Philip Pullman en ‘The Golden Compass’

Uitgelewer aan ‘n onbetroubare rigtingwyser – Philip Pullman se ‘Golden Compass

deur Phillip Scheepers

As jy teen hierdie tyd nog nie teen “The Golden Compass” gewaarsku is nie het jy tien teen een nie e-pos of ‘n selfoon nie!  Verskeie e-posse doen die rondte wat Christene waarsku teen Hollywood se groot vakansiefliek en teen die feit dat die  storielyn daarmee te doen het dat die hoofkarakters vir God doodmaak sodat ‘hulle kan doen wat hulle wil’.  Ek wil met ‘n paar artikels jou so bietjie probeer help om te verstaan wat in “His dark materials” (die naam van die trilogie waarvan The Golden Compass die eerste is) aan die gang is en hoekom dit belangrik is dat ons as Christene daarvan kennis neem.  Dit sal, ter inleiding, dalk goed wees om net eers stil te staan by die oproep om die fliek te boikot.
Daar is geen twyfel dat “His dark materials” materiaal bevat wat enige Christen ernstig bekommerd behoort te laat nie.  Die manier waarop ons egter opgeroep word om die fliek te boikot het my egter met ‘n paar vraagtekens gelaat.  Laat ek verduidelik hoekom:

  • In die eerste plek het dit, toe ek die eerste epos lees, so half vir my gevoel  asof ons as Christene net kennis neem van iets as dit vanuit Hollywood kom.  Die feit is dat “His dark materials” al meer as tien jaar met ons is (Northern Lights waarop The Golden Compass gebaseer is het reeds in 1995 verskyn) en dat dit alreeds letterlik miljoene der miljoene jongmense se denke oor God en godsdiens beïnvloed het.  Ek kan nie help as om te wonder hoekom ons nou eers opgeroep word om daaraan aandag te gee nie.  Ek dink dit sal ons almal, myself ingesluit, goed doen om so bietjie wyer te kyk as dit waarmee Hollywood besig is.  “His dark materials” moes al lankal op ons agenda gewees het, die feit dat ons egter baie keer slegs gefokus is op die groot en klein skerm het egter ongelukkig verseker dat dit nie was nie.
  • In die tweede plek is dit vir my duidelik (en baie ander mense het dieselfde opmerking gemaak) dat die persone wat so vurig pleit vir ‘n boikot van die fliek nie die moeite gedoen het om die boeke (waaruit jy natuurlik ‘n uitstekende idee kan kry van wat die fliek gaan uitbeeld) te lees nie.  Die waarskuwings bevat dus ‘n hele paar feitelike foute.  Hiervan is die belangrikste die bewering wat gemaak word dat die kinders in die boek vir God doodmaak.  Een van die sentrale elemente van die wêreldbeeld wat in Pullman se boeke uitgeborduur word is egter dat daar nie ‘n God is nie.  Daar is slegs engele waarvan een voorgee dat hy God is.  Dit is dus binne die konteks van die boeke onmoontlik om God dood te maak, aangesien dit baie duidelik gestel word dat God nie bestaan nie!  Will en Lyra (die hoofkarakters) is wel teenwoordig wanneer die engel wat voorgee dat hy God is, sterf (hulle maak hom egter nie dood nie).  Dit mag dalk vir jou klink asof ek hare kloof, die feit is egter dat dit ‘n wanvoorstelling is om te beweer dat die kinders in die boek vir God doodmaak.  Hierdie feit sal onmiddellik duidelik wees vir enige persoon wat die boek gelees het.  Dit laat die skrywers van die waarskuwings (hoe welmenend hulle ook al mag wees) oop vir die beskuldiging dat hulle bloot besig is om ‘n karikatuur te skep van dit waarvan hulle nie hou nie.  Verstaan my mooi, ek probeer nie hiermee vir Pullman of “His dark materials” verdedig nie. Ek is egter oortuig dat die oproep om “die waarheid in liefde te praat” (Efesiërs 4:15) ook insluit dat ons dié wat nie met ons saamstem nie se standpunte korrek weergee.
  • Ek is derdens, en laastens, oortuig dat die oproep om die fliek te boikot eenvoudig teenproduktief is.  As koshuiskinders het ons die graagste vrugte gesteel uit die tuine met die hoogste mure!  Op dieselfde manier sal ‘n oproep tot ‘n boikot vir die teikenmark van hierdie fliek (lees tieners) die sein stuur dat dit so min of meer semi-verpligtend is om te gaan kyk.  Die feit dat hulle dit dus ‘onwettig’ gaan kyk beteken verder dat hulle baie minder waarskynlik sal wees om dit wat hulle gesien het met hulle ouers of geestelike leiers te bespreek.  Ek wil dit onomwonde stel – daar is niks in “His dark materials” waarvoor ons hoef weg te deins omdat ons nie antwoorde daarop kan gee nie.  Dit is daarom veel beter om ons gesprek daarmee in die oopte te kry, eerder as om dit te laat lyk asof dit ‘n ‘verbode vrug’ is wat ons in die diepte van ons wese laat bewe.   Om egter tot hierdie gesprek te kan toetree gaan mense van ons verwag om te weet waarvan ons praat.  ‘n Beter oplossing as jy tieners in die huis het, sou dus sekerlik wees om die boeke saam met hulle te lees of die fliek saam met hulle te gaan kyk, sodat julle daaroor kan praat.

