Die Christen en selfmoord

Hallo Udo

Wat gebeur met ‘n Christen wat selfmoord pleeg?

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Dankie vir jou vraag. Ek probeer graag antwoord.

Die Bybel spreek nie direk die verskynsel van selfmoord aan nie, maar daar is wel gedeeltes wat indirek betrekking sou hê. Vir nou gaan ek egter net ‘n persoonlike antwoord gee.

Jou vraag is nogal ‘n vraag waarmee ek self baie geworstel het op ‘n stadium in my lewe. Ek het op skool erg aan depressie gely en in my matriekjaar self ‘n mislukte poging tot selfmoord oorleef. Daar was in die jare daarna, soos wat ek stelselmatig deur die genade van die Here depressie beter leer hanteer het, nog ‘n voorval of twee waar ek selfmoord ernstig oorweeg het. Ek noem dit sodat jy weet dat ek nie maar net ‘n teoretiese antwoord probeer gee nie, maar dat die worsteling met bogenoemde vraag ‘n persoonlike dimensie het.

Jou vraag gaan spesifiek oor wat van ‘n Christen word wat selfmoord pleeg. Daar is sommige mense wat dink dat enigiemand wat selfmoord pleeg, die onvergeeflike sonde gepleeg het en dat hulle beslis hel toe gaan.

Kom ons begin deur die volgende vraag te vra: Wat gebeur met ‘n Christen wat tot sterwe kom? Per definisie beteken dit dat as jy ‘n “Christen” is, dat glo jy dat jy gered is op grond van die genade van God deur Christus se werk aan die kruis. Dit beteken implisiet dat al jou sonde vergewe is, dat jy vrye toegang het tot ‘n herstelde verhouding met God en dat jy as kind van God eendag saam met Christus in die hemel sal wees.

Veronderstel nou die volgende twee scenario’s:

1) Christen A oorskry willens en wetens die spoedgrens met sy motor waartydens hy ‘n noodlottige ongeluk maak en sterf.

2) Christen B pleeg selfmoord.

Niemand kan twyfel hê dat beide Christen A en Christen B deur wat hulle gedoen het voordat hulle gesterf het, gesondig het nie. Selfmoord is beslis ‘n sonde en soos die woord aandui, is dit ‘n vorm van moord. Ek glo ‘n Bybelse beskouing is dat enige optrede wat ‘n menslike lewe neem, behalwe vir selfverdedigende optrede of in beskerming van ander se lewe, by die sesde gebod teen moord ingereken moet word. (Terloops, daar is nie iets soos klein en groot sondes, in die sin dat sommige sondes minder sondig is as ander nie. Alle sondes is ewe sondig, alhoewel sekere sondes groter gevolge het as ander en daarom groter veroordeling verdien – sien bv. Matt 11:22, Luk 12:47-48.) Op watter gronde sou enigiemand egter nou in bogenoemde geval ‘n onderskeid wil maak en wou beweer dat Christen A hemel toe is en Christen B hel toe? Verstaan iemand Jesus se verlossingsboodskap reg wat dink dat ‘n Christen se sonde, wat dit ookal mag wees of waar en wanneer dit gepleeg is, hom of haar van die hemel kan weerhou?

Geen Christen wat eerlik is met homself of wat die Bybel reg verstaan, sal ooit beweer dat hy nie meer sonde doen nie (1 Joh 1:10). So ‘n Christen verstaan egter ook dat hy verlos is van die bindende mag en uiteindelike gevolg van sonde. Dis juis omdat hy dit verstaan dat hy daarna kan streef om as verlosde mens te leef. In so ‘n lewe gaan dit dan nie meer daaroor dat enige sonde jou uit die hemel kan hou nie (selfs al doen jy nog sonde), maar dat jou hemelse erfenis, omdat jy ‘n kind van God is, gewaarborg is. Daarom dan ook dat ‘n Christen uit dankbaarheid leef en nie meer in enige sonde wil of kan volhard nie (1 Joh 2:1, 1 Joh 3:9), (m.a.w. geen Christen wat die Bybel reg verstaan sal dink dat hy maar na willekeur kan sonde doen omdat hy vergewe is nie!).

