Duiwel Of Die See: Kerk, Media Moet Besin Oor Moralisme Jeens Gays

Die volgende vier artikels verteenwoordig ’n e-pos gesprek tussen Stefan Louw en André van Zyl wat gedurende 2005 plaasgevind het.  Die gesprek handel oor ’n baie sensitiewe onderwerp, naamlik: die kerk en homoseksualiteit.  Die e-pos gesprek het ontstaan na aanleiding van ’n artikel deur Stefan wat  in die koerant Beeld verskyn het.  Die oorspronklike artikel en daaropvolgende e-pos korrespondensie word met Stefan se verbale toestemming op die Internet geplaas en word sonder verandering of korreksie geplaas.  Verskoon daarmee asseblief moontlike foute en die persoonlike trant van dele van die gesprek.

Vanaf die kant van die AntWoord bediening wil ons graag net die volgende duidelik stel:  Ons staan by alles wat van ons kant af in die gesprek gesê word, maar ons dink vir geen oomblik dat dit die einde van die gesprek is nie.  Die standpunte en argumente was op skrif gestel as direkte reaksie op Stefan se artikel en moet in daardie konteks gesien word.  Ons glo dat ’n langtermyn oplossing vir hierdie debat nie sonder direkte betrokkenheid deur homoseksueel georiënteerde Christene en die ernstige opneem van die Bybel moontlik is nie.  Ons wil egter vra dat beide kante se standpunte ernstig opgeneem sal word in hierdie debat.  Beide kante het die geneigdheid om die ander kant te “label” en dit is teenproduktief.  ’n Biddende proses van afhanklikheid van die Here en die betrokkenheid van al die relevante partye mag op die lange duur deur die Here se genade help om ’n Christelike oplossing daar te stel.  Dit is ons gebed.

_____________________________________________________________________

Die volgende is Stefan Louw se artikel in die BEELD van 29 APRIL 2005, p.15: “Duiwel Of Die See: Kerk, Media Moet Besin Oor Moralisme Jeens Gays”:

Die debat oor die hantering van die geval van ds. Laurie Gaum en sy gewese vriend mnr. Douw Wessels plaas ook die kollig op die mag van instellings soos die media en die kerk om straffeloos geweld teenoor gemarginaliseerdes in die samelewing te pleeg, skryf Stefan Louw.

‘N Onrusbarende tendens het die laaste jare by Suid-Afrikaanse koerante kop uitgesteek om weg te beweeg van die strewe na objektiewe verslaggewing. Dit gaan gepaard met die toenemende omhelsing van subjektiewe verslaggewing, wat hom toespits op die manipulering van die sentiment van sy lesersmark.

Kenmerkend hiervan is die sensasionalisering van ‘n aktuele saak of gebeure – dit word só uitgebeeld dat dit skok, ontstel, affronteer, uitlok, weersin wek en fassineer. Die meganisme van die skandaal word ingespan om die emosies op te wek.

‘n Skandaal kan slegs bestaan by grasie van simplistiese moralistiese oordeel. Let wel: dat iets ‘n skande is, maak dit nog nie tot skandaal nie. Dit word eers ‘n skandaal wanneer dit die populêre sedes van die oomblik affronteer. En dit is presies wat subjektiewe verslaggewing beoog: Om publisiteit te gee aan dit wat die populêre sedelikheid aantas. Populêre sedelikheid het per definisie ‘n moralistiese karakter, omdat dit binne simplistiese insluitings- en uitsluitingskategorieë funksioneer.

Die sentiment en emosie wat subjektiewe verslaggewing opwek, gepaard met die simplistiese, moralistiese oordeel wat gevel word, lei daartoe dat daar landwyd persepsies vasgelê word wat vir jare in die populêre geheue van die leserspubliek kan vassteek en die betrokke gebeure en mense stigmatiseer.

Twee strominge in kerk

In die hantering van die GaumWessels-geval kom die problematiek van gay Christene in die NG Kerk ook ter sprake.

Die gay-kwessie in die NG Kerk is ‘n sensitiewe en uiters omstrede saak wat landwyd sterk sentiment ontlok. Daar is twee strominge in die kerk wat sterk gepolariseer is oor dié kwessie.

