Versoeking en beproewing

Beste André en Udo

Eerstens, baie dankie vir julle wonderlike webwerf! Ek het op aanbeveling van ‘n paar vriende die werf besoek en is aangenaam verras deur die vraagstukke wat bespreek word.

Ek sit met ‘n vraagstuk wat by sel opgeduik het terwyl ons besig is met die boek “Purpose driven life”.

Wat is versoeking? Die definisie daarvan is vaag.

Word ons “versoek” om ons geloof te toets. Laat God versoeking toe of stel hy ons so op die proef?

Die sel het die indruk gekry dat die boek versoeking beskryf as die gedagtes of denkwyse van ‘n mens en daar is ‘n afleiding gemaak dat versoeking vóór die duiwel teenwoordig was in die Tuin van Eden.

My persoonlike siening is dat versoeking deel is van die mensdom a.g.v. die sondeval, dat dit ‘n werktuig is van Satan. Ek ervaar God as ‘n pa wat my nie in versoeking sal bring om my geloof te toets nie, dat hy eerder my geloof op die proef sal stel deur dat Hy aan my spesifieke take sal gee vir die verkondiging van Sy Woord. In kort, God stuur nie slegte goed oor mens se pad om jou geloof te toets nie, Hy wil ons gebruik om sy Woord te verkondig om Sy kerk uit te bou. Die toets is of mens jou hand gaan opsteek en Sy versoek sal aanvaar ongeag die omstandighede wat daarmee saam gaan.

By voorbaat dankie vir julle tyd!

Winkelsmidt

Hallo Winkelsmidt

Ek dink dit help om ‘n onderskeid te tref tussen die terme ‘versoeking’ en ‘beproewing’. Ek gaan kortliks by elkeen afsonderlik stilstaan.

Die begrip ‘versoeking’ moet verstaan word in die konteks van die versoeking om sonde te doen. Wanneer God sê dat Hy nie sal toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie (1 Kor. 10:13), dan beteken dit dat ons altyd die vermoë het (al beoefen ons nie daardie vermoë nie) om weerstand te bied teen die doen van enige spesifieke sonde (ons kan dus nooit die verskoning gebruik dat ons nie anders kon as om aan die versoeking om te sondig, toe te gee nie). Wanneer ons bid dat ons Hemelse Vader ons nie in die versoeking moet laat kom nie, maar ons van die bose sal verlos (Matt. 6:13), dan beteken dit dat ons vir die Here vra om ons te help om nie aan enige versoeking toe te gee nie. Dit is uit Jakobus 1:13 ook baie duidelik dat God niemand ooit voor ‘n versoeking stel om sonde te doen nie (asof Hy daardeur ons geloof wil toets nie).

Daar is wel drie faktore wat ‘n rol kan speel wanneer ons versoeking ervaar (alhoewel dit nie die oorsaak van versoeking is nie): 1) ons kan steeds ons sondige natuur toelaat om ons nuwe lewens in Christus (d.i. ons wedergebore lewens) te beïnvloed (sien Rom. 7:18-25, Jak. 1:14-15) as ons nie doelbewus daarna streef om Geesvervulde lewens te lei nie (sien Rom. 8:1-16), 2) dinge vanuit die wêreld bied baie geleentheid om versoek te word (1 Joh. 2:15-17, Rom. 12:2) en 3) die Satan en sy magte wil ons tot sonde aanhits sodat ons nie uit ons vryheid in Christus kan leef nie (Ef. 6:11-12, Joh. 10:10, Joh. 8:32).

Om versoeking te ervaar is egter nie opsigself sonde nie, dit is die bepaalde keuses wat ons maak wanneer ons op versoeking reageer, wat tot sonde lei. Daarom is dit korrek om te sê dat ons manier van dink deurslaggewend is vir hoe ons op versoeking gaan reageer.

Die realiteit van versoeking is eintlik net ‘n aanduiding van die feit dat ons morele wesens is wat kan kies tussen reg en verkeerd. As ons nie versoeking kon ervaar nie, dan was ons nie in staat om tussen reg en verkeerd te kies nie, en as ons nie so ‘n keuse kon uitoefen nie, dan was ons soos robotte of marionette wat doen wat hulle nie kan help om anders te doen nie.