Ek besef dat daar seker baie diep en opregte gelowiges sal wees wat nie met my standpunte hierbo sal saamstem nie.  Ek weet verder dat baie mense hierdie e-posse en sms’e vanuit ‘n diepe kommer oor mense wat dalk deur die fliek geraak sal word aangestuur het.  Ek wil dus nie onnodig krities wees, of veroordelend oorkom nie.  Vergewe dus as jy dit so beleef het.  Hoe dit ook al sy, of jy gaan boikot of nie, die feit bly staan dat ons deeglik sal moet kennis neem van “His dark materials” en gereed sal moet wees met antwoorde vir die vrae wat daaruit na vore kom.  Ons gaan per slot van rekening nog vir drie Desembers direk daarmee gekonfronteer word!

Om jou te help om so bietjie hieroor na te dink het ek drie artikels hieroor saamgestel. Met die eerste artikel probeer ek om die wêreldbeeld waarmee enige leser van “His dark materials” gekonfronteer gaan word, te analiseer.  Die tweede artikel kyk so bietjie na Philip Pullman self en probeer ek ook so ‘n paar antwoorde bied op van die kwessies wat hy opper.  Met die derde artikel probeer ek ‘n paar kontrasterende lyne trek tussen “His dark materials” en CS Lewis se “The Chronicles of Narnia” (Die rede hiervoor is dat Pullman sy boeke as ‘n anti-Narnia aanbied).

Voordat jy verder lees wil ek dit net laastens duidelik maak dat alles wat ek skryf gebaseer is op die boeke en nie op die fliek nie.  Daar is ‘n baie eenvoudige rede hiervoor:  Die fliek verskyn eers na Kersfees hier in Australië en ek het dit dus nog nie gesien nie!  Verder word die laaste twee aflewerings natuurlik nog verfilm en verskyn dit eers in 2008 en 2009 onderskeidelik.  Uit die resensies wat ek gelees het lei ek af dat die anti-godsdienstige temas in die boek baie afgewater word in die fliek.  (Iets waaroor ‘n hele paar ateïste duidelik baie ongelukkig is!)  Almal wat die boeke gelees het sal egter weet dat dit basies onmoontlik sal wees om dit in die volgende twee flieks te doen aangesien dit so ‘n integrale deel van die storielyn van “The Subtle Knife” en veral “The Amber Spyglass” is.

Oorsig:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.