Die Nuwe Ateïsme

deur Johan Erasmus

In die laaste dekade of so het daar ʼn baie prominente beweging begin onstaan, genaamd die “nuwe ateïsme”. Figure soos Sam Harris, Richard Dawkins en Christopher Hitchens is konstant in die media besig om hul ateïstiese boodskap met groot passie te verkondig. Hulle impak is duidelik as ‘n mens in ag neem dat elkeen van hulle al verskeie boeke geskryf het en word een na die ander deur die New York Times as top verkopers aangewys. Die groot kenmerk van hierdie beweging is egter nie dat hulle enige nuwe argumente teen die geloofwaardigheid van teïsme in die algemeen of teen die Christelike geloof spesifiek, bring nie. Dit het eerder te make met die geweldige aggressie waarmee hierdie boodskap verkondig word.

Met die geweldige blootstelling wat die “nuwe ateïste” kry, is dit nie verbasend dat hul idees oorspoel tot in Suid Afrika nie. As jy vandag op universiteite se kampusse reg oor die land seminare hou om die intellektuele integriteit van die Christelike geloof voor te hou, dan kom ‘n mens gedurig in kontak met aanhangers van die nuwe ateïsme. Op die internet is hul teenwoordigheid dikwels dominant en al meer jongmense vind hulle idees aantreklik.

Dit is juis weens die geweldige momentum wat die nuwe ateïsme oor die laaste dekade gekry het, dat ons gedink het dit is baie relevant om vir Steve Hurlin te nooi om by Rietvallei Gereformeerde Kerk met die teologie studente van die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) op hul wêreldbeskouingstoer te kom gesels. Steve is natuurlik self ʼn aanhanger van die nuwe ateïsme.

Steve se aanbieding was ‘n goeie voorbeeld van die nuwe ateïstiese agenda en hy het die Christelike wêreldbeeld met baie passie probeer weerlê. Sy argumente het al die hoofstroom besware ingesluit, maar wat die meeste uitgestaan het was sy besware teen die historiese Jesus, die probleem van kwaad en lyding, die oorsprong van geloof en die geweld wat ons in die Bybel sowel as in die naam van Christus al oor die eeue heen gesien het. Hierdie argumente word ook in sy boek, The Courage to Doubt in detail beskryf.

Wat Steve se storie soveel meer treffend maak is die feit dat hy self in die bediening was en dat hy, so vertel hy, uiteindelik nie meer ʼn denkende persoon kon wees en óók in die bonatuurlike kon glo nie. Volgens Steve is enige gerespekteerde wetenskaplike vandag ʼn ateïs en is dit onmoontlik om akademies kredietwaardig te bly en aan ʼn Godsbeeld vas te hou. Sy aanbieding het baie emosionele elemente gehad en dit was duidelik dat sekere tragiese gebeurtenisse in sy lewe bygedra het tot sy verwerping van die Here.

Ek is seker baie Christene kan egter vra waarom ons so ʼn ‘vyand’ van die Christelike geloof by ‘n kerk laat optree.

In die eerste plek moet ons besef dat die Bybel baie duidelik is dat ons ʼn antwoord moet kan gee vir waarom ons glo. Verder, as Christus die waarheid is, dan het ons niks om voor bang te wees nie, ons glo dat die Christelike waarheid sal seëvier in konfrontasie met enige besware. Die Skrif gee ons as gelowiges daarom vrymoedigheid om na mense soos Steve te luister, maar ook die opdrag om daardie besware te weerlê. Die onmiddellike doel van hierdie gesprek was egter nie om Steve op sy argumente aan te vat nie, maar eerder om die teologie studente bloot te stel aan die tipe argumente waarmee hulle te doen mag kry wanneer hulle in die bediening sou staan.

Baie van dit wat Steve gesê het, het die gemoedere van meeste mense in die gehoor hoog laat loop, maar uiteindelik was dit goed dat studente téén hul reaktiewe emosies veg en vir ‘n slag net behoorlik luister na wat iemand met ander oortuigings te sê het. Trouens, ʼn groot gedeelte van Steve se eie woede teenoor die geloof het te make met die feit dat hy in die verlede baie seer gemaak is deur Christene. Wat iemand soos Steve glo is die oortuiging van baie mense vandag en Christene kan nie bekostig om hulself maar net daarvan te isoleer of te ignoreer nie. As Christene ‘n invloed wil hê in die lewens van mense dan moet ons hulle pyn, vrae en besware ernstig opneem, sonder om summier ontsteld te raak oor wat hulle sê.

