Geloofsekerheid

Hallo Udo

Ek kom uit ‘n Christen-huis en gaan kerk toe, lees my Bybel en bid ook. Wanneer ek egter ander Christene se geloof sien, dan twyfel ek oor die egtheid van my eie geloof. Lank terug het ek my hart vir die Here gegee. Tog wonder ek dikwels of ek werklik glo en of ek werklik gered is.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Gun my ‘n paar oomblikke van jou tyd en geduld om ‘n paar goed uit te klaar en dan sal ek aan die einde die lyne bymekaar probeer trek as ‘n antwoord op jou vraag.

Ek dink dis ‘n groot voorreg om in ‘n huis te kon grootword waar Christelike waardes en leer ‘n rol gespeel het. Daar is so baie mense wat nie so ‘n onderbou in hulle opvoeding gehad het nie. Sulke mense wat later Christene word, getuig dikwels daarvan dat daar ‘n groot leemte in hulle lewe was, en dat hulle nou dankbaar is om hulle eie kinders vanuit ‘n liefde vir die Here te kan grootmaak.

Hoewel dit ‘n voorreg is, is dit natuurlik nie ‘n waarborg dat kinders wat in Christen-ouerhuise grootword noodwendig Christene gaan word nie (hiervan kan heelwat dominees met kinders, getuig). “Kulturele tradisie” moenie verwar word met wat “Christelike geloof” is nie. Veral in die Afrikaner gemeenskap, wat sulke sterk en goeie Christelike wortels het, is daar nog baie mense wat dink dat as jy jouself as ‘n Afrikaner beskou, dan is jy gewoonlik sommer per definisie ook ‘n Christen. Baie mense in die Afrikaner-kultuur beskou dit as ‘n tradisionele deel van ‘n Afrikaner se doen en late om kerk toe te gaan, Bybel te lees en te bid. Om hierdie dinge te doen, so redenaar baie mense, is mos om ‘n goeie Christen te wees! Die waarheid is egter dat om sulke dinge te doen, is om mee te doen aan sekere Christelike gebruike, maar dit beteken nie outomaties dat jy daarom ‘n Christen is nie. Om hierdie dinge te doen maak ook nie outomaties van jou ‘n Christen nie.

Uit bogenoemde is dit duidelik dat die belangrike vraag die volgende is: Wat is ‘n Christen? (en daarmee saam: Hoe word jy ‘n Christen?) Ek dink daar is veral drie aspekte wat elkeen ‘n belangrike rol speel in die definisie van ‘n “Christen”:

  • ‘n Christen glo spesifieke dinge – dit wat die Christelike geloof definieer en onderskei van ander gelowe (a Christian has Christian beliefs).
  • ‘n Christen glo reddend (a Christian has saving faith).
  • ‘n Christen leef ‘n Christelike lewe (a Christian lives a Christian life).

Daar bestaan soms baie verwarring oor wat elkeen van hierdie aspekte beteken en veral oor hoe elkeen met die ander verband hou. Dis daarom nodig om elkeen kortliks in oënskou te neem.

1.     ‘n Christen glo spesifieke dinge:

Wat beteken dit om iets te glo? Ek wil kortliks twee aspekte uitlig oor wat dit beteken om iets te glo:

  • Om iets te glo is om daarmee aan te dui dat ‘n sekere stelling ooreenstem met wat werklik die geval is. M.a.w. as ek sê ek glo dit reën in Pretoria, dan bedoel ek dat die stelling, “Dit reën in Pretoria” ooreenstem met wat werklik die geval is, ongeag van hoe ek weet dat dit in Pretoria reën. Die eerste ding om dus hier te verstaan is dat geloof nie te doen het met iets wat ‘n mens sommer opmaak omdat jy graag wil hê dat dit so moet wees of wens dat dit so sal word nie. Ongelukkig is dit egter presies hoe baie mense geloof verstaan en gebruik. Wanneer ek dus iets glo en dit kom later aan die lig dat ek verkeerd was, dan behoort dit egter nie so te wees omdat ek iets uit my duim gesuig het nie. Dit bring ons by die volgende punt.
  • As ek sê dat ek glo dat dit in Pretoria reën sonder om self in Pretoria te wees waar ek die reën direk kan ervaar, dan is dit redelik om te verwag dat ek darem goeie redes sal kan gee vir hoekom ek dit glo. In so ‘n geval is ek onder andere afhanklik van ander se getuienis oor die feit dat dit in Pretoria reën. As ek glo dat my bronne betroubaar is, sou dit vir my aanvaarbaar wees om te dink dat my geloof dat dit in Pretoria reën, ooreenstem met wat werklik die geval is. Om geloof in iets te hê beteken dus nie om daarmee te sê dat jy geen redes kan gee vir waarom jy iets glo nie. Geloof is dus ook nie per definisie blind, soos wat baie mense dink nie. Om iets te glo waarvoor daar geen of min rede is om dit te glo nie, is om die gevaar te loop om in valsheid te glo.

