Het Jesus se Opstanding Werklik Plaasgevind?

deur Phillip Scheepers

Jesus se opstanding is deel van die hart van die Christelike geloof. Dit is die waarborg van die ewige lewe wat Jesus vir ons verwerf het. As Jesus nie uit die dood opgestaan het nie, dan val die Christelike geloof soos ‘n kaarthuis inmekaar. Hierdie feit word nie net deur ateïste of ongelowiges uitgewys nie. Paulus self sê dat as die dooies nie opgewek word nie (en Jesus daarom nie uit die dood opgestaan het nie), dan “Laat ons eet en drink want more sterf ons!” (1 Kor. 15:32) Daarom is dit belangrik om te weet of daar goeie getuienis vir die opstanding is wat ons eie twyfel kan verlig en wat ons met die wêreld kan deel.

Twee opmerkings is in orde voor ons na die getuienis vir die opstanding kyk. Eerstens is die feit dat alle mense ‘n wêreldsbeskouing het waarvolgens hulle op ‘n sekere manier na die wêreld kyk. Dikwels het mense se verwerping van die opstanding niks te doen met die getuienis daarvoor of daarteen nie, maar spruit dit voort uit hulle idees van hoe die wêreld werklik is. So is baie mense deur modernistiese en rasionalistiese denke gekondisioneer om te glo dat die bonatuurlike nie bestaan nie. As die bonatuurlike nie bestaan nie, vind wonderwerke nie plaas nie, en as wonderwerke nie plaasvind nie, dan is dit nie moontlik dat Jesus uit die dood opgestaan het nie. Die probleem is egter dat niemand wat die bonatuurlike ontken, absolute kennis oor die aard van werklikheid het, of bo alle twyfel kan wys dat die bonatuurlike nie bestaan nie. ‘n Verwerping van die bonatuurlike, en daarom van wonderwerke, berus dus dikwels op niks anders as ‘n blinde geloof wat nie die getuienis in ag neem nie.

Tweedens is dit ook so dat mense dikwels nie die getuienis in ag wil neem nie. Baie mense voel dat as die Christelike geloof waar is, dit hulle vryheid en hulle lewenstyl ernstig sal aantas. Min mense sal hierdie sentiment vir waarom die Christelike geloof vir hulle onaanvaarbaar is, egter so reguit en eerlik stel. Tog hou baie mense  ‘intellektuele’ besware voor, sonder om ooit regtig die getuienis vir of teen hulle standpunt ernstig te ondersoek nie. Die feit is dat as Jesus werklik uit die dood opgestaan het, dan is Hy wie Hy gesê het Hy is en stel dit mense voor sekere keuses. Christene kan getuig dat daar in die regte keuses, die wonderlikste vryheid en lewe in oorvloed te vinde is. Baie mense sal skynbaar egter eerder die opstanding ontken as om daardie keuses te maak.

Getuienis vir die opstanding: Die leë graf

Daar is een groot feit rondom die dood en begrafnis van Jesus waaroor daar onder gelowiges en skeptici groot eenstemmigheid is: die Sondagoggend na die kruisiging van Jesus was Sy graf leeg. Christene wys daarop dat die beste verduideliking vir die leë graf, wat al die feite rondom die leë graf in ag neem, werklik die opstanding van Jesus uit die dood is. ‘n Paar ander verduidelikings vir hoe die feit van die leë graf geïnterpreteer moet word, is egter die volgende:

  • Jesus was nie werklik dood gewees nie
  • Die dissipels het na die verkeerde graf gegaan
  • Die dissipels het die lyk gesteel.

Ons kan elk een van bogenoemde teorieë meet aan hoe en of dit sin maak uit die gegewens in die Evangelies. Dan kan ons ‘n ingeligte keuse maak vir wat die beste verduideliking is vir die gebeure wat in die Evangelies geskets word.

Teorie 1: Jesus was nie werklik dood nie

Soos aangedui is een van die verduidelikings wat mense gee vir die leë graf, en daarom ook vir mense se geloof dat Jesus ‘opgestaan’ het, dat Jesus nie werklik gesterf het nie, dat mense mislei is om te dink dat Hy dood was. Tog dui die volgende gegewens uit die Evangelies daarop dat Jesus werklik daardie Vrydag aan die kruis gesterf het.

