Twyfel oor ‘n onsienlike God

Liewe Udo

Dit is met blydskap dat ek gehoor het van jul webwerf!

Ek was in ‘n Christelike huis grootgemaak en is nog een van die gelukkiges wie se ouers nog bymekaar is en ’n wonderlike familie het. Ek streef daarna om meer soos Jesus te lewe en alle versoekings te vermy. Ons gaan ook Sondae kerk toe en doen bybelstudie en bid elke dag.

My probleem is dat ek myself soms kry waar ek so twyfel in God se bestaan, juis omdat ek hom nie kan sien nie. Ek het nog nooit van onrealisties stories gehou nie en ek dink dat ek partykeer so voel omdat die hele verhaal van God so onwerklik klink. Om op te vaar na die hemel is “amazing”, maar is tog vir ons vandag ‘n verskynsel wat nooit meer voorkom nie.

Tog HAAT ek die gevoelens en hoop elke keer dat ek dit nooit weer sal kry nie, want ek is ‘n christen en wil BAIE graag hemel toe gaan! Die lewe op aarde kan tog nie al wees nie. Sodra ek sulke gevoelens kry, bid ek altyd dat die Heilige Gees dit sal verdryf, omdat ek glo dat dit van die duiwel af kom. My grootste vrees is dat God my sal straf oor die gedagtes wat soms opkom en daarom het ek ‘n vrees vir die dood. Want hoe weet jy regtig of jy hemel toe gaan of nie? Ek probeer als reg doen, maar weet nie verseker nie.

Ek hoop jul sal my kan help, of net bemoedig op een of ander manier.

Lekker dag en dankie dat ek kon gesels.

Groete

Winkelsmidt

 

(Slegs een gedeelte van bogenoemde vraag word hier beantwoord. Sien onder vir skakels na die ander dele.)

Liewe Winkelsmidt

Jy sê: “My probleem is dat ek myself soms kry waar ek so twyfel in God se bestaan, juis omdat ek hom nie kan sien nie.”

Uit jou brief lyk dit asof jy regtig daarna streef om jou geloof op ‘n praktiese vlak uit te leef en ek gaan binnekort verduidelik hoekom dit so belangrik en goed is. Die feit dat jy soms twyfel, plaas jou egter in baie goeie geselskap. Kyk wat skryf C.S. Lewis wat al duisende Christene se geloof versterk en verryk het: “Believe in God and you will have to face hours when it seems obvious that this material world is the only reality; disbelieve in Him and you must face hours when this material world seems to shout at you that it is not all.”

Ek dink daarom dat as Christene werklik eerlik is met hulleself, dan is daar niemand wat nog nie gewonder het of ‘n onsigbare God dalk nie werklik bestaan nie. En jy’s reg, Winkelsmidt, die feit dat ons God nie met ons sintuie kan ervaar nie, lei soms tot die gevoel – vir ons as wesens met ‘n fisiese liggaam waardeur ons meestal met ‘n materiële wêreld in verhouding staan – dat God eintlik net ‘n illusie is of hoogstens net ‘n uitdrukking is van wat ons bloot wens om waar te wees.

Daar is ‘n klomp verskillende en baie goeie redes vir hoekom dit redelik is om te glo dat God bestaan. Een van daardie redes is die redelikheid om te glo in die  bestaan van nie-fisiese (immateriële) entiteite. Maar hoekom is dit redelik om te glo dat nie-fisiese entiteite bestaan? Die redelikheid lê daarin, en dis wat ek baie kortliks hier oor ‘n baie komplekse onderwerp gaan probeer verduidelik, dat ons as persone nie-fisiese entiteite is.

Die plek waar ek wil begin verduidelik om te verduidelik is om bietjie te praat oor die aard, natuur of wese (“essence”, essensie) van dinge. Elke ding wat bestaan het ‘n unieke aard of natuur, byvoorbeeld, om ‘n klip te wees, is om die aard van “klipwees” te hê. Om ‘n mens te wees, is om die aard van menslikheid (“humanness”, mens-natuur/menswees) te hê. So, byvoorbeeld, is om God te wees, om ‘n Goddelike natuur te hê, dit wil sê, Goddelik te wees. Anders bekyk, dit is in die natuur, aard of essensie van die akker om ‘n eikeboom te word; dit kan nooit iets anders word of wees nie.

Om dus te verstaan dat alles ‘n unieke aard het, beteken dat nie alles wat bestaan met die fisiese beklee is of net ‘n fisiese aard het nie. Wat mense byvoorbeeld van jou met hulle sintuie kan waarneem, is nie wie jy as persoon is nie. Wat mense sien of voel is net jou liggaam of wat hulle hoor is byvoorbeeld net jou stem, maar JY is nie wat mense kan sien, voel of hoor nie. JY is ‘n persoon, en jy is nie jou brein of jou liggaam nie (deur slegs een ding te sê wat waar is van jou, maar wat nie waar is van jou brein of liggaam nie, is om hierdie punt te bewys.) Die deel van die mens wat met die persoon geassosieer word, is nie die fisiese liggaam of enige deel van ‘n fisiese liggaam nie. Ons kan sê dat alle mense persone is, maar nie alle persone is mense nie. Geen persoon is identies aan sy of haar liggaam nie. As ‘n mens is jy wel met die materiële beklee, maar jou menslike wese omvat die nie-fisiese eienskappe van jou persoon, bv., gevoelens, gedagtes, sensasies en wilskrag. Dit is ook jou persoon of siel wat die draer van bewussyn is (sien bv. 1 Kor. 2:11) en nie jou liggaam nie.