Die Christelike geloof behels dinge waarvoor daar goeie redes is om te glo dat dit ooreenstem met wat werklik die geval is. Van hierdie dinge het te doen met die bestaan van God, die betroubaarheid van die Bybel, die persoon, lewe en opstanding van Jesus, ens. Alhoewel baie Christene sê dat hulle sekere dinge glo, weet hulle nie altyd hoekom hulle dit glo nie. Om nie goeie redes te kan gee vir hoekom jy sekere dinge glo nie, maak nie die dinge wat geglo word daarom per definisie onwaar nie (bv. dit kan werklik die geval wees dat dit in Pretoria reën, al glo ek dat dit in Pretoria reën omdat my hond sy stert jaag). Tog behoort dit duidelik te wees dat ‘n ongegronde geloof intellektueel onbevredigend is en in sommige gevalle self onverantwoordelik kan wees. Daarom kan dit elke Christen net goed doen om hom of haarself te vergewis van hoekom bepaalde Christelike waarhede (Christian beliefs) ooreenstem met wat werklik die geval is.

Dit is belangrik om te besef dat iemand ‘n intellektuele oortuiging kan hê van ‘n klomp Christelike standpunte (someone has Christian beliefs), maar steeds nie ‘n Christen is nie. Dit is so omdat die kern van wat dit beteken om ‘n Christen te wees en te word, daarin te vinde is dat iemand glo dat Jesus vir die vergewing sy/haar sonde aan die kruis gesterf het. Dit bring ons by die tweede aspek van wat dit beteken om ‘n Christen te wees.

2.     ‘n Christen glo reddend:

Om te glo dat Jesus se dood vir die vergewing van mense se sonde gebeur het, is ook om te glo dat dit iets is wat ooreenstem met wat werklik die geval is. Vir die persoon wat werklik daarin glo, is so ‘n geloof iets wat hom/haar nie onaangeraak laat nie – dit maak noodwendig iets waar vir die persoon wat dit glo. Meer spesifiek, so ‘n persoon wat glo, ondergaan ‘n bonatuurlike verandering en so ‘n persoon word ‘n nuwe mens (die Bybel beskryf dit as ‘n tweede geboorte en is ‘n misterie, sien Joh. 3:1-3) in verhouding met God.

Wanneer iemand dus vra hoe ‘n mens ‘n Christen word, dan is die antwoord: deur te aanvaar dat Jesus vir die vergewing van jou sonde gesterf het. Dis belangrik om te verstaan wat so ‘n aanvaarding werklik beteken: dit kom neer op geloofsvertroue in ‘n Persoon en is iets wat ‘n verhouding met God moontlik maak. Hierdie aanvaarding is daarom glad nie net ‘n koue, intellektuele begrip of selfs aanvaarding van een of ander abstrakte idee nie. Dit is geloof as vertroue, dit vind in ‘n verhoudingskonteks plaas. Soos vroeër reeds genoem is die implikasie dat iemand bepaalde Christelike waarhede verstandelik kan aanvaar (to have Christian beliefs), selfs oor iets soos die kern van die evangelie (die goeie nuus van Jesus se versoeningsdaad aan die kruis), en dat dit steeds nie noodwendig beteken dat so iemand wel reddend glo nie (to have saving faith). So ‘n persoon se geloof/aanvaarding het ‘n kognitiewe aspek, maar dit ontbreek aan die verhoudings-aspek van werklike vertroue en die nuwe lewe wat daaruit voortvloei.

Dit is natuurlik so dat enige iemand wat hierdie aanvaarding in geloof wil uitoefen, ten minste minimale informasie nodig het om dit te kan glo. Dit beteken egter nie dat iemand wat reddend glo eers al die redes moet kan uitspel vir hoekom en hoe die Evangelie-boodskap waar is voordat hulle kan glo nie. Die rede hiervoor is weereens dat reddende geloof in die konteks van ‘n vertrouensverhouding met God plaasvind. Sulke vertroue (en die onderliggende besef dat ons absoluut van God afhanklik is) is nie afhanklik van ‘n presies geformuleerde stel abstrakte geloofstellings wat iemand soos ‘n rympie moet kan opsê nie. Die waarheid van die Evangelie-boodskap en die manier waarop ‘n mens tot reddende geloof kan kom, is eenvoudig genoeg sodat selfs ‘n jong kind reddend kan glo.

Ek is bewus dat die woorde “Jesus het vir my sonde gesterf” vir baie mense iets geword het waarvan die betekenis lankal verlore gegaan het of selfs iets wat nog nooit vir hulle werklik betekenis gehad het nie. Daarom dat ek vervolgens kortliks die groter konteks wil verduidelik vir hoekom Jesus vir mense se sonde gesterf het.

