Richard Dawkins en ‘The God Delusion’

Die volgende artikel is deel 1 van 3 artikels wat aanvanklik op die e-kerk se webwerf (www.ekerk.co.za) verskyn het. Dit word in samewerking en met toestemming van die skrywer hier gereproduseer.

 

Die tegnieke van “die duiwel se kapelaan

Deur Phillip Scheepers

‘n Mens hoef nie te lank te wonder oor hoe sterk Professor Richard Dawkins voel oor godsdiens en oor gelowiges nie.  Die titels van sy werke behoort jou sommer van die begin af daarmee te help. Hy noem homself “a devil’s chaplain” in die sin dat hy mense van geloof probeer wegdryf. ‘n Dokumentêre program wat hy onlangs oor godsdiens op Channel 4 gedoen het heet ‘The root of all evil’, en ek hoef ook maar net in enige boekwinkel in te stap om deur die titel van sy nuutste topverkoper (The God Delusion) daaraan herinner te word dat hy my geloof as iets uiters ongesond beskou.  Dawkins bied sy standpunte in hierdie (en ander) werke aan asof dit die enigste moontlike manier is om oor God en godsdiens te dink en hy hanteer die wat met hom daaroor verskil met die uiterste minagting.  In ‘n sin hou hy dus sy standpunte voor as die toppunt van menslike denke oor geloof.  Ek maak hierdie bewering nie ligtelik nie.  The God Delusion neem amper die vorm van ‘n persoonlike getuienis aan met persoonlike voornaamwoorde soos ‘I’ and ‘me’ wat liberaal gebruik word.  Wat my betref beperk Dawkins homself geensins tot die stel van argumente nie, daar is ‘n definitiewe element van ‘Omdat ek so sê’ in die boek sigbaar.

Dit is om hierdie rede belangrik dat ons, voordat ons nader na van die argumente in ‘The God Delusion’ kyk, eers so bietjie op Dawkins self (en op sy voorveronderstellings) sal fokus.  Hiermee bedoel ek hoegenaamd nie dat dit nodig is om karaktermoord te pleeg nie. Dit gaan eerder daaroor dat Dawkins dit goeddink om ander mense se diepste oortuigings te analiseer en te kritiseer sonder om vir ‘n oomblik toe te gee dat daar dalk ook ‘n paar vrae oor sy eie wêreldbeeld te vra is.  Die doel van hierdie artikel is om ‘n paar van hierdie vrae te vra.  Ek wil dit weer eens duidelik stel dat dit wat ek hier gaan skryf nie noodwendig antwoorde op al die kwessies wat deur Dawkins op die tafel gesit word verteenwoordig nie en dat [in deel 2] dieper na spesifieke kwessies gaan kyk.  Dit is egter soms goed om te weet ‘waar iemand vandaan kom’ in ‘n debat. Dawkins beskuldig gelowiges van allerhande dogmatiese posisies en voorveronderstellings.  Kan dit nie dalk wees dat hy ‘n paar van sy eie het nie?  Ek glo dat hy het en dat dit op die volgende terreine lê:

  • Dawkins gebruik die wetenskap om vrae te probeer beantwoord waarvoor dit heel moontlik nie opgewasse is nie.  Dit wil voorkom asof Dawkins glo dat as ons kan weet waar ons vandaan kom dit ook dadelik die antwoord bied op wie ons is.  Binne sy wêreldbeeld bied ‘n Darwinistiese interpretasie van die natuurwetenskappe die antwoord op die diepste vrae van die mensdom.  Selfs al ignoreer ons vir die oomblik die reuse vrae wat gevra kan word oor evolusie as ‘n verduideliking van ons bestaan is hierdie steeds ‘n geweldige aanspraak om te maak.  Vir Dawkins mag ons dalk slegs masjiene wees wat ontwerp is om ons DNA nog ‘n generasie te laat oorleef.  So ‘n standpunt is egter ‘n reuse verskraling van wat dit beteken om mens te wees.  Selfs al sou die wetenskap vir my kon sê waar ek vandaan kom verduidelik dit nog nie naastenby vir my hoekom mense bewustelike wesens is wat kan liefhê, opoffer en intens na die betekenis van hulle bestaan vra nie.  Blote masjiene doen nie hierdie tipe van ding nie!  Dalk is die rede vir ons bewussyn en optrede dat ons as mense baie meer is as net die ‘som van ons onderdele’.  Dawkins hou egter so styf vas aan die oortuiging dat sy verduideliking oor waar ons vandaan kom al is wat te sê is dat hy nie eers vir ‘n oomblik bereid is om hierdie moontlikheid toe te gee nie.  Hy kan sy weerstand teen hierdie antwoord nie wetenskaplik ‘bewys’ nie (hoe bewys jy per slot van rekening waar bewussyn vandaan kom) tog sien hy dit as die ‘wetenskaplike’ antwoord en hou hy krampagtig (dogmaties?) daaraan vas.
  • Dawkins is dikwels skuldig aan dieselfde tipe ‘fundamentalisme’ waarvan hy ander beskuldig. Kyk so bietjie na die volgende stelling van Richard Dawkins: “Darwinism is the explanation of life on this planet, but I believe that all life, all intelligence, all creativity and all ‘design’ anywhere in the universe, is the direct or indirect product of Darwinian natural selection. It follows that design comes late in the universe, after a period of Darwinian evolution. Design cannot precede evolution and therefore cannot underlie the universe”. (Broadcasting House, BBC Radio 4 09/05/2005, beklemtonings myne).  Jy sal met my saamstem dat hy hier besig is om reuse aansprake te maak.  Hy is egter in effek besig om die kar op ‘n kosmiese vlak voor die perde te span!  Let op hoe hy Darwin hier gebruik as die fontein van alle kennis.  Hy vind Darwin se ‘verduideliking’ van hoe lewe op aarde ontstaan het geloofwaardig, dis egter nie vir hom genoeg om dit te doen nie.  Hoewel hy net ervaring het van wat op aarde aangaan (en Darwin se ‘verduidelking’ daarvan) glo hy dat hy dit ruimtelik regoor die hele heelal en tydsgewys oor alle tye kan ekstrapoleer.  Daar is natuurlik geen manier waarop hy hierdie ekstrapolasie wetenskaplik kan bewys nie. (Hy het net ervaring van hierdie planeet en beweeg nie buite tyd nie)  Tog is hy bereid om evolusie te gebruik as die verduideliking vir alle kreatiwiteit en intelligensie in die hele kosmos!  Hierdeur kom demonstreer hy niks anders as geloof nie.  Dawkins hou so sterk aan ‘n teorie vas dat hy dit as die verduideliking vir letterlik alles sien en maak op grond van hierdie ‘vashou’ stellings wat hy hoegenaamd nie op ‘n oortuigende manier kan bewys nie.  Byvoorbeeld: Design cannot precede evolution.  Wie sê? Kan dit nie wees dat evolusie deur ‘n Ontwerper ‘aan die gang gesit’ is nie?  Hoe kan jy verder bewys dat dinge nie op ander plekke in die kosmos anders werk nie?  Dawkins maak dit duidelik dat hy nie eers bereid is om ernstig te kyk na alternatiewe op sy ‘geloof’ nie.  (Geloof in God diskwalifiseer jou byvoorbeeld by voorbaat as gespreksgenoot.  Hy het byvoorbeeld by geleentheid op ‘n beswaar wat iemand teen een van sy teorieë gehad het gereageer, nie deur die inhoud van die argument aan te spreek nie, maar deur te sê: “But he believes in God!”).  Het ons nie hier met ‘n soort wetenskaplike fundamentalisme te doen nie?
  • Dawkins weier om geloof ernstig op te neem en wend dus nie naastenby ‘n poging aan om dit werklik te probeer verstaan nie. ‘n Sterrekundige het eenkeer met ‘n Teoloog gesels en vir hom gesê: “Alle Teologie kan eintlik opgesom word met ‘Doen aan ander wat jy graag aan jouself gedoen wil hê”.  Die Teoloog het hierop geantwoord: “Net soos alle Sterrekunde met ‘Twinkle, twinkle, little star. How I wonder what you are!’”  Vir Dawkins is dit absoluut ondenkbaar dat enige persoon in God kan glo.  Sy irritasie met geloof bereik skynbaar sulke vlakke dat hy nie bereid (selfs nie eers as hy ‘n boek oor geloof skryf) is om geloof ernstig genoeg op te neem om verby die basiese van wat gelowiges glo te gaan nie.  Om hierdie rede is die ‘geloof’ wat hy aanval dikwels ‘n karikatuur van dit wat gelowige mense in glo eerder as dit waaraan hulle werklik vashou.  Dit wil daarom voorkom asof hy dink dat gelowiges nog nooit gedink het oor die kwessies wat hy opper nie.  As hy so bietjie moeite gedoen het sou hy egter gou gesien het dat daar ‘n diep stroom binne spesifiek die Christelike Teologie is wat juis die tipe kwessies wat hy opper ernstig opneem en baie goeie samehangende antwoorde (of ten minste stof vir verdere debat) daarop kan bied.  Die enigste Christelike denker wat hy in redelike diepte behandel is Thomas Aquinas en sy ‘bewyse’ vir die bestaan van God.  Dat daar sedert 1274 (die jaar van Aquinas se dood) so bietjie water in die Teologiese see geloop het, het egter skynbaar totaal by hom verbygegaan!