Wanneer ons dus met ander mense kommunikeer of in interaksie verkeer, dan is ons sintuie slegs die indirekte manier waarop ons mekaar as persone ervaar. Anders gestel: Ons ervaar en beskou mekaar as (immateriële) persone en ervaar mekaar organies as mense (of menslike wesens). Die implikasie, indien ek en jy immateriële wesens is, is dat ons mekaar nooit werklik raaksien nie. Wat jy van my kan weet is slegs wat ek deur my liggaam aan jou wys; en jy kan afleidings oor my maak volgens jou eerste-persoon bewustheid wanneer ek jou omtrent myself vertel.

Uit bogenoemde is dit redelik om te redeneer dat ook ander nie-fisiese wesens bestaan, selfs al het hulle nie fisiese liggame nie. Dit is dus moontlik om vanaf my immateriële persoon te kan redeneer vir die bewys van ‘n groter immateriële Persoon (sien 1 Pet. 3:4 wat na die “verborge persoon van die hart” verwys –  en ons weet dat die hart hier nie verwys na ‘n fisiese hart wat bloed deur ‘n organisme pomp nie; ook Joh. 4: 24 sê dat God ‘n gees is; en 2 Kor. 5:1-5 en Rom. 8:9 verduidelik dat die Gees van God saam met die menslike gees in ‘n liggaam kan woon). Mense se beskrywings van sg.,“near death experiences” of die verskynsel van iets soos “remote viewing” is ook aanduidings dat persone nie dieselfde entiteite as fisiese liggame is nie.

‘n Breedvoerige verduideliking oor die aard van die menslike natuur is te vinde in J.P. Moreland en Scott Rea se Body & Soul: Human Nature and the Crisis in Ethics. Die belangrike punt wat ek net hier wil maak, is dat net omdat ons ‘n persoon nie met ons sintuie kan waarneem nie, GEEN aanduiding is dat so ‘n persoon dus nie bestaan nie. (Mense kan mekaar ook nie as persone met hulle sintuie waarneem nie en tog weet ons dat ander mens-persone wel bestaan.) Anders gestel: ‘n Immateriële entiteit is per definisie iets wat nie met die sintuie waargeneem kan word nie!

Het ek hiermee bewys dat die God van die Bybel wel bestaan? Nee, ek het bloot aangedui dat dit redelik is om te glo dat nie-fisiese entiteite wel bestaan en hoekom, as dit moontlik is, dit nie regtig sin maak om te sê dat ek in God, wat immaterieel is, se bestaan twyfel bloot omdat ek hom nie kan sien nie.

Nou, as ‘n nie-fisiese God soos wat in die Bybel beskryf word, wel werklik bestaan, dan is dit redelik om te verwag dat Hy op ‘n baie spesifieke wyse in verhouding tot die mens staan. Die manier waarop die nie-fisiese deel van mense (hul persone) tot ander mense in verhouding staan, is deur middel van fisiese dinge (daardie dinge wat ons met ons sintuie kan waarneem.) God bestaan egter nie uit enige fisiese dele nie, en daarom is die manier waarop Hy in verhouding met ons staan, nie-fisies van aard. Ons het met God interaksie deur middel van nie-fisiese aktiwiteite – deur iets soos gebed, deur ‘n bestudering en oordenking van God se Woord, deur die dra van die vrug van die Gees, deur die “fellowship” wat ons met medegelowiges het, deur geloof, deur hoop en deur liefde, selfs deur lief te wees vir ons vyande… en deur nog ‘n klomp ander dinge. Volgens die Bybel is hierdie dinge die manier waarop God wil hê dat ons met hom interaksie moet hê, dit is die manier waarop Hy al meer van wie Hy is aan ons openbaar en dis die manier waarop ons gaandeweg al meer van sy (nie-fisiese) teenwoordigheid bewus sal raak. (sien o.a. Rom. 8:16, Fil. 4:7, Ef. 3:14-20)

Ek het aan die begin gesê dat dit belangrik en goed is dat jy daarna streef om jou geloof op ‘n praktiese vlak uit te leef. Die rede is dat ‘n praktiese uitleef eintlik daardie nie-fisiese (geestelike) maniere is waarop ‘n mens met God interaksie het. En daarom is dit so belangrik wat C.S. Lewis byvoeg wanneer hy oor twyfel praat (ek het vroeër net die een deel van wat hy gesê het aangehaal): “Believe in God and you will have to face hours when it seems obvious that this material world is the only reality; disbelieve in Him and you must face hours when this material world seems to shout at you that it is not all. No conviction, religious or irreligious, will, of itself, end once and for all [these doubts] in the soul. Only the practice of Faith resulting in the habit of Faith will gradually do that.

Ons moet nooit dink dat dit bloot net die sterkte van ons intellektuele oortuigings is, wat alle twyfel gaan besweer nie. Nee, dis wanneer ons ons geloof UITLEEF omdat Christus in ons leef (sien bv. 2 Kor. 13:5, Gal. 2:20) dat ons God toenemend as ‘n werklikheid sal ervaar. Maar aangesien God ook vir ons ‘n nie-fisiese verstand gegee het, maak dit sin dat ons die nie-fisiese God na wie se beeld ons geskape is, ook beter sal leer ken en wys dat ons vir Hom lief is, deur onder andere ook ons verstand te ontwikkel en te gebruik (sien 1 Kor. 13:11). Ook dit is ‘n praktiese uitleef van jou geloof (sien ook Ef. 4:23-24).

Groete

Udo

Lees verder:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.