Aan die een kant is daar die histories ondersteunde verwerpen-verwyder-inslag wat die populêre mening in die kerk verteenwoordig. Dié standpunt steun op die sogenaamde vyf gay-tekste in die Bybel waarin homoseksualiteit by die eerste lees skerp veroordeel word.

Dié tekste word gebruik om die oordeel te vel dat homoseksualiteit ‘n sonde is wat geensins regverdigbaar is nie en dat homoseksuele by implikasie onder die oordeel van God en die tug van die kerk staan.

Aan die ander kant het daar die afgelope tien jaar ‘n beweging in die NG Kerk ontstaan wat wortel in die pastorale omgang met die problematiek van homoseksuele in die kerk en die breër samelewing. Die beweging gaan van die standpunt uit dat homoseksualiteit ‘n baie ingewikkelder probleem is as wat aanvanklik deur die kerk gemeen is. ‘n Paar hoofpunte van dié argumente is:

  • Pastorale omgang toon homoseksuele oriëntasie hou nie verband met moedswillige seksuele gedragskeuses nie, maar is die resultaat van ‘n ingewikkelde inter aksie van sosiale omstandighede en fisiologiese faktore wat lank voor puberteit al die oriëntasie vaslê en wat ná puberteit, wanneer die oriëntasie aan die lig kom, nie meer kan verander nie.
  • Dit het aan die lig gekom dat die kerk ‘n aandeel het aan die instandhouding van ‘n permissiewe gay-subkultuur, in dié sin dat die verwerp-en-verwyder-styl daartoe lei dat gays weens die antagonisme wat hulle in die kerk ervaar, in ‘n gay-subkultuur teruggedompel word.
  • Omdat daar geen alternatiewe ruimte geskep word waarin gays in die kerk welkom kan voel nie, vind baie Christen-gays dat, al onderskryf hulle nie die permissiewe waardes van die betrokke subkultuur nie, dit die enigste plek is waar hul behoeftes aan aanvaarding, erkenning en eiewaarde vervul kan word.
  • Dit blyk ook dat die selektiewe omgang met die gay-tekste in die Bybel nie reg laat geskied aan die breër teologiese temas in die Bybel nie.

God se genade vir álmal

Wat laasgenoemde betref, die volgende:

  • Die wet-genade-tema in die Bybel:

Vanuit die wet gesien staan almal onder die oordeel van God, maar deur die soenverdienste van Christus aan die kruis word aan die eise van die wet voldoen en staan die mens nie meer onder die oordeel van die wet nie, maar onder die genade. Deur Christus verloor die wet sy oordeel-en-strafkarakter en word dit eerder ‘n reël van dankbaarheid.

Wanneer dit kom by die gaykwessie, gee die kerk egter altyd weer die wettiese en moralistiese botone aan die wet terug.

Genadelose, uitsluitende uitsprake oor homoseksuele doen die ronde en Bybeltekste word as rede vir uitsluiting gebruik.

Jesus se opsomming van die wet, naamlik dat dit in wese die karakter van liefde behoort te vergestalt, word heeltemal uit die oog verloor.

  • Die skepping-herskepping-tema in die Bybel:

In Christus word die natuurlike onderskeidinge in die skepping gerelativeer en ondergeskik gestel aan ‘n nuwe mensheid wat verenig word in Christus. Hiermee word enige vorm van skeppingsteologie afgewys. Die natuurlike grense van ras, taal, velkleur, sosiale status, kultuur en geslag kan nie meer as rede dien vir verdeling en afgrensing nie.

Apartheidsteologie was ‘n voorbeeld van dié soort skeppingsteologie wat suksesvol deur latere teoloë gedekonstrueer is vanuit die perspektief van die herskeppingswerk van Christus.

Met die homoseksualiteitdebat word skeppingsteologie weer afgestof en word daar geredeneer dat God ons nie só gemaak het nie – terwyl die regte vraag oor hoe God ons bedoel het om te wees, eintlik eers in Christus beantwoord is en nie in die skepping nie.
Vanuit die herskeppingsdaad van Christus is die homo- of hetero-onderskeiding ook nie meer absoluut nie, maar wel die nuwe lewe in Christus waarin beide homo- en heteroseksueles aan ‘n nuwe etos onderdanig gemaak word.

