstaan waar ʼn ander persoon in sy lewe is en waar hy of sy vandaan kom.
  • …wanneer dit geleë is om te doen, mense te help om Jesus as persoonlike Verlosser aan te neem. Uit die trant van wat reeds genoem is, is dit duidelik dat die fokus in ʼn persoonsgesentreerde benadering nie bloot ʼn formule volg en nadat al die regte stappe gevolg is, die uiteinde ʼn bekeringsmoment moet wees nie. Tog is dit so dat mense dikwels aangemoedig en gehelp kan word om in ʼn doelbewuste daad van toewyding sy/haar lewe aan Christus toe te vertrou. Dit is ook dikwels in die konteks van ʼn verhouding dat sulke hulp die meeste sin maak en waar die vrugte van bekering gesien kan word en die proses van dissipelskap blywend is.

Die antwoorde wat deel is van die Christen se wêreldbeskouing is meer as net ʼn paar proposionele stellings as deel van ʼn argument. Die ‘antwoord’ is die waarheid van die Bybel wat uitdrukking vind in ons pogings om met die hulp van die Heilige Gees, te verstaan hoe dit op ons lewens van toepassing is. Maar veral is die ‘antwoord’ ook ʼn manier van leef, van ander mense liefhê en dien. Hierin is dit die navolging van ʼn finale Antwoord – die persoon van Jesus Christus.

(Sien ook “AntWoord: die storie agter die naam”)

Good people think before they answer. Evil people have a quick reply, but it causes trouble. Proverbs 15:28  (GNB)

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.