Moet ‘n Christen soos ‘n kind glo?

Beste Udo

Is Christene naïef en liggelowig? Of anders gestel: Is iemand wat glo dat die Bybel histories en feitelik betroubaar is, nie maar besig om ‘n klomp dinge vir soetkoek op te eet nie? In die Bybel sê Jesus self: “Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ont­vang nie, sal daar nooit ingaan nie.” (Mark. 10:15) Is dit dan nie ‘n bevestiging dat ‘n Christen soos ‘n kind moet glo nie? En glo kinders nie meestal naïwelik alles wat aan hulle vertel word nie? Maak dit Christene daarom nie skuldig aan blinde geloof nie, geloof in dinge wat eintlik glad nie waar is nie?

Groete

Winkelsmidt

Winkelsmidt,

Die skeptikus Mark Twain het eenmaal die volgende gesê: “Faith is believing what you know ain’t so.” Hierdie komiese gedagte weerspieël waarskynlik baie mense se onuitgesproke sentiment. Iemand wat die Bybel ernstig opneem word soms beskou as iemand met ‘n soort kinderlike geloof wat net so wel kan erns maak met die Tandemuis en Kersvader.

Hoe antwoord ‘n mens dan die vraag: Moet ‘n Christen soos ‘n kind glo? Die antwoord is beide ja en nee, want om soos ‘n kind te glo kan op twee maniere verstaan word. Kinderlike geloof wat dui op kinderlike vertroue is vir ‘n Christen onontbeerlik. Die geloof van ‘n kind wat egter kinderagtig is, is sover dit gaan oor hoe ‘n Christen glo, totaal onvanpas. Daarom moet ons die twee begrippe nie met mekaar te verwar nie. Laat my toe om te verduidelik.

Ja, ek glo soos ‘n kind.” Om ‘n Christen te word en te wees word goed verduidelik met die beeld van hoe totaal afhanklik kinders van hul ouers is. Sulke kinders ontvang liefde en versorging van hul ouers son­der dat hulle ooit self iets moet of kan doen om dit te verdien. Sulke kinders glo en vertrou hul ouers vir alles, nie omdat daardie kinders naïef is nie, maar omdat die ouers vertrouenswaardig is. Alhoewel kinderlike geloof in so ‘n verhoudingskon­teks geensins af­hank­lik is van besondere intelligen­sie of kennis nie, het dit niks te doen met naïwiteit nie. Let op die kon­teks van Jesus se woorde in Markus 10:15. Jesus reageer op sy dissipels wat wou keer dat mense hul kinders na Hom moes bring. In die oë van die dissipels was hierdie kinders waar­skynlik nie belangrik genoeg om Jesus so sonder rede lastig te val nie. Die dissipels se optrede (sien ook Matt. 18:1) verraai egter ‘n misplaaste dunk van hulleself. Daarom dat Jesus verduidelik hoe mense lyk wat deel kry aan die koninkryk van God. Dit is mense met die swakheid en roemloosheid van kinders wat God se genade (Jesus se verlossings­werk) ontvang. Hierdie ont­vangs en algehele onvermoë om iets te doen om God se guns te ver­dien, is ‘n weerspieëling van kinderlike geloof. Sulke geloof word dus verstaan in die konteks van vertroue op God, ‘n verhouding met God.

Nee, ek glo nie soos ‘n kind nie.” Dit is waar dat kinders van nature goedgelowig is. Hulle glo mees­tal maklik wat aan hulle vertel word. Dis egter ook so dat kinderlike goedgelowigheid maklik uitgebuit kan word, omdat kinders se vermoë tot onder­skei­ding nog nie voldoende deur kennis en ervaring geslyp is nie. Daarom dat kinders soms mislei word om “kinderagtige” dinge te glo. Let egter op dat die pro­bleem hier nie soseer “goedgelowigheid” is nie, maar die moontlikheid van misleiding. Daarom dat goed­gelowigheid sonder onderskeiding maklik tot kin­der­­agtige geloof kan lei. Christene moet egter volwasse geloof nastreef en nie kinderagtige geloof openbaar nie (sien Bybelse verwysings in eindnota 1). ‘n Mens moet en kan leer om onderskeiding aan die dag te lê deur pertinent bewus te word van wat jy glo en hoekom jy dit glo. Sulke bewuswording vereis nie beson­dere intelligensie of groot geleerdheid nie, bloot maar die natuurlike begeerte om te weet wat waar is. Kinderagtige geloof is inder­daad blinde geloof omdat dit nie regtig belang­stel in hoe geloof oor iets met die feite of waarheid verband hou nie (sien eindnota 2). Aan so ‘n men­ta­liteit mag Christene hulle nie skuldig maak nie. Dis ‘n sober gedagte om te onthou dat geloof wat nie poog om met die waarheid rekening te hou nie, dalk met valsheid kan besig wees. Daarom dat Colin Brown sê:

A faith which goes on believing regardless of the evidence is not a faith worth having.”

Daar is dus ‘n groot verskil tussen kinderlike geloof en kinderagtige geloof. Dit is wanneer die objek van jou geloof betroubaar is, dat jy soos ‘n kind jou vertroue daarin kan plaas. Onderskeiding beteken om vas te stel of daardie objek wel vertrouenswaar­dig is. Kinderagtige geloof, daarenteen, maak nie regtig bemoeienis met die rede of objek van ‘n spesifieke geloof oor iets nie. Dit heg veel meer waarde aan geloof opsigself, so asof ‘n rotsvaste en opregte geloof oor iets, daardie iets noodwendig moet waar maak. Die Christen-filosoof Mortimer J. Adler sê die volgende:

“I suspect that most of the individuals who have religious faith are content with blind faith. They feel no obligation to understand what they believe. They may even wish not to have their beliefs disturbed by thought. But if the God in whom they believe created them with intellectual and rational powers, that imposes upon them the duty to try to understand the creed of their religion. Not to do so is to verge on superstition.”

Ondanks Mark Twain se guitige opmerking van vroeër kan ‘n mens nie werklik glo in wat jy weet onwaar is nie. Net so kan jy ook nie iets of iemand anders liefhê wat jy glo onwerklik is nie. Christene kan egter met integriteit daarvan getuie wees dat die Bybel dit ook nie van hulle vra nie. Bybelse geloof het ‘n baie eenvoudige kwaliteit in die vorm van kinderlike vertroue. Tog bestaan die fondasie vir sulke geloof nie uit naïewe of blinde spekulasie nie. Peter Kreeft en Ronald Tacelli som dit goed op:

“Belief is what happens when you decide to be honest and put your mind in the service of truth.”

Eindnotas:

1) Volwasse geloof: 1 Kor. 3:1, 1 Kor. 13:11, 1 Kor. 14:20, Ef. 4:14, 2 Thess. 1:3

2) Die belangrikheid van waarheid: 2 Thess. 2:13, 1 Tim 2:7, 2 Tim 3:8, Tit. 1:1, 1 Joh. 4:1

The gullible believe anything they’re told; the prudent sift and weigh every word. Proverbs 14:15 (The Message)

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.