Bekende Ateïs Verander Sy Opinie

deur André van Zyl

 

Prof. Antony Flew, 81 years old, is a legendary British philosopher and atheist and has been an icon and champion for unbelievers for decades. His change of mind is significant news, not only about his personal journey, but also about the persuasive power of the arguments modern theists have been using to challenge atheistic naturalism. C.J. Hazen

Dr Anthony Flew now believes in God. I’m not sure how to express what a big deal this is. I believe it may represent one of the seven seals of the apocalypse. Soon dogs and cats will begin sleeping with each other and Michael Moore will be publicly repeating the Pledge of Allegiance. Any halfwit can jump up and down denouncing God, but for a half century professor Anthony Flew has been considered probably the number one living intellectual proponent of religious skepticism and atheism. Al Barger

Inleiding

Gedurende 2004 het ‘n baie belangrike gebeurtenis plaasgevind wat bykans onopgemerk by die Suid-Afrikaanse media en publieke oog verbygegaan het. Die wêreld-bekende Britse filosofie-professor Antony Flew (1923 – 2010) het sy standpunt van ateïsme na teïsme verander. Hierdie verandering na teïsme beteken dat hy in die verlede die standpunt gehuldig het dat daar nie ‘n God bestaan nie en nou glo dat daar wel ‘n God bestaan. Hierdie verandering is veral belangrik omdat Prof. Flew in die twintigste eeu ‘n baie prominente rol gespeel het as ondersteuner en uitbouer van ateïstiese denke.

Hierdie artikel het ten doel om kortliks oor sy verandering van opinie en die belangrikheid daarvan kommentaar te lewer.

Wie is prof. Antony Flew?

Prof. Antony Flew is ‘n wêreldbekende akademikus wat al by verskeie universiteite as professor werksaam was. Die universiteite waar hy al gewerk het sluit Oxford, die Universiteit van Aberdeen (Skotland), die Universiteit van Reading (Engeland) en die Universiteit van Toronto (Kanada) in. Sy studieveld is filosofie en hy spesialiseer in argumente teen die bestaan van God sowel as oor die moontlikheid van wonderwerke. Prof Flew het meer as twintig boeke en meer as sewentig akademiese artikels die lig laat sien. Hy is een van die mees gerespekteerde ateïstiese filosowe ter wêreld. Na meer as vyftig jaar se uitstaande werk is prof. Flew ‘n baie gerespekteerde persoon in die akademie en is sy argumente baie gewild onder ateïstiese filosowe.

Wat het in prof. Flew se denke en lewe gebeur?

Voor daar oor die verandering in Flew se standpunt uitgebrei word, is dit belangrik om moontlike misverstande oor wat in sy denke gebeur het uit die weg te ruim. Baie mense het ‘n gevestigde belang daarin dat Flew se denkverandering nie as geloofwaardig gesien moet word nie. Indien sy denkverandering verdag gemaak kan word, kan dit as irrasioneel en onbelangrik afgemaak en dus geignoreer word.

Die eerste belangrike aspek is dat Flew nie ‘n bekering van enige aard ondergaan het nie. Tweedens het die verandering ook nie skielik gebeur nie, maar oor ‘n lang tyd in Flew se denke en verstand gegroei en is nie op ‘n emosionele of godsdienstige belewenis gegrond nie. Laastens is die denkskuif wat Flew gemaak het in geen opsig irrasioneel nie. Die besluit om ’n teistiese posisie in te neem is ‘n erkenning van die besonders sterk getuienis ten gunste van die bestaan van ’n God.

Die verandering in Flew se denke verteenwoordig ‘n groot sprong. Hy het nie van sekerheid dat daar nie ‘n God bestaan nie na onsekerheid of God bestaan (agnostisisme) beweeg nie, maar van sekerheid dat daar nie ‘n God bestaan nie na sekerheid dat daar wel ‘n God bestaan. In Flew se eie woorde is die rede vir die verandering dat hy verplig gevoel het om die getuienis te volg waarheen dit ook al lei. Die beskikbare getuienis en argumente het Flew tot so ‘n mate oortuig dat hy homself in 2004 amptelik verbind het tot ‘n oortuiging dat God wel bestaan.