  • Dawkins handhaaf ‘n dubbele standaard deur geloof in die slegste moontlike, en ateïsme in die beste moontlike, lig te stel. Wanneer Dawkins oor geloof praat is dit deurgaans op die mees negatiewe manier moontlik.  Ons hoor daarom allerhande stories van mense wat geloof misbruik vir eie gewin of as verskoning tot aggressie.  Die verhale van mense soos William Wilberforce (wie se geloof hom gemotiveer het om hom te beywer vir die einde van slawerny in die Britse Ryk), St. Telemachus (wat sy lewe gegee het sodat bloedsport in die Romeinse Ryk stopgesit kon word) en William Booth (wat vanuit geloofsoortuiging ‘n organisasie, die Salvation Army, gestig het wat reeds miljoene mense op verskillende vlakke gehelp het) is egter skynbaar totaal afwesig uit Dawkins se denke oor geloof.  Dit is asof Dawkins so graag sy punt oor die ‘boosheid’ van geloof wil maak dat hy totaal blind is vir die ongelooflik positiewe impak wat gelowiges op die wêreld rondom hulle gemaak het (en die voorbeelde wat ek hierbo genoem het is natuurlik net die puntjie van die ysberg!).  Wanneer dit egter kom by mense wat nie glo nie is dit egter ‘n totaal ander prentjie.  Hulle is skynbaar in alle gevalle die mees verligte, liberale en ‘goeie’ mense wat daar te kry is.  Wanneer ateïste egter onteenseglik bose dinge doen het dit volgens Dawkins nooit iets met hulle ongeloof uit te waai nie!  Dawkins sê byvoorbeeld: “Stalin was an Atheist and Hitler probably wasn’t, but even if he was…the bottom line is very simple.  Individual atheists may do evil things but they don’t do evil things in the name of Atheism.”  (The God Delusion, p. 278) Wat ‘n ongelooflik gerieflike dubbele standaard!  Wanneer godsdienstige mense bose dinge doen is dit volgens Dawkins altyd as gevolg van hulle geloof. As die vinger egter na ongelowiges gewys kan word is hulle optrede skynbaar altyd ten spyte van hulle ateïsme.  Die enigste probleem is natuurlik dat hierdie ‘n belaglike posisie is om in te neem.  Dit sou sekerlik groot nuus vir omtrent die hele Ortodokse priesterkorps (en derduisende Baptiste, Budhiste, Moslems, ens.) wat deur Stalin uitgewis is, gewees het om te verneem dat sy vervolging van hulle absoluut niks met sy ongeloof te doen gehad het nie!  Oor Hitler en geloof sou ‘n mens seker ook boeke kon skryf.  Die feit is egter dat hy SS lede (wat die kern van sy duisendjarige vrederyk moes vorm) verbied het om hulle ‘n Christelike huwelikseremonie te hê of hulle kinders in Christelike kerke te laat doop.  ‘n Mens sou daarom ten minste ‘n klein bietjie van die skuld van sy optrede voor die feit dat hy Christelike ideale verlaat het kon neerlê.  Selfs al gee ons toe dat Hitler dalk nie in die tegniese sin van die woord ‘n ateïs was nie het ongelowiges steeds ‘n massa dinge om te verduidelik.  Van die grootste volksmoordenaars van die twintigste eeu (Stalin, Pol Pot, Mao Zedong) het amptelik ateïstiese regerings daargestel en dit was die instrumente van hierdie state wat dikwels massas mense vermoor het juis omdat hulle van die amptelike ‘geloof’ (of gebrek daaraan) van die staat verskil het.  Om te maak asof hierdie feit niks met ongeloof te doen het is blote wensdenkery aan Dawkins se kant en vertel vir my meer van sy voorveronderstellings en dubbele standaarde as van die historiese werklikheid.  Die feit dat Dawkins definitief beter onderleg is in die Dierkunde as die geskiedenis is, byvoorbeeld, baie duidelik uit die volgende vraag: “…why would anyone go to war for the absence of belief.” (The God Delusion, p. 278)  Waarop Andrew Brown (effens sarkasties) reageer: “…as if the armies of the French Revolution marched under icons of the Virgin, or as if a common justification offered for China’s invasion of Tibest had not been the awful priest-ridden backwardness of the Dalai Lama’s regime.” (Prospect Magazine October 2006)
  • Dawkins probeer soms om argumente te wen deur die man, en nie die bal nie, te speel. Dawkins se minagting vir geloof manifesteer ongelukkig baie dikwels in ad hominem (letterlik ‘teen die man’) aanvalle.  Hy het byvoorbeeld by geleentheid gesê: “Father Christmas and the Tooth Fairy are part of the charm of childhood. So is God. Some of us grow out of all three.” (Thirdway Magazine, June 2003) Dit is hieruit duidelik dat daar vir Dawkins hoegenaamd geen sprake kan wees van ‘n debat in die ware sin van die woord met gelowiges nie.  Die feit dat die Christelike geloof in sy Teologiese en filosofiese tradisies gesofistikeerde en weldeurdagte antwoorde vir die diepste menslike vrae bied registreer skynbaar nie eers by hom nie, nog minder die feit dat die Christelike geloof tot ‘n groot mate die intellektuele onderbou vir die Westerse kultuur verskaf het (die Universiteit waar Dawkins klasgee, Oxford, het byvoorbeeld vanuit ‘n Christelike soeke na kennis ontstaan!).  