Sonde is ‘n lewensingesteldheid (en dus meer as die som van ‘n mens se individuele sondes) wat gekant is teen ‘n ware verhouding met God. Die uiteindelike gevolg van hierdie lewensingesteldheid is ‘n ewige skeiding (die hel) tussen God en mens; elke mens wat sterf word dus vir ewig van God geskei a.g.v. sy/haar sonde. Daar is niks wat ‘n mens egter self kan doen om met God versoen te word nie. God is egter ‘n liefdevolle God wat die mens wil red van so ‘n ewige skeiding van Hom. God self (God die Seun) neem daarom die natuur van ‘n mens aan in die persoon van Jesus Christus en kom doen twee dinge op aarde. Eerstens kom wys Jesus wat dit beteken om in ‘n ware verhouding met God die Vader te lewe en tweedens offer Hy Homself in liefde op deurdat alle mense se sonde aan Hom (wat self geen sonde gehad het nie) toegereken word sodat Hy in die plek van elke mens daarvoor kan sterf. So bewerkstellig God deur Jesus se dood aan die kruis die enigste manier waarop die mens met God versoen kan word. Elke persoon wat glo dat Jesus vir sy/haar sonde gesterf het, word gered van die gevolge van sonde (sy/haar sonde word vergewe) en word terselfdertyd versoen in ‘n verhouding met God (sal vir ewig saam met God lewe). Jesus se opstanding uit die dood is die bewys daarvan dat Jesus die gevolge van sonde oorwin het en is ‘n belofte aan elke mens wat Jesus se versoeningsdaad aanvaar. Om dus te bely dat Jesus vir die vergewing van jou sonde gesterf het, impliseer die volgende: dat jy bewus is dat daar ‘n skeiding was tussen jou en God a.g.v. sonde, dat jy doelbewus ‘n verandering in denke ondergaan het oor jou sondige gedrag (jouself bekeer het) dat jy aanvaar dat en hoe God jou sonde vergewe het, en dat jy dus nou ‘n nuwe lewe het en ‘n kind van God is.

(‘n Opmerking oor die spreekwyse dat iemand “sy hart vir die Here gee”. Hierdie manier van praat pas as ‘n beskrywing daarvan dat iemand sy lewe aan die Here toewy. ‘n Korrekte Bybelse verstaan dui egter daarop dat iemand slegs ‘n nuwe veranderde lewe (m.a.w. ‘n weergebore lewe) aan die Here kan toewy. Om dus te sê dat iemand sy hart vir die Here gee, is nie werklik ‘n goeie verduideliking van hoe iemand in die eerste plek ‘n nuwe lewe gekry het om aan die Here toe te wy nie. Soos verduidelik kry ‘n mens ‘n nuwe lewe deur te glo dat Jesus vir jou sonde aan die kruis gesterf het.)

Baie mense dink egter dat om in besit van reddende geloof te kom (m.a.w. om ‘n Christen te word) voorafgegaan word deur die doen van ‘n klomp Christelike dinge. Wanneer mense hoor dat hulle “goeie Christelike lewens” moet lei, dan dink hulle verkeerdelik dat om ‘n Christelike lewe te lei, die manier is waarop iemand ‘n Christen word of as een kwalifiseer. Dit bring ons by die derde aspek van wat dit beteken om ‘n Christen te wees.

3.     ‘n Christen leef ‘n Christelike lewe:

Wat is ‘n Christelike lewe? Die Christelike lewe kan, onder andere, op die volgende maniere beskryf word:

  • ‘n Christelike lewe word gemeet aan hoe Christus geleef het en aan die opdragte wat Hy gegee het. Dinge soos onder andere self-opoffering ter wille van gehoorsaamheid aan God, self-opoffering tot voordeel van ander mense, ‘n dien van en omgee vir ander in hul nood (maak nie saak wie hulle is of wat hulle glo nie), vergewing van ander se verkeerde optrede teenoor jou, ens.
  • ‘n Christelike lewe word gekenmerk deur sekere dissiplines (gereelde maniere van doen) wat ‘n verhouding met God en ‘n verhouding met ander mense bevorder. Dinge soos onder andere sorg, bemoediging, aanmoediging en onderrig tussen gelowiges, persoonlike bestudering van die Bybel, intimiteit en kommunikasie met God, aktiewe besorgheid daaroor dat ander die Evangelie-boodskap hoor en verstaan, ens. (Net so terloops, baie mense se verstaan van wat dit beteken om ‘kerk’ toe te gaan is om na ‘n gebou te gaan vir die bywoning van ‘n erediens met ‘n dominee wat preek. So ‘n verstaan verskil egter hemelsbreed van die Bybelse idee van kerkwees, waar mense die ‘kerk’ is en waar elke persoon ‘n baie unieke en spesifieke rol het om te vervul tot voordeel van die ander.)
  • ‘n Christelike lewe word gekenmerk deur ‘n toenemende sigbaarheid en uitleef van ‘n spesifieke gesindheid van die hart. Dinge soos onder andere liefde, vreugde, vrede, vriendelikheid, getrouheid, geduld, goedhartigheid, nederigheid, selfbeheersing, ens.