  • Die aard van ‘n geseling. Persone wat gegesel is het dit dikwels nie oorleef nie, omdat die sweep waaraan stukkies been en metaal vasgemaak is, ernstige bloeding en skade aan organe veroorsaak het. Dis vandag bekend dat ‘n gegeselde persoon weens die bloedverlies dikwels in ‘n toestand van hipovolemiese skok verkeer, die aanloop tot ‘n hartstilstand. Simptome weens hierdie bloedverlies is onder andere swakheid of floutes en dors. Die Evangelies beskryf juis hierdie simptome van Jesus nadat Hy gegesel is. So het Hy byvoorbeeld op ‘n punt waarskynlik inmekaar gesak en kon Hy nie meer Sy kruis dra nie (Matt. 27:32), en aan die kruis het Hy ook laat blyk dat Hy dors is (Joh. 19:28).
  • Die aard van ‘n kruisiging. ‘n Persoon wat gekruisig is, se hande (deur die polse) en voete (deur die enkels) is aan die houtbalke van die kruis vasgespyker. ‘n Persoon was op so ‘n manier aan die kruis uitgestrek dat sy diafragma onder spanning was en asemhaling belemmer het. Om asem te haal moes daar op die enkels afgedruk word om die longe in staat te stel om lug in te neem. Die inspanning en pyn hieraan verbonde kon nie lank volgehou word nie en dan het ‘n persoon weer gesak om gewig na die arms te verskuif. Soos ‘n persoon se kragte afneem en hy later nie meer kon opstoot nie, het daar ‘n punt gekom waar hy nie meer kon asemhaal nie en sterf hy aan versmoring. Tydens die hipovolemiese skok en gebrek aan suurstof, wat ‘n hartstilstand voorafgaan, versamel daar ook ‘n helder vloeistof om die hart (kardiale effusie) en die longe (pleurale effusie). Dis interessant dat Johannes spesifiek hierna verwys as hy vertel dat daar bloed en water uitgekom het (Joh.19:34) toe ‘n spies in Jesus se sy gesteek is om seker te maak dat Hy dood is. Verder het die Romeinse soldate wat kruisigings uitgevoer het, soms ‘n gekruisigde se bene met ‘n knuppel of ‘n stewige spies gebreek om die dood te bespoedig. So ‘n gekruisigde kon homself dus nie meer opstoot om asem te haal nie en is binne enkele minute dood. Ons sien egter in die Evangelies dat Jesus se bene nie gebreek is nie (Joh. 19:33) wat daarop dui dat Jesus reeds dood was voordat Hy van die kruis afgehaal is.
  • Die gebalsemde liggame van die dooies. Jesus se dooie liggaam is gebalsem en in doeke toegedraai (Joh. 19:40) soos die gebruik was. Speserye is gewoonlik in ‘n tipe pasta gemaak (ongeveer 25kg daarvan), en reg rondom die lyk aangewend. Die lyk is dan met verskeie lae doeke toegedraai. Die implikasie hiervan is dat geen persoon wat net bewusteloos was, lank sou kon oorleef terwyl Hy toegedraai is in al daardie speserye en doeke nie.

Al die getuienis dui dus daarop dat Jesus werklik gesterf het. Selfs indien Hy nie aan die kruis gesterf het nie, en mense net gedink het dat Hy dood was, dan sou die metode waarop Hy begrawe is, Sy dood veroorsaak het. Dit is dus verregaande om te dink, soos skeptici al voorgestel het, dat Jesus na ‘n tydjie in die koelte van die graf, uit sy beswyming bygekom het en homself ten spyte van Sy beserings toe uit al die grafdoeke gewoel het. Jesus sou in Sy beseerde toestand selfs nog meer moes doen. Hy sou die groot klip voor die graf moes wegrol en dan een of meer Romeinse soldate moes oorrompel om weg te kom!

Teorie 2: Die dissipels het na die verkeerde graf gegaan

Die Evangelies gee spesifieke inligting oor die plek waar Jesus begrawe is, sodat dit moeilik is om te glo dat Jesus se dissipels na die verkeerde graf gegaan het en toe hulle nie sy liggaam kon kry nie, gedink het dat hy ‘opgestaan’ het. Uit die Evangelies is dit duidelik dat dit goed bekend was dat Jesus is in die rotsgraf van Josef van Arimatea (Matt. 27:57, Mark. 15:43, Luk. 23:50, Joh. 19:38) begrawe is. Verder sou die Joodse owerhede tog baie gou die regte graf (met die lyk daarin) uitgewys het as die dissipels na die verkeerde graf gegaan het.