Een van die argumente wat swaar geweeg het in Flew se denke staan as die “intelligente ontwerp”-argument bekend. Die ontwerp-argument stel in sy mees basiese vorm dat indien daar tekens van ontwerp in die heelal aanwesig is dit sou impliseer dat daar ‘n Ontwerper (God) moet wees. Verskeie van die nuutste wetenskaplike ontdekkings en die werk van wetenskaplikes wat die “Intelligent Design (ID)” argument onderskryf, het volgens prof. Flew baie gewig gedra in sy denkverandering. Die volgende twee aanhalings kom direk uit ‘n onderhoud tussen Flew en Gary Habermas en is gevoer na afloop van die bekendmaking van sy denkverandering:

“FLEW: I think that the most impressive arguments for God’s existence are those that are supported by recent scientific discoveries…I think the argument to Intelligent Design is enormously stronger than it was when I first met it.

HABERMAS: So you like arguments such as those that proceed from big bang cosmology and fine tuning arguments?

FLEW: Yes.

HABERMAS: So of the major theistic arguments, such as the cosmological, teleological, moral, and ontological, the only really impressive ones that you take to be decisive are the scientific forms of teleology?

FLEW: Absolutely. It seems to me that Richard Dawkins constantly overlooks the fact that Darwin himself, in the fourteenth chapter of The Origin of Species, pointed out that his whole argument began with a being which already possessed reproductive powers. This is the creature the evolution of which a truly comprehensive theory of evolution must give some account.  Darwin himself was well aware that he had not produced such an account. It now seems to me that the findings of more than fifty years of DNA research have provided materials for a new and enormously powerful argument to design.”

Die God van wie se bestaan Flew nou oortuig is, is egter nie een wat maklik deur aanhangers van die hoofstroom gelowe erken sal word nie. Sy beskrywing van die eienskappe van hierdie God kan as deïsme beskryf word. Met die term deïsme word ‘n onpersoonlike en onbetrokke wese bedoel, ‘n wese wat die skeppingsproses aan die gang gesit het, maar homself daarna heeltemal van sy skepping onttrek het. ‘n Deïstiese God sou nooit by die heelal ingryp nie en sou vir die mens geheel en al onkenbaar wees. Flew verwerp die Christelike, Joodse en Moslem beskrywing van ‘n persoonlike God heeltemal.

Flew se denkverandering het baie reaksie ontlok. Sommige Christene sien sy verandering van opinie as ‘n oorwinning vir Christenskap, bykans asof Flew tot bekering gekom het. Ander Christene gebruik dit om ‘n bespotting te maak van die ateïstiese siening en van ateïste oor die algemeen. Uit ‘n heeltemal ander hoek is daar reaksie vanuit die ateïstiese geledere wat Flew se denkverandering afmaak as “‘n ou man wat uit vrees vir die dood sy opinie verander het om sodoende sy opsies oop te hou”. Hiervolgens sou Flew of irrasioneel of seniel moes wees om so ‘n verandering te maak.

Nie een van hierdie reaksies is ‘n geregverdigde manier om op hierdie ernstige saak te reageer en Flew as mens en akademikus te respekteer nie. Flew verwerp op die oomblik die Christelike geloof heeltemal en dit grens aan oneerlikheid om sy denkverandering as ‘n bekering te probeer uitbeeld. Die Christene wat die denkverandering gebruik om met Flew en ateïste oor die algemeen te spot, loop die gevaar om mense op ‘n bykans onchristelike manier seer te maak en om hulle nog verder van die Christelike geloof as ‘n ernstige opsie te vervreem. ‘n Spottende reaksie kan met reg as liefdeloos en skynheilig beleef word. Die moed wat Flew aan die dag gelê het in sy wroeging en uiteindelike besluit om ateïsme te verwerp, verdien respek en is nie iets waarin enige Christen homself behoort te verlekker nie. Prof. Flew se denkverandering is nie ‘n geleentheid vir Christene om ‘n vinnige slag te slaan teen ateïste nie. Dit dien wel as ‘n gulde geleentheid tot respekvolle gesprekvoering en ‘n herbeskouing van die beskikbare getuienis ten gunste van die bestaan van God.