Drie belangrike opmerkings is hier nodig. Eerstens, baie mense dink dat die Christelike lewe meestal gaan oor wat ‘n mens nie moet doen nie. Die Bybel lys wel dinge wat nie pas by wat dit beteken om ‘n Christen te wees nie, maar die punt van die Christelike lewe is ‘n doelbewuste fokus om te doen wat goed en reg is. Anders gestel: ‘n Christen probeer nie om nie die sleg te doen asof hy sodoende besig is om die goed te doen nie, maar hy probeer die goed doen, wat, as hy dit doen, hom per implikasie weerhou om die teenoorgestelde daarvan, die sleg, te doen. (Ek probeer nie hiermee sê dat Christene nooit verkeerd doen nie, ek probeer bloot aandui waar die fokus van die Christelike lewe is.)

Tweedens kan enige iemand dinge doen wat grootliks ooreenstem met dit wat ‘n Christelike lewe kenmerk. Tog is daar ‘n groot verskil om die Christelike lewe te leef omdat jy ‘n Christen is, en om dinge te doen wat bloot ooreenstem met elemente van die Christelike lewe, of selfs om sulke te doen sodat jy jouself ‘n Christen kan noem. Die baie belangrike punt is dat nie een van die dade wat ‘n Christelike lewe kenmerk (daardie goeie en regte dinge waarna ‘n mens moet strewe), van iemand ‘n Christen maak nie. Soos verduidelik word ‘n mens ‘n Christen slegs deur te glo dat Jesus jou sonde vergewe het deur sy dood aan die kruis. Dit is slegs deur hierdie geloof en die gevolglike wonderwerk van nuwe lewe as basis, dat die spesifieke dinge wat ‘n Christelike lewe kenmerk, ware betekenis kry. Dan is die doen van sulke dinge ‘n doel opsigself en nie ‘n middel tot ‘n doel nie. Die Christelike lewe is dus die produk van wat dit beteken om ‘n Christen te wees, maar ‘n Christen is nie die produk van wat dit beteken om die Christelike lewe te leef nie.

Derdens wil ek beklemtoon dat ‘n Christen nie anders kan as om ‘n Christelike lewe te leef nie. Wat ek bedoel is dat iemand wat nuut gebore is (geestelike weergebore), iemand is met ‘n nuwe identiteit en dus iemand wat noodwendig as ‘n nuwe mens sal en kan leef.

Daar is een van twee verduidelikings vir waarom mense wat hulleself Christene noem, steeds dinge doen wat nie strook met wat ‘n Christelike lewe is nie (dit vind dikwels uitdrukking in die aanklag van skynheiligheid!) Eerstens mag dit bloot wees dat iemand wat hom of haarself ‘n Christen noem, dit nie werklik is nie, m.a.w. hy/sy het ‘n wanbegrip van wat dit beteken om ‘n Christen te wees en is nie nuut gebore nie (sien Matt. 3:8, Matt 12:33-37, 1 Joh. 1:6-7). Tweedens is daar mense wat hulleself Christene noem en wel nuut gebore is, maar steeds dinge doen wat nie ooreenstem met wat ‘n Christelike lewe is nie. In ‘n sekere sin is hierdie ‘n feit wat van alle Christene waar is omdat die Christelike lewe iets is waarin ‘n mens groei en nie ‘n lewenstoestand waar ‘n mens skielik perfek (sondeloos) geword het nie. Tog is daar Christene wat so duidelik afwyk van wat dit beteken om ‘n Christelike lewe te leef dat hul nuutgebore status, in die oë van ander en gemeet aan die standaard van die Bybel, onder verdenking is (sien die ernstige implikasies hiervan in 1 Kor. 5:11). Hoewel nuut gebore mense (m.a.w. Christene) nooit gevrywaar is van die doen van verkeerde dinge nie, is hulle wel in ‘n proses van groei gewikkel waar hulle voortdurend leer hoe om meer soos die nuwe mense wat hulle is, te leef. In hierdie groeiproses moet Christene voortdurend staat maak op die krag wat die Heilige Gees gee (m.a.w. ‘n Gees-vervulde lewe leef). Hiermee saam is die betrokkenheid van ander Christene egter ook baie belangrik. Een van die kenmerke van ‘n Christelike lewe is die verantwoordelikheid wat Christene het om mekaar aan te moedig en te help om Christelike lewens te lei (sien Heb. 10:24, Gal. 6:1-10, Matt. 18:15-17). Christene is dus mense wat mekaar die reg gee om mekaar verantwoordbaar te hou.