Daar is geen Bybelse gronde vir die idee dat selfmoord ‘n soort onvergeeflike sonde is nie. Die enigste onvergeeflike sonde is die weiering om vir jou sonde vergifnis te ontvang, m.a.w. die volhardende verwerping van Jesus se genade aan die kruis (dit word sonde teen die Heilige Gees genoem). God kan en gaan immers niemand dwing om sy genade te aanvaar nie.

Alle mense leef in ‘n gebroke werklikheid. Die Christen is nie hierteen immuun nie. Baie Christene ly byvoorbeeld aan iets soos major of bipolêre depressie a.g.v. ‘n chemiese wanbalans wat die gesonde werking van hul brein beïnvloed en wat dit baie moeilik maak om te bly hoop, te bly vertrou en te bly veg vir ‘n lewe wat heeltemal sinloos begin lyk het. Dis nie hier die plek om spesifiek in detail te gaan oor die oorsprong, realiteit, simptome en behandeling van iets soos depressie nie. Terselfdertyd is ook die selfmoord van iemand soos ‘n lyer aan depressie, sonde en teen God se wil. Tog sny so iemand se selfmoord nie daardie persoon outomaties af van God se genade nie.

Ook hoef ons nie die verreikende invloed van sonde in die wêreld te probeer ontken nie. Selfs al is Christene bevry uit die mag van sonde, is hulle nie gevrywaar teen die invloed van sonde nie. Selfs ‘n Christen (met vaste geloofsekerheid) kan so oorweldig voel deur sy omstandighede dat hy momenteel hoop verloor en dan selfmoord pleeg. Ook vir so ‘n optrede is daar geen verskoning of regverdiging nie. Wat so ‘n Christen doen deur sy eie lewe te neem, is verkeerd en so ‘n persoon het nie op God vertrou soos wat God verlang volgens die krag wat Hy belowe om te gee nie (1 Kor 10:13). Maar om daarvolgens ‘n verdoemende uitspraak te maak oor so ‘n persoon se redding, so asof daardie persoon nooit ‘n Christen was nie, is totaal onvanpas en heeltemal ongegrond.

Daar is baie faktore wat ‘n rol speel in die omstandighede rondom iemand se selfmoord. My opinie is dat om te wonder of so ‘n persoon hemel of hel toe gaan, is om te wonder of daardie persoon gered was of nie, en redding hang nie af van of iemand selfmoord pleeg of nie. Verder is dit vir my duidelik dat daar nie een Christen is wat daarop kan aanspraak maak dat hy nooit ‘n spesifieke gebod sal oortree nie (1 Kor 10:12). (Anders gestel: “Christene doen sonde, selfmoord is sonde, sommige Christene pleeg selfmoord.” Dink nou maar aan enige sonde en vervang dit met waar daar “selfmoord” staan en die stelling sal steeds waar wees. Onthou, dit gaan nie hier oor ‘n volhardende sondepleging of ‘n sondige leefwyse nie, want ‘n boom word aan sy vrugte geken – sien ook weer 1 Joh 3:9).

Hiermee volstaan ek vir eers. Laat weet asseblief as daar iets is waarmee jy wesenlik verskil, sodat ons, as medegelowiges na mekaar kan luister.

Goeie wense

Udo

Een van die beste boeke wat ek al gelees het waarin ‘n pa met sy dogter se selfmoord worstel, is Om Die Ondraaglike Te Dra, deur Henk Gous. Ek beveel dit ten sterkste aan. Sien ook, “Wat is depressie?

Sien ook die volgende twee gedeeltes i.v.m. selfmoord:

1 Comment

Leave a Reply to Cobus Cancel reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.