Die implikasie is dat Adam en Eva, as nie-gevalle mense, wel versoeking in die Tuin van Eden sou ervaar het bloot omdat hulle voortdurend ‘n keuse gehad het tussen reg en verkeerd, om gehoorsaam te wees aan God of nie (ook Jesus, wat ‘n sondelose persoon was, het versoeking ervaar – sien Matt. 4:1-11, Heb. 2:28, Heb. 4:15). Dit is duidelik dat Satan ‘n rol gespeel het in Adam en Eva se uiteindelike keuse om ongehoorsaam te wees. Hy het die versoeking om verkeerd te kies, deur middel van misleiding uitgebuit om hulle tot ‘n val te bring. Tog was Satan nie die oorsaak daarvan dat hulle verkeerd kon kies nie en ook nie die oorsaak dat hulle toe wel verkeerd gekies het tydens die versoeking nie. Die feit van versoeking het te doen met die vermoë tot vrye keuse en die verantwoordelikheid om teen versoeking te stry lê vierkantig op ons skouers (alhoewel ons met die krag van die Heilige Gees moet weerstand bied).

Goed, kom ons kyk nou na die begrip ‘beproewing’. Een van die dinge wat God wil hê is dat ons geestelik volwasse moet word. Jy’s reg dat God, as ons Vader, ons belange op die hart dra. In hierdie proses om meer volwasse te word mag God dit wel nodig ag om ons soms te dissiplineer, soos wat enige kind dissipline nodig het om te leer en te groei. God is daarom in sekere gevalle direk verantwoordelik vir sommige van die swaarkry wat ons beleef (sien Heb. 12:5-12), alhoewel ek onmiddelik wil byvoeg dat ons baie versigtig moet wees om dink ons weet wat die oorsaaklike verband in ‘n bepaalde omstandigheid is (ek dink byvoorbeeld aan Job se vriende wat almal die pot misgesit het!). Verder is dit so dat ons in ‘n gebroke wêreld leef waarin bepaalde omstandighede (soos siekte, dood, natuur-ongelukke) ons lewens op verskillende wyses beïnvloed. Dan is dit ook so dat ons eie en ander mense se sonde ‘n direkte of indirekte impak op ons lewens het. God beskerm ons nie altyd van al hierdie slegte dinge nie, maar dis dikwels dinge wat Hy doelbewus toelaat omdat Hy weet dat dit die potensiaal het om ons tot groter volwassenheid te bring. M.a.w. God weet hoe om die gebrokenheid in die wêreld, selfs die impak van ander mense se sondige keuses, te gebruik om Sy doel (heiligmaking) in mense te bereik (sien Rom. 8:28-30).

Ons kan dus sê dat ons beproewing beleef wanneer ons in bepaalde situasies uitgedaag word om te glo dat God wel in beheer is, selfs al is dit pynlik en al voel dit hopeloos. Wanneer ons van God afhanklik bly in daardie situasies (vertrou dat Hy ons en ander se belange op die hart dra, selfs al is ons ook hartseer en het ons vrae), en daarom ook verantwoordelik optree, dan word ons geloof versterk en word Sy Goddelike karakter in ons te gekweek (sien Jak 1:2-4, 1 Pet. 1:6-7, Rom. 5:3-5). So word ons ook in staat gestel om, soos jy tereg opmerk, geloofwaardige getuienis vir Christus te wees wanneer ons die evangelie verkondig.

Winkelsmidt, laat weet gerus of bogenoemde jou help en of die onderskeid wat ek getref het vir jou sin maak. (Onthou egter dat dit nie soseer my opinie is wat enige deurslag moet gee nie, maar dat jy eerder self met die skrif sal worstel en daarom dus die skrifverwysings wat ek gee wat kan help as ‘n plek om te begin.)

Groete

Udo

1 Comment

Leave a Reply to unita Cancel reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.