Mense wat hulleself Christene noem, maar nie erns maak met ongehoorsaamheid (sonde) nie, is meestal mense wat ook nie aan ander verantwoordbaar is nie. Sulke mense beleef die pogings van Christene om met hulle oor hul gedrag te praat, dikwels as ‘n persoonlike (en skynheilige) aanval – hulle verwar dus die idee van “verantwoordbaarheid”, wat nie deel van hul ervaring is nie, met “veroordeling”. Christene het nietemin die delikate taak en verantwoordelikheid om sulke mense met groot wysheid en liefde aan te moedig om die basis en omvang van “Christenskap” weer in oënskou te neem.

Persoonlike gevolgtrekkings:

Winkelsmidt, na die lang relaas kan ons nou uiteindelik terugkom om meer direk te kyk na die dinge wat jou pla. Dit lyk asof jy basies oor drie goed wonder en ek gaan elkeen spesifiek aanspreek:

Hoe weet ek of ek werklik gered is?

Die feit dat enige iemand hoegenaamd met so ‘n vraag worstel is altyd vir my ‘n goeie aanduiding, want daar kan twee spesifieke dinge uit so ‘n vraag afgelei word. Eerstens wys dit dat so ‘n persoon alreeds bewus is van die begrip van “redding” (en dus die noodsaaklikheid vir redding), selfs al is dit net ‘n vae begrip. Tweedens wys dit dat iemand persoonlik daaroor besorg is, m.a.w. dit is nie maar net ‘n afsydige, onpersoonlike vraag soos oor hoeveel planete daar in ons sonnestelsel is nie. Juis omdat hierdie twee dinge die geval is, dink ek daar kan twee tipes mense wees wat met so ‘n vraag worstel: iemand mag reeds reddende geloof hê, maar kan vir een of ander rede nie ‘n kognitiewe beskrywing gee vir wat die basis vir sy/haar reddende geloof is nie (dis miskien soos iemand wat nie presies kan verduidelik hoekom hy/sy verlief is nie), of 2) iemand het nog nie reddende geloof nie, maar vra die vraag omdat hy/sy dit graag wil bekom. M.a.w. iemand wat so ‘n vraag vra is in alle waarskynlikheid nie iemand wat afsydig staan teenoor God nie, en dis iemand wat God in sy of haar vraag tegemoet kan en gaan kom.

Die antwoord, vir beide die Christen én die nie-Christen wat hierdie tipe vraag vra, is dieselfde en baie eenvoudig: Jy kan seker wees dat jy gered is deur te glo dat Jesus vir die vergewing van jou sonde aan die kruis gesterf het. Om dus te glo dat jy gered is, is terselfdertyd om seker te wees dat jy gered is. Die klem is egter nie soseer op dat jy dit glo nie (alhoewel dit onontbeerlik is), maar eerder op die feite wat die waarborg is dat jy gered is. Hierdie feite word o.a. soos volg in die Bybel aangebied: 1 Joh. 5:11-13, Rom. 8:14-17, Joh. 14:17, 1 Joh. 4:6, Joh. 1:12, Ef. 1:7, Rom. 5:8-11, Rom. 3:23-26, Joh. 3:18, 36, 2 Kor. 5:18-21, Hand. 10:43, Tit. 3:5-7. As jy dus wil seker wees dat jy gered is kan jy bloot bely wat in die Bybel staan deur te sê: “Ek is gered omdat Jesus vir my sonde aan die kruis gesterf het”. Dan bely jy die objektiewe feite (Jesus se kruisdood as vergewing vir jou sonde) deur jou geloof.

Tog is daar wel ‘n klomp faktore wat daartoe bydrae dat mense onseker raak en twyfel oor hul redding. Ek noem die volgende:

