Evolusie Op Skool: Wat Staan ‘n Christen-Ouer Te Doen?

deur André van Zyl

1. Inleiding

Die volgende artikel het gevolg uit ‘n gesprek by die NG gemeente Farrarmere. Die doel van die oorspronklike gesprek was om ‘n geleentheid aan ouers te bied om saam te gesels oor wat hul kinders op skool oor die evolusieteorie geleer word en wat (indien enigiets) hulle te doen staan. Die artikel hier onder bevat ‘n opsomming van die bespreking. Vanweë beperkte plek is daar verskeie temas wat in die artikel genoem sal word wat nie in detail bespreek sal word nie. Die inhoud van die artikel het nie ten doel om iets of iemand (wetenskap, wetenskaplikes, die kerk of die onderwys) aan te val nie, maar om Christene oor die saak te help dink. Dit is ook ’n Christelike opinie oor die saak en ek gee toe dat daar verkeie ander opinies kan wees wat ook as Christelik beskou kan word.

2. Evolusie op skool

Vakke wat inligting oor biologiese wetenskap bevat sluit bykans sonder uitsondering die evolusie teorie in hul kurrikulum in. Vir baie Christen ouers en ander belanghebbendes is dit ‘n wesenlike probleem. Baie van hierdie mense is nie presies seker waarom hulle negatief oor evolusie voel nie, maar staan dit tog bykans as refleks reaksie teen. Voor daar na die skoolkurrikulum en die evolusieteorie self verwys word is daar ’n paar belangrike gedagtes om op die tafel te sit:

Wetenskaplikes aanvaar die evolusieteorie

Alhoewel die teenstand teen die idee van die evolusieteorie redelik wydverspreid onder die algemene populasie is, is dit nie die geval in die wetenskaplike gemeenskap nie. By verre die meeste wetenskaplikes aanvaar die evolusieteorie as korrek. Alhoewel dit ‘n kontroversiële ding is om te sê, sou dit na my mening onverantwoordelike wetenskap onderrig wees om kinders wat biologiese wetenskappe bestudeer nie aan die evolusieteorie bloot te stel nie. Die vrae wat beantwoord moet word is eerder: “Hoe behoort die evolusieteorie op skool behandel te word?” en “Wat is die rol van ‘n Christen ouer om sy/haar kind leiding te gee oor die saak?” Omdat die onderrig van evolusie in staatskole ’n gegewe is, word Christen ouers gekonfronteer met die besluit of hulle hul kinders uit staatskole moet haal om hulle eerder in ‘n meer beheerde omgewing te laat onderrig. Daar is nie in hierdie skrywe plek om veel oor hierdie opsie te sê nie. Ek dink egter wel dat ontrekking vir baie ouers nie ‘n lewensvatbare opsie is nie. Dus gaan daar gefokus word op ouers wie se kinders wel in staatskole is. Wat staan hulle te doen?

Christene teen wetenskaplikes

Dit is jammer om te sê, Christene het ‘n reputasie ontwikkel dat hulle dikwels anti-wetenskap is. Alhoewel die reputasie nie in alle opsigte op waarheid gebaseer is nie, steek daar tog waarheid daarin. Baie wetenskaplikes (dikwels ongelowige) is onder die indruk dat die wetenskaplike metode die belangrikste (of enigste) manier is waarmee daar met sekerheid kennis vasgestel kan word. Die wetenskap werk dus met “feite”. In teenstelling hiermee dink hulle godsdiens en geloof is ‘n tipe wensdenkery  wat sonder enige feite werk en gevolglik lugkastele bou. Die twee velde sou volgens hierdie gedagteloop tot so ‘n mate van mekaar geskei wees dat daar op geen manier interaksie tussen die twee kan wees nie. Verder bestaan die gedagte dat gelowiges gewoonlik die wetenskap en dikwels ook die wetenskaplikes aanval wanneer die wetenskap iets sou sê wat Christene as ‘n moontlike bedreiging beleef. Alhoewel ek wetenskaplike idees in hierdie stuk gaan bevraagteken, is dit geensins bedoel om anti-wetenskap of teen ‘n spesifieke wetenskaplike te wees nie. Die wetenskap en die wetenskaplike metode sluit wonderlike werkswyses en kennis in wat al baie waarheid en voordeel aan die mensdom gebied het.