Vir Dawkins is alle geloof naïef en daarom is alle mense wat daaraan vashou nie waardige gespreksgenote nie.  Vanuit hierdie vertrekpunt is al wat vir Dawkins belangrik is of iemand glo.  Indien wel is dit nie nodig om na sy of haar argumente te luister nie.  Sy optrede in hierdie verband is ‘n klassieke geval van wat in die retoriek ‘poisoning the well’ genoem word.  Dit beteken basies dat ‘n debatvoerder vooroordeel oor ‘n opponent se saak by die gehoor skep voordat dié nog ‘n kans gehad het om sy of haar saak te stel.  Dawkins ‘vergiftig die fontein’ dikwels met hoogs aanvegbare stellings soos “…anyone advocating belief in a creator God is scientifically illiterate”; en “no qualified scientist doubts that evolution is a fact”.  Die feit is natuurlik dat Dawkins hier besig is om van sy wetenskaplike kollegas intens te beledig sodat hulle stemme stilgemaak kan word. Daar is massas hoogs gekwalifiseerde wetenskaplikes wat in God glo en wat die Darwinistiese dogma ernstig bevraagteken.  Ek volstaan met een voorbeeld uit baie.  Dr. Francis Collins, die direkteur van The Human Genome Project, wat tans seker van die belangrikste werk op die terrein van menslike genetika doen is ‘n toegewyde Christen.  Hy het onlangs in ‘n onderhoud die volgende gesê: “…there is an intricacy and an elegance in the nature of biology, particularly when it comes to the information carrying capacity of DNA, which is rather awesome. And so, in a way, perhaps, those moments of discovery also become moments of worship, moments of appreciation, of the incredible intricacies and beauty of biology, of the world, of life. And, therefore, an appreciation of God as the creator.” (Onderhoud op PBS)  Die bestaan van mense soos Dr. Collins is skynbaar vir Dawkins ietwat van ‘n verleentheid.  Sy reaksie op hierdie verleentheid is egter dikwels nie om met die kwessies wat hulle opper in gesprek te gaan nie, hy kies eerder om hulle intellektuele integriteit te beledig.
  • Van die konsepte wat Dawkins gebruik vereis dikwels self ‘n ‘geloofsprong’. Een van die sleutel konsepte in Dawkins se denke is memes.  In ‘n neutedop dui dit daarop dat sekere oortuigings van geslag tot geslag oorgedra word en dat menslike denke grootliks die gevolg van hierdie memes is.  Memes vervul dus volgens Dawkins op metafisiese vlak die rol wat gene (genes) op fisiese vlak vervul.  Volgens Dawkins kan godsdiens teruggevoer word na ‘n ‘God meme’ en dat mense wat in God glo dit net doen omdat hulle so geprogrammeer is.  Die ‘verligtes’ onder ons kry dit soms reg om weg te breek van hierdie programmering.  Die groot probleem met hierdie hele teorie is natuurlik dat dit op geen manier empiries bewys kan word nie.  Ons kan die bestaan van gene bevestig deur na die dubbel heliks patroon van DNA onder ‘n elektron mikroskoop te kyk.  Onder watter mikroskoop kan ons egter na memes kyk?  Die antwoord hierop is natuurlik dat so ‘n mikroskoop nie bestaan nie omdat hierdie ‘n metafisiese konsep is en dat ons gevra word om in memes te glo omdat Dawkins ons vra om dit te doen.  Gegewe die gebrek aan empiriese getuienis vir een van Dawkins se sentrale konsepte wonder ek wat die geloofsprong wat vereis word om daarin te glo anders maak as die een waarvan hy gelowiges so maklik beskuldig?
  • Dit wil voorkom asof Dawkins opreg glo dat hy buitekant sommige van die prosesse wat hy beskryf bestaan.  Dawkins se meme teorie is in effek maar ‘n gesofistikeerde weergawe van die ou “As jy in Indië gebore was, was jy ‘n Hindoe” beswaar teen geloof.  Selfs al sou ons vir ‘n oomblik voorgee asof dit ‘n waterdigte teorie is behoort dit nog steeds vir Dawkins baie meer vrae te opper as wat dit beantwoord.  Kan dit, byvoorbeeld, nie wees dat daar ‘n Ateïsme memes is wat veral in die Westerste wêreld mense bitter swaar tref en dat Dawkins doodeenvoudig ‘n ongelukkige slagoffer daarvan is nie?  Dink hy werklik dat hy alleen, anders as ander mense, op geen manier die produk van sy omstandighede is nie?  Is dit nie so dat as hy in Indië gebore sou wees hy ook ‘n Hindoe sou wees nie?  Met ander woorde het sy agtergrond (as relatief welvarende Westerling gebore op ‘n post-Christelike kontinent) nie maar net soveel te doen met wie hy vandag is as die van Hindoes in Indië nie?  Om dit verder te kompliseer sou ek selfs sover gaan as om te beweer dat ongeloof in Wes Europa vandag die dominante tradisie is en dus ‘n baie groter rol speel in die vorming van mense se denke as geloof.  Vir die meeste Europese gelowiges is die keuse om te glo dus juis nie ‘n keuse vir ‘n dominante geloofstradisie (geloof kan hier lankal nie meer as dominant beskryf word nie) wat onkrities aan hulle oorgedra word nie.  Dit is, inteendeel, dikwels ‘n weldeurdagte keuse teen dit wat die meeste mense in die samelewing glo!  Dawkins maak die bewering dat mense sekere dinge glo omdat hulle nie van beter weet nie.  Wat die Weste betref kan hierdie stelling net so maklik omgedraai en op ongeloof toegepas word.