  • Die gereformeerde tema van die totale verdorwenheid van die mens:

Met die sinode van Dordrecht (1618) is daar beslissend geoordeel dat die mens grondliggend sondig is en op geen wyse ‘n aandeel kan hê aan sy eie verlossing nie; dat dit God se suiwer uitverkiesende genade is wat mense red.

Die lering van Armenius, naamlik dat die mens van sy kant iets ekstra kan of behoort by te dra, is afgewys en dié oortuiging het neerslag gevind in die Dordtse Leerreëls wat deur die NG Kerk onderskryf word.

Die implikasie agter dié leerskrif is dat daar nie tussen gelowiges onderskei mag word op grond van enige karaktertrek, eienskap of handeling op sterkte waarvan een gelowige ‘n beter Christen as ‘n ander gelowige geag kan word nie. Alle mense kan net op God se genade aanspraak maak.

Die kerklike hantering van die gay-kwessie is egter in wese ‘n debat oor die status van gay Christene en dus in wese Armeniaans. Tot op hede mag gays nie amptelik predikantstatus hê nie en word gays as tweederangse of skaduChristene behandel.

Om enigsins van ‘n gay as ‘n volwaardige mede-Christen te praat wat die sakramente saam met my kan gebruik, wat in my kerkraad kan dien, wat as bedienaar van die Woord kan optree, is uiters omstrede.

Met gays is die implisiete houding dat God se genade minstens deels gediskwalifiseer word deur ‘n homoseksuele oriëntasie. Van húlle word iets ekstra verwag wat nie op ander van toepassing is nie (soos geheelonthouding).

Dis nie wie jy is nie

Wat die Bybelse tekste oor homoseksualiteit betref, word dit by nadere studie duidelik dat die selektiewe omgang hiermee aan flagrante eksegetiese opportunisme grens.

Paulus se argument byvoorbeeld in Rom 1:18-32, waar hy die skeppingsmatige as norm vir kennis van God gebruik (en homoseksualiteit as opstand daarteen), relativeer hy later in 8:18-25, waar die skepping smag na die vernuwing van God se Gees, en waar niks in die skepping (by implikasie ook nie homoseksuele oriëntasie) jou kan skei van die liefde van Christus nie (8:38,39).

Die verantwoordelike lees van die breër Bybelse ingesteldheid oor seksualiteit bring aan die lig dat die homo- of heteroseksuele onderskeiding nie ‘n morele onderskeiding as sodanig is nie, maar dat die punt van morele differensiasie op die vlak van gedrag lê: Dis nie wie jy is nie, maar hoe jy lééf wat saak maak.

Norme wat vir seksuele gedrag daargestel word, veroordeel aan die een kant losbandigheid in beide homo- en heteroseksuele gedrag en skryf aan die ander kant gedragskodes voor wat in beginsel in beide homo- en heteroseksuele verhoudings gestalte kan kry.

Die vraag is nie in die eerste plek watter seksuele oriëntasie in ‘n verhouding heers nie, maar of dié verhouding uitdrukking gee aan die waardes wat in die Christelike liefdesgebod veronderstel word. Anders gestel: ‘n Bybelse seksuele etiek neem nie sy vertrekpunt in die skepping (seksuele oriëntasie) nie, maar in die herskepping (die nuwe mens in Christus) – ‘n basiese gereformeerde beginsel.

Hande vashou? Of soen?

Bogenoemde insigte het sommige van die verwerp-en-verwyderteoloë genoop om te onderskei tussen homoseksuele oriëntasie en ‘n praktiserende homoseksuele leefstyl, waar eersgenoemde aanvaarbaar is, maar laasgenoemde as losbandig verwerp word.

Losbandigheid word dan kerkregtelik gedefinieer as verwysend na enige seksuele praktyk buite die huweliksverbintenis tussen een man en een vrou. Homoseksuele word daarenteen aanvaar op voorwaarde dat hulle die keuse uitoefen om selibaat te leef.

Met dié definisie van losbandigheid is daar ernstige probleme:

Kan daar in alle eerlikheid van iemand verwag word om die seksuele sy van sy menswees lewenslank op te offer om as volwaardige Christen in die kerk beskou te word?