Evolusie en die ouderdom van die aarde

Die saak oor die ouderdom van die aarde het in baie gevalle sinoniem met die evolusie-debat geword. Die stereotipiese idee wat meeste ongelowige wetenskaplikes huldig is dat enige persoon wat iets negatief oor evolusie te sê het die Bybel op ‘n baie spesifieke manier verstaan en alle ander inligting ignoreer. Dit is egter nie waar nie. Ek gaan glad nie in hierdie skrywe in die “ouderdom van die aarde”-debat betrokke raak nie. Die gespek oor evolusie is nie noodwendig daaraan verbind nie. My bespreking gaan binne die wydste aanvaarde wetenskaplike idees beweeg en in daardie konteks kommentaar lewer. Dit is dus ‘n poging om vanuit ‘n Christelike perspektief spesifieke vrae oor die evolusie teorie en die onderrig daarvan te vra.

Verskeidenheid Christelike opinies

Binne die Christen-gemeenskap is daar ‘n verskeidenheid opinies oor die waarheid al dan nie van die verklarings wat die evolusieteorie oor die ontstaan van lewe en spesie diversiteit gee. In breë trekke kan die verskillende Christelike opinies soos volg opgesom word: Eerstens is daar mense wat hul lewens in geestelike en sekulêre kompartemente opdeel en die twee dele van mekaar skei. Hierdie mense aanvaar die Bybel én evolusie sonder om noodwendig die implikasies en/of moontlike verwantskappe tussen die twee stelle idees te ondersoek. Tweedens is daar teïstiese (glo in God) evolusioniste. Hierdie groep bestaan uit gelowiges wat glo in evolusie, maar glo dat God die evolusieproses begelei of ten minste daargestel het. Die meeste gelowige wetenskaplikes behoort aan hierdie groep. Derdens is daar Christene wat aan God se direkte inmenging met die ontstaan van lewe en spesie diversiteit glo, maar grotendeels die wetenskaplike uitsprake ook aanvaar. Hierdie groep aanvaar dus nie alle aansprake van die evolusie teorie nie, maar wel sommige aspekte wat deur direkte getuienis ondersteun word. Laastens is daar die groep wat as die jong aarde Kreasioniste bekend staan. Hierdie groep glo dat die ouderdom van die aarde uit die Bybel afgelei word en dat evolusie en die idee van ‘n aarde wat ouer as ongeveer 10 000 jaar is, onbybels en dus onaanvaarbaar is. Alhoewel ek my eie opinie oor hierdie saak het, is dit nie direk relevant vir die res van die bespreking nie. Ek dink dat dit moontlik is om enige van hierdie opinies te handhaaf en steeds ‘n Christen te wees. Elkeen van hierdie posisies moet hulself kan verdedig en elkeen het hul eie probleme, maar nie een is noodwendig inherent onchristelik nie.

Is die evolusie debat belangrik vir Christene?

Algemeen gesproke is die meeste wetenskaplike teorieë nie vir Christene nuuswaardig nie. Waarom dan die oproer in die Christen-gemeenskap oor evolusie? Daar is ‘n verskeidenheid redes waarom die verstaan en moontlike waarheid van die evolusie teorie vir Christene belangrik is. Eerstens is daar mense wat evolusie gebruik om die bestaan van God te bevraagteken. Daar is selfs militante ateïste wat dit gebruik om direk teen die bestaan van God te argumenteer. Hulle vra die regmatige vraag: ”As die evolusieteorie suksesvol is om die ontstaan van lewe en spesie diversiteit te verklaar, waarom is daar ’n Skepper God nodig?” Tweedens is evolusie ‘n belangrike deel van die openbare debat en is dit belangrik dat Christene sinvol aan openbare debatte sal deelneem. Derdens het die moontlike waarheid van die evolusie teorie se aansprake definitiewe implikasies vir die tradisionele Christelike siening van wat dit beteken om mens te wees.

