Samesweringsteorieë

Hi Udo

Ek het hierdie youtube video by ‘n vriend gekry:

http://www.youtube.com/watch?v=eZ9MprYzxyA&feature=relmfu

Soms voel ek mense lees te veel in goed en ander goed is dalk doelbewus so geskryf of gemaak.

Kyk asb die video as jy ‘n tydjie kry en laat weet my asb wat jy dink.

Baie dankie

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Dankie dat jy so getrou by AntWoord betrokke is en so nou en dan ‘n vragie vra / kommentaar lewer. Ek waardeer en geniet dit baie!

Wat die youtube video aanbetref wat jou vriend aangestuur het. Nee-wat, ek was nog nooit ‘n aanhanger van conspiracy theories nie en hierdie een lyk vir my besonder verdag. Dit beteken nie daar is nie dalk geisoloeerde stukkies waarheid oor sekere dinge nie, maar om alles so aanmekaar te ryg en dit dan onder die vaandel van die Illuminati op te dis, is taamlik vergesog.

Die probleem is natuurlik dat dit dikwels moeilik is om iemand anders te oortuig dat iets nie ‘n samesweringskomplot is nie, want daar is dikwels net te veel oorweldigende detail om individueel te ondersoek en te weerlê, veral as dit kom by iets soos simboliek. Simbole of visuele tekens, is besonder maklik om te interpreteer soos wat iemand dit graag sou wou interpreteer en dit verg dan baie tyd en moeite om vir iemand te wys dat ons geneigdheid om patrone raak te sien of ooreenkomste tussen dinge, ons kan mislei wanneer ons kognitiewe evaluasie een-dimensieel is. M.a.w. ons kan dinge nie net vanuit een hoek ondersoek nie, daar is altyd ‘n konteks en bykomende faktore wat ‘n mens in ag moet neem voordat ‘n mens tot ‘n bepaalde konklusie kom. Samesweringsteoritici werk egter dikwels met sulke sterk vooropgestelde idees, dat konteksbepaling dikwels nie besonder hoog geprioritiseer is nie.

Wel, ‘n paar gedagtes van my kant af – hoop dit maak sin.

Groete
Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.