Richard Dawkins hoop dat hy deur middel van sy werk dit sal regkry dat mense ophou glo.  Iemand wat onder hierdie versoeking sou kom sal egter deeglik moet kennis neem dat dit nie in Dawkins se belang is om die volle prentjie oor geloof vir ons te vertel nie en dat hy daarom op allerhande maniere die argument laai teen geloof as sy ‘opponent’.  Ek vertrou dat hierdie artikel so bietjie van sy voorveronderstellings duidelik gemaak het en jou daarom ook oortuig het om sy werk met ‘n groter knippie sout as andersins te lees.  Selfs (of dalk veral) die ‘devil’s chaplain’ kan per slot van rekening verkeerd wees!

(Ek besef dat daar ‘n hele paar punte uit ‘The God Delusion’ is waaraan ek nog nie eers geraak het nie.  Ek kyk in deel 2 (The God Delusion: Die boek aan die einde van geloof?) so bietjie nader na van die sentrale argumente van die boek en in deel 3 (Godsdiens: Die wortel van alle kwaad?) na een van Dawkins se sentrale standpunte naamlik dat geloof altyd gevaarlik is. Dit sal baie goed wees om al drie artikels te lees om sodoende ‘n geheelbeeld te kry van die vrae wat ons moontlik vir Richard Dawkins en sy aanhangers kan vra.)

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.