Sou diegene wat bereid is om dit vir gays voor te skryf, ook bereid wees om hul eie lewe tot lewenslange seksuele frustrasie te vonnis? Of, in Jesus se woorde, is hulle bereid om aan ander te doen soos hulle wil hê daar aan hulle gedoen moet word?

En waar begin die seksuele? By kyk? By hande vashou? By soen?

Wat van vorme van emosionele intimiteit tussen twee mans of twee vroue waar respek, vertroue, wedersydse toewyding, deernis en versorging in hul verhouding ook onder meer uitdrukking vind in fisieke intimiteit?

Kan die seksuele enigsins só uit die totaliteit van lewe gesny word as sou dit êrens begin en êrens eindig? Is dit nie eerder n dampkring wat ons totale menswees insluit nie?

Wat ten diepste in die NG Kerk en die kerk in die breë nodig is, is die ontwikkeling van ‘n inklusiewe Christelike seksuele etiek waarin homoseksuele hulself ook kan tuisvind — sonder om enersyds te voel hulle moet terugval in ‘n seksueel permissiewe gay-subkultuur en sonder om andersyds te voel dat hulle bloot op grond van hul oriëntasie ‘n verwronge en skandelike produk van sonde, of minstens ‘n soort tweederangse Christen is.

‘n Soort seksuele etiek is nodig waar dit nie in die eerste plek geslagsdifferensiasie nie, maar gedragsdifferensiasie is wat as norm dien vir seksuele verhoudings in die Christelike gemeenskap: ‘n gedragskode waar fisieke intimiteit nie opgehef word nie, maar ondergeskik gestel word aan die spelreëls van die liefde.

Daar is sterk weerstand in die kerk om op gesofistikeerde wyse te besin oor dié problematiek.

Dit spruit onder meer uit die hoogs ambivalente plek wat die liggaam en die lyflike in die Christelike tradisie het en die idee dat die seksuele gevaarlik is en beheer moet word.

Nog ‘n faktor is dat homoseksualiteit ‘n bepaalde patriargale idee van manlikheid ondermyn, wat onder meer verklaar waarom die meeste vroue minder probleme daarmee het om homoseksuele in die kerk te aanvaar as mans.

Waar die kerk dus met groot gesofistikeerdheid en insig kan praat oor ‘n kwessie soos genadedood, is daar in die geval van homoseksualiteit altyd die neiging tot simplistiese moralistiese konstruksies wat afsper en veroordeel.

Hierdie verbintenis nodig

Ten slotte: Die media se aandeel in die institusionalisering van geweld jeens gemarginaliseerdes en by name gays, lê in die moralistiese konstruksies van subjektiewe verslaggewing, soos blyk uit hoe die omstredenheid oor gay Christene in die kerk gebruik is om ‘n gay predikant in die openbaar te verneder, sy loopbaan te vernietig en hom effektief uit te lewer aan die NG Kerk se kerkregtelike gesag as bewaarders van die sede.

Die kerk se aandeel in die geweld bestaan daarin dat daar voordurend geswig word voor die moralistiese konstruksies van die verwerp-en-verwyder-teoloë, ook al druis dit regstreeks in teen die diepste bedoelinge van die evangelie wat hulle onderskryf.

Dit is juis die kerk en die media wat die mag en invloed het om die gemarginaliseerdes te beskerm en te help.

Deur ‘n verbintenis tot objektiewe verslaggewing kan die media insig bevorder oor die gay-dilemma in die kerk en in die breër samelewing en só vooroordeel afbreek.

Deur ‘n verbintenis tot die basiese waardes van die evangelie kan die NG Kerk die gay Christen help om ‘n eiesoortige en volwaardige plek in die kerk te vind waar hy deel kan wees van die groter geloofsgemeenskap sonder vrees vir verwerping of marginalisering.

Tot op hede bevind gay Christene hulle egter nog tussen die duiwel en die diep blou see.

• Stefan Louw was predikant van die NG gemeente Melville, Johannesburg. Bostaande is ‘n verkorte weergawe van sy artikel in die FAK-internettydskrif Die Vrye Afrikaan.

Lees verder:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.