  • Sommige mense het nie geloofsekerheid nie omdat hulle nie die spesifieke oomblik kan onthou dat hulle Jesus as Verlosser aanvaar het nie. Dis veral die geval met mense wat in ouerhuise grootgeword het waar hulle al van voordat hulle kan onthou die Evangelie-boodskap gehoor en aanvaar het. Sulke mense moet bloot besef dat wat belangrik is, is wat hulle nou glo, en dat dit as bewys dien vir wat hulle eintlik al lankal glo.
  • Sommige mense verwar geloofsekerheid met een of ander publieke belydenis van geloof, soos byvoorbeeld ‘n formele belydenisafleggings-seremonie of as deel van ‘n prediker se oproep om ‘n hand op te steek of na vore te kom. Die belangrik punt is egter dat jy reddend glo en nie hoe, waar of wanneer jy tot reddende geloof gekom het nie.
  • Sommige mense misgis geloofsekerheid met ‘n emosionele ervaring wat hy/sy moet hê wanneer hy/sy Jesus as Verlosser aanvaar. Wedergeboorte is wel ‘n bonatuurlike gebeurtenis, maar dit beteken nie dat daar noodwendig ‘n emosionele ervaring van so ‘n gebeurtenis moet wees nie. Die ervaring van wedergeboorte (wat gepaard gaan met geloof in Jesus as Verlosser) kan wel as ‘n geestelike ervaring beskryf word. Die eksterne aanduiding van hierdie bonatuurlike gebeurtenis is egter nie ‘n bepaalde emosionele ervaring nie, maar die vrugte van ‘n nuwe lewe (sien 1 Joh. 1:6-7, asook die vrug van die Heilige Gees in Gal. 5:22). Daar mag egter wel redes wees vir waarom sommige mense ‘n emosionele ervaring het wanneer hulle Jesus as Verlosser aanvaar. Sommige mense raak so diep bewus van die enorme las van hulle sonde en vind terselfdertyd sulke groot verligting in die wete dat hulle sonde vergewe is, dat dit ‘n spontane emosionele reaksie meebring. Tog is dit geensins die norm nie. Iemand kan dieselfde intense sondebesef beleef en dieselfde wete van sondevergifnis ondervind, sonder enige overte emosionele aanduiding daarvan.
  • Sommige mense is onseker of hulle werklik gered is omdat hulle steeds sonde doen of met sekere sondes worstel. Wedergeboorte vrywaar ‘n mens egter nie teen die doen van sonde nie. By wedergeboorte kry ‘n mens ‘n nuwe identiteit, jy is dus nie meer die ou mens wat jy was nie (sien 2 Kor. 5:17, 1 Pet. 1:22-23, 1 Pet. 2:24, Kol. 2:13). Tog is geestelike geboorte dieselfde as ‘n fisiese geboorte in die sin dat ‘n Christen ook moet leer en groei en sterker word (sien Ef. 3:15-19, Kol. 3:1-17). Jou nuwe identiteit stel jou in staat om as nuwe mens te leef, selfs al het jy steeds die keuse om dinge te doen wat jou ou lewe kenmerk (sien 1 Kor. 3:3,4). Hoe meer jy egter as ‘n nuwe mens leef, hoe meer bevestig die Heilige Gees jou nuwe identiteit en hoe minder gaan jy dinge wil doen wat nie pas by wie jy eintlik is nie.
  • Selfs al is die vrugte van ‘n nuwe lewe ‘n bewys van wedergeboorte, lê  geloofsekerheid ook nie by die hoeveelheid goeie dinge wat ‘n mens doen asof daar ‘n sekere standaard is wat ‘n mens moet handhaaf om geloofsekerheid te ervaar nie. Nee, geloofsekerheid lê eenvoudig by wat waar is van jou omdat God dit sê.
  • Sommige mense voel dat omdat hulle nie heeltemal sekerheid het oor die waarheid van sekere Christelike standpunte (Christian beliefs) nie, dat hulle daarom ook nie sekerheid oor hul redding (saving faith) kan hê nie. Hierdie gevoel van onsekerheid is baie verstaanbaar, want dis logies om te redeneer dat as die Christelike geloof as geheel nie waar is nie, dan sal ‘n mens onseker wees of enige deel daarvan waar is. Tog is dit baie belangrik om weereens te beklemtoon dat die verhouding tussen God en mens nie afhanklik is van ‘n sekere hoeveelheid uitgebreide kennis oor Hom nie (alhoewel ‘n sekere minimale kennis wel nodig is). So ‘n verhouding is ook nie afhanklik van hoe iemand weet dat hy/sy sekere dinge van God weet nie. M.a.w. ek kan ‘n direkte bewustheid van God hê bloot omdat God bestaan en is wie Hy is, en nie omdat ek weet hoe ek weet dat God bestaan nie.  Soos alreeds aangedui kan selfs ‘n jong kind reddende geloof hê (en daarom ‘n verhouding met God), maar terselfdertyd nie veel weet van hoekom die Christelike geloof as geheel waar is nie. (Interessant genoeg kan ‘n mens redeneer dat vanuit so ‘n persoon se onderbewustelike perspektief, vorm ‘n verhouding met God die geheel en dat die besonderhede van die Christelike geloof die deeltjies is wat waar sal wees omdat die geheel waar is.) Net so kan dit ook wees dat iemand ‘n gedetailleerde verantwoording kan doen oor die intellektuele basis vir sekere Christelike standpunte en steeds nie ‘n Christen is nie. Alhoewel dit dus nie noodsaaklik is vir sekerheid oor redding nie, kan sekerheid oor die waarheid van sekere Christelike standpunte, baie bydrae tot sulke sekerheid oor redding.

Laasgenoemde punt bring ons by die volgende vraag:

Hoe weet ek of ek werklik glo?