Teorie 3: Die dissipels het die lyk gaan steel.

Daar is twee stukkies inligting uit die Evangelies wat dit ongeloofwaardig maak om te glo dat Jesus se dissipels Sy liggaam gaan steel het:

  • Die grafseël. Dit was die gebruik om grafte met ‘n groot klip toe te maak (Matt. 27:60). Dit het ten doel gehad om die graf te verseël en sou nie maklik verwyder kon word nie, aangesien dit baie swaar was.
  • Die wagte. Asof dit nie genoeg was nie, is daar besluit om ‘n wag voor Jesus se graf te plaas om te verseker dat niks met die lyk gebeur nie (Matt. 27:66). Waarvandaan sou die dissipels wat ‘n ruk tevore weggehardloop het (Matt. 26:56) en diep teleurgestel was in hul leier se mislukte missie en gevolglike dood, skielik die moed kry om wapen op te neem en Jesus se lyk te gaan steel?

Dit is duidelik dat ten spyte van al die voorsorg wat getref was, die graf op die Sondagoggend leeg was. Dis eenvoudig baie moeilik om te verduidelik hoe ‘n liggaam uit ‘n graf wat goed toegemaak en selfs goed bewaak was, sommer net kon verdwyn. Daarom dat die Joodse Raad gerugte versprei het dat Jesus se liggaam gesteel is (Matt. 28:13).

Getuienis vir die opstanding: Die getuienis van die eerste Christene

Nog ‘n feit waaroor daar min twyfel bestaan, is dat die dissipels geglo het dat hulle een of ander ervaring gehad het waarin Jesus aan hulle verskyn het na sy dood. Sommige skeptici verduidelik egter dat hierdie ervarings nie toegeskryf moet word aan kontak met die opgestane, lewende Jesus nie, maar dat dit hallusinasies was. Tog is dit bekend dat die sielkundige verskynsel van hallusinering, hoogs individuele verskynsels is. Vir 12 (of meer) mense om op die dieselfde tyd, dieselfde hallusinasie te kry, sou opsigself ‘n wonderwerk wees. Die beskrywings van hierdie verskynings in die Evangelies is ook nie kenmerkend van een of ander mistiese gebeurtenis nie. Die getuienis is dat Jesus mense toegelaat het om aan Hom te vat (Joh. 26:26-29) en Hy het selfs saam met hulle geëet. Alles baie sensoriese beskrywings wat nie maar net met een of ander visioen versoen kan word nie.

Jesus het ook nie net aan mense wat Hom goedgesind was verskyn nie. Hy het aan een van die grootste vyande van die vroeë kerk (Saulus) verskyn, ‘n gebeurtenis wat Saulus so oortuig het van Christus se identiteit, dat hy een van die grootste verkondigers van die hoop in Christus geword het. As hierdie selfde man (daarna Paulus) oor die opstanding skryf, is dit ook duidelik dat hy nie van mense verwag om maar sommer net sy getuienis te aanvaar nie. Daarom noem hy die feit dat Jesus aan meer as 500 mense verskyn het, waarvan sommige teen die tyd van Paulus se skrywe, al gesterf het, maar van wie die meeste nog gelewe het (Hand. 15:6) en per implikasie dus geraadpleeg kon word.

Getuienis vir die opstanding: Die veranderde lewens van die eerste Christene

Een van die sterkste getuienis vir die opstanding is die feit dat die lewens van baie mense na Jesus se dood radikaal verander het. Petrus wat voor die opstanding nie bereid was om sy verbintenis met Jesus teenoor ‘n diensmeisie (Matt. 26:69-70) te erken nie, preek nou daaroor voor duisende mense (Hand. 2:14), selfs in weerwil van die wense van die Joodse Raad. Die dissipels wat vroeër weggehardloop het, verkondig skielik hul boodskap teen geweldige koste. Al die dissipels (met die uitsondering van Johannes wat in ballingskap gesterf het) het op ‘n geweldadige manier gesterf ter wille van die boodskap van Jesus as die opgestane Here. Die beswaar is dikwels dat baie mense bereid is om vir wat hulle glo te sterf. Dis egter belangrik om te vra hoeveel mense bereid is om vir wat hulle weet ‘n leuen is, te sterf. Mense wat die opstanding ontken wil hê ons moet glo dat die dissipels, nadat hulle weggehardloop het, weer bymekaargekom het en in ‘n groot sameswering betrokke was wat die hele wêreld om die bos gelei het. So sou die dissipels Jesus se lyk gesteel het en doelbewus ‘n leuen oor Sy ‘opstanding’ verkondig het. Hulle het egter niks uit so ‘n leuen te wen gehad nie, maar selfs onder dreigement van die dood, verloën hulle nie die ‘leuen’ nie, maar sterf met groot vreugde daarvoor. Dit verg net soveel geloof (indien nie meer nie) om hierdie verduideliking te glo, eerder as in die wonderwerk van die opstanding. Dis egter baie duidelik dat die persone wat die naaste aan die gebeure was en wat dus die beste toegerus was om te oordeel oor die waarheid van die opstanding, heeltemal daarvan oortuig was.