Ons het wel na afloop van Steve se aanbieding met sekere van sy besware geworstel en die meeste mense wat teenwoordig was, het hopelik darem die indruk gekry in watter rigting daar wel antwoorde op sy vrae is. Ek kan met baie eerlikheid sê dat Steve se argumente nie werklik gesofistikeerd is nie. Hy voer byvoorbeeld aan dat Jesus van Nasaret nooit bestaan het nie. Dit is ʼn baie naïewe siening en word vandag deur selfs die sekulêre akademici verwerp. Ook Steve se logiese argument oor die probleem van kwaad en lyding teen God se bestaan, word vandag byna glad nie meer gebruik deur ateïstiese denkers gebruik nie. Dit is grootliks weens die werk van die Christen-filosoof, Alvin Plantinga, wat die onderliggende tekortkominge aan hierdie argument filosofies gedemonstreer het. Wat van Steve se stelling dat geen ernstige wetenskaplikes vandag nog gelowiges kan wees nie? Wel, in Suid Afrika is daar briljante wetenskaplikes soos Prof. George Ellis (Universiteit van Kaapstad) wat deur meeste denkers as een van die top kosmoloë in die wêreld beskryf word. Selfs in die geledere van die Gereformeerde Kerk was Dr. Stoker ‘n A-graad akademiese navorser (dit beteken hy was in die top 10 in sy veld in die wêreld!). Ek kan nog lank aanhou om name te noem van Christen filosowe en wetenskaplikes by van die wêreld se top akademiese instellings vandag met Christelike oortuigings sowel as akademiese kredietwaardigheid. Trouens, ek dink nie daar was ‘n beter tyd in die geskiedenis as nou om na die filosofie, wetenskap en Nuwe Testamentiese historiese navorsing te kyk en beïndruk te wees met die oorweldigende getuienis vir die waarheid van die Christelike wêreldbeeld nie!

Ons hoef dus nie bang te wees om vrae te vra nie en ons hoef nie bang te wees om met mense soos Steve verhoudings te bou nie. Inteendeel, dit is ons opdrag om dit te doen, om diegene wat anders dink en glo as ons, met deernis en respek te hanteer. Net dalk kan die Heilige Gees ons dan gebruik om sulke mense na die Here toe te lei.

2 Comments

  1. Ek sien julle het “eerlik” as een van julle waardes en deugde. Ek het nog nooit ‘n eerlik Christen gesien nie. Almal van hulle/julle verdraai hulle/julle eie Bybel soos dit hulle/julle pas. En een na die ander van h/julle pilare val: skepping in 6 dae, Adam en Eva, Toring van Babel, Metusaleg se 969 jaar, Sabbatsheiliging, Israeliete in Egipte, die Tien Gebooie, die vrou in die kerk, gays, ens. Ek glo dit gaan julle nog etlike jare vat om agter te kom Jesus van Nasaret was nooit in Bethlehem gebore nie en was ‘n goeie filantroop en mens, en niks meer nie. Nog etlike jare en julle sal nie weet watter een van die duisende gode om te kies nie en nog etlike jare voor julle sal agterkom al die gode en godsdienste is dieselfde en net ‘n waan van menslke denke.

    • Jaco, jy val sommer so met die deur in die huis om my/ons implisiet van oneerlikheid te beskuldig. Ek neem dit as aanduiding dat jy nie belangstel in ‘n ondersoekende en respekvolle gesprek nie (of nie weet hoe nie), maar baie meer gemaklik voel met verdagmaking, insinuasies en oppervlakkige veralgemenings. Jou kommentaar is so tipies bevestigend van die voorspelbaarheid van die Nuwe Ateïste se selfvoldane modus operandi waarna Johan in sy artikel verwys het.

Leave a Reply to Jaco Breytenbach Cancel reply

Your email address will not be published.


*


This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.