Ek dink hierdie vraag weerspieël die sentiment van baie mense wat voel dat daar in hul godsdienstige lewe grootliks van hulle verwag word om maar net sekere dinge te aanvaar sonder goeie redes. Dit veroorsaak ‘n ongemaklike intellektuele spanning omdat so ‘n benadering teenstrydig is met soveel ander belangrike dele van hulle lewens waar dit uiters belangrik is om baie goeie redes te kan gee vir waarom jy glo dat iets waar is (dink maar aan die dokter of ingenieur). Mense wonder dan oor hoe en waar hulle genoeg “geloof bymekaar kan skraap” (‘n verkeerde verstaan van wat geloof is) en hoe hulle ooit op ‘n punt sal kan kom waar hulle kan sê dat hulle nou werklik glo.

Die oplossing vir hierdie frustrasie lê egter nie by die bemeestering van tegnieke vir besonderse wilskrag of by kreatiewe maniere om die nodige geloof soos ‘n gees uit ‘n towerlamp op te roep nie. Nee, die feit is dat enige geloof (wat en dat jy iets glo), maar hier dan spesifiek die Christelike geloof (Christian beliefs), nie losgemaak kan word van goeie redes ter ondersteuning van sulke geloof nie. Geloof is nie iets wat in ‘n vakuum funksioneer nie, dit maak gebruik van bepaalde data. Die verskil tussen sterk en swak geloof is dus direk gekoppel aan die kwaliteit van die data (die objek van geloof) waarmee dit werk.

Om dus te vra hoe jy kan weet dat jy werklik glo is om te vra hoe jou geloof ondersteun word, wat die basis van jou geloof is. As Christen word jou geloof “werklik” wanneer jy weet wat en hoekom jy glo wat jy glo. Selfs al dink sommige mense so, word geloof nie ondermyn deur vrae daaroor te vra nie. Geloof word juis versterk wanneer iemand goeie redes kan gee vir waarom hy/sy iets glo. Die Christelike geloof maak tog spesifiek daarop aanspraak dat die inhoud daarvan waar is. As dit egter nie regtig waar is nie, dan help dit mos nie om aan te hou om daarin te glo nie! Daarom is die Christelike geloof iets wat ‘n mens krities kan en mag ondersoek, want as dit werklik waar is, dan sal dit die toets deurstaan.

Ek dink daar is twee spesifieke dinge wat jy kan doen as jy nie seker is of jy werklik glo nie. Eerstens, vra vrae oor die dinge waaroor jy twyfel en probeer uitvind wat die antwoorde is. Baie mense kan daarvan getuig dat hulle goeie antwoorde op hulle vrae gekry het en hoe hulle geloof daardeur versterk is. Onthou egter om geduldig te wees in jou soeke na antwoorde, want, soos die geval in byna enige kennisveld, kry ‘n mens nie al die antwoorde ewe maklik nie en is nie alle antwoorde ewe maklik om te verstaan nie. (Terloops, Christelike Apologetiek [Christian Apologetics] is die deftige naam, na aanleiding van 1 Pet. 3:15, vir hierdie antwoorde op vrae oor die Christelike geloof.)

Daar is egter ‘n tweede ding wat jou sal help as jy nie seker is of jy werklik glo nie: wy jou daaraan toe om die Christelike lewe te leef! Dit is in die leef van ‘n Christelike lewe dat ‘n mens groei in jou verhouding met God en belewenis van Hom. So ‘n groeiende verhouding met God is opsigself die oplossing vir baie onsekerhede. Onthou egter weereens dat die Christelike lewe iets is wat jy doen omdat jy ‘n Christen is, en nie sodat jy ‘n Christen sal word nie. (M.a.w. as jy nie seker is of jy werklik ‘n Christen is nie, kyk dan weer na die vraag, “Hoe weet ek of ek werklik gered is?”)

Hoekom lyk ander se geloof soveel sterker en sekerder as my eie?

Hierdie derde vraag weerspieël jou besorgheid oor hoe jou geloof met die van ander vergelyk. Teen dié tyd is dit egter duidelik dat daar verskillende aspekte van geloof is, en daarom moet ons kyk na hoe ‘n sekere aspek van jou geloof met die van ander vergelyk. Volgens wat ons tot dusver bespreek het is daar drie aspekte:

  • Dit lyk asof ander meer oortuig is van wat hulle glo as ek.

Hierdie groter oortuiging wat ander mense het, het nie te doen met ‘hoeveelheid’ geloof nie, maar met verskillende maniere van glo. Daar is twee tipes Christene wat baie oortuig is van wat hulle glo. Eerstens is daar Christene wat baie dogmaties glo, m.a.w. hulle aanvaar geloofswaarhede hoofsaaklik op grond van outoriteit, dit wat hulle dominees, ouers of onderwysers hulle geleer het. Hulle weet wat hulle glo, maar vra nie eintlik vrae daaroor nie en voel ook geen behoefte om dit te doen nie. Tweedens is daar Christene wat oortuig is van wat hulle glo, maar ook kan verduidelik hoekom hulle dit glo. Hulle kan dus goeie redes gee vir waarom hulle glo dat iets werklik die geval (waar) is.