3. Evolusie in die skoolkurrikulum

Vir die res van die bespreking  gaan op die inhoud van die skoolkurrikulum gefokus word. Daar is van Kagiso se graad 12 handboek vir lewenswetenskap gebruik gemaak om die inligting oor die evolusieteorie in die kurrikulum te bekom. Die handboek bevat vier hoofstukke wat met die evolusieteorie verband hou. Alhoewel hierdie hoofstukke aanvegbare inligting bevat, gee dit in die geheel ‘n regverdige weergawe van die wetenskaplike siening van die evolusieteorie. Die boek en die kurrikulum oor die algemeen  skep ook ‘n verskeidenheid goeie geleenthede om die evolusieteorie aktief te kan bevraagteken en te bespreek. Dit is belangrik dat Christen ouers self die basiese aspekte van die evolusieteorie verstaan deur daaroor te lees, daaroor te dink en met hulle kinders daaroor te praat. As gelowiges word ons geroep om lig en sout in die breër samelewing te wees. Dit beteken ons moet betrokke wees in die belangrike debatte van ons tyd en dat ons kinders toegerus moet wees om self ook daaraan te kan deelneem. Uitkoms Gebaseerde Onderwys (UGO) skep ‘n goeie geleentheid om aan hierdie gesprek deel te neem en vir elkeen om ‘n opinie te lug. Daar mag dalk wel in uitsonderlike gevalle onderwysers wees wat sekere sienings in kinders se kele wil afdruk en ouers moet op die uitkyk wees vir sulke indoktrinasie. Daar is egter ook ‘n wonderlike geleentheid binne UGO vir Christen jongmense om konstruktief aan die debat deel te neem.

Vervolgens sal daar ‘n paar verwysings uit die handboek gegee word en die evolusieteorie sal kortliks bespreek word.

Kagiso se handboek definieer ‘n wetenskaplike teorie as volg:

Wanneer wetenskaplikes met ‘n magdom getuienis gekonfronteer word wat ‘n sterk aanduiding is van ‘n moontlike oorsaak, proses of beginsel, maar daar is nie voldoende bewys om dit bo enige twyfel te bewys nie, word die voorgestelde oorsaak, proses of beginsel as ‘n hipotese of teorie gestel.

Dit is belangrik om op die volgorde van gebeure in die definisie te let. Die teorie begin met die waarneming van ‘n “magdom” getuienis wat tot spesifieke gevolgtrekkings lei. Volgens die definisie sou die evolusieteorie dus volg op ‘n magdom getuienis waarmee wetenskaplikes gekonfronteer is. Indien die getuienis eerste was en so duidelik op ‘n spesifieke gevolgtrekking gedui het, sou die evolusieteorie baie geloofwaardig gewees het. (Later in hierdie skrywe sal die volgorde van die stel van die teorie en die soek na getuienis bevraagteken word.)

4. Wat sê die evolusieteorie?

Die wetenskaplike gemeenskap het vir lank die spesie-diversiteit van lewe op aarde en in die fossielrekord waargeneem en ondersoek. Hulle kon egter nie die ontstaan van lewe of spesie-diversiteit op ‘n wetenskaplike manier verklaar nie. Hierdie situasie het verander toe Charles Darwin met die eerste moontlike en geloofwaardige wetenskaplike teorie vorendag gekom het. Na my mening was Darwin ‘n goeie en eerlike wetenskaplike wat met ‘n spekulatiewe (op daardie stadium) teorie vorendag gekom het. Die evolusieteorie sou nie daarop wys dat lewe en spesiediversiteit wel bestaan nie (dit kon almal sien). Dit sou verklaar hoe hierdie twee aspekte op ‘n natuurlike manier tot stand kon gekom het. Darwin het as wetenskaplike op die skip genaamd “The Beagle” gereis en biologiese navorsing gedoen. Tydens die reis het hy verskille in liggaamsvorm binne spesies opgemerk en dit het hom aan die dink gesit. ‘n Bekende voorbeeld van hierdie waargenome variasie binne spesies was die verskille in grootte van die bekke van vinke in verskillende landstreke. Darwin het gedink dat ‘n opbou van hierdie klein veranderings oor ‘n BAIE lang tyd die potensiaal sou hê om tot ‘n heeltemal nuwe organisme (‘n vink verander dus in iets anders as ’n vink) te kon lei. Darwin het sy voorgestelde verklaring in sy bekende boek “On the Origin of Species” in 1859 gestel en verduidelik. Vir die daaropvolgende 150 jaar is sy teorie met in-diepte navorsing in ‘n verskeidenheid velde ondersoek.

Kagiso gee die volgende definisie vir die evolusieteorie:

Die teorie van evolusie voer aan dat alle lewende en uitgestorwe organismes, met inbegrip van mense, oor miljarde jare ontwikkel het. Hulle het uit die eerste eenvoudige sel tot meer komplekse en geneties uiteenlopende vorms ontwikkel deur middel van die prosesse van genetiese mutasie, hibridisering, inteling en natuurlike seleksie.