Getuienis vir die opstanding: Die ontstaan van die vroeë kerk

In dieselfde stad waar die gebeure rondom die kruisiging en opstanding van Jesus plaasgevind het, het daar spoedig baie mense na vore gekom wat die boodskap van verlossing in Sy naam aangeneem het. Die persone wat hierdie verlossing aan hulle verkondig het, het baie duidelik daarop klem gelê dat die opstanding van Christus die bevestiging van daardie verlossing was. As daar egter ernstige twyfel was oor die waarheid van die opstanding, dan sou die kerk nie kon ontstaan het op die plek en onder die mense wat die naaste aan hierdie gebeure was nie. Paulus sou later voor Agrippa op hierdie feit klem lê toe hy hom herinner dat ‘hierdie dinge nie iewers in ‘n hoekie gebeur het nie’ (Hand. 26:26).

Skeptici probeer soms aantoon dat die opstanding ‘n legende was wat jare na die lewe van Jesus in die kerk ontstaan het. Tog gebeur daar reeds in die eerste jare van die ontstaan van die kerk dinge wat wys dat die vroeë Christene se geloof in die opstanding, nie sommer maar iets is wat later ontstaan het nie. Daar was van die begin af iets wat ‘n ongelooflike impak op hulle gehad het. So byvoorbeeld het die meeste van die eerste Christene natuurlik uit ‘n Joodse agtergrond gekom, wat beteken dat hulle op die Sabbat (Saterdag) aanbid het. Tog sien ons dat die vroeë kerk baie gou op Sondae bymekaar begin kom het. Iets radikaal moes dus gebeur het om mense te oortuig om skielik die rug te keer op eeue se tradisie – dit wat sentraal gestaan het tot hulle belewenis van hulle Joodse geloof. Daardie iets was natuurlik die opstanding en Christene kom vandag nog op Sondae bymekaar om hierdie feit te herdenk.

Gevolgtrekking: Jesus Christus het werklik uit die dood opgestaan!

Die beste verduideliking van die feite wat as getuienis dien rondom die dood van Jesus, is dat daar werklik iets bonatuurliks op Paassondag gebeur het, dat Jesus werklik uit die dood opgestaan het. Die persoon wat weier om so ‘n verduideliking te aanvaar (of wat weier om dit selfs eers ernstig te ondersoek) het dalk ‘n wêreldbeeld wat hom of haar verhinder om die werklikheid raak te sien vir wat dit is. Miljoene Christene regoor die wêreld kan getuig dat Jesus Christus nie maar net ‘n gestorwe godsdienstige leier is nie, maar dat Hy vandag nog mense se lewens verander. As dit dan so is dat die getuienis daarop wys dat Jesus leef, dan beteken dit dat Sy aansprake ernstig oorweeg moet word. Dan kan en moet ons as Christene hierdie boodskap van ons lewende Here met groot ywer en energie in die wêreld verkondig.

Verdere leeswerk

Craig, WL 1988 Knowing the truth about the resurrection Servant; Ann Arbor

Craig, WL 1994 Reasonable faith Westchester, Crossway

Geisler, N 1992 Miracles and the modern mind Grand Rapids; Baker Book House

Geivett, RD and Habermas G. 1997 In defence of miracles IVP; Downers Grove

Habermas, G and Moreland, JP 1998 Beyond death: Exploring the evidence for immortality Westchester; Crossway

McDowell, J. 1981 The resurrection factor. San Bernadino, Here’s life

Morrison, F. 1988 Who moved the stone? Grand Rapids; Zondervan

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.