Let daarop dat ek nie hierdeur probeer sê dat daar ‘n verskil is in die egtheid van hierdie twee maniere van glo nie. Baie mense het egter die idee dat ‘n Christen iemand is wat glo soos die eerste tipe Christen. Hoewel ek dink dat dit moontlik is om op so ‘n manier te glo, dink ek dit is geestelik en intellektueel baie meer verantwoordelik, bevredigend en noodsaaklik om jou geloof op die tweede manier te verstaan. Dit is hierdie tweede manier van glo, wat dit vir jou sal moontlik maak, as jy bietjie moeite doen, om ook tot sterk oortuigings oor jou geloof te kan kom.

  • Dit lyk asof ander sekerder is van hul redding as ek.

Hier kan ek maar net weer jou aandag vestig op die eenvoudige basis vir  enige iemand se sekerheid oor hul redding: dat Jesus vir jou sonde aan die kruis gesterf het. Soos die Bybel verduidelik, as jy dit glo, is jy gered en kan jy seker wees dat jy is gered is. Dis nie iets wat moeilik is om te glo nie. Redding is ook nie iets wat jy kry omdat jy iets gedoen het nie. God se reddingsdaad is ‘n daad van genade (‘n onverdiende geskenk), waartoe ‘n mens op geen wyse kan bydra nie. Soos ek genoem het is daar egter wel dinge wat jy kan doen wat sal help om jou geloof te versterk en jou verhouding met God sal help groei.

  • Dit lyk asof ander beter Christelike lewens leef as ek.

Om jou Christelike lewe met die van ander te vergelyk het twyfelagtige waarde. Nie omdat daar Christene is wat ‘n standaard stel wat te hoog is om na te volg nie, maar omdat die standaard wat hulle stel dikwels steeds te laag is! Daar is net een standaard waaraan Christene hulleself moet meet en dit is aan Jesus se lewe en die dinge wat hy gesê het. Die Christelike lewe is iets waaroor die Here self vir ons baie duidelike riglyne gee en boonop vir ons die krag gee om dit te kan leef (ten spyte hiervan wil Christene dit dikwels steeds uit hul eie krag doen). Ons het almal begeleiding en aanmoediging van ander Christene nodig om die Christelike lewe te leef. Maar selfs al lei ander Christene uiters voorbeeldige lewens, is hulle lewens nooit die standaard waarteen ons onsself moet meet nie.

Daar is ‘n belangrike punt om in gedagte te hou oor die Christelike lewe wat wys hoe onvanpas dit eintlik is om jouself met ander te vergelyk. Om die Christelike lewe te leef as die nuwe mens wat jy is, beteken eerstens dat jy werklik ‘n Christen is (nuut gebore is), tweedens dat jy weet wat die Christelike lewe is en derdens dat jy afhanklik is van die krag wat die Heilige Gees gee om so ‘n lewe te kan leef. Die eerste ding is iets waaroor ‘n mens redelik vinnig duidelikheid kan kry, maar die daaropvolgende twee dinge is albei dinge waarin ‘n Christen voortdurend vordering maak – m.a.w. dis ‘n groeiproses en nie iets wat eensklaps gebeur nie. In hierdie groeiproses is ons almal geneig om tot ‘n mindere of meerdere mate maskers voor ander te dra. M.a.w. ander mense sien dikwels net ons goeie hoedanighede raak en selfs daardie dinge is nie altyd heeltemal eg nie. Wat belangrik is om te besef is dat ons almal, as deel van ons geestelike groei, spesifieke worstelinge met dinge het wat ons liefs vir ander wegsteek of ten minste nie maklik wys nie. Wanneer ons dus na ander Christene se maskers kyk, dan kry ons noodwendig ‘n ongebalanseerde beeld van wat dit beteken om ‘n Christen te wees. Ons sien dikwels die goeie in ander raak en vergelyk dit dan met die slegte in onsself, en dan voel ons minderwaardig. (In swakker oomblikke doen ons dikwels ook die teenoorgestelde.)

Ons kan baie leer uit die inspirerende en voorbeeldige lewens van ander Christene. Tog moet ons verlos word van valse skuldgevoelens (weens ‘n vergelyking met ander) deur te fokus op ons eie persoonlike en intieme verhouding met God. Dit is slegs in hierdie ruimte dat ons werklik ons eie unieke geestelike uitdagings kan aanvaar en bewus kan raak van hoe en waar die Here ons wil help om te groei.

Ek besef dat ek in my skrywe aan jou ‘n klomp dinge genoem het wat beter en meer verduideliking nodig het. Ek hoop egter dit bied darem vir jou ‘n aansporing om die skrywers en denkers op te soek wat jou in spesifieke areas verder kan begelei. Hiermee is ek meer as bereid om jou ook in die regte rigting te probeer stuur. Enige ander vrae of opvolgvrae is steeds altyd welkom.

Groete

Udo

Sien ook:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.