Vir baie mense (veral wetenskaplikes) staan die evolusieteorie net so sterk as enige ander wetenskaplike feit. Dit sal ook dikwels as ‘n feit weergegee word op dieselfde manier as waarop iets soos swaartekrag ‘n feit is. Die vraag ontstaan nou: “Is die evolusieteorie en die wette van swaartekrag op dieselfde manier wetenskaplike feite?” Die wetenskap en die wetenskaplike metode het geweldige verklaringskrag en vorm die basis vir die fantastiese tegnologie wat die moderne wêreld kenmerk. Dit beteken egter nie dat alle vorme van wetenskap gelyk is nie.

Die tradisionele verstaan van die term “wetenskap” is dat dit feite en teorieë behels wat deur eksperimentering en die wetenskaplike metode ondersoek en vasgestel is. Wetenskaplike feite is dus dinge wat deur eksperimente getoets en bo alle twyfel vasgestel en bewys is. Dit is algemene kennis dat die heelal deur middel van natuurwette werk wat baie reelmatig en voorspelbaar is en gevolglik baie aspekte van die natuur verstaanbaar maak. In hierdie opsig ondersoek wetenskaplikes die heelal deur empiriese ondersoeke wat van eksperimentering en die wetenskaplike metode gebruik maak. Hierdie vorm van ondersoek en die gevolgtrekkings wat daaruit gemaak kan word is baie kragtig en geloofwaardig. In hierdie tipe ondersoek is dit aanvaarbaar om met ‘n vaste idee te begin en dit dan te toets. Die eksperiment bewys die oorspronklike hipotese dan direk reg of verkeerd.

Nie alle velde van die wetenskap ondersoek egter herhaalbare gebeure nie. Indien daar wetenskaplike ondersoek gedoen word na iets wat slegs een keer in die verlede gebeur het (in teenstelling met herhaalbare alledaagse gebeure) kan eksperimente en empiriese ondersoek nie direkte antwoorde verskaf nie. Eenmalige gebeure in die verlede moet ondersoek word op dieselfde manier as wat ‘n speurder ‘n misdaadtoneel ondersoek. Die misdaad self het in die verlede gebeur en kan nie in ‘n wetenskaplike ondersoek herhaal of herskep word nie. In hierdie geval maak ‘n speurder nie in die eerste plek van empiriese getuienis gebruik nie. Die primêre bron van getuienis in so geval bestaan uit leidrade en omstandigheidsgetuienis wat op die toneel agtergebly het. Hierdie getuienis kan in sommige gevalle empiries getoets word, maar in beginsel is die ondersoek forensies van aard en nie empiries nie. Die implikasie hiervan is dat wetenskaplikes wat forensiese ondersoeke doen slegs gevolgtrekkings kan maak wat bo “redelike twyfel” waar bewys kan word eerder as wat “bo alle twyfel” waar is (soos wat die gevolg van empiriese ondersoek is). Hierdie onderskeid dui op ‘n baie belangrike graad verskil tussen die twee tipes ondersoek. ‘n Verdere verskil tussen die twee tipes ondersoek wat van groot belang is, is dat forensiese ondersoeke nie met vooroordeel gedoen behoort te word nie. In forensiese ondersoeke moet die ondersoeker so objektief moontlik na die getuienis kyk en moet daar toegelaat word dat die getuienis tot ‘n gevolgtrekking lei. Indien die getuienis egter met duidelike vooroordeel ondersoek word, verloor enige gevolgtrekkings wat uit ‘n forensiese ondersoek gemaak word baie van hul geloofwaardigheid. So sou ‘n hof die getuienis wat deur ‘n seksistiese ondersoeker teen ‘n vroue beskuldigde gelewer word, nie maklik as oortuigend aanvaar word indien die seksisme van die ondersoeker bewys kan word nie.

Die ondersoek na evolusie word deur meeste wetenskaplikes begin deur die waarheid daarvan te aanvaar voor hulle met die ondersoek begin. Dit is wel moontlik dat die evolusieteorie waar is, maar dit kan nie as ‘n feit aanvaar word voor die ondersoek in ‘n forensiese ondersoek begin is nie. Die evolusieteorie is wel op die oomblik die beste naturalistiese (sonder die inmenging van God) verklaring wat die wetenskap op die vrae na die ontstaan van lewe en spesie-diversiteit bied. Om hierdie verklaring egter as ‘n wetenskaplike feit aan te bied is twyfelagtig. Die vraag is: “Is daar redelike twyfel oor die waarheid van die verklarings wat die evolusieteorie bied?” Indien die antwoord “ja” is kan dit nie as ‘n feit weergegee word nie.  Dit kan steeds ‘n wetenskaplike teorie wees wat moontlik waar kan wees, maar kan nie as ‘n bewese wetenskaplike feit verkondig word nie.