Die ateïstiese gemeenskap se geneigdheid om Flew se integriteit en vermoë nou skielik in twyfel te trek, laat mens wonder oor hul motiewe. Daar is in die eerste plek geen teken dat Flew ‘n skielike vrees vir die dood ontwikkel het en daarom nou na veiligheid in godsdiens soek nie. Die deïstiese God wat Flew aanvaar neig in elk geval meer na ‘n soort onpersoonlike krag wat geen hoop of troos sal bied vir iemand wat met vrees vir die dood gekonfronteer word nie. Daar is tweedens ook geen tekens van seniliteit of intellektuele agteruitgang by prof. Flew te bespeur nie. In akademiese binnekringe word sy denke en intellektuele vermoëns steeds besonders hoog aangeslaan.

Op die oogaf lyk prof. Flew se skuif na ‘n baie brawe en eerlike reaksie van ‘n hoogs intelligente man wat al die beskikbare getuienis oorweeg het om sy besluit te vorm. Dit verg baie moed om ‘n standpunt wat ‘n mens se lewenswerk verteenwoordig heeltemal te verander. Tensy daar nuwe getuienis aan die lig kom wat negatief op prof. Flew se integriteit of intelligensie reflekteer, moet sy verandering as ‘n eerlike en rasionele skuif aanvaar word.

Wat is die belangrikheid van Flew se denkverandering?

Prof. Flew se denkverandering het ernstige implikasies vir verskeie groepe. Eerstens het dit belangrike implikasies vir die ateïstiese gemeenskap. Prof. Flew se denkverandering plaas hulle onder die verpligting om die beskikbare argumente en getuienis weer ernstig te ondersoek en te oorweeg. Geen ateïs kan meer na afloop van prof. Flew se uitsprake met dieselfde mate van sekerheid as in die verlede die bestaan van God ontken sonder om die getuienis te heroorweeg nie.

Die tweede implikasie is vir die godsdienstige gemeenskap. Daar is geen ruimte vir smalende genoegdoening vanuit die godsdienstige gemeenskap nie. Dit moet in gedagte gehou word dat Flew se siening van gevestigde godsdienste en geloof in ‘n persoonlike God steeds heeltemal negatief is. Die belangrikste waarde van sy denkverandering lê in die geleentheid wat dit aan gelowiges bied om met ateïste en agnostici (mense wat onseker is of daar ‘n God bestaan) in gesprek te tree. Prof. Flew se denkverandering bied ‘n gulde geleentheid aan gelowiges om ongelowiges en onsekeres aan te moedig om die getuienis en argumente objektief te heroorweeg. So ‘n gesprek sou egter behels dat die gelowige self die ontwerp-argument moet bestudeer om tydens ‘n gesprek met twyfelaars ten minste ‘n eenvoudige uiteensetting daarvan te kan gee. (Kyk na verwysings aan die einde van die artikel of in die studiestuk oor evolusie vir meer inligting oor die ontwerp-argument)

Laastens dui Prof. Flew se denkeverandering op die krag van die argumente wat besig is om vanuit die “Intelligent Design” beweging na vore te kom. Die ID beweging word in baie wetenskaplike en filosofiese kringe as ‘n grap afgemaak. Die ID argumente en getuienis word dikwels nie eens ernstig oorweeg nie. Die feit dat die argumente sterk genoeg was om iemand soos prof. Flew te oortuig, dui op die hoë mate van geloofwaardigheid oor die filosofiese onderbou daarvan. Die denkverandering moet dien as aanmoediging vir die ID gemeenskap om op die filosofiese denke voort te bou. Daar moet aangehou word om hard te werk met die broodnodige empiriese navorsing wat gebruik kan word om die gedagte van ‘n Ontwerper te ondersteun. Soos vroeër opgemerk is dit belangrik dat Christelike apologete hulself beter in die ID argumente onderlê. Dit kan dien as ‘n baie prominent deel van hul verdediging van die redelikheid van die teïstiese siening.

Vir meer inligting oor die ID beweging en die denke wat dit onderlê, besoek gerus www.discovery.org. Die webwerf beveel ook verskeie boeke aan wat meer inligting oor die onderwerp kan verskaf. ‘n Volledige onderhoud tussen Gary Habermas en Prof. Anthony Flew is by die AntWoord bediening beskikbaar.