Wat is God se naam?

Winkelsmidt: Wat is Vader en sy Seun se oorspronklike Hebreeuse name?

Udo: Die naam wat in die Ou Testament van God geopenbaar word is YHWH of Yahweh in Hebreeuse uitspraak. Dit was egter die Joodse gebruik om nie die naam van God uit te spreek nie, en daarom is die woord Adonai (die Here) in plaas daarvan gebruik in publieke voorlesing uit die skrif. Jesus se Hebreeuse naam is Yeshua.

Winkelsmidt: As Sy naam Yahweh is – waar kom ‘Here’ en ‘Lord’ vandaan?

Udo: Die term “Here” of “Lord” (in Hebreeus, “Adonai”) is ‘n naam wat die Jode gebruik het in plaas van Jahweh omdat hulle nie die Heilige naam van God wou uitspreek nie. Die woord “Here” is eintlik eerder ‘n soort titel en beteken Meester of Eienaar. In gewone spreektaal kan ‘n mens die woord “Here” sinoniem stel aan die woord “Baas”.

Winkelsmidt: Hoe kan ‘n mens ‘n naam vertaal? Ons name bly dieselfde ongeag watter taal jy praat. Hoe kan die mens besluit watter naam die Skepper genoem word. Ons kry bv. Lord Charles Somerset en baie ander, bv. Die Here xvii. Dit maak nie sin nie. Die hele wêreld gebruik die woord ‘Hallelujah’ en beteken prys Jah. Hoe verduidelik jy dit?

Udo: Wanneer ‘n naam in ‘n ander taal vertaal word, dan gaan dit meestal oor hoe so ‘n woord in daardie taal uitgespreek word en dan verander die grammatikale struktuur dikwels ook in die geskrewe vorm. (Soms is die rede vir waarom sekere woorde anders lyk as dit vertaal word, bloot omdat sekere letters nie in daardie taal bestaan nie!) Die punt is egter dat wanneer daar in die Bybel verwys word na iemand soos bv. Johannes die doper, dan weet ons dat as ‘n Griek praat van Ioannes, die Jood van Yochanan, die Engelsman van John en die Afrikaner van Johannes, dan verwys almal na een en dieselfde persoon! Die manier waarop my naam in Duits uitgespreek word (Udo is ‘n Duitse naam) en hoe sommige van my Afrikaanse familie dit uitspreek (Ido), maak vir twee radikaal verskillende fonetiese spellings, maar ek weet natuurlik van wie hulle praat. Inteendeel, dis juis die manier waarop my naaste familie my naam uitspreek wat vir my baie kosbaar is en wys op die intieme verhouding tussen ons. Soortgelyk dink ek regtig nie dat God geaffronteer of verward is wanneer ons sy naam volgens die taal wat ons praat op ‘n spesifieke manier uitspreek of uitspel nie. Ek dink Hy weet na wie ons verwys; wat belangriker is is met watter gesindheid ons dit doen en vir watter rede.

6 Comments

  1. Here is meervoud terwyl ons een god en een jesus aanspreek God is die vader Jesus die seun , hoe spreek ons albei selfde aan as Here ?

    • David, die woord “Here” soos dit in die Nuwe Testament gebruik word om na Jesus of God te verwys, is bloot ʼn vertaling van die Griekse woord “Kyrios”, of “Lord” in Engels. Dit is dus nie ‘n meervoud nie.

  2. Prys die naam van die Here , so wat is die naam wat ons prys ?
    Mense bid so ; Here ons Nader tot u God , ons hemelse Vader. Ons vra in naam van Here Jesus , Vader dat u almagtige vader …./ Dan deurgaans
    Elke 3de woord Here ….Here…Here
    Baie mense praat ook so ; Mr ek vra Mr
    Of Mr my sal.help Mr, Mr dit gaan oor
    Wat Mr gese het Mr….
    Dit raak iriterend ?

  3. Daar is slegs een plek waar GOD direk antwoord op die vraag wat is SY Naam. Eksodus 3:13-14. En hier begin die mens se verwarring, GOD se antwoord aan Moses is NIE ‘n naam in die sin waaraan ons as mense gewoond is nie. Dit is ‘n beskrywing van die alom teenwoordige wese van GOD, EK IS WAT EK IS. Ons probeer om ‘n menslike naam aan GOD te koppel. Selfs die destydse Hebreeuse skrywers het die alomvattende beskrywing van GOD probeer reduseer na ‘n menslike naam omrede hulle nie die Almagtigheid kon begryp. GOD is GOD, was altyd GOD en sal vir altyd GOD wees.

Leave a Reply to Udo Cancel reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.