Bestaan daar redelike twyfel oor die waarheid van die evolusieteorie? Baie wetenskaplikes sal onomwonde “nee” antwoord op hierdie vraag. Hulle sal beweer dat mense wat nie die feit van evolusie aanvaar nie oningelig, moedswillig of oneerlik moet wees. Dit is egter ook waar dat baie van hierdie wetenskaplikes die waarheid van die evolusieteorie aanvaar en dan met die forensiese ondersoek voortgaan om dit as waar te bewys. Indien evolusie deur middel van klein veranderings binne spesies oor ‘n baie lang tyd slegs deur natuurlike prosesse gebeur het, sou dit sekere implikasies gehad het vir wat mens in die leidrade en getuienis sou verwag. Ek is egter van die oortuiging dat die bestaande leidrade en getuienis tot redelike twyfel oor die waarheid van die evolusieteorie lei. Dit beteken nie dat ek dink dit is ‘n nuttelose of noodwendig valse teorie nie. Dit is egter ook nie ‘n bewese wetenskaplike feit nie en moet nie so aangebied word nie.

Daar is nie in ‘n skrywe soos hierdie genoeg plek om die saak vir “redelike twyfel” oor die waarheid van die evolusieteorie in detail te bespreek nie. Heelwat meer leeswerk is nodig om die saak beter te verstaan, maar ek sal hier slegs in kort op een of twee aspekte wat twyfel wek wys. Die volgende vrae oor en probleme met die evolusieteorie dra sterk tot my redelike twyfel oor die teorie by:

Fossiele

Darwin self het besef dat indien sy teorie waar sou wees, mens dit redelik maklik in die natuur en selfs in die fossielrekord sou kon waarneem. Hy het dit soos volg in “On the Origin of Species” gestel:

“Why if species have descended from other species by insensibly fine graduations, do we not everywhere see innumerable transitional forms? Why is not all nature in confusion in stead of the species being as we see them, well defined?… But, as by this theory innumerable transitional forms must have existed, why do we not find them embedded in countless numbers in the crust of the earth?”

Sy vraag en waarnemings staan steeds vas. In die natuur is daar nie sprake van chaos in terme van spesies nie. Spesies is sover ons kan sien vas en duidelik begrens. Daar vind wel veranderings binne spesies plaas soos Darwin oorspronklik opgemerk het, maar dit is egter nie genoeg as ‘n bewys vir die oorgang van ‘n organisme van een spesie na ‘n ander nie. Indien evolusie op die oomblik aan die gebeur was, sou ‘n mens redelik kon verwag om oorgangspesies te sien. Daar is egter nie duidelike tekens van oorgangspesies in die natuur of die fossielrekord nie. Sedert Darwin se tyd is daar letterlik miljoene fossiele ontdek, maar nog steeds nie ‘n duidelik bewysbare oorgangspesie nie. Die “Archeopteryx” is die gunsteling fossiel wat as voorbeeld van ‘n oorgangspesie aangebied word. Hierdie fossiel dui op ‘n snaakse en interessante organisme wat eienskappe van beide voël en reptiel besit het. Dit word dan verklaar as ‘n reptiel wat besig was om in ‘n voël te verander. Alhoewel die “Archeaopterix” ‘n vreemde en unieke organisme was, bewys dit nie werklik enige vorm van oorgang nie. Dit herinner eerder aan iets soos die “duck billed plattypus” wat in Australië voorkom. Hierdie soogdier het ‘n snawel soos ‘n eend en lê eiers! Dis net so snaaks as die “Archeaopterix”, maar nie ‘n oorgang van ‘n voël na soogdier of andersom nie. Die fossielrekord toon wel ‘n toename in kompleksiteit van organismes oor tyd, maar nie opeenvolging waar die een oorloop in die ander nie. Dit dui ook nie op ‘n stadige ontstaan van die verskillende liggaamsplanne wat diere vandag het nie.

Inligting en DNS

Met die ontstaan van mikrobiologie het die mens die struktuur en werking van selle beter begin verstaan as wat die geval in Darwin se tyd was. Binne die selkern is DNS ontdek wat die “bouplanne” vir die organisme bevat.   DNS bevat gespesifiseerde inligting wat in ‘n tipe van ‘n chemiese taal opgeteken is. Dit is ‘n voorbeeld van ordelike gespesifiseerde kompleksiteit wat inligting bevat. Daar is geen eksperimentele of ander getuienis wat daarop dui dat natuurkragte op hul eie met hierdie tipe van inligting vorendag kan kom nie. Forensiese ondersoeke maak dit moontlik om die inmenging van “intelligensie” in bepaalde omstandighede te kan uitken.  So kan ‘n speurder bepaal of ‘n ontploffing beplan was of bloot ‘n ongeluk was. Wetenskaplikes herken radioseine vanuit die ruimte as natuurlike produkte (soos polssterre) en onderskei dit van iets wat eerder die gevolg van ‘n “intellek” sou wees. Dit is juis vir hierdie doel dat die SETI (Search for Extra Terrestrial Intelligence) program wat na radioseine uit die ruimte luister, opgestel is. ‘n Radiosein deur ‘n “iemand” behoort tog onderskei te kan word van iets wat maar net ‘n produk van natuurkragte is. Indien wetenskaplikes dus glo (soos wat dit lyk hulle wel doen) dat hulle sal kan bewys of ‘n sein van natuurlike of intelligente oorsprong is, sou dieselfde maatstaf tog geld om te kan bepaal hoe gespesifiseerde kompleksiteit (inligting) in DNS ontstaan het.

In die natuur skep blote natuurkragte dikwels ‘n baie hoë mate van kompleksiteit –soos wat byvoorbeeld in ‘n hoop skulpe wat op die strand uitgespoel het, gesien kan word. Daar is egter nooit duidelike orde in hierdie kompleksiteit aanwesig nie. Natuurkragte kan egter ook op hul eie ‘n hoë mate van orde tot gevolg hê. Dit kan in die chemiese struktuur van kristalle gesien word waar elke molekule presies by die ander pas en net soos die ander lyk. Daar is egter ‘n baie lae vlak van kompleksiteit aanwesig in hierdie herhaling van dieselfde struktuur. Die naaste wat die natuur egter op sy eie aan ‘n kombinasie van hoë orde én hoë kompleksiteit kom, is as ‘n wolk soms uit ‘n spesifieke hoek soos ‘n mens se gesig lyk of ‘n rots se vorm aan ‘n bobbejaan herinner. By nadere ondersoek word dit egter altyd duidelik dat hierdie waargenome verskynsels slegs deur natuurkragte tot stand gekom het. In teenstelling hiermee sou dit onredelik wees om te dink dat slegs blinde natuurkragte ‘n boodskap in skulpe op die strand sou kon uitskryf (kompleksiteite sowel as orde). Die menslike liggaam is vol ordelike komplekse sisteme waarvan die hoogtepunt die verstommende hoeveelheid gespesifiseerde kompleksiteit (inligting) in DNA is. Waarom word aanvaar dat dit deur natuurkragte alleen gevorm kon gewees het. Wat anders as vooroordeel (die vooraf aanvaarding van die waarheid van die evolusieteorie) lei mense tot so ‘n gevolgtrekking? In enige ander omstandighede sou wetenskaplikes erken dat hierdie inligting wat so kompleks en gespesifiseerd is, nie slegs ‘n natuurverskynsel kon wees nie.

Daar is nog verskeie ander vrae wat bydra tot die redelike twyfel oor die bewese waarheid van die evolusie teorie, maar ek gaan met hierdie twee volstaan. Wetenskaplikes sal oor elkeen van hierdie vrae probeer antwoorde gee. Die vraag is egter of hulle antwoorde deur getuienis gestaaf word en of dit die redelikheid van die twyfel oor die waarheid van die evolusieteorie uit die weg ruim. Ek het al na baie pogings tot antwoorde geluister, maar my redelike twyfel staan steeds.

5. Gevolgtrekking

Wat staan Christene te doen? Die maklikste uitweg sou wees om uit die hele debat te onttrek en ‘n Christelike subkultuur te vorm. Die waarheid is egter dat die wetenskaplike gemeenskap ons dan gaan ignoreer en dat ons nie effektief sout en lig oor hierdie saak sal wees nie. Ons moet ingelig wees (sonder om te voel ons moet alles weet!) en met ‘n oop-kop en konstruktiewe manier aan die gesprek deelneem. Ons kinders moet in hul huise hieroor ingelig word sodat hulle op ‘n sinvolle manier aan die gesprekke en debatte oor die evolusieteorie kan deelneem. Uitkomsgebaseerde onderrig skep ‘n wonderlike geleentheid vir debatvoering en deelname. Kom ons vind uit wat die regte vrae is om te vra en kom ons leer ons kinders om ook die